Resensie: Sondebok deur Irma Venter

  • 0

 
Titel: Sondebok
Skrywer: Irma Venter
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780798167383

Koop Sondebok by kalahari.com

Geen mens kan vir ewig vlug nie; daar kom ’n dag dat jy ’n holte vir jou voet soek en wil huis opsit met jou geliefde, dat die emosionele en fisiese eise van vlugtelingskap jou inhaal, en die verlede ongenooid by die voordeur van jou restaurant instap.

Vlug en vlugtelingskap is ’n sterk, deurlopende tema in Irma Venter se nuutste spanningsroman, Sondebok. Sy koppel vlugteling wees slim aan identiteit, soos die motto voorin, ’n aanhaling uit ’n artikel van Jeanette Winterson oor Andy Warhol, onderstreep: “The desire to be seen – not simply noticed or known – is so tangled up with contemporary ideas about identity that it is impossible to talk about identity as a private matter anymore. That philosophical absurdity – does a thing exist if no-one is looking at it – has a new answer: No.” Vlug impliseer onsigbaarheid, maar hoe bepaal jy jou identiteit, jou selfwaarde en plek binne ’n gemeenskap of (liefdes)verhouding wanneer jy enige persona kan aanneem, agter ’n magdom maskers en gefabriseerde identiteite skuil?

In Venter se voorafgaande twee spanningsromans, Skoenlapper en Skrapnel, leer ons die bekroonde nuusfotograaf Ranna Abramson ken as ’n vrou op vlug. Sy word as reeksmoordenaar deur Interpol gesoek, maar vlug ook omdat sy glo dat haar lewe in gevaar is. Die joernalis Alex Derksen ontmoet haar in Dar es Salaam en verloor sy hart op haar. Ten tye van die ontmoeting is Alex self aan die wegvlug van ’n pynlike verlede, daarom dat hy verkies om ‘n korrespondent in veraf plekke te wees. Sarah, die kuberkraker wat min sosiale vaardighede het en ’n hopelose, tevergeefse liefde vir Alex ontwikkel, betree die toneel in Skrapnel. Sarah se vlugtelingskap lê op ’n dieper, emosionele vlak, maar sy vlug natuurlik ook behendig deur die kuberruim en het die kuns van kubervermomming en -onsigbaarheid byna vervolmaak. In Skrapnel stel Venter ons ook vlugtig voor aan Adriana, ’n fassinerende vrou met ’n geheimsinnige verlede wat haarself klaarblyklik herskep het tot ’n suksesvolle restaurateur.

Hierdie vier karakters is weer te vind in Sondebok, met Adriana, Ranna en Alex as sentrale rolspelers. Ontmoet ook vir kaptein AJ Williams. Sy vlug vir g’n niks of niemand nie; sy is ’n jagter. Vir haar is dinge swart of wit, geen grys gebied tussenin nie. En wanneer sy snuf in die neus kry dat Ranna steeds in Suid-Afrika is, is daar geen keer aan haar nie. Sy wil die een wees wat Ranna vastrek.

Ranna en Alex steur hulle aanvanklik nie veel aan AJ nie; hulle ondersoek met die opening van die verhaal die storie van ’n onwettige immigrant op soek na ’n Suid-Afrikaanse paspoort. En boonop het Adriana hulle om hulp gevra nadat een van die vroue in haar beskerming (wat almal vlug van ’n man wat hulle mishandel of ’n gewelddadige verlede) in Crow’s Feet, haar restaurant, aangeval is.

’n Mens kan die ontwikkeling van Venter se identiteit as krimiskrywer meet aan Skoenlapper, Skrapnel en Sondebok: sy toets verskillende, dikwels uitdagende, vertelstyle, verpak elke boek anders vir haar leser. In Sondebok gebruik sy die ek-verteller-styl: die verhaal word vertel uit die perspektief van Adriana, Ranna, Alex en AJ. Om vier ek-vertellers oortuigend te gebruik sonder dat jou leser verward raak oor wie aan die woord is, wil gedoen wees. Veral wanneer die ek-perspektiewe binne die verhaal spring. In Skoenlapper was beide Alex en Ranna ek-vertellers, maar elkeen het ’n afsonderlike en opeenvolgende verhaallyn gehad. Skoenlapper is dus in twee dele verdeel. Skrapnel het beide ’n eerste- en derdepersoonperspektief gebruik. In Skrapnel word die eerstepersoonperspektiewe wisselend, en volgens geen vaste patroon nie, aangebied.

Met elke boek betrek Venter nog karakters, verweef sy meer en ingewikkelder verhaallyne: in Sondebok is daar oa die geheimsinnige aanval in Crow’s Feet op Naomi, en Adriana se poging om haarself, Naomi en Zenani te beskerm; die ontknoping van Hakeem se soeke na asiel en ’n Suid-Afrikaanse paspoort; Ranna en Alex se pogings om kaptein AJ een stappie voor te bly; Sarah se onwilligheid om met haar pa se siekte vrede te maak; en die komplekse verhouding tussen Alex en Ranna wat sorg vir onderlangse onderonsies en spanning. Venter skep dus nie net spanning deur ’n stewige plot en wisselende verhaallyne nie. Sy span die hantering van ruimte in deur teenstellings, soos die luukse Crow’s Feet in Sandton teenoor die kosmopolitiese, vervalle Marabastad, of Pretoria se middestad teenoor die Weskus. Ook die kwessie van identiteit teenoor persoonlikheid, die emosionele spanning en die gevolge van vlugteling wees word meesterlik gebruik om spanning te skep.

Met die afloop van Skrapnel het ek gewonder oor die geloofwaardigheid van Ranna en Alex se verhouding, hulle “nesskop” in Suid-Afrika. My bekommernis was verniet; die uitdagings wat ’n verhouding bied waar een persoon onsigbaar moet bly, dikwels moet weggaan, met verskeie vals identiteite leef en ’n ambivalente gevoel het jeens vaste verhoudings wat moontlik trou insluit, word geloofwaardig en oortuigend uitgebeeld.

Venter speel, soos in vorige boeke, met haar leser deur die manier waarop en die tempo waarteen sy karakters voorstel. Net wanneer dit lyk asof jy ’n karakter verstaan, word jy verras, wankel jou oortuigings en persepsies. Adriana is só ’n karakter. Jy lees agter die onthulling of ’n verklaring aan: Wat het nou eintlik met haar gebeur? Waar kom sy aan al haar vaardighede, “street smarts” en kontakte? Sodra jy dink jy het ’n greep op haar, glip sy deur jou vingers. Jy is bewus daarvan dat sy nie altyd die stylvolle, suksesvolle restaurateur kon wees wat al Johannesburg en Pretoria se who’s whos in haar sak het nie. Maar Adriana het haar nuwe identiteit met soveel sukses geskep dat haar “werklike” identiteit onbelangrik is, vervaag het. Sy is waarskynlik die enigste karakter in Venter se trilogie wat (tot dusver) haar verlede suksesvol agtergelaat het, wat ’n baie openbare profiel handhaaf, maar terselfdertyd onsigbaar bly.

Reeds met Skoenlapper was dit duidelik dat Venter se joernalistieke agtergrond ’n bate is, maar in Skrapnel bevestig sy haar vernuf deur haar soepel taalgebruik, vinnige tempo, gebruik van ruimte, mensekennis, sin vir besonderhede en die magdom navorsing wat naatloos in die fiktiewe verhaal verweef word.

Ek sal altyd ’n teer plek hê vir Skoenlapper, Irma Venter se debuut, vanweë die slim aanbieding en spel met die leser se persepsie van karakters en “feite”. Maar Sondebok is ongetwyfeld haar beste werk nog. Sondebok is die bewys dat Venter haar tuisgemaak het tussen die groot krimiskrywers, soos Deon Meyer, Karin Brynard, Chris Karsten en Rudie van Rensburg, in Afrikaans.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top