Sirkus
Irma Venter
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798174411
Dames en here, staan nader! [Die] Sirkus is hier. Verwag ’n uitmuntende vertoning deur sirkusgrootbaas Irma Venter – sy het haarself immers met haar vorige werk bewys. Toertjies en truuks het sy self goed onder die knie; sy klim onstuitbaar die leer na die boonste sport van die Suid-Afrikaanse krimi. Met hierdie sirkusvertoning sal u nie teleurgesteld wees nie. Dit is ’n energieke spel tussen sirkusspelers en die leser; satisfaksie word gewaarborg. Kom kyk hoe Venter en haar sirkusspan u vermaak met gewaagde verteller-, ruimte- en tydspronge, en tuimelende temas aanpak soos ontheemding, die mag van kapitalisme, die aantrekkingskrag van ’n donker onderwêreld, identiteit en landskap, die impak van die politieke klimaat op die gewone mens, verraad, familie- en bloedbande, en verslawende liefdesverhoudings. Kophou, dames en here, op hierdie dol, boeiende, skitterende vertoning. Alles is nie wat dit vooraf blyk te wees nie.
Sonder versuim bied ons aan: Die fassinerende mesgooier, Adriana van der Hoon (nou de Klerk). Sy maak haar elegante buiging in Sondebok as restauranteienaar, tjellis, mesgooier en besigheidsvrou by uitstek. Sy het ’n swart boekie met inligting oor die rykes en vernames. "Inligting is die beste wapen" (11). Sy is grasieus, klassiek, ’n skoonheid wat vele laat swymel, maar sy huiwer nie om haar hande vuil te maak nie. Om só ’n karakter oortuigend as protagonis, met ’n geloofwaardige ontwikkelingsgeskiedenis, in te span, vra talent. As ontsnapping van huis waar haar ma gereeld "in haar kop in foeter", leer die tiener Andriana van der Hoon in Tiny van der Westhuizen se gimnasium die kuns van mesgooi by die tingerige Daisy. Dit is die laat-tagtigs en die land is aan die brand. Adriana se vriendin is swanger, haar vriend en die pa van die ongebore baba, is dood. Haar ma se toestand is sensitief. Haar Hollandse pa, direkteur van die Education Trust, maak die geld in sy gereedskapstrommeltjie af as "skenkings van ryk Europëers wat gekant is teen apartheid en wat arm swart skoliere en studente finansieel wil help" (67). Wanneer haar pa vermoor word, tuimel sy van balans af.
Nou betree die trickster en lyfvlegter Jakkals Schutte ons sirkusarena. Hy oorreed Adriana om Europa toe te gaan sodat die regering die geldspoor kan volg; hy verseker haar daarvan dat die geld wat haar pa ontvang het nie vir die trust was nie, maar bedoel was om die ANC te help om die regering omver te werp. Adriana is jonk, beïndrukbaar en naïef. In Europa ontmoet sy vir Yasen Todorov en word oorrompel deur sy charisma, geld en mag. Dit is ’n dodelike kombinasie: ’n liefdesverhouding tussen twee mense wat albei getrek word deur mag en geld, in die donker speelveld van die onderwêreld waar ander reëls geld. Reëls wat Adriana op die harde manier leer ken.
Een van die hoogtepunte van Sirkus is die sweeftoertjies van artiste Adriana en Yasen Todorov. Daar is voortdurend ’n spel met grense en identiteit, lig en donker, jagter en prooi. Venter gooi die kollig op die verslawende effek wat so ’n liefdesverhouding het; die aantrekkingskrag van die tuimel, die vrees en opwinding net voor die sekure vang. Adriana loop egter met Yasen ’n snaarstywe koord. Sy kan enige oomblik val en die gehoor hou asem op.
Boris is Sirkus se leeutemmer en sterkman. Die teenoorgestelde van Yasen: hoewel hy ’n bokser is, lê sy krag nie in uiterlike vertoon nie. Hy is stil-sterk en Adriana se beskermer. Venter is ’n bekend vir haar sterk vroulike karakters, maar hier oortref sy haar met die manne. Boris het stil die arena betree, maar sy sweep beslis geslaan. Hy vra vir ’n boek van sy eie.
Ringmeester Rhanna moet sin maak van die hele vertoning, die leisels stewig hou. Wanneer Adriana haar bel met ’n opdrag om Elizabeth Fey (die verrassingselement) op te spoor en veilig te hou, probeer sy uitpluis waar die vrou inpas en waarom Adriana skielik op vlug is.
Die sirkusmotief word op verskeie vlakke ontgin, verby die ooglopende (politieke) vertoon, die georganiseerde chaos van die onderwêreld en slaapkamer. Ons is beide sirkusarties en gehoor, verslaaf aan vertoon (hoe paradeer ons nie op sosiale media soos Facebook en Instagram nie) en aan goedkeuring, die applous van die gehoor. Sirkus roep ook vrae op rondom identiteit, ontheemding en plek wat tegnies ondersteun word deur tyd- en ruimtespronge (Suid-Afrika, Wes-Duitsland, Bulgarye). Dink maar aan die Engelse circus (soos Picadilly Circus) of singel: loop ons in ons soeke na tuiste eintlik ’n ringpad terug na die plek van oorsprong? Is die ruimte van ons kinderjare en die traumas wat ons daar ervaar onlosmaaklik verbonde aan ons identiteit, of kan ons dit ontsnap?
Maar Sirkus is in wese Adriana se vertoning; dit is ’n wordingsroman met die kollig deurentyd op haar. Ons word vermaak met die intieme detail van haar fisiese en psigiese ontwikkeling. Die verhaal spring nie net tussen vertellers (Adriana en Rhanna) nie, maar ook tussen die hede en verlede. Dit is ’n fynuitgewerkte program, met perfekte ruimte en beligting, musiek en tegniese opset, wat die gehoor verras, vermaak, gespanne en in afwagting hou. Dames en here, klap hande! Irma Venter verdien ’n staande ovasie.