Skrywersonderhoud: Irma Venter oor Sewe-en-veertig

  • 0

Remona Voges het met Irma Venter oor skrywerskap en Irma se boek Sewe-en-veertig gesels.

Sewe-en-veertig
Irma Venter
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798178242

Irma, wat is vir jou die lekkerste deel daarvan om ’n skrywer te wees?

Die lekkerste deel is om skeppend te kan wees; om wêrelde en karakters in die lewe te roep en op papier te sit. En dis heerlik om dit Afrikaans te kan doen.

En die slegste?

Die slegste is dat dit so min betaal – dat die kunste, in enige vorm en oor die algemeen, selde genoeg geld genereer dat dit jou enigste bron van inkomste kan wees. Dit beteken dat enigiemand in ’n skeppende bedryf altyd besonder hard moet werk om die pot aan die kook te hou.

Sewe-en-veertig is die sewende boek in jou S-reeks. Kan jy ’n bietjie meer oor die reeks in sy geheel vertel? Sal diegene wat nog nie van die vorige boeke gelees het nie by die verhaal kan inval? Staan die boek op sy eie?

Die S-reeks fokus op vyf meestal aweregse karakters – Adriana (’n fixer), Ranna (’n konflikfotograaf en moordverdagte, hang af waar in die reeks mens trek), Alex (’n joernalis), Sarah (’n kuberkraker) en Jaap (’n afgetrede polisieman).

Elkeen van die boeke sal tipies twee, dalk drie, van die karakters betrek.

Ek hou daarvan om sterk vrouekarakters te skep en om gendernorme in spanningsverhale te ondermyn. Ek het ook ’n sterk fokus op daardie fassinerende spasie tussen reg en verkeerd, wat beteken dat my boeke altyd spanningsverhale is, maar nie noodwendig polisieverhale nie.

Sewe-en-veertig staan heeltemal op sy eie, al is dit die sewende boek in die S-reeks. As mense egter belangstel in hoe Sarah en Jaap mekaar ontmoet het, kan hulle gerus Skarlaken lees, wat die vierde boek in die reeks is.

Die ander boeke in Irma se S-reeks

Jy’s ’n geweldig produktiewe skrywer. Hoe hou jy jou brein skerp? En wat doen jy wanneer jy nie skryf/werk nie?

Ek is maar so produktief as wat ek kan wees, maar dit raak soms baie moeilik om voltyds te werk en te skryf. As ek enigsins tyd het om rond te loop, hou ek daarvan om te reis en om lekker te eet. Ek is ook voortdurend op soek na die beste flat white in Suid-Afrika.

Kan jy asseblief kortliks vertel waaroor Sewe-en-veertig handel?

Sewe-en-veertig gaan oor die wettige en onwettige insameling en gebruik van data, vriendskap, en die dodelike gevolge van ’n skynbaar onskuldige ontmoeting.

Sewe-en-veertig is in die eerste plek ’n (ont)spanningsroman. Ek skryf boeke omdat ek graag vir mense bietjie ontvlugting wil bied van die alledaagse. Ek wil iemand vir ’n paar uur vermaak.

Nadine Petrick noem in haar resensie oor jou boek dat die Kaap op ’n unieke wyse uitgebeeld word, wat inderdaad die geval is. Hoe kontrasteer die Kaapstad wat op toerismebrosjures verskyn met die Kaapstad wat jy in die boek uitbeeld?

Elke stad het sy donker kant. Ek het in vorige boeke al deeglik oor Johannesburg en Pretoria se ongure karakters geskryf. Dalk was dit bloot Kaapstad se beurt.

Wat ook in Nadine se resensie opgeduik het, is die mate waartoe ek plekke in Sewe-en-veertig opgemaak het.

Die rede hiervoor is om myself te beskerm teen enige regsaksie. Die plekke wat ek uitgedink het, is instansies waar my karakters tipies iets onwettigs aanvang. As ek byvoorbeeld sou sê dat Sarah by ’n bekende sesterhotel se WiFi inbreek sou so ’n instelling dalk daarop aandring dat so iets nooit by hulle sou kon gebeur nie.

Jy het ’n groot fassinasie met data en die beskerming daarvan – ’n tema wat ook in Sewe-en-veertig sterk figureer. Vertel ons ’n bietjie meer daarvan, asseblief.

Ek is ’n sterk voorstander van privaatheid. Suid-Afrikaanse wetgewing doen nie naastenby genoeg om mense se data te beskerm nie. Dit voel vir my asof maatskappye en die staat bloot aanvaar dat hulle alle regte op mens se data het, solank hulle sekere verskonings kan aanbied, bv om jou naam van jou data te ontkoppel, of om gratis WiFi aan te bied. Die ergste van alles is dat hierdie instansies dan nie daarmee foutvind om mens se data te verkoop nie.

Jou data is jou eiendom. As jy dit wíl deel, moet jy daarvoor betaal word.

Dink terug aan die era van briewe. Sou ons daarvan gehou het as iemand by ons posbus gestaan het en al ons briewe oopgemaak en gelees het? Ongenooid by jou voordeur opgedaag het met die presiese produk wat jy dalk wou koop?

Wat is die grootste uitdagings waarvoor jy te staan gekom het met die skryf van die boek?

Die grootste uitdaging bly altyd om die leser aan die raai te hou, en om hom/haar uiteindelik op ’n vermaaklike, geloofwaardige, a-ha manier tot by die laaste bladsy te bring.

Misdaad is so deel van die Suid-Afrikaanse samelewing. Is dit nie geweldig emosioneel uitputtend om, bo en behalwe alles wat mens in die nuus lees, op die radio hoor en op die TV sien, nog verdere navorsing in die veld te moet doen en dan nog ’n storie ook daaroor te skryf nie?

Dit is moeilik om heeltyd met misdaad gekonfronteer te word. Die nuus maak mens moeg. Om voortdurend waaksaam te wees in jou huis, op straat en by jou werkplek maak mens moeg. Ek dink Suid-Afrikaners is chronies moeg en gespanne, en dit vererger toenemend soos ons veilige spasies al hoe kleiner word.

Een van die ergste dele van die skryf van misdaadverhale gedurende die afgelope paar jaar, was die besef van hoe baie die polisiediens se werklike alledaagse ondersoeke verskil van dit wat in boeke beskryf word. Die oorgrote meerderheid van sake kry nie naastenby die behandeling (personeel, forensiese toetse, noem maar op) wat in boeke beskryf word nie.

Tog is daar een groot verskil tussen werklike misdaad en wat ek doen: in misdaadverhale ry die slegte mense aan die pen. Daar is ’n bevredigende oplossing; ’n oomblik van ekwilibrium.

Jy is eintlik ’n joernalis. Waar kry jy tyd om te skryf? En put jy inspirasie uit die werk waarmee jy by jou day job betrokke is?

Ek staan elke oggend baie vroeg op om seker te maak ek kan ’n uur of twee skryf voor ek met my dagtake begin. Dan skryf ek ook deur die dag wanneer ek ook al ten minste 45 minute beskikbaar het. Ek het al op lughawens, vliegtuie, busse en treine geskryf. My gunstelingplek om deesdae te skryf is enige koffiewinkel wat ’n flat white maak wat my asem kan wegslaan.

My werk is ’n voortdurende bron van inspirasie. Ek ontmoet soveel interessante mense, en word aan soveel uiteenlopende omstandighede blootgestel dat ek werklik nie kan help om dit soms in my boeke in te werk nie. Ek doen dit egter nooit direk nie. Dit sou my bronne vervreem en ’n mens moet hulle altyd in ag neem.

Van die interessante stories wat ek al gedoen het, is onder andere ’n ondersoek na gouddiefstal in myne, om in ’n selfaangedrewe voertuig in Duitsland te ry en om Beijing se agterstrate in te vaar op soek na nagemaakte goedere.

As jy drie boeke moet kies wat die grootste impak op jou lewe gehad het, watter boeke sou dit wees?

  • Die klein prinsie – Antoine de Saint-Exupéry
  • Don’t let’s go to the dogs tonight – Alexandra Fuller
  • Written on the body – Jeanette Winterson

Leek ook:

Resensie: Sewe-en-veertig deur Irma Venter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top