Resensie: Sewe-en-veertig deur Irma Venter

  • 2

Titel: Sewe-en-veertig 
Skrywer: Irma Venter
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798178242

Mosi Mosholi, ’n datawetenskaplike met ’n shady verlede en ’n redelik ongesellige fobie vir kieme en stof, het ’n angswekkende patroon in haar gesofistikeerde digitale databiblioteek ontdek. Drie lukrake sterfgevalle in Kaapstad blyk geen ongeluk te wees nie, maar die donker kant van Mosi se data-insamelingsbesigheid verhoed haar om die polisie se hulp in te roep. Enter kuberboffin, Sarah Fourie, in al haar Coke-slukkende, motorfietsryende, kortgat, ongedurige glorie. Oudspeurder Jaap Reyneke is op sleeptou en die twee word uit Gauteng opgekommandeer om te gaan uitvind of Sarah se vriendin se sinistere ontdekking wel water dra. En om nog moontlike opvolgende moorde te probeer keer.

Hulle snuffeltog lei hulle na ’n spesifieke hotel waar ’n paar interessante karakters ’n tyd gelede een oggend tydens die ontbytuur saam in die eetkamer opgeëindig het. Sarah en Jaap moet uitvind wat die konneksie is wat die ontbyteters se lewens in gevaar stel. Of sit een van hulle dalk agter die moorde? Het iemand iets gesien wat die melk in hulle graanvlokkies onmiddellik suur gemaak het? Het hulle tussen happe roereier en spek dalk iets gehoor wat iemand sou noop om hulle die een na die ander af te ransel?

Een van die gaste is ’n bendeleier uit die Flatse. Nog ’n ander een is ’n stinkryk bekende sakeman. Gooi ’n paar buitelanders en ’n plaaslike aktrise ook in die mix en die drade wat jy bymekaar moet trek is interessanter as ’n Venik-massering. Intussen stap die ure aan en as Mosi inderdaad reg is oor die datapatroon, gaan die moordenaar se mes binne enkele dae nog ’n sagte teiken tref. Gaan Sarah en Jaap die knoop betyds deurhaak? Natuurlik gaan hulle.

Irma Venter se sewende boek in die S-reeks is die sewende volronde bewys van haar vernuf as krimiskrywer. Met elke boek kry sy dit weer en nog ’n keer reg om die leser te oorrompel met haar gulhartige skryfwerk. Sy bedérf haar aanhangers. Haar karakters is almal mense met wie jy om ’n braaivleisvuur wil sit en kuier om nog meer van hulle te wete te kom. Haar navorsing oor die buitengewone, hetsy plekke of stede of tegnologie, is altyd raak en die storielyne is immer in pas met die tydsgees. Venter gaan jou regtig nooit verveel nie.

Die onwaarskynlike vriendskap tussen Sarah en Jaap is al in ’n paar boeke in wording en is een van die groot vreugdes van die boek. Hulle unieke verhouding is ook waar die menslikheidsaspek van Sewe-en-veertig die hardste praat, sonder dat die grit deur sentimentaliteit afgewater word. Nuwe dissipels van Venter sal naatloos in die twee se eiesoortige liefde en besorgdheid oor mekaar inval en ’n ellelange backstory is nie nodig om hulle verknogtheid aan mekaar te verstaan nie. Mens sien uit na nog ’n S-boek wat die verhouding tussen die twee verder ontgin. ’n Newekarakter wat hopelik in ’n toekomstige boek haar eie volwaardige spreekbeurt gaan kry, is Mosi se assistent, Smittie. Daar is ryke stof opgesluit in haar doktersgraad oor algoritmes wat menslike gedrag voorspel.

Nog ’n regmerkie vir Venter is haar nié-so-standaard aanbieding van Kaapstad. As jy bekend is met als wat aan die voet van Tafelberg gebeur, sal jy waarskynlik vir ’n oomblik of twee kopkrap oor hierdie weergawe van die Moederstad. Hoewel sekere landmerke onveranderd daar uitsien, is verskeie restaurante, hotelle en kroeë uit haar skrywersduim gesuig. Nie eers Mosi se drones gaan dié interessante plekke vir jou kan opspoor nie. Hierdie Kaapstad is ook nie die Mekka van sonskyn en cocktails soos wat altyd in toerismebrosjures opgedis word nie. Hierdie Kaapstad is koud en droef. Dis donker en onvoorspelbaar en ’n broeiplek vir misdaad en gure karakters. Venter se Kaapstad is die teenpool van vakansiepret en die perfekte backdrop vir skurke om te doen wat hulle die beste doen. Soos in die geval van Nordic noir is die landskap bleek en die bui heel somber.

Sewe-en-veertig is die ideale leesstof vir die naderende somervakansie en dit bevat al die regte bestanddele om jou vas te pen in ’n leesgreep wat moontlik jou familie gaan irriteer. Daar is hope aksie en drama, verskeie verdagtes om jou aan die raai te hou en meer as genoeg Irma Venter-magic om jou enduit te boei. Hoewel dit nie my persoonlike gunsteling uit Venter se pen is nie, doen sy met Sewe-en-veertig steeds als wat van ’n goeie misdaadskrywer verwag word. En sy doen dit, heel natuurlik, damn goed daarby.

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Kokkies Stemmet

    Waarom die titel
    Sewe-en-veertig?
    Nie seker wat dit te doen het met die boek nie. Eks nou op bl 302. En ek kon nog nie die konneksie vind met 47 nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top