Resensie: Skrapnel deur Irma Venter

  • 0

Titel: Skrapnel
Skrywer: Irma Venter
Uitgewer: NB Uitgewers / Publishers
ISBN: 9780798162562

  
 

Koop Skrapnel by Kalahari.com.

 

Vir haar debuut, Skoenlapper, is Irma Venter deur verskeie kritici geloof vir haar vars aanslag, interessante en oortuigende karakters en lewendige beskrywings van die ruimtes waarin die verhaal afspeel. Dit was ‘n verhaal wat snaarstyf gespan was en teen ‘n vinnige tempo ontvou het.

Nou is Alex, Ranna en Sarah terug in die opvolg, Skrapnel.

Alex ondersoek onwettige mynwerkers en ‘n mynsindikaat vir ‘n storie en word tydens ‘n ontmoeting met ‘n nuwe informant ontvoer. Die polisie kan geen hond haaraf maak nie; die enigste persoon wat die ondersoek volhou, is Sarah, Alex se rekenaarfoendi-vriendin. Na ses weke se soek spoor Sarah uiteindelik vir Ranna op. Sy het haar nodig; Sarah “ken nie mense wat deure kan oopskop nie, net ‘n spul kommin witboordjiediewe”. En Ranna, wat immers self ‘n misdadiger is en boonop vir Alex liefhet, “laat dinge gebeur” (52). Sarah oorreed Ranna dat die polisie aanbeweeg het en sy ‘n goeie leidraad het, maar nie alleen vir Alex kan red nie. Haar troefkaart, Ranna se gevoel vir Alex, speel sy meesterlik. Wonder bo wonder vertrou Ranna haar. Sarah is egter nie die tipe meisie wat vriende maak of dinge om onselfsugtige redes aanpak nie. Die enigste mense in haar lewe wat saak maak, is haar familie en Alex. Ranna kom te laat agter dat Sarah haar nooit die volle waarheid vertel het nie. Sy is nou in Suid-Afrika met ‘n vervalste paspoort wat deur Adriana, Sarah se tante, gereël is. En al wil sy eerder vir Sarah in haar pistool se visier kry, het sy geen ander keuse as om saam met haar te probeer om die gemors waarin hulle is, op te los nie. Want Alex se verdwyning hou klaarblyklik verband met Ranna se verlede, spesifiek daardie laaste “job” wat haar pa gedoen het. Dit is dus nie net ‘n geval van deure oopskop en Alex gaan red nie. Ranna moet haar verlede en alles wat sy onderdruk het, konfronteer in ‘n poging om dít te kry wat Alex se ontvoerder soek. Vir die ruiltransaksie. En die tyd loop vinnig vir dié twee meisies uit.

Wanneer ‘n debuut, soos dié van Venter, soveel lof ontvang, is lesers geneig om die tweede boek strenger te beoordeel. Ons verwag dieselfde opwinding wat die eerste een verskaf het. Skrapnel het my aanvanklik nie heeltemal bekoor soos Skoenlapper nie. Soos sy voorganger boei Skrapnel wel van meet af, en die ruimte word weer eens besonder goed ingespan. Maar die spanning word heel anders as voorheen opgebou. Waar die verhaal in Skoenlapper as ‘t ware in twee verdeel is, met eers die perspektief van Alex en daarna dié van Ranna, spring die leser van meet af in Skrapnel tussen perspektiewe. Daar word nie dieselfde truuks gespeel op die leser nie. In Skoenlapper het die leser só met Alex identifiseer dat jy teen die tyd dat Ranna fokaliseer, nie geweet het wat jy van haar moet dink of glo nie. Die leser is lank in die duister gehou oor presies wie en wat Ranna werklik is en wat op die spel is. Maar toe ek eers besef hoe Skrapnel “werk”, was ek oorwin. Die aantrekkingskrag van die verhaal, die opbou van spanning, lê nie net in die intrige rondom Alex se opsporing nie. Die emosionele spel met die leser is nie in die uitstel van die waarheid nie; ons weet gou wat Sarah se motief is en hoe Ranna daarop reageer, ook waar Alex is en wat nodig is om hom te red. Die spanning lê daarin dat hier twee baie sterk vrouekaraters teen mekaar afgespeel word. Beide is belangrik in Alex se lewe, beide wil hom red, ongeag die manier waarop hulle dit doen, en slegs een van hulle kan in hulle doel slaag.

Waar Ranna aan die leser bekend is, leer ons in Skrapnel vir Sarah ken as ‘n Afrikaanse Liesbeth Salander: antisosiaal; hopeloos te slim met rekenaars; steur haar nie aan die reëls nie; en kan eenvoudig nie goeie verhoudings opbou nie. Daar is ‘n woede net onder die oppervlak, ‘n traak-my-nieagtige houding wat haar weerloosheid moet wegsteek. Sarah, wat enigiets sal doen vir Alex en Ranna slegs as middel tot die doel sien, glo steeds dat daar vir haar en Alex ‘n toekoms saam is. Of ‘n mens van haar hou of nie, sy lok emosie by jou uit. Ranna, daarenteen, verander merkbaar deur die loop van die verhaal. Wanneer Sarah haar opspoor, het haar voortdurende vlug en die gebeure van die vorige verhaal hulle merk gelaat: “Ranna lyk anders as wat ek haar onthou. Harder, die lyne van haar lyf sterker gedefinieer. Al die spiere in haar lyf wat sy gebruik om te beweeg – te hardloop – is meer uitgekerf as laas toe ek haar gesien het. Haar boarms, haar bobene onder die stywe jeans. Meer nog, verlede jaar was sy desperaat om weg te kom. […] Die vrou wat nou voor my staan, is nie meer desperaat nie. Inteendeel, ek wonder of daar iets oor is van die mens vir wie Alex so lief was. […] Haar skouers is styf, gespanne, asof sy ‘n ewigheid al watertrap net om bo te bly. Asof sy iets met moeite binne hou. Iets wat dreig om alles om haar te verteer, haarself inkluis. […] Ranna Abramson is kwaad. Baie kwaad. Die gemaklike, onweerstaanbare sensualiteit waarop ek so jaloers was, is afwesig. Weggepak” (40). In Suid-Afrika moet sy nie net haar gevoel vir Alex erken en aanvaar nie, maar ook haar verlede konfronteer. Ranna se redes vir haar voortdurende vlugtogte word nou uitgepak. Skielik is sy weerloos en broos, gestroop van haar mondering deur haar verlede en gevoel vir Alex. Ek mis die misterieuse, gatskop-Ranna van Skoenlapper, maar haar ontwikkeling is geloofwaardig – geen vrou bly onaangeraak deur die liefde én ‘n pynlike konfrontasie met haar verlede nie. En alhoewel Sarah, die merrie, nie juis my gunstelingkarakter is nie, krap sy jou gevoelens deurmekaar: jy spring voortdurend tussen simpatie en woede. Hulle is twee sterk, teenstrydige karakters met ‘n magdom raakpunte, as hulle dit maar net wíl sien.

Skrapnel word bevolk deur sterk, interessante vrouekarakters. Want daar is ook Adriana, ‘n sakevrou met ‘n geheimsinnige verlede en vele duistere kontakte. Sy kry met die klap van haar vingers ‘n vervalste paspoort en laat haar deur niemand stuit nie – selfs nie (oud)polisie nie. Onder haar gesofistikeerde uiterlike skuil ‘n donkerte wat fassineer. Wie weet wat Venter met dié vrou in haar volgende boek kan doen. Ek hoop van harte om haar weer raak te lees.

Dit is hierdie tipe vrouekarakters van Venter, dié wat nie konformeer nie, wat sterk en onafhanklik is, met ‘n kleurvolle verlede wat hulle hede sterk beïnvloed, wat tot my spreek. Daarom dat ek doelbewus kies om die einde van Skrapnel as “oop” te sien, ‘n stukkie voorgee of “make-believe” binne die wêreld waarin Alex, Ranna, Sarah en Adriana beweeg. Want ‘n tradisionele, tipiese liefdesroman-einde pas eenvoudig nie by enige van die karakters nie. Hulle bekoring lê juis in die onkonvensionele, daardie ewig-op-vlug-wees – van hulself, die gereg, die reëls van die samelewing.

Skrapnel het my dalk nie so vinnig soos Skoenlapper oorrompel en bekoor nie, maar dit is ‘n lekker krimi wat my wél enduit geboei het: die intrige is vermaaklik, speel af teen ‘n lekker tempo en slaag daarin om spanning op verskeie vlakke op te bou. ‘n Goeie opvolg vir Skoenlapper, en hopelik net die begin van ‘n Adriana-storie en vele ander boeke uit Venter se pen.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top