Skoenlapper deur Irma Venter – ’n bedrewe en onderhoudende spel met die leser

  • 18

Skoenlapper
Irma Venter
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798156738

Koop Skoenlapper by Kalahari.com!

 

Sowat tien jaar gelede het DW Taylor van Moravian College in Pennsylvania ’n studie met sy studente gedoen om die vyf belangrikste eienskappe van ’n goeie riller vas te stel. Wat dié studie so interessant maak, is dat die onontbeerlike aspekte, soos deur die studente bepaal, ook op ander subgenres binne misdaadfiksie toegepas kan word. Of dit rillers, spanningsverhale, speurverhale of whodunnits is, die vyf basiese aspekte wat leesplesier verseker, lyk so: goed-ontwikkelde karakters met wie die leser kan identifiseer en wat enduit boei; ’n soliede, geloofbare ruimte; ’n vinnige tempo; geweld wat geregverdig word deur die verhaal en nie bloot as skoktegniek of vir sensasie gebruik word nie; en natuurlik die slim en vernuftige opbou van spanning regdeur die verhaal. Geen goedkoop truuks vir jou leser nie, dankie; lesers wil verras word, nie gefnuik nie. Wanneer die einde onverwags en met ’n skop ontknoop, is dit ’n bonus. Dit is aan Taylor en sy studente se vyf basiese vereistes dat ek telkens dink wanneer ek ’n debuut-spanningsverhaal soos Irma Venter se Skoenlapper beoordeel.

Dean Koontz het per geleentheid gesê: “Suspense in fiction results primarily from the reader’s identification with and concern about lead characters who are complex, convincing, and appealing.” Met die opening van Skoenlapper ontmoet die vryskutjoernalis Alex vir Ranna, ’n vryskutfotograaf wat, soos hy, gestasioneer is in Dar es Salaam, ’n plek “waar dit lyk asof niemand kan oorleef nie en niks kan gebeur nie” (9). Die oomblik wat Alex haar sien, weet hy: “Dis hoe ’n mens verlief raak. In een oomblik. In minder tyd as wat dit neem om jou asem in te trek” (10). Ten spyte van waarskuwings dat Ranna nooit lank in ’n verhouding bly nie en tjoef-tjaf deur minnaars draf, word Alex deur haar betower. Haar geheimsinnigheid en aanvanklike terughoudendheid is wat hom van meet af aangetrek. Dit word egter stelselmatig sy grootste frustrasie: Ranna weier om oor haar verlede te praat en is ontwykend wanneer hy reguit uitvra. Wanneer die lyk van miljardêr Billy Jones gevind word en dit aan die lig kom dat Ranna die laaste persoon is wat hom gesien het, begin Alex wonder of sy werklik onskuldig is. Waarom wil sy nie met hom of die speurder, Hamisi, praat nie?

Alex is self ’n komplekse karakter wat van ’n pynlike verlede wegvlug, daarom dat hy verkies om oor plekke soos Dar es Salaam te berig. Hy probeer sy bes om Ranna die ruimte en ondersteuning te gee wat sy vra. In Dar es Salaam, weet Alex, word misdade nie so vinnig soos elders opgelos nie, en die voor die hand liggende is nie altyd die beste oplossing of antwoord nie. Maar Hamisi blyk besonder bekwaamd te wees en sorg vir die een onaangename verrassing na die ander wat Ranna betref. Dié speurder weet duidelik baie meer van Ranna as Alex. Uit die aard van sy werk jaag Alex chaos. Dit volg hom. “Chaos herhaal homself altyd. En dit wat te veel herhaal, soos reën, verloor ook uiteindelik impak. Dit krimp in omvang [...] Skok, net soos liefde, kan afgestomp raak. Gewoon raak. Alledaags en vervelig raak” (85). Met Ranna word Alex weer binne-in chaos gedompel, dié keer van ’n persoonlike aard, en dit dreig om meer as sy verhouding te kelder.

Venter bou spanning slim op deur van afwisselende eerstepersoonsvertellers gebruik te maak. Die leser klim in die lyf van Alex, simpatiseer met hom, word saam met hom geskok en onthuts. Stelselmatig begin die onsekerheid rondom Ranna, haar verlede en haar rol in die dood van Billy toeneem. En dan, sodra jy, soos Alex, byna oortuig is dat sy verdag optree, verskuif die perspektief na dié van Ranna, weer eens as eerstepersoonsverteller. Nou ervaar die leser háár emosionele belewenis, haar paniek en desperate pogings om Alex veilig te hou. Want Ranna se verlede volg haar en dit sorg elke keer wanneer sy in ’n verhouding betrokke raak, vir veel meer as bloot chaos. Dit is nie om dowe neute dat sy stede soos Dar es Salaam kies nie: hier kan sy anoniem bly, ’n blote skim, en lig bly leef. Sy durf nie vir Alex of Hamisi vertrou en die waarheid vertel nie. Vertroue het haar in die verlede reeds duur gekos.

Beide Ranna en Alex word so oortuigend uitgebeeld dat die leser nie kan of wil kant kies nie. Hierdie spel met die leser word vernuftig gebruik om spanning op te bou. Dit gaan om meer as die oplos van Billy se moord of Ranna se verlede wat dreig om haar weer eens te verswelg; die verhouding tussen die hoofkarakters en die behoud, fisies sowel as psigies, van beide karakters is wat die leser jaag om klaar te lees. Die spanning word op breekpunt gehou nie deur ’n reeks moorde of gewelddadige tonele nie (benewens die klimakstoneel is daar byna geen gedetailleerde beskrywings van geweld nie), maar deur die opstapeling en onthulling van geheime, inligting en verdoeselings.

Skoenlapper getuig van insig en mensekennis; die karakters is oortuigend en prikkelend, die ruimte word vernuftig gebruik as toeligting tot die karakters se optrede sowel as om atmosfeer te skep. Daar is geen goedkoop truuk om spanning op te bou nie. Die spel met die leser word op ’n bedrewe en onderhoudende manier gespeel. Boonop is die tempo lekker vinnig, die hoofstukke kort en Venter se styl vars en verfrissend.

Met Skoenlapper kon ek maklik my regmerkies, à la Taylor en studente, vir ’n debuut-spanningsroman maak. Ek vermoed dié skrywer kan maklik een van ons groot krimiskrywers word.

  • 18

Kommentaar

  • Dianna Lombard

    Baie dankie vir die blad!
    Ek behoort aan die Sedgefield se Leeskring en moet Skoenlapper by ons volgende vergadering behandel.

  • Hallo, Dianna. Ek moet met my graad 12's dit behandel. Sal jy asb in kontak met my tree.
    Ek het hulp nodig.
    0714024096

    Baie liefde

  • Anel van Staden

    Hallo, Dianna en Elzaane. My kind is in graad 12 en ons doen tuis onderrig en moet die boek behandel. Sal jy asb ook vir ons help nadat julle die boek behandel het en met my in kontak tree.
    Ons het asb alle hulp nodig wat ons kan kry.
    Dankie byvoorbaat
    0721048368

  • Sandra Boltman

    Hallo julle, ons doen ook tuis onderrig, sal waardeer as julle met my enige inligting kan deel aangaande Skoenlapper.

  • Janeke Schoeman

    Goeiedag, my dogter is in Gr 12 en behandel 'Skoenlapper'. Kan jy asseblief enige opsommings wat jy het vir my stuur?
    Ek sal dit so baie waardeer.
    Groete Jana

  • Yolanda Potgieter

    Goeiedag, my seun is in graad 12 en doen ook Skoenlapper - die rekordeksamen is om die draai. Is daar dalk enige opsommings? Ek sal dit waardeer.

  • Ek is in graad 12 tans en het hulp nodig met die laaste paar maande se eksamens. Is daar dalk so 'n movie wat kan help?

  • jeandre fourie

    Môre, kan LitNet dalk vir my die luisterboek stuur, asb, vir die graad 12's om na te luister, ek sal dit baie waardeer.
    Groete, Jeandre Fourie

    • Beste Jeandre, dankie vir die navraag. Ons beskik ongelukkig nie oor luisterboeke wat ons kan aanstuur nie. Daar word wel heelwat skolemateriaal vir skoolkinders op LitNet gepubliseer. Volg hierdie skakel om die indeks te bereik waar die skoleinhoud saam gesorteer is: https://www.litnet.co.za/indeks-notas-toetse-en-vraestelle/. Die materiaal is ingedeel volgens graad en vakgebied. Ons voeg so gereeld moontlik nuwe inhoud by. Groete, Naomi Meyer, senior inhoudsbestuurder

  • Hylettje Kemp

    Goeiemiddag, ek wil net asb. hoor of daar iemand is wat opsommings vir graad 12 het vir Skoenlapper en Mis. My seun doen ook tuisonderig en ek sal die hulp baie waardeer.

    • Goeiedag! Dankie vir die navraag. Eerstens kan ek jou en jou seun na Reza de Wet (skrywer van Mis) se LitNet | ATKV-Skrywersalbum verwys: https://www.litnet.co.za/reza-de-wet-19522012/. Hier sal jy agtergrondinligting van die skrywer vind wat jou kan help as jy Mis bestudeer. Daar is nie opsommings aangaande Mis of Skoenlapper op LitNet beskikbaar nie en eie interpretasie van die werk word aangemoedig. Jy is egter welkom om te kyk na die ander skolemateriaal en gratis toetse en vraestelle wat op LitNet beskikbaar is. Hier is 'n indeks van die toetse en vraestelle wat gratis op LitNet beskikbaar is: https://www.litnet.co.za/indeks-notas-toetse-en-vraestelle/. Dit is ingedeel volgens graad en vakgebied. Blaai daardeur om te sien wat beskikbaar is. Klik telkens op die skakels om die inhoud gratis in PDF-formaat af te laai. Sterkte vir die eksamen. Groete, Naomi Meyer, senior inhoudsbestuurder

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top