Ink in my pen: Madri Victor praat oor manuskripontwikkeling, waarom skrywers skryf en die sin van boeke

  • 0

Foto van Madri Victor en die agtergrond van die webwerf: https://www.inkinmypen.com/

Madri Victor is jare lank al betrokke by die Suid-Afrikaanse uitgewersbedryf. Sy woon nou in Kanada, en vertel hoe sy steeds leiding vir Afrikaanse skrywers bied ten opsigte van manuskripontwikkeling.

Hallo Madri, jy is jare lank al betrokke in die Afrikaanse boekebedryf, maar woon nou in die buiteland. Het die Afrikaanse boekebedryf jou nou verloor? Vertel eers gou asseblief vir ons lesers van jou agtergrond (waarvan hulle ook meer hier kan lees).

Toe my man ’n werksaanbod in Kanada kry, het ek vir ’n rukkie gedink ek gaan myself heeltemal herontdek en ’n nuwe rigting inslaan. Maar dit was waarskynlik bloot ’n ontkenningstegniek, ’n manier om my paniek rondom emigrasie te onderdruk. Die eerste ding wat ek in my nuwe tuiste gedoen het, was om die biblioteek en die boekwinkel te gaan soek. Daarna het ek Afrikaanse boeke op my Kindle gekoop. En toe begin ek planne maak om Ink in my pen, wat op daardie stadium slegs ’n ondersteuningsgroep vir ’n paar skrywers was, uit te brei. Ek kan – en wíl – myself nie losmaak van die Afrikaanse boekebedryf nie. Daar is werklik niks anders waaroor ek so passievol is nie. (In my eerste blog vertel ek meer van my reis en hoe Ink in my pen my weer aan die skryf gekry het.)

Jy bied ondersteuning vir skrywers by Ink in my pen. Maar is dit nie waar dat elke mens ’n boek in hulle het en dit net moet neerskryf nie? Wat het jy al by die uitgewers teëgekom waar jy gewerk het, as jy iets wil sê oor veral die manuskripte met potensiaal maar wat nog nie gereed is vir publikasie nie? En wat bied Ink in my pen vir veral daardie skrywers?

Ek weet nie of elke mens ’n boek in hulle het nie; ek weet wel daar is baie mense wat graag ’n boek wil skryf. Stories is so deel van ons alledaagse bestaan dat mense aanneem dis maklik om ’n boek te skryf en gepubliseer te kry. Dit is nie. By die uitgewers het ons dikwels manuskripte gekry wat duidelik ’n eerste weergawe is. Dit is een stappie verder as die oorspronklike weergawe (ek verduidelik hier – wat dit is en waarom dit nodig is). Die eerste weergawe is egter nie publiseerbaar nie. Die storie en die belangrike storie-elemente is daar, ja, maar gewoonlik het die manuskrip nog baie skaafwerk nodig voordat dit gereed is vir publikasie. Uitgewers het nie die tyd of kapasiteit om alle manuskripte met potensiaal te ontwikkel nie. Dit is waarom jy ’n manuskripontwikkelaar kry.

..........
Die storie en die belangrike storie-elemente is daar, ja, maar gewoonlik het die manuskrip nog baie skaafwerk nodig voordat dit gereed is vir publikasie. Uitgewers het nie die tyd of kapasiteit om alle manuskripte met potensiaal te ontwikkel nie. Dit is waarom jy ’n manuskripontwikkelaar kry.
.............

As manuskripontwikkelaar het ek algaande besef dat skrywers ook op ander maniere ondersteuning nodig het. Wat help die tegniese kennis indien jy ongemotiveerd is, jouself afbreek met negatiewe gedagtes, of moed verloor weens onrealistiese mikpunte? Ek het Ink in my pen geskep om skrywers te ondersteun – op verskillende vlakke – sodat hulle kan skryf. Dit is ’n platform waar jy van die skryfproses leer en op tegniese vlak ontwikkel, maar ons praat ook oor dinge soos motivering, die storie wat jy jouself vertel, haalbare doelstellings, en die noodsaaklikheid van kreatiewe rus en herstel. Verder is Ink in my pen ’n gemeenskap waar jy die liefde van skryf en boeke met ander kan deel, deur ’n groter groep ondersteun word wanneer jy swaar trek, en jou suksesse vier.

Daar is heelwat gesprekke aan die gang rondom die belang van die uitgewersbedryf. Daar is onrusbarende gesprekke oor kopiereg. Daar is ook gesprekke oor of mense na ’n uitgewer moet gaan en of hul self moet publiseer. My vraag aan jou is wat die rol is van ’n manuskripontwikkelaar, ongeag of die boek deur ’n uitgewer of self uitgegee gaan word. Wat doen jy met ’n manuskrip wat by jou beland?

Ja, was daar al ooit voorheen soveel opsies vir skrywers om te publiseer? Saam met die verskillende publikasiemoontlikhede kom ook ’n magdom boeke. Dit voel my daar is elke jaar meer boeke in die mark – nie almal ewe goed of geslaagd nie. Of jy tradisioneel of self wil publiseer, my fokus as manuskripontwikkelaar is daarop gemik om die kwaliteit van jou manuskrip te verhoog. Ek gee aandag aan die groter prentjie, die storie-elemente: Gebeur daar genoeg in tonele of het jy te veel inkleding? Werk die storiestruktuur en die tempo van jou verhaal? Is jou styl konsekwent? Klink die dialoog eg? Ondersteun die karakter se behoeftes en begeertes die tipe storie wat jy skryf en is sy/haar ontwikkeling bevredigend? Wek jou storie die korrekte emosionele belewenis vir die storietipe (aksie, liefdesverhaal, ens) by die leser? Dit is die tipe goed waarna ek kyk.

Hier is ’n vraag oor boekresensies. Mense in die Afrikaanse boekebedryf ken mekaar. Hulle is bang om mekaar se brose skeppings in hulle hande te neem en iets krities daaroor te sê. Mens hoor gedurig resensente boeke aanprys as grensverskuiwend of baie belangrik. Terwyl konstruktiewe kritiek juis broodnodig is. Of wat praat ek? Wat is vir jou die belangrikste as jy ’n manuskrip ontvang – om die skrywer op te bou, of om uit te wys wat skort met die teks? 

...........
Mense kan op verskillende maniere opgebou word. Dit is goed en nodig om geprys te word, maar om uit te wys wat skort met die teks is ook ’n manier om ’n skrywer op te bou. Ek praat nou as manuskripontwikkelaar, nie as resensent nie, hoor.
..............

Mense kan op verskillende maniere opgebou word. Dit is goed en nodig om geprys te word, maar om uit te wys wat skort met die teks is ook ’n manier om ’n skrywer op te bou. Ek praat nou as manuskripontwikkelaar, nie as resensent nie, hoor. Wanneer ek in my hoedanigheid as ontwikkelaar of mentor uitwys hoe jy jou storie kan verbeter, is my doel om jou nuwe vaardighede te leer. Ek wil jou ontwikkeling as skrywer fasiliteer. Natuurlik is dit lekker om te hoor wat jy reg doen, in watter opsigte die storie my as leser intrek of eenvoudig werk. Maar wanneer jy my vir manuskripontwikkeling betaal, moet ek fokus op die dele wat nié werk nie – juis om jou storie te versterk en jou as skrywer op te bou.

Om te skryf is ’n alleen proses. Ek sien wel daar is ook ’n kletskamer en omgewing waar mense mekaar kan ondersteun by Ink in my pen. Maar hoe gesels almal daar met mekaar sonder om die energie van elk se eie werk te laat verminder? Praat is een ding, maar gefokus skryf iets anders. Of hoe?

Ai, hierdie idee dat skrywers moet swaarkry en alleen (verkieslik depressief) iewers in ’n hoekie sit en skryf, is so geyk. Natuurlik kan slegs jý die storie skryf. Natuurlik moet jy alleen tyd daarvoor inruim. Maar dit impliseer nie dat skrywers nie ook gemeenskap en ondersteuning nodig het nie. Jy hoef nie eensaam en depressief te wees om te skryf nie. Ink in my pen is juis geskep as ’n ruimte vir gemeenskap waar ons mekaar kan ondersteun sodat jy gefokus kan skryf.

Die Ink in my pen-kletskamer is oop vir enige iemand wat op die webwerf geregistreer is. Dit is ’n ruimte waar mense boekbekendstellings deel en vrae oor die skryfproses vra. Ons klets nie oor die weer of ruil resepte uit nie – tensy jy dit benodig vir jou storie. Ons gesels boeke of skryfsake – dit is een van die huisreëls. Vir Ink in my pen-klublede (’n betaalopsie) is daar tweeweekliks sessies waar ons tegniese aspekte van die skryfproses bespreek en oefen. Daar is ’n forum waar klublede hulle weeklikse skryfdoelwit met die groep deel. Só hou jy jouself en jou gemeenskap verantwoordbaar, maar leer jy ook wat haalbaar is. Verder is daar geleentheid vir klublede om stil saam te skryf. Dit is nou waar almal saam aanlyn, maar met jou mikrofoon af, gefokus werk. Beskou dit as ’n weeklikse afspraak met jouself as skrywer.

Gemeenskap, motivering rondom jou ingesteldheid en doelstellings, ’n platform om te leer en te groei, opbouende terugvoer – dit is alles maniere om jou as skrywer te help om júis gefokus te skryf. En aan te hou skryf.

Hoekom is stories belangrik?

.........
Stories help ons om sin te maak van die wêreld waarin ons leef. Dit vergroot ons lewens deur ons na plekke en mense te neem wat onbekend is.
............

Stories help ons om sin te maak van die wêreld waarin ons leef. Dit vergroot ons lewens deur ons na plekke en mense te neem wat onbekend is. Terselfdertyd laat dit ’n baie groot wêreld krimp tot ’n enkele persoon, ’n emosie wat so bekend is dat dit ons minder eensaam laat voel. Ons leer deur stories. Ons ontvlug deur stories. Ons kry begrip en empatie deur stories. Soms neem ons wraak deur stories. Stories is vir my magies; dit vervul dikwels die rol van presies dít wat die leser nodig het.

Waarom in Afrikaans skryf?

Waarom nié in Afrikaans skryf nie? Dit is my moedertaal, die taal waarin ek dink, voel en ervaar. Afrikaans is ’n beeldskone taal wat jonk en soepel is, ’n taal wat groei. Ja, ek weet Afrikaans het bagasie; dit herinner my daagliks daaraan dat die mag van taal, van woorde, baie wyd strek.

Wat is die koste van jou manuskripontwikkeling? Wat maak mense as hulle met jou in verbinding wil wees?

Die kostes hang af van die lengte van die manuskrip. Indien iemand belangstel om manuskripontwikkeling te doen of aan te sluit by die Ink in my pen-klub, kan hulle ’n e-pos na madrivictor@gmail.com stuur.

Lees ook:

Kopiereg en billike gebruik vir leke

Oor boekresensies, lesersindrukke, uitgewers en skrywers

Wie mag resensies/lesersindrukke skryf?

Waarom word ons opgelei om nét skrywers te wees en nie entrepreneurs nie?

Hoe om ’n boekresensie te skryf

Waarom by ’n uitgewer aanklop eerder as om self te publiseer?

Elders gesien: Cliffordene Norton antwoord Kerneels Breytenbach

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top