
Grafika: Javier Rodriguez en Gino Crescoli | Pixabay
Cliffordene Norton skryf op Facebook:
LitNet het laat weet dat hierdie artikel in reaksie op my twee artikels is. Ek dink die artikels praat verby mekaar, maar nadat ek dit gelees het, het ek geweldig empatie met die stryd van indieskrywers.
Die artikel stel selfpublikasie gelyk aan swak kwaliteit. Dis ’n siening wat sedert ’n paar jaar gelede uitgedien is.
Ja, daar is steeds mense wat boeke self publiseer, maar ek dink nie aan daardie mense as skrywers nie. Baie skrywers wat self uitgee, het hulle herdoop as “indie authors”, want hulle benadering is meer soos dié van ’n tradisionele uitgewershuis op klein skaal.
Die free-for-all in die 2000's het baie skade gedoen aan skrywers wat self wil publiseer. Swak boeke was topverkopers eenvoudig omdat dit goedkoop was.
Maar vir die moderne indieskrywer is kwaliteit, in my ervaring, van kardinale belang. Hierdie skrywers het ’n klein, maar getroue, leserstal en om vir hulle minder as die beste te gee, is nie ’n opsie vir die skrywers wat ek ken nie.
In Suid-Afrika is swak kwaliteit ook ’n moontlike doodskoot vir skrywers se loopbane. Met die lees- en ontwikkelingsuitdagings wat ons land in die gesig staar, sal dit dom wees om ’n swak boek in ’n leser se hande te sit. Dit kan hulle vir ewig afskrik van die plesier van lees. Maar soms praat ego harder as verstaan, en dis waarom meer indieskrywers hul omring met ’n goeie span.
Die tantieme-aspek is ’n tweesnydende swaard, want ek weet uitgewers (nié vanity press nie) neem al die finansiële risiko, maar ek sal nie skrywers shame omdat hulle meer geld wil maak uit boeke waaraan hulle dikwels maande, indien nie jare nie, bestee het.
Vir my is die skryf-vir-die-liefde-daarvan-siening ’n baie bevoorregte een, want dit beteken dat 1) die meeste boeke slegs geskryf sal word deur dié wat finansieel stabiel is, of 2) dat mense sal moet swaarkry om hul kuns te skep.
Ek glo nie in die verheerliking van swaarkry en armoede as inspirasiebron nie.
Sal ek self publiseer? Beslis. Een van my 10-jaar-doelwitte is om ’n hibriede skrywer te wees.
Ek moet bieg dat ek die langer pad neem. Ek werk tans voltyds en geniet my loopbaan. Ek is mal oor skryf en beskou dit as my droomloopbaan, maar ek spaar tans my skrywersinkomste vir wanneer ek my boeke self wil uitgee.
Lees ook:
Waarom word ons opgelei om nét skrywers te wees en nie entrepreneurs nie?
Uitdagings en voordele van selfpublikasie: ’n onderhoud met Francine Beaton
Waarom by ’n uitgewer aanklop eerder as om self te publiseer?
Kommentaar
Uiters waardevolle plasing. Indieskrywers en tradidonele uitgewers kan goeie of swak produkte lewer.
Ek het twee boeke geskryf wat deur ’n tradisionele uitgewer (Naledi) gepubliseer is. 'Donker Bloeisel' is erg gekritiseer vir sy taalkundige- en tipografiese versorging. 'Eendagsblom' se versorging was beter, maar daar was steeds foute.
Ek is tans besig met ’n selfpublikasie wat beter geredigeer is, en die taalkundige- en tipografiese versorging is perfek. Die boek word ook met die beste produkte in hardeband gepubliseer.
Selfpublikasie beteken beslis nie swakker kwaliteit nie.
"Vir my is die skryf-vir-die-liefde-daarvan-siening ’n baie bevoorregte een, want dit beteken dat 1) die meeste boeke slegs geskryf sal word deur dié wat finansieel stabiel is, of 2) dat mense sal moet swaarkry om hul kuns te skep.
Ek glo nie in die verheerliking van swaarkry en armoede as inspirasiebron nie."
Netjies gestel, Cliffordene!