-
Willie Burger het op 19 Oktober 2024 ’n lesing gelewer by die gesamentlike leeskringbyeenkoms van Pretoria-leeskringe. Hy deel die lesing, soos daar gelewer, hier onder.
1. Inleiding
Dankie vir hierdie uitnodiging om by die gesamentlike vergadering van die leeskringe in Pretoria te praat. Hierdie leeskringe het almal ’n lang en trotse geskiedenis en julle het die gewoonte om vir hierdie jaarlikse byeenkoms deurlugtige sprekers te nooi. Dit is ’n eer om genooi te word. Dankie.
Toe ons oor ’n moontlike tema gesels het, het Johan Talma voorgestel dat ek oor die onderwerp: “Hoekom maak skrywers hulle stories soms so ingewikkeld?” praat. Dit is blykbaar ’n vraag wat telkens opgeduik het tydens boekbesprekings, ’n soort vraag, of dalk eerder ’n klagte, oor waarom skrywers nie maar net hulle storie kan vertel op ’n manier wat ons almal maklik kan volg en verstaan nie.
2. Vraag oor “moeilike literatuur”
Die vraag waarom letterkunde soms so moeilik is, is nie ’n nuwe vraag nie. Dit is ook nie nou eers skielik hier aan die begin van die 21ste eeu dat mense voel sommige letterkunde is moeilik nie. In slegs die beperkte Afrikaanse literêre wêreld was daar al minstens ’n paar periodes waartydens mense wou weet hoekom die letterkunde nou skielik so moeilik is. Dit is gevra oor die Dertigers se poësie, oor die Sestigers se romans, oor die postmodernistiese tekste sedert die 1980’s.
NP Van Wyk Louw het in 1958 ’n aantal radiopraatjies vir Radio Hilversum in Nederland gelewer. (In 1977 uitgegee in die bundel Deurskouende verband, en opgeneem in sy Versamelde prosa 2.) Hy het aan hierdie reeks van agt praatjies die titel Moeilike letterkunde gegee.
2.1 Waarom is ons vies as ons nie verstaan nie?
Louw begin deur te sê dat niemand sleg voel dat hulle nie wiskunde of die kwantumfisika kan verstaan nie, maar dat hulle kwaad word as hulle nie letterkunde verstaan nie – so asof alle letterkunde vir almal maklik behoort te wees.
Agter die vraag wat Johan Talma oor ’n koppie koffie geformuleer het as tema vir my bespreking vanoggend, lê die aanname dat stories, dat letterkunde, eintlik maklik behoort te wees om te verstaan – dat almal ’n storie kan verstaan en dat skrywers dan sommer moedswillig is en dat hulle stories wat eenvoudig vertel sou kon word, met ’n begin, middel en einde (en dalk ’n les – “the moral of the tale”), moeilik gaan maak het om die een of ander rede wat ek vanoggend moet probeer verduidelik.
-
Die eerste probleem is die aanname dat letterkunde eintlik blote storievertelling is; maw dat elke boek wat ons lees (of elke drama of gedig of fliek), ’n storie vertel, en dat dit die storie is waaroor dit eintlik gaan. So ’n storie moet ons dan vermaak of ontroer, goed laat voel of bemoedig, ons troos of ons nuuskierigheid prikkel, of inligting gee oor iets wat ons nog nie tevore geweet het nie.
Maar storievertel is nie al waaroor literatuur gaan nie. Die “storie” is dikwels nie eens die belangrikste waaroor die roman of gedig of drama gaan nie.
-
Tweedens is daar, benewens die wanopvatting dat alle letterkunde stories moet vertel en dat daardie stories nie moeilik behoort te wees nie, ook die wanopvatting dat moeilike letterkunde moeilik is omdat die skrywers nie goed genoeg kan skryf nie. Die idee is, skryf Louw: “As die letterkunde duister is, is dit alleen omdat die skrywer nie in staat was om sy gedagtes helder uit te druk nie” (358). Dit is soos ’n student wat vir my skryf as antwoord op ’n vraag om ’n gedig deur Breyten Breytenbach te bespreek: “Wat Breytenbach met hierdie gedig probeer sê, is ...” So asof Breytenbach sukkel om iets gesê te kry en hard probeer, maar dit nie regkry nie, en dat die student dit nou helder gaan verduidelik dit waarmee Breyten so gesukkel het.
Ek gaan albei hierdie wanopvattings oor moeilike letterkunde probeer blootlê, en sommer in die proses ook ’n hele boel ander dinge oor moeilike letterkunde, en die ervaring van letterkunde as moeilik, probeer sê. Maar ek begin met Louw se opstel.
2.2 Troos: Nie alles is verstaanbaar nie
Louw begin sy praatjies oor “moeilike letterkunde” met ’n trooswoord: Moenie dink daar is iemand wat alles verstaan nie! Hy wys daarop dat ons nie moet kwaad word as ons iets nie verstaan nie. Daar is baie dinge wat ons nie verstaan nie. Louw praat van ons “algemene menslike las” : “Wat ons wéét, is ons maar so half seker van, maar van ons onbegrip kan ons nooit ’n besef kry nie” (359). Elders, in “Groot ode”, het hy dieselfde gedagte verwoord met die gevleuelde woorde: “Ons weet nie ons weet nie.” En dis ’n prikkel waarteen ons nie hoef te skop nie. Ek kán nie alles verstaan nie. Soms gaan daar dinge bo my vuurmaakplek wees. En dit is oukei!
3. Wat maak in die algemeen dat ons sekere dinge nie verstaan nie?
Louw noem drie redes waarom ons in die algemeen soms dinge nie begryp nie. Ek dink dat ons nog heeltemal hiermee kan saamstem. Ons ervaar letterkunde as moeilik omdat:
-
ons nie genoeg aandag gee nie
-
ons nie oor die nodige voorkennis beskik om nuwe inligting te kan verstaan nie
-
ons nie oor genoeg skerp dinkkrag (intelligensie) beskik nie.
3.1 Gebrek aan aandag/oplettendhed
Lees ons boeke met noulettende aandag, dalk meer as een keer, of sommer haastig, met verdeelde aandag in brokkies tye?
Kan ’n mens verwag om, wanneer dit oor ingewikkelde goed gaan, soos om die begrip van die menslike gees, oor aspekte van die wêreld wat baie kompleks is, sonder om goeie aandag te skenk dit alles net eensklaps te verstaan? Wil mens met ander woorde hê dat die skrywer alle verwikkeldheid, alles wat moeilik is, moet reduseer tot slagspreuke wat maklik op ’n bufferplakker saamgevat kan word? “As ons ons gees nie span nie, kan ons dan verbaas wees dat ons swak verstaan?”
As dit gaan oor astrofisika, aanvaar ons dit is moeilik, of ons sal dalk meer aandag gee aan die bespreking van die ekonomie deur die jongste Nobelpryswenners. Maar van letterkunde verwag ons dat dit dadelik, met halwe aandag, of in ’n haastige oogwink, verstaan moet kan word. Dat enkele rymende reëls op Instagram, ’n aangestuurde meem op WhatsApp moet alles kan verduidelik oor die diepste leed en trauma en psigiese pyn, of van die ingewikkelde situasie in Gaza?
..........
Maar van letterkunde verwag ons dat dit dadelik, met halwe aandag, of in ’n haastige oogwink, verstaan moet kan word. Dat enkele rymende reëls op Instagram, ’n aangestuurde meem op WhatsApp moet alles kan verduidelik oor die diepste leed en trauma en psigiese pyn, of van die ingewikkelde situasie in Gaza?
..........
Ons kan dus soms letterkunde as moeilik ervaar bloot omdat ons nie deeglik aandag skenk nie.
3.2 Afwesigheid van voorbereiding
As mens net een boek of gedig per jaar lees, gaan jy ook maar sukkel om te verstaan wat aangaan. Louw gebruik die voorbeeld van ’n persoon wat in die helfte van ’n gesprek inloop: Jy kan nie dadelik begin saampraat nie; jy moet maar eers luister waaroor die gesprek gaan. So ook moet mens maar eers ’n bietjie meer boeke lees voordat jy ná die lees van ’n enkele boek of gedig links en regs begin menings lug oor hoe “moeilik” dit is.
“Vir die waardeer van alle letterkunde behalwe die eenvoudigste – maar dikwels juis vir die eenvoud self! – is daar ’n sekere voorbereiding nodig,” skryf Louw (360). Hy wys dadelik daarop dat hy nie hiermee bedoel “formele literatuurstudie” nie – dit kan help, maar is geen waarborg nie – daar is mense hoogs geskool in literatuurstudie wat volgens hom nie regtig daarin slaag om “in die letterkunde in te kom” nie.
Wat Louw bedoel met “voorbereiding” vir die lees van en saampraat oor die letterkunde, is dat ’n mens heelwat moet lees van ’n verskeidenheid soorte literatuur. Indien mens baie lees, doen jy eerstens genoegsame kennis van ’n hele aantal verskillende soorte letterkunde op (uit verskillende tye van die geskiedenis). Hy bedoel nie noodwendig ’n omvattende belesenheid nie, maar ten minste die besef dat daar ’n wye verskeidenheid van literatuur bestaan:
Besef dat daar baie soorte is: volksliedjies, drinkliedjies, verhalende gedigte en gedigte sonder storie, maklike werk en die waarvoor kommentaar nodig is, diep filosofiese gedagtes en ligte woordspel. ... [D]it kan vaderlandliewend wees, of spot met die vaderland; dit kan godsdienstig van aard wees, of on-godsdienstig, anti-godsdienstig selfs; dit kan tot die enkeling spreek, of tot ’n groep: sekte, of volk, of mensdom (360–1).
Dikwels ken mense net die letterkunde wat hulle op skool geleer het – en dit is dan die werk van ’n geslag of twee gelede – en dan beskou hulle dit as die “ware” poësie of prosa, sê Louw. In ons tyd is dit nie meer die gevaar dat hulle die ouer literatuur alleen ken nie, maar eerder dat hulle aan geen Afrikaanse letterkunde op skool blootgestel is nie. En as hulle dan met nuwe literatuur gekonfronteer word, is dit vreemd en skokkend.
Ek wil byvoeg dat ’n mense wat slegs populêre leesstof lees, wat lees om vermaak te word – liefdesverhale, speurverhale, fantasie (en daarmee spreek ek geen oordeel daaroor uit nie) – ook geskok of verslae of in onbegrip sal staar na baie literêre tekste wat dan as moeilik beskou sal word omdat dit verskil van die bekende en voorspelbare patrone van genrefiksie (waarna ek later terugkom). ’n Rugbywedstryd wat jý dalk gemaklik kan volg, is vir iemand wat nog altyd net sokker gekyk het, verwarrend en onbegryplik. Dit neem tyd om te verduidelik hoedat dit werk.
As ’n mens net min soorte literatuur ken, is ’n nuwe werk skielik vir ’n mens vreemd en skokkend en waarskynlik moeilik. Ek sien dit met sommige van my studente wat bitter min lees – hulle sukkel om byna enige Afrikaanse teks te lees, omdat hulle ongewoond is aan lees. Hoe wyer jou kennis van tekste, hoe minder moeilik vind mens nuwe tekste waarmee jy gekonfronteer word.
..........
As ’n mens net min soorte literatuur ken, is ’n nuwe werk skielik vir ’n mens vreemd en skokkend en waarskynlik moeilik. Ek sien dit met sommige van my studente wat bitter min lees – hulle sukkel om byna enige Afrikaanse teks te lees, omdat hulle ongewoond is aan lees. Hoe wyer jou kennis van tekste, hoe minder moeilik vind mens nuwe tekste waarmee jy gekonfronteer word.
...........
Daarom moet ek as leser nederig wees – wéét ek kan nie alles verstaan nie – en moet eers bietjie meer weet voordat ek vies raak vir die goed wat ek nie verstaan nie. Die volgende is belangrik vir elke leser: “die erkenning dat ook my insig en my ervaring maar ’n baie klein insiggie en ’n baie klein ervarinkie tussen miljoene ander se insigte en ervarings is” (Louw, 362).
3.3 Skerp dinkkrag
Ons aanvaar dit is nodig om ’n sekere intelligensie te hê om wiskunde te doen. Maar ons wil hê dat almal boeke moet kan lees? Miskien is dit TV wat ons gewoond gemaak het daaraan dat alle vermaak toeganklik is, en sosiale media versterk die idee dat alle kommunikasie onmiddellik verstaanbaar en helder vir almal moet wees.
Sommige mense redeneer dat literatuur nie soos wiskunde is nie omdat dit oor mense se emosies gaan. En aangesien ons almal emosies het (so volg die logika), moet ons almal dit kan verstaan. Dit is wel waar dat letterkunde óók oor gevoelens gaan en dat almal kan voel. Maar dit is nie ál waaroor letterkunde gaan nie. Letterkunde gaan vir Louw oor “die hele mens”, en dit sluit in: “gevoel, verstand, sintuiglikheid en wat ons nog verder in ons mag hê” (363). Verder sê hy dan dat letterkunde ook oor meer as “die hele mens” gaan; dit gaan oor “die volle werklikheid, die onuit-sê-bare volheid van wat ís”. En dan vra hy: “En watter reg het ons om te eis dat die volheid so eenvoudig vir ons moet ooplê, en sommer maar so deur ons begrippies grypbaar moet wees?” (363).
Louw skryf ook oor die gevoelsargument:
Poësie word gemaak nie van gevoelens nie, maar van woorde […] [M]et die diepste of kragtigste gevoel en ’n swak taalbeheer word alleen swak poësie gemaak. Literatuur is niks anders as taalstrukture waardéúr héén ons die gevoelens en die res van die werklikheid sien; en dié taalstrukture kan soms uiters ingewikkeld wees as dit daarom gaan om ’n fyn genuanseerde gevoel, of ander aspek van die werklikheid, volkome in al sy nuanses uit te spreek. En die moeilikheid lê dan nie by die aanvoel van die gevoel nie, maar by die bereik van dié fyn gevoel deur middel van taalstrukture. (364)
Die lees van literatuur verg dus nie slegs dat ’n mens kan voel of dat ’n mens gevoelens moet hê om dit te waardeer nie. Dit verg ook die verstand, ’n bepaalde begripsvermoë.
4. Wat maak letterkunde moeilik?
Na die bespreking van hierdie drie algemene sake wat dit vir iemand moeilik kan maak om sekere literêre tekste te verstaan (aandaggebrek, gebrek aan voorkennis, gebrek aan skerp insig) praat Louw dan voorts oor waarom sommige literatuur moeilik is. Hy noem veral drie soorte “moeilike” literatuur:
-
literatuur van onbekende, vreemde kulture/letterkundes
-
letterkunde wat ’n ingewikkelde (filosofies komplekse) gedagtegang het
-
letterkunde met ’n onbekende verwysingsveld.
Louw het sy praatjies merendeels gemik op poësie – en veral as verdediging van die Dertigers se poësie (en dus sy eie) teen beskuldigings dat dit moeilik of ontoeganklik sou wees. Sedertdien het ook die prosa in Afrikaans vernuwing deurgegaan en veral wat vertelwyse betref, veel ingewikkelder geword. Hieraan gee Louw uiteraard nie aandag nie en ek voeg dus heelwat daaroor by.
Die drie sake wat hy hier noem wat sou aanleiding gee tot “moeilike” literatuur, geld seker nog steeds tot ’n mate, maar is nie meer heeltemal van toepassing nie, omdat ons nou tegnologies in ’n ander wêreld is waar kennis oor “vreemde verwysings” onmiddellik beskikbaar is aan enige leser en dus nie meer moeisame navorsing in biblioteke verg nie.
4.1 Letterkunde van volke wat ver van ons in tyd en ruimte lê
Letterkunde van ander tye en ander streke wat vir ons kultuurvreemd is, kan moeilik wees om te verstaan. Dit is moeilik om in die werk in te dring as daar gelowe, opvattings, bygelowe, instellings en verwysings in is wat so vreemd is dat mens nie daarby kan “inkom” nie. Om Middeleeuse werk te verstaan, of verhale van die Khoi of die San, of literatuur uit die Zhou-dinastie, kan ’n mens soms kommentare nodig hê wat die konteks en aard van die tekste uiteensit. Kyk byvoorbeeld hoe word moderne vertalings van Homerus of Dante uitgegee: met lang inleidings wat die konteks en aard van die tekste verduidelik.
4.2 Letterkunde waarvan die gedagtegang moeilik is
Sommige literêre werke werk met ingewikkelde filosofiese idees. Dit kan moeilik wees as ’n mens nie kennis dra van hierdie filosofiese idees nie. Sommige mense sê ons moet letterkunde kan geniet en hierdie soort werk is te moeilik om te geniet en daarom is dit nie letterkunde nie, dit is harde werk. Gelukkig is nie alle letterkunde net vir oombliklike genot nie, maar soms gemoeid met komplekse idees wat harde dinkwerk verg. En hiervoor gee Louw die volgende raad: “Leer begryp vandag, slaap goed uit, en probeer geniet dan môre!” (365).
4.3 Letterkunde waarvan die verwysings duister is
Soms word sekere literêre tekste as moeilik beskou omdat dit waarna verwys word, onbekend of moeilik is. Dink maar aan Benjamin Labatut se roman When we cease to understand the world, wat oor wiskunde en die 20ste-eeuse fisika gaan. Die verstand ervaar soms kortsluitings wanneer ons nie die verwysingsterrein verstaan nie. In Ronelda Kamfer se roman Kompoun is daar dalk baie verwysings wat vir bevoorregte lesers uit Waterkloof onverstaanbaar is (soos Ryan Pedro in sy resensie van Kompoun sê).
Verwysings na historiese tydperke of gebeurtenisse, na subkulture, na die doen en late van mense wat ons nie ken nie, kan dit moeilik maak om ’n teks te verstaan. (Hoeveel kennis is nodig oor die rassesituasie en apartheid in Suid-Afrika om Agaat te kan verstaan?)
Die kennis van die fisika en die wiskunde, van die biologie en die ekologie en masjienleer het so vinnig gegroei dat dit onmoontlik is om op alle terreine by te hou. Ingrid Winterbach se verwysings na Chinese kuns in Onrus op Steynshoop of Goya en ander kunstenaars in Die boek van toeval in toeverlaat laat mens in die duister tas as jy niks daarvan weet nie. Die verwysings na argitektuur in Japan in Van vaders en vlugtelinge (SJ Naudé) is belangrik om op te volg. Willem Anker se werk – verwysings na mites, na sampioene, na kuborgs en die afbreek van die menslike liggaam, na KI, maak dit moeilik om te verstaan as mens nie iets van al hierdie verwysingsvelde begryp nie.
4.3.1 Verwysings na al hoe groter, ingewikkelder kultuur en uitbreidende wetenskapdissiplines
Oor hierdie “ingewikkeldheid” wat deur duister verwysings in die literatuur veroorsaak word, sê Louw dat dit nie veel met ons taal of letterkunde te doen het nie, maar met die ingewikkeldheid van ons kultuur – daar is so baie dinge waarvan ons nie weet nie, en miskien is dit juis een van die wonderlike dinge wat letterkunde ons bied – die geleentheid om te leer van aspekte van ons kultuur, en ander mense s’n, waarvan ons niks geweet het nie.
“Die kultuur het, ten minste vir die Westerse mens, ’n omvattende wêreldkultuur geword […] en die moderne letterkunde, in sy beste vorms dikwels, ís die letterkunde van so ’n sinkretistiese (saamgegroeide, inmekaar-gekoekte) kultuur” (373). Kennis oor die heelal brei byna so vinnig uit soos die heelal self, en daarom word die verwysingsvelde ook al hoe vinniger al hoe groter. Ook ons verhoudings met alles om ons word ingewikkelder. Ek kan maar net na die onbegrypbare impak van kunsmatige intelligensie en masjienleer verwys.
Ons kennis van die wêreld en die verskeidenheid dissiplines was al in Louw se tyd oorweldigend, maar intussen het dit eksponensieel gegroei. Die kompleksiteit het gegroei. En ons letterkunde is ’n uitbeelding van hierdie lewenservaring. Ons wil dalk wegbeur van hierdie oorweldigende, ordelose ervaring van ons tyd – van die besef dat stories maar eenlynige maniere van begryp bied terwyl die wêreld nooit so eenlynig werk nie. Stories is vereenvoudigings, en eenvoudige, maklik verstaanbare stories kan die illusie wek van ’n eenvoudige, maklik verstaanbare wêreld. Daarom is dit noodsaaklik dat letterkunde sulke oorvereenvoudigings moet vermy, die illusie van maklike begrypbaarheid moet blootlê, en dit lei dikwels tot ingewikkelder vertelwyses.
Skrywers ervaar al hoe meer (het Louw al in 1958 geskryf, en nou geld dit nog veel, veel meer) dat hulle ervaring van die wêreld vir hulle te groot is, dat mens dit nie as jou eie kan herken en vaspen nie. As jy besluit om met hierdie omvattende, onbegrypbare wêreld om te gaan, kan jy nie anders as om daarmee te worstel nie. Jy kan nie mense reduseer tot introverte en ekstroverte of rooi of blou persoonlikhede nie – of bloot as protagoniste en antagoniste, as goeies en slegtes, voorstel nie. Die ervaring van die werklikheid word veels te ingewikkeld, en daarom word dié ervaring ook so in die letterkunde weergegee.
4.3.2 Verwysings na ’n baie klein, afgeslote wêreld
Die alternatief is volgens Louw vir skrywers om hulle af te sluit van hierdie uitbreidende, al hoe ingewikkelder werklikheid en om te skryf vir ’n eie klein groepie – kerk, party of vriendekring. En dan gebruik jy die klein “diewetaal” van die groepie. Die gevolg is dat hierdie werk ook as “moeilik” ervaar word vir almal wat nie deel van die klein kliek is nie. Hierdie soort literatuur verwys nie na die wye wêreld nie, maar na ’n binnekring, en die leser het ’n soort binnekennis nodig om dit te verstaan. (Kliekliteratuur noem Louw dit spottenderwys.)
4.3.3 ’n 21ste-eeuse reaksie op veelvuldige en binnekringverwysings in die tyd van Google
Hoewel die beginsel wat Louw stel, steeds geld, leef ons nou in die tyd van Google. Al kan dit moeilik wees om letterkunde te verstaan waarin verwys word na ’n ingewikkelde en wye verskeidenheid vakgebiede en ’n uitbreidenende kennisheelal in die tyd van globalisering, of omdat verwys word na ’n klein kliekwêreldjie, is geen verwysing in ’n teks só vreemd of só obskuur dat ’n leser nie binne sekondes kan uitvind wat dit is nie. In ’n sekere sin het hierdie idee van wat literatuur “moeilik” maak, in ons tyd baie minder intimiderend geword. Ek sit dikwels met my selfoon langs my en lees en kan byna oombliklik ’n hele boel kennis oor ’n verwysing ontsluit – ek kan na die skilderye gaan kyk waarna in ’n roman verwys word; ek kan oor ’n historiese figuur of gebeurtenis op Wikipedia lees of na ’n stuk musiek waarna verwys word, luister. Ek kan selfs op Google maps na ’n plek gaan kyk waar karakters mekaar in ’n vreemde stad ontmoet. Bibi Slippers se digbundel Soekenjin is ’n belangrike voorbeeld van hoe verwysingsvelde nie meer die grootste probleem van “moeilikheid” in die literatuur is nie. Ons google alles vinnig.
Al kan ons nou die vreemde verwysingsvelde geredelik toegankliker maak deur soekenjins te benut, beteken dit steeds dat literêre tekste op bepaalde maniere uitdrukking gee aan die al meer ingewikkelde wêreld, aan die ervaring van oorweldig wees deur inligting en ’n gebrek aan insig en begrip in die inligting. En daarom is die “vorm”, die manier waarop romans of digbundels aangebied word, die argitektuur daarvan, die vertelwyse, dikwels ’n manier waarop die leser verhinder word om die indruk te kry dat alles geredelik verstaanbaar is.
4.4 Vorm
Die idee dat die “vorm” van die literêre werk ook moeilik kan wees, word nie pertinent deur Louw in hierdie praatjies genoem nie. Skrywers wat die komplekse ervaring van die werklikheid probeer verstaan, wat uitdrukking aan hulle ervaring van die verwikkeldheid gee, kan nie in alle eerlikheid oorvereenvoudig nie. Diegene wat ’n eenlynige storie verwag, kan verras en verstom en selfs vies wees as daar nie ’n maklik verstaanbare storielyn is nie.
4.4.1 Vervreemding
Een van die redes waarom skrywers se werk soms nie so maklik is om te verstaan nie, is dat kunswerke dikwels doelbewus probeer om van die bekende, gevestigde patrone weg te breek. Nie sommer om snaaks te wees nie, maar juis om dit wat vir ons so bekend is, vreemd te maak, sodat ons dit weer opnuut kan raaksien. Die Russiese Formaliste het vervreemding as een van die groot vereistes vir kunswerke gestel. Hoe maak ek die gewone, dit waaraan ons almal gewoond geraak het, dit wat ons almal as “normaal” aanvaar, weer vreemd, sodat ons kan sien dat dit wat ons as normaal sien, eintlik nie so normaal is nie. Dat mens kan sien waar dit vandaan kom.
Die vraag na waarom die stories moeilik gemaak word, het ook met hierdie soort vervreemding te doen. Vervreemding behels nie ’n blindelingse strewe om alles te vernuwe en te verander bloot om daaraan te verander nie, maar om dit waaraan ons gewoond geraak het as die normale, wat ons aanvaar as die altyd-maar-so-bestaande, uit te daag. En die rede waarom dit uitgedaag moet word, is dat niks wat menslike kultuur aangaan, sonder meer “normaal” is nie. Alle kultuur behels maniere van doen en dink wat aangeleer is. En om uit te vind wanneer dit aangeleer is, met welke redes, en waarom dit in stand gehou word, is een van die belangrikste take van die kuns en die literatuurkritiek.
Kunswerke kan dus ook juis bevraagteken wat kuns is, hoe dit werk; kan die konvensies daarvan blootlê. Want ons maniere van die wêreld weergee en oor die wêreld dink, is konvensioneel – met ander woorde, ons het sekere maniere en patrone wat ons aangeleer het. Sulke kunswerke kan dus vir die leser wat maar net na die bekende op soek is, wat na bevestiging van hulle eie idees en gelowe en gewoontes op soek is, as “moeilik” ervaar word, met die gevolg dat hulle besluit om hulle nie daarmee te bemoei nie en om dan die kunswerke die skuld te gee daarvoor dat dit te moeilik, te vreemd, is.
4.4.2 Stories/vertelling
Omdat stories vertellings is, en omdat vertellings altyd ’n seleksie en ’n ordening behels, is stories altyd vereenvoudigings. Hierdie vereenvoudigings is natuurlik voordelig – dit help ons om ’n greep op andersins oorweldigende chaos te kry. Maar andersins is vereenvoudigings ook nadelig, omdat dit afbreuk doen aan hoe die werklikheid is – stories doen die werklikheid geweld aan, het Hayden White in die 1970’s geskryf.
Een van die vernaamste dinge wat ons aanleer en wat ons dan gebruik om aan die wêreld sin te gee en waarmee ons die wêreld vir onsself voorstel, is taal. En die vernaamste vorm van taal is verhale. Ons vertel stories ten einde motiverings vir ons handelinge te gee, ten einde te verduidelik hoe dinge gebeur en hoekom dit gebeur. Om ’n storie te vertel behels die rangskikking van uitgesoekte gebeurtenisse deur gebruik te maak van chronologie en kousaliteit. (Chronologie: Ons sê eers was dit so en toe gebeur dit en toe dat en nou is dit sus. Kousaliteit: En ons sê omdat dit gebeur het, het dat toe gebeur en dit het veroorsaak dat dat daarom daarop gevolg het.) Op daardie manier leer ons verstaan. Verder hou ons nie maar net aan met ’n lang ketting van “en toe en toe en gevolglik en toe daarom dat” nie. Ons stories stel gewoonlik ’n punt – ons probeer iets bewys: So het dit gekom dat die sebra sy strepe gekry het. So het dit gekom dat ons god ons in hierdie land gevestig het. So het dit gekom dat die mens in sonde geval het. So het dit gekom dat sy nie meer in die liefde glo nie.
Die probleme met hierdie soort stories is legio. Ons kan skynbaar nie anders as om op hierdie manier sin te gee nie. As mens sekere neuroloë moet glo (Dennet, Damasio ea), is ons breine gerat om so te dink. (Soos Abraham H de Vries geskryf het in sy bundel Tot verhaal kom: “Omdat ek in stories dink, soek iets in my na samehang.” As ’n manier van voorstel van ’n wêreld wat ons as toenemend kompleks ervaar, skiet stories tekort.
Geen storie kan omvangryk genoeg wees om die ganse werklikheid te omvat nie. Juis omdat elke storie reeds ’n seleksie is (alles kan nie ingesluit word nie) en omdat elke storie ’n ordening is (wat keuses insluit soos wie die held is, wie die verloorder, wat die hoogtepunt is, wat ’n slegte gebeurtenis is), is stories altyd onvolledig. Is die storie van Bloedrivier een van oorwinning en die regverdiging daarvan dat God aan wit mense se kant is? Of is dit ’n verhaal van tragedie en verlies vir die Zoeloes? Is die Boereoorlog ’n verhaal van verlies en dapperheid en verset teen die Britse Empaaier of die verhaal van teenstand teen vooruitgang en modernisering van die wêreld deur agrariese mense? Is die storie van Israeliese vergelding in Gaza en Libanon om selfbehoud die waarheid of die een van onderdrukking en sistematiese uitsluiting van Palestyne uit die Israelse samelewing? Watter stories moet ons glo in Oekraīne? Hoe meer mens daarna kyk, hoe meer stories mens hoor, hoe moeiliker word dit. Selfs die storie van jou eie lewe is ingewikkelder as om in een samehangende verhaal vandag vertel te word. Môre onthou jy weer iets anders uit jou kleintyd en kom ’n hele ander verhaal oor jou verlede tot stand. Of vanaand hoor jy jou man het al jare ’n skelm verhouding en jy gaan jou hele wêreld moet herbedink en anders vertel.
Om dus aan die ingewikkelde werklikheid – waarvan ons die verwikkeldheid elke dag meer besef – met behulp van stories te verwoord gaan altyd beperkend wees. Soms is skrywers besig om die beperkings van hulle eie vertellings bloot te lê, juis om jou as leser te verhoed om die illusie te kry dat finale insig en begrip deur hierdie roman moontlik gemaak word. Om dit te vermag, kan skrywers die probleme van vertelling uitlig, en dit word dan dikwels as “moeilik” deur lesers ervaar.
4.4.2.1 Verteller
Die skrywer reageer op die toenemende besef van ingewikkeldheid van ons werklikheid en die misleiding wat mens sou teweeg bring deur dit te oorvereenvoudig in ’n verhaal. Een manier waarop skrywers op hierdie dilemma reageer, is deur die verteller nie as ’n kenner van die ganse verhaal te vertrou nie. En die gevolg kan die werk vir sommige lesers moeilik laat voel.
Die een manier kan wees om die leser se aandag daarop te vestig dat hierdie verhaal wat vertel word, bloot ’n verhaal is, dat dit vanuit ’n bepaalde hoek vertel word, om self die eie hoek van vertelling bloot te lê en om die eie beperkings in kennis bloot te lê. Vertelling mag natuurlik lyk, maar dit is aangeleerde konvensies. En soms word die vertelkonvensies blootgelê, veral in tekste wat ons metafiksie noem – of wat soms as postmodernisme bekendstaan. Dink maar aan Koos Prinsloo se kortverhale, soos “Die jonkmanskas”, waarin die storie van die oupa, wat die ouma so graag wil hê oorgetik en uitgegee moet word, deur haar kleinseun oorgetik word, maar ook van voetnote voorsien word, op só ‘n manier hervertel word dat die vooroordele van die oupa se patriargale denke en rassisme blootgelê word en dat die oupa nie meer – soos die ouma wou hê, soos ’n held lyk nie maar soos ’n onsensitiewe wreedaard en vernietiger van die natuur.
Modernistiese romans het reeds probeer om erkenning te gee daaraan dat mens nie kan aanspraak maak op alomvattende kennis nie. Daarom is die derdepersoonsverteller (iemand wat buite die verhaal staan en kennis het van alles en almal en alles beheer in die vertelling, en sodoende die illusie skep van ’n verstaanbare wêreld) al hoe skaarser in die 20ste eeu. David Lodge meen dat die derdepersoonsverteller uitgedien is, want dit skep die indruk van die moontlikheid om alles te ken. Omdat ons besef daar is nie so ’n onbevooroordeelde plek van buite die heelal waarvandaan mens kan kyk en verstaan nie. ’n Skrywer soos WG Sebald meen dat die verteller wat alles ken, vir hom onaanvaarbaar geword het (in James Wood se How fiction works).
Maar vir baie lesers is die verdwyning van die derdepersoonsvertelling moeilik om te aanvaar. Dit maak die vaste greep op die verhaal al hoe onsekerder. En dit word dus moeilik om te lees.
Veelvuldige vertellers
Die keuse van wie vertel en uit watter hoek vertel word, lei ook soms tot veelvuldige vertellers, wat dit dan soms nág ingewikkelder kan maak – dink maar aan André Brink se Houd-den-bek, waarin al die karakters hulle eie weergawe van die gebeurtenisse rondom die slaweopstand weergee. En natuurlik is dit ook nie noodwendig ’n meer billike of korrekte weergawe wat daaruit spruit nie – die leser word weer gemanipuleer deur watter sprekers eerste en laaste aan die beurt kom, wie die meeste praat, en hoedat hulle ook positief en negatief uitgebeeld word deur hulle optrede en gedagtes. Maar dit laat die leser iets van die meer komplekse wêreld besef. En dit mag moeiliker wees om te lees as ’n enkele verhaal vanuit ’n “buite”-perspektief.
Onbetroubare vertellers
Maar die verteller self kan ook al hoe komplekser gemaak word – hoe betroubaar is die verteller? Kan ons glo wat die verteller vertel? Kirby van der Merwe se jongste roman, Eugene, maak dit baie moeilik om te kan weet of ons die verteller kan glo of nie.
En as mens nie die storieverteller kan glo nie, na watter hoër gesag kan jy jou dan wend om vas te stel wat dan die waarheid is? Dit lei daartoe dat mens agterkom hoe ingewikkeld die wêreld is en hoe ingewikkeld ons verstaan daarvan is. Dit maak die boek moeiliker.
4.4.2.2 Plot
Plot gee samehang
Die samehang wat stories gee, kan ook op ander maniere uitgedaag word. Dink maar aan Ingrid Winterbach se jongste roman, Onrus op Steynshoop.
Daar kan nie gesê word dat daar nie ’n storie vertel word nie. Trouens daar word báie stories vertel. Maar hulle loop nie almal saam in een groot begrip nie. Hulle bied nie een enkele insig nie. Hulle sluit in sekere opsigte oënskynlik lukraak by mekaar aan. Sodoende word die idee dat ons deur stories ’n enkele samehangende begrip van die komplekse bestaan in ons land, van bestaan as mense, van bestaan as kunstenaars, kan gee, ondermyn.
Plot sonder spanning
Ander maniere waarop die vertelling “moeilik gemaak” kan word, is as die handeling heeltemal op die agtergrond verdwyn, as dit meer gaan oor die gedagtes, oor die emosies, oor die stemming, of oor die filosofiese idees. Letterkunde kan werk met sekere gewaarwording en insigte wat nie deur die kousaliteit en koherensie van verhale gegee word nie. En lesers wat op soek is na die spanning in die verhaal, wat gemotiveer word deur ’n boeiende aaneenskakeling van opsienbarende en sensasionele gebeurtenisse, sal dit moeilik vind om romans te lees waarin weinig gebeur, met lang sinne en paragrawe en subtiele verskuiwings eerder as spanning oor die lot van die karakters.
........
Die lewe bestaan immers nie uit slegs spannende en sensasionele gebeurtenisse (soos die nuusmedia ons soms wil laat glo of soos wat ons mekaar wil laat glo op ons Instagram en Faceboek-bladsye of deur ons WhatsApp-profiele) nie!
..........
Die lewe bestaan immers nie uit slegs spannende en sensasionele gebeurtenisse (soos die nuusmedia ons soms wil laat glo of soos wat ons mekaar wil laat glo op ons Instagram en Faceboek-bladsye of deur ons WhatsApp-profiele) nie! En wanneer die lewe weergegee word in die banaliteit daarvan, in die vervelige of die droewige en die onsekere, soos Knausgaard, kan dit deur lesers as “moeilik” ervaar word, omdat hulle wag vir die spoed en sensasie en spanning.
Onbekende plotstrukture
Die ander probleem van vertelling is natuurlik dat daar sekere bekende plotstrukture is waarvolgens die meeste verhale vertel word. ’n Beperkte aantal maniere waarop ons stories kan vertel. Dis nie asof elke storie heeltemal van voor af vertel word nie. Ons vertel stories volgens sekere patrone.
Een van die maniere waarop ons verhale indeel, is volgens die populêre genres: avontuurverhale, liefdesverhale, misterieverhale, gruwelverhale ens. Ons is bekend met die formules van hierdie verhale en vind troos daarin om te weet dat die skurke gevang gaan word, die helde gaan wen en die geliefdes by mekaar gaan uitkom. Die belangrike is dat hierdie formules eintlik ons diepste verlangens en wense uitdruk, eerder as die werklikheid. Hoe het Louw geskryf? “Hart my hart jy was so bang dat hierdie aarde nooit sou word nie dit wat jy van hom verlang.” Ons vertel die stories van die wêreld soos ons verlang dat dit moet wees, nie soos dit is nie. Hierdie stories is, soos Terry Eagleton gesê het, ons “wensvervullende diskoerse”.
Die probleem is dat wanneer ons oor en oor na dieselfde formules luister/kyk, dit lees, hulle vervelig raak. Die spanning verdwyn, want jy weet hoe dit gaan eindig. Daarom moet skrywers dit laat lyk asof die formule hierdie keer gebreek gaan word. En soms is dit ook nodig dat die formule gebreek word, dat die geliefdes mekaar nie vind nie en die skelms nie aan die pen ry nie. Die spesifieke boeke waarin dit gebeur, mag dalk minder gewild wees, maar hulle veroorsaak dat die spanning in ander boeke werklik kan wees. Vir sommige lesers is hierdie boeke waarin die formules gebreek word, egter “moeilik” om te verwerk, juis omdat van die bekende patrone afgewyk word.
Maar dit gaan nie bloot oor die verbreking van wensvervullende formules sodat spanning in die ander behoue kan bly nie. Ook verhale wat heeltemal van die formules afwyk of wat die formules op hulle kop keer, is maniere waarop by die ervaring van ’n komplekse werklikheid aangesluit word. En vir sommige lesers is dit “moeilik” as romans nie die bekende patrone volg nie.
4.4.2.3 Tyd
Vertelling is lineêr (“en toe en toe en toe”), en dit maak dit vir ons moontlik om tyd te bedink en te ervaar. Maar tyd is nie so maklik om te begryp nie. Dit is iets waarmee vertellers al lankal probleme ervaar. Hoe vertel mens dinge wat gelyktydig op verskillende plekke afspeel? Bart Nel het dit gedoen deur eers Bart, dan Fransina en dan weer Bart se storie te vertel. In die ou Ruiter in swart-boekies het daar bo-aan ’n fotoblokkie gestaan: “Intussen, op die plaas”, sodat mens kan weet hierdie gebeur nou op ’n ander plek maar in dieselfde tyd. Die bewussynstroom van die moderniste wat een aaneenlopende stroom gedagtes – dikwels ook deurmekaar en halfbedink soos ons gedagtes maar loop, is ook ’n manier waarop ons ervaring van tyd gekompliseer word. Maar dan lees dit moeiliker.
Ook spronge in die tyd kan dit vir lesers moeilik maak om ’n verhaal te volg. Om by die einde te begin en te verduidelik hoe dit alles gebeur het om hierop uit te loop, is een manier waarop die lineêre tyd uitgedaag word. Of anders om in die middel te begin en geleidelik deur terugflitse inligting mee te deel.
Tyd is een van die vernaamste maniere waarop literatuur sogenaamd moeilik gemaak word. Spronge in die tyd was eenmaal ondenkbaar – en is as ongewenst verklaar vir formuleverhale. Maar ons het al meer gewoond daaraan geraak, en omdat dit bekend is, maak dit die meeste mense nie meer so deurmekaar nie.
4.5 Is dit -ismes wat letterkunde moeilik maak (die realisme, modernisme, postmodernisme ...)?
Soos hier bo genoem, is daar sekere verteltegnieke wat die werk vir lesers moeilik maak:
-
tydspronge (vooruitwysings, terugflitse, weglating van tydperke uit die vertelling)
-
vertellers met beperkte kennis, wat jok, manipuleer, of meervoudige, teenstrydige vertellers
-
komplekse ervarings van die werklikheid wat op subtiele wyse hanteer word
-
’n besef van ’n al hoe ingewikkelder wordende wêreld en van onbegryplike menslike psige.
Hierdie aspekte het geleidelik bygedra tot letterkunde wat soms as moeilik beskryf word. Maar ons moet onthou dat dit alles maar net sekere vertelkonvensies is, wat met die eerste kennismaking soms “moeilik” lyk, maar later al hoe bekender en dus ook weer makliker word.
Die ervaring dat die werklikheid dalk soms ingewikkeld is, maar dat dit bloot noukeurig weergegee moet word en geleidelik al hoe helderder omskryf sal kan word en verstaan kan word, het gelei tot “realistiese” vertelling wat ’n hoogtepunt in die 19de eeu bereik het. Vir baie lesers is daardie soort vertellings, daardie soort letterkunde, steeds die maatstaf. Alles wat daarvan afwyk, is dan vir hulle “moeilik”.
Aan die begin van die 20ste eeu is al meer besef dat ’n mens nie die hele werklikheid sonder meer kan begryp nie, dat dit nie objektief daar buite ons bestaan nie, maar eintlik slegs in ons eie gedagtes bestaan, dat ons weergawes altyd ons eie weergawes is en nie die objektiewe werklikheid wat noukeuriger beskryf kan word en al hoe beter verstaan kan word nie, en dit het tot die sogenaamde modernistiese literatuur gelei. Vir baie mense was dit moeilik – juis omdat die “sekerhede” van ’n objektief kenbare werklikheid daaruit verdwyn het – en dit het gepaard gegaan met ander vorme en verteltegnieke wat dit “moeilik” gemaak het om te volg: bewussynstroom, onbetroubare vertellers, tydspronge (onthou maar Chris Barnard se Mahala!). Die besef van die kompleksiteit van die wêreld en van die menslike psige, die groei in wetenskaplike kennis en die kleiner wordende plek van die mens in die heelal, het tot ’n krisis gelei wat die eenvoudiger weergawe van die werklikheid onaanvaarbaar gemaak het.
Die modernisme het daarom die konvensies van die realisme uitgedaag. Die maniere van vertel wat ons as “gewoon” of “normaal” ervaar het, is uitgedaag. ’n Mens moet egter onthou dat daardie “realistiese maniere van vertelling” wat ons so maklik aanvaar as hoe mens regtig behoort te vertel, daardie maniere waarop vertel word wat dit laat voel asof dit is hoe die werklikheid regtig is, wat die storie so “waar” laat voel, ook maar afhanklik is van konvensies, van truuks wat die vertellings ons laat voel is “realisties”, is “regtig”:
-
fyn besonderhede
-
dialoog
-
toneelbeskrywing eerder as vertelling
-
interne fokalisering.
Hierdie verteltegnieke is almal uitgevind en het oor die tyd heen al meer in gebruik geraak. (Kyk maar hoe min fyn besonderhede bestaan in Bybelverhale teenoor ’n eietydse roman.) Hierdie tegnieke het ook in populêre fiksie deur die 20ste eeu in gebruik gebly, en dikwels ervaar mense dit is normaal en alles wat daarvan afwyk as “moeilik”. En dit is eintlik maar net omdat hierdie vertelkonvensies ingeburger geword het.
Postmodernistiese tekste fokus dikwels daarop om juis hierdie konvensies van vertelling bloot te lê deur jou bewus te maak daarvan en te herinner dat jy net met ’n storie besig is, dat jy nie jouself in die verhaalwêreld moet verloor nie, omdat dit naïef sou wees, omdat dit sou wees om jou om die bos te laat lei deur ’n illusie. Maar wanneer dit in vertellings gebeur, ervaar lesers dit ook dikwels as moeilik, juis omdat hulle verlang daarna om deur die formule, deur die bekende, meegesleur te word na ’n wensvervullende wêreld.
As mens slegs om laasgenoemde rede lees of fliek, gaan jy uiteraard ervaar dat die modernistiese of postmodernistiese vertelwyses moeilik is. Maar ons lees nie slegs om uit ons wêreld te ontsnap nie, ons lees ook om iets oor ons werklikheid en die maniere waarop ons oor die werklikheid kan dink en hoedat ons dit vir onsself voorstel, te kan leer. En dit is hoekom dit soms ook nodig is om ons aan ‘n bietjie moeiliker werk bloot te stel. En geleidelik gaan dit bekender word, minder moeilik.
5. Waarheen nou?
5.1 Moet dit nou al hoe moeiliker?
Uit my argument hier bo dat kunstenaars dikwels die werklikheid “vreemd maak” sodat ons weer dinge kan raaksien waaraan ons so gewoond geraak het dat ons blind is daarvoor, kan ons ook aflei dat die werklikheid al hoe ingewikkelder word en ons begrip op die omvang van kennis al hoe losser word, en dat dit daarom al hoe moeiliker raak om in “maklike”, eenvoudige stories te glo en dat dit daartoe lei dat literatuur “moeiliker” word. Beteken dit nou dat literatuur al hoe moeiliker gaan word?
In ’n sekere sin miskien wel. Maar nie noodwendig nie. Soms kan literatuur juis ook verras met die besondere eenvoud daarvan. In die huis van die letterkunde is daar baie wonings. Alles is nie moeilik nie. Maar alles is beslis ook nie maklik nie. En sal dit ook hopelik nooit wees nie.
Ons weet nie ons weet nie. Daarom moet literatuur onder meer probeer vasstel wat die grense van ons denke is, die grense van die verstaan, want alleen as ons daarby uitkom, kan ons begin dink oor wat ons wel weet. En om te begin vermoed wat buite ons wete lê. Om dit te doen verg soms juis dat die taal ook na die grense daarvan gestuur moet word. En die logika, en die emosies. Want eers as ons die versperrings vind, kan ons daarteen begin skop om te probeer vasstel wat die onbekende daar anderkant is. Kyk hoe Antjie Krog ’n ander taal skep, een wat anderkant die grense van die beperktheid van benoude denke staan.
5.2 Tydperk van toeganklikheid
Wat wel die geval is, is dat mense in ons tyd dikwels aandring op toeganklikheid. Dit het dalk te doen met die demokrasie – almal moet kan verstaan, anders word gediskrimineer. Dit het dalk te doen met die oorvloedige beskikbaarheid van toeganklike inligting: Ek moet enige inligting onmiddellik kan raak google, sonder sukkel. Die spoed waarteen alles gebeur, is angswekkend. En juis daarom is mense minder bereid om aandagtig te lees. Ek probeer die afgelope week vir die derdejaarstudente wys hoedat Karel Schoeman die leesspoed vertraag met lang sinne, met herhalende frases, met aaneenlopende paragrawe, met weinige handeling. Dit dwing jou om stadiger te lees teen die gees van die tyd in wat alles vinniger wil laat verloop. Lees as sodanig is bedreig. Wat nog te sê van aandagtig lees. Mens sien ook die eis vir die oombliklik begrypbare in die poësie – soos Instagram-digters wat vinnig bekend word met ’n paar Instagram-gedigte – toeganklikheid is die eerste vereiste. Stadige lees, nadink oor wat mens lees om selfs te begin begryp wat mens lees, word skaarser. Die onwil om aandag te gee, is vandag ’n groter probleem as wat dit in 1958 was. En dit geld ons almal – ons is meer aandagafleibaar, wil vinniger tot die punt kom.
Juis hierom is daar ook “moeilike letterkunde” nou noodsaaklik. Om ons te dwing om weer te dink, om onhaastig te oordeel, om versigtiger te wees in ons oordeel en besluite.
Lees ook:
Fotobeeld van die 2024-Gesamentlike Byeenkoms van Pretoriase Leeskringe: 83 nie uit nie!
Skepsel deur Willem Anker: ’n LitNet Akademies-resensie-essay
Om Bibi Slippers in Gqeberha te vind: ’n lesersindruk van Soekenjin
Van vaders en vlugtelinge deur SJ Naudé: 'n leeskringbespreking
Kommentaar
“Oh for a book and a shady nook,
Either indoors or out,
with the green leaves whispering overhead,
or the street cries all about.
Where I may read at all my ease
both of the new and old,
For a jolly good book whereon to look
is better to me than gold”
― John Wilson
Hóógs ingewikkeld hierdie lewe. Maar vir alle genres inderdaad 'n plek onder die son en dankie vir hierdie deurdagte verduideliking. Dit maak ons breine flinker en vinniger om uitdagende werk te bestudeer.
Nogal insiggewend dat verreweg Afrika se grootste romansier, Etienne Leroux, en verreweg Afrika se grootste digter, N P van Wyk Louw, albei hoogs interessante stories gepleeg het wat terselfdertyd moewies ingewikkeld is.