Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Soekenjin
Skrywer: Bibi Slippers
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624093831
In Exclusive Books het ek deur hulle Afrikaanse rak geskandeer op soek na Bibi Slippers se nuutste digbundel, Soekenjin. Dit was nie daar nie en toe kies ek hoopvol die skakelgang af na Bargain Books.
’n Paar weke gelede het iets interessants in daardie winkelsentrum met my gebeur. Ek het ingedagte uit die Wimpy Bar gestap gekom en die oomblik toe ek opkyk en oogkontak maak met ’n vrou wat oorkant my staan, het sy my gegroet asof ons ou kennisse is. My eerste gedagte was dat sy ’n bedelaar is, maar ek het dadelik gesien dat dit nie so was nie; ek het haar teruggegroet en aangestap. Ek kon nie verstaan hoekom sy so vriendelik was nie, dalk het ek haar herinner aan haar pa wat lankal oorlede is?
In Bargain Books se Afrikaanse afdeling merk ek toe ’n dun pienk boekie op, en sowaar, ek het Bibi Slippers gevind! Julle moet besef om Bibi in die afgeskeepte hawestad Port Elizabeth te vind is ’n wonderwerk. Die stad het nou ’n nuwe naam, maar die verlatenheid wat ek soms hier voel, kan nie weggenaam word nie. As jy op die internet soek, sal jy leer dat Elizabeth die vrou was van sir Rufane Donkin, die stigter van die stad in 1820. Ek wonder of die ANC nie dalk onder die indruk was dat Elizabeth verwys het na Elizabeth II nie, daardie kolonistiese koningin van Engeland.
Toe my middeljarekrisis in die jaar 2000 ingeskop het, het ek in alle erns in ander stede na geluk begin soek. Ek het geswerf van Johannesburg na Pretoria na Kaapstad, net om dekades later stert tussen die bene, en none the wiser, terug te keer na my geboortestad met sy nuwe naam. Wat ek, behalwe avontuur, ook tevergeefs probeer vind het in hierdie stede, was romantiese liefde. Ek het die woord liefde natuurlik glad nie verstaan nie en wat betref die vroulike psige, was ek ook heeltemal in die duister. Deesdae is daar allerhande inligting beskikbaar op YouTube om mans op te voed, soos die video wat ek ’n week gelede gekyk het. In hierdie video word jy in slegs 7 minute en 59 sekondes geleer: What is sex from the female perspective.
Iemand het vir my gesê dat Bibi Slippers se nuwe digbundel “moeilik” is, maar ek het al deur meer duistere Breyten Breytenbach-gedigte geworstel, die soort gedig wat maak dat jy ná die tiende herlees maar net sê: “Ag nee fok, los dit.” Daar is heelwat gedigte in Soekenjin wat ek nog moet ontrafel, maar oor die algemeen is die gedigte heel toeganklik vir ’n nie-letterkundige soos die uwe. Gedigte oor die lus, liefde, lewe en die soektog van die moderne mens met sy internet, WhatsApp, Google, Tinder en ander dinge waarvan ’n Baby Boomer soos ek nie eers weet nie.
Old school soos ek is, doen ek dikwels my surfing deur in ’n winkelsentrum rond te dwaal. ’n Les wat ek al geleer het, is dat goeie dinge dikwels na ’n mens toe kom wanneer jy nie eers daarna soek nie. Ek moes daardie vriendelike vreemdeling uitgenooi het vir ’n cappuccino. Dan kon ek in Lola Conscious Café, of êrens, iets uit Bibi se digbundel vir haar voorgelees het, dalk die gedig op bladsy 89.
WILL YOU STILL LOVE ME
Sal jy my steeds liefhê wanneer ek oud word soos ’n boomwortel
en leliker as ’n brulpadda? Sal jy my steeds liefhê as ek knoets is,
en dof, net my trane, nog altyd diamanté
op my wang? Soen my nog een keer langs my lagplooi
en lieg vir my in my gesig.
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Bibi Slippers
Die LitNet Tuishuise Inwoonskrywer: Bibi Slippers oorgehaal vir die muse van die Karoo