
Hierdie lesing (sien die video) is op Saterdag 25 Julie 2026 te Nxuba (Cradock) tydens die jaarlikse Etienne van Heerden Veldsoirée as deel van die LitNet Afrikaanse Skrywersberaad gelewer. Die teks verskyn hier onder.
Hoe die Louwhuis en -museum in Sutherland heropen is
Mense wat die N1 langs ry, draai dikwels by Matjiesfontein se afdraaipad af om die ouwêreldse Lord Milner Hotel en ander besienswaardige plekke daar te besoek. Vat mens egter die R354 in ’n teenoorgestelde rigting, strek daar ’n 110 kilometer-teerpad deur die Karoo tot in die Roggeveldse berge, waar Sutherland op die plato gevestig is. Die hoogste punt, Sneeukrans, is soms met sneeu bedek en jaarliks lê daar ’n sprokiesagtige sneeulaag oor die dorp. Die temperature daal deurlopend tot vriespunt, en soms tot –16 grade Celsius. Die pad soontoe is allesbehalwe plat en kronkel deur heuwels en berge terwyl die hoogte bo seespieël in die dorp tot ongeveer 1 500 meter styg. Die afgelope jare is daar ook reuse beleggings in die oprigting van windplase al bo-op die berge langs tot waar die oog dit amper nie meer kan sien nie.
Die groot aantrekkingskrag van Sutherland is SALT (South African Astronomical Observatory) wat bykans 1 800 meter bo seespieël geleë is. SALT is wêreldwyd bekend omdat die hoogte en die skoon lug dit ideaal vir sterrekyk maak. Die teleskoop is tot twee jaar vooruit bespreek deur internasionale wetenskaplikes om daar te kom werk en navorsing te doen.
Menige toeris, sterrekyker, 4x4-entoesias en jagter besoek hierdie deel van die Noord-Kaap in Suid-Afrika.
Dis op hierdie dorp waar Bismarck von Moltke Louw sy prokureurspraktyk op Sutherland gevestig het en hy en sy eggenoot, Martha Hendrina Johanna, oftewel Poppie van Wyk, se vier seuns gebore is. Die Louw-egpaar is in 1904 getroud en het in Jubileestraat in Sutherland ’n vierkamerhuis gekoop wat Bismarck aansienlik laat vergroot het. Die oudste van die seuns was Koos (gebore 6 Mei 1905), daarna NP Van Wyk (gebore 11 Junie 1906), Bismarck von Moltke (gebore 29 Julie 1909) en WEG (gebore 31 Mei 1913).
Dus, die geboorteplek van twee van Afrikaans se belangrikste digters/skrywers, NP Van Wyk Louw en WEG Louw.
Wêreldwyd word belangrike plekke van skrywers bewaar en deur toeriste, studente en andere besoek.
Van die bekendste internasionale skrywershuise is waarskynlik William Shakespeare se geboortehuis in Stratford-upon-Avon, wat noukeurig bewaar word en ’n groot toeristebestemming is. Dan is daar Anne Frank se skuilplek in Amsterdam waar sy haar dagboek geskryf het en wat vandag as ’n wêreldbekende museum dien.
Hierdie huise word bewaar en is die rou materiaal waaruit kultuurgeskiedenis en nasionale identiteit geskep word. Die plekke dien as inspirasie vir skrywers en bied in sommige gevalle ruimte vir skrywers vir ononderbroke kreatiewe werk, en is ’n belangrike vorm van literêre toerisme.
In Suid-Afrika het ons ook enkele voorbeelde van huise van Suid-Afrikaanse skrywers, byvoorbeeld Arbeidsgenot van CJ Langenhoven op Oudtshoorn en die AG Visser-huis in Heidelberg in Gauteng. In Nieu-Bethesda is daar die Athol Fugardhuis. In Somerset-Oos is Paulet Huis van Jakes Gerwel, waarskynlik die enigste aktief werkende skrywershuis in Suid-Afrika.
Daar is verskeie boekfeeste oral oor die land en boekprogramme by Afrikaanse kunstefeeste. NALN in Bloemfontein, waar baie boeke en artefakte ten opsigte van Afrikaanse skrywers en ander kreatiewe kunstenaars in die Afrikaanse kultuurgemeenskap gevestig is, is ’n belangrike argief. Daar is egter vir die laaste jare al kommer oor die volhoubare instandhouding van NALN, aangesien dit onder die beheer van die Vrystaatse provinsiale regering is.

Die verwaarloosde Louwhuis (Foto: Gerard Scholtz)
Die Louwhuis en -museum is in 1980 tot stand gebring en is tot vroeg in 2022 deur ’n museumraad ingevolge ’n reglement bestuur. Genoemde museumraad het mettertyd onaktief geraak, die museum is sonder fondse en met agterstallige skuld gelaat, en gevolglik is die raadslede gevra om te bedank. Op die koop toe was daar ’n inbraak deur die dak van die huis wat die museumraad genoop het om die museum te sluit, aangesien hulle nie kapasiteit en fondse gehad het om herstelwerk te doen nie. Op die ingangsdeur was ’n handgeskrewe nota geplak met die woorde: “NP Van Wyk Louw se Raka het die huis geplunder en gevandaliseer. Die huis is gesluit.”
Daar is tydens ’n vergadering op 21 Mei 2022, op inisiatief van Gerard Scholtz, en bygewoon deur verskeie belangstellendes en familie, besluit om die herstel van die museum te ondersoek. ’n Maatskappy sonder winsoogmerk is gestig, ’n sakeplan en begrotings is opgestel, en die haalbaarheid van die herstel van die Louwhuis is ondersoek en oorweeg. Daar is toe besluit dat pogings aangewend sal word om die Louwhuis te herstel.
Die aanvanklike direksie was Paul Louw (voorsitter), seun van WEG Louw, Japie Gouws, Marné Marais en Gerard Scholtz. Paul is ongelukkig aan die einde van 2025 skielik oorlede, en Marné Marais het intussen bedank. Die huidige direksie is Japie Gouws (voorsitter), Karien Britz, Bernard Odendaal en Gerard Scholtz. Ons ondersoek tans ook die moontlikheid om iemand uit die plaaslike gemeenskap van Sutherland op die direksie aan te stel. Daar bestaan ’n plaaslike komitee van mense wat die Louwhuis ondersteun en met baie take help wat plaaslik gehanteer moet word.
Aangesien die Louwhuis ’n literêre museum is, het die direksie besluit om ’n literêre komitee in die lewe te roep om oor die inhoudelike van wat in die Louwhuis aangebied word, te besluit.
Hierdie komitee bestaan uit Bernard Odendaal (voorsitter), Daniël Hugo en Peter Louw, NP Van Wyk Louw se seun.

So lyk dit nou (Foto: Gerard Scholtz)
Die groot uitdaging was om befondsing te kry. Verskeie gesprekke is gevoer en talle voorleggings is gedoen. Almal was baie positief oor die gedagte om die Louwhuis te restoureer en weer as museum in te rig, maar dit was moeilik om fondse te genereer. Uiteindelik het Ton Vosloo, die voormalige voorsitter van Naspers, skenkings gemaak om die agterstallige skuld en algemene bedryfskoste te dek. Die Historiese Huise van die Rupert-stigting het ruim bygedra sodat ons die vervalle huis kon herstel, onder andere die verf van die klipmure en houtbalkonne, -vensters en -deure kon afhaal, die elektriese bedrading kon oordoen, ’n nuwe kombuisie kon inrig, en die agterste groot kamer in ’n veeldoelige konferensiefasiliteit kon omskep. Dit is voltooi onder die bekwame leiding van Awie Vlok, ’n ingenieur wat ook in die Surtherland-distrik boer.

Matilda Burden en Anuta Scholtz poleer Van Wyk Louw se reistrommel. (Foto: Gerard Scholtz)
Die uitstallings in die huis was in ’n verwaarlooste toestand en is alles afgehaal en gestoor tydens die herstel van die huis. Matilda Burden, ‘n historikus van die Universiteit van Stellenbosch, het die direksie geadviseer oor die opgradering en vernuwing van die uitstallings in die huis. Waar die huis voorheen ook ’n algemene dorpsmuseum was, is besluit om dit as ’n literêre museum en digsentrum in te rig. Weer eens was ons op soek na skenkings om hierdie fase te befonds. Die Jannie Mouton-stigting was so gaaf om ’n donasie hiervoor te bewillig en die projek is nou fluks aan die gang.

’n Groot foto, met aanhalings. (Foto: Gerard Scholtz)
Die projek waarmee Matilda Burden tans besig is, sluit in dat een van die kamers aan NP Van Wyk Louw gewy word en ’n ander een aan WEG Louw. Daar is nog ’n kamer oor algemene temas ten opsigte van die Louwfamilie. Die vierdie kamer word omskep in ’n teaterstylfasiliteit waar besoekers kan luister en kyk na materiaal oor die Louw-broers. Dit sluit in voordragte deur die broers van hul eie werk, asook voordragte en toonsettings van die Louws se werk deur ander kunstenaars. In elkeen van die broers se kamers sal een muur gewy word aan ’n groot foto van die betrokke broer, met aanhalings.
Daar was voorstelle dat ’n skrywershuis ingerig word sodat skrywers vir ’n ruk daar kan kom bly en werk, maar dis nie prakties en ekonomies haalbaar om akkommodasie by die huis in te rig nie. Daar sal egter wel werkspasie ingerig word waar skrywers of navorsers in die huis kan kom werk.
Die afgelope vier jaar, sedert 2023, is die jaarlikse ATKV-digskool suksesvol in die Louwhuis aangebied. Bernard Odendaal staan aan die hoof daarvan en word elke jaar deur ’n gasdigter bygestaan. So was Danie Marais, Heilna du Plooy, en Lynthia Julius hierdie jaar, deel van die digskool. Verskeie ander gesprekke en storievertelaande is reeds daar aangebied. Vroeër vanjaar is NP Van Wyk Louw se 120ste verjaarsdag tydens ’n uithanggeleentheid gevier. Riku Lattï het tydens die geleentheid sy dokumentêr oor NP Van Wyk Louw wat onlangs op kykNET uitgesaai is, bekendgestel. Die Roggeveld is vol interessante mense wat baie stories het om te vertel. Die storievertelaande is goed deur die Sutherlanders ondersteun. Jannie du Toit het al daar opgetree en Daniel Hugo het gedigte saam met toepaslike musiek voorgedra. Die ou bakoond is herstel en Niel Jonker het ’n broodbakkursus aangebied. Daar word vele ander gebeure beplan sodra die huis weer vir die publiek oop is.
Die amptelike opening van die gerestoureerde Louwhuis vind deur die dag op Saterdag 21 November 2026 plaas.
WEG Louw het die gedigte van sy eerste bundel geskryf toe hy tussen 16 en 20 jaar oud was. En in 1935 ontvang hy die Hertzogprys op 21-jarige ouderdom.
Ons is almal sterwelinge wat vreemd staan onder die sterre;
ons is almal sterwelinge wat luister na die verre stemme oor die heuwels en die water,
wat nog nie weet van die verloregaan van alle dinge later.
NP Van Wyk Louw is vyf keer met die Hertzogprys bekroon: vir poësie in 1937 (wat hy egter nie aanvaar het nie), 1940 en 1965, vir prosa in 1958, en vir drama vir Germanicus in 1960.
Ons agterplaas die flikker van die son en bo die staldeur pronk my rooi-bont duif;
waar agter in die donker die swart hings ruk aan sy ring, sy pote stamp en snuif.
Die helderte is oor my boek en in my oë;
die gruis is warm aan my skeen;
my duiwetrop lê wit en bruin en blou soos lappies warm wasgoed om my heen: party al lang-vlerk en lou teen die son;
die ander pik mekaar nog by die bad – brom, slaan met die vlerk, word uitgedruk, gly skuins van lekker en laat die water spat.
Dit is nie vandag my taak om ’n literêre lesing oor die werk van die begaafde Louw-broers te lewer nie. Ek is in elke geval nie toegerus om dit te kan doen nie. Maar hulle werk verskaf oneindige rede tot oorweging, navorsing, studie, interpretasie en genot, en is in baie gevalle, amper skrikwekkend, net so van toepassing in ons leefwêreld vandag, veral hier in Suid-Afrika.
Die doel van my gesprek vandag met hierdie uitgelese geselskap is om ondersteuning te vra vir hierdie projek om die Louwhuis as belangrike literêre sentrum vir Afrikaans te vestig. Nie net vir literêre doeleindes nie, maar ook vir die bevordering van algemene Afrikaans, vir Jan en San Publiek en vir toerisme.
Om die huis deurlopend in stand te hou, is befondsing noodsaaklik. Ons het reeds enkele persone wat maandeliks aftrekorders ten gunste van die Louwhuis uitgemaak het, en individue en maatskappye kan Vriende van die Louwhuis word en gereelde donasies maak.
Mense lag gewoonlik vir my as ek vra dat u asseblief na u testament sal kyk en iets vir die Louwhuis en -museum daarin sal nalaat.
Soos genoem, is ’n digsentrum in die Louwhuis ingerig, en versamel ons enige Afrikaanse digbundels. So wanneer u rakke en kaste skoonmaak, skenk asseblief die digbundels aan die Louwhuis se digsentrum. Ook enige ander belangrike dokumente of artefakte wat met die Louwbroers verband hou.
Ek hoop dat u en u vriende en familie een of ander tyd op Sutherland ’n draai sal maak, nie net om sterre te kom kyk of 4x4-roetes te kom ry nie, maar ook om die Louwhuis en -museum te kom besoek.
Lees en kyk ook:
Lizabé Lambrechts: Argiewe: Bêre of brand in die digitale era?
Burgert A Senekal: Die impak van grootdata op tradisionele argiewe: ’n oorsig van uitdagings en geleenthede
Wyno Simes: NALN: Daar was al ’n brand hier
Erika Terblanche: NP Van Wyk Louw (1906–1970)
Ian Raper: NP van Wyk Louw: 100 jaar
Erika Terblanche: WEG Louw (1913–1980)
Chris van der Merwe: Tussen sekerheid en onsekerheid. ’n Gesprek tussen Willie Jonker en NP Van Wyk Louw
Mphuthumi Ntabeni: The importance of oral history in southern African historiography
Hennie van Coller: Die nuwe Perspektief en profiel. 'n Afrikaanse literatuurgeskiedenis as kanoniseringsinstrument
Heilna du Plooy: Hoe en waarheen vloei die stroom? 'n Besinning oor literêre ontwikkelinge
Helize van Vuuren: Van WVK tot sosiale-netwerk-grafika: Twee dekades van letterkundige navorsing
Lees die ander bydraes hier:
Veldsoirée-borge/Veldsoirée sponsors


Die Tuishuise & Victoria Manor




Carel van der Merwe
Trinette Rudman Kirkwood
Ton Vosloo


