Hoe en waarheen vloei die stroom? 'n Besinning oor literêre ontwikkelinge

  • 0

<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan poolshoogte@litnet.co.za.

Die landskap van die letterkunde, van die literatuur self en van die literatuurstudie stagneer nie.

Harold Bloom

Hier ontbreek doelbewus sowel ’n modale hulpwerkwoord as ’n tydsaanduiding, want dit gaan nie oor kan of wil nie, en ook nie oor die verlede of hede nie, maar gewoon oor die empiries bewysbare feit dat oor die eeue heen die beweging en vloei in literêre ontwikkelinge nooit tot stilstand gekom het nie. Dit geld ook al die ander kunsvorme: die beeldende kuns, die musiek, selfs die argitektuur. Die mens is skynbaar ’n rustelose wese en sy produkte weerspieël dit.

Die verskynsel van flux is vanselfsprekend ook veel wyer as die kunste; trouens, dit is ’n werklikheidsverskynsel. Die menslike werklikheid is voortdurend aan die verander, en stagnering, so het mense oor die eeue besef, is ongesond. Dit kan selfs iets dodeliks inhou. Om hierdie prosesse van groei en vloei, van uit- en inbeweeg, van vernuwing en hersirkulering te begryp of te beskryf, is egter nie altyd so maklik nie en daar word boeke en webwerwe gevul met pogings om verskynsels te beskryf, te vertolk en te verklaar. Uiteindelik word alle menslike pogings deur ander mense geëvalueer, wat ook inhou dat alle voorafgaande evaluerings bevraagteken word.1

Een van die eerste vrae waarmee veranderende stromings en tendense mens konfronteer, is waar nuwe idees of stromings ontstaan wat daartoe aanleiding gee. Gewoonlik kan ’n tendens agterna min of meer beskryf of aangedui word: hoe dit in gevestigde vorm daar uitgesien het, watter eienskappe duidelik gemanifesteer het en hoe dit uiteindelik afloop en verdwyn. Terugskouend sien mens hoe daar voortekens was, hoe die hoogbloei gelyk het en hoe die naweë en epigoniese afspooksels daar uitsien. Dan kom daar ook die fase waarin die ideale van een kunsstroming deur die volgende geslag vernuwers gekritiseer, geparodieer en uitgebuit word à la Harold Bloom se angstighede, omdat hulle die voorgangers moet doodskryf om vir hulleself ruimte te skep. So was dit met al die groot literêre strominge: die romantiek, die realisme, die simbolisme en die modernisme.

Historiese studie kan dan ook aantoon hoe dieselfde sieninge sowel die kunste as die wetenskap en die werklikheid in ’n bepaalde tydvak oorheers. Die epistemologiese twyfel, die skeptisisme, die ontdekking van die subjektiewe waarheid eerder as die kollektiewe meesterverhaal, die doelbewuste strukturering van kunswerk én werklikheid, en die hoogskatting van die intellek het nie net die modernisme as kunsstroming gekenmerk nie, maar het trouens met ’n hele werklikheidsbeeld saamgehang. Dit blyk duidelik uit die groot korpus teoretiese en besinnende werk oor die literatuur en lewensbeskouing wat deur die moderniste self geskryf is, onder meer deur TS Eliot, DH Lawrence, Virginia Woolf en Gertrude Stein. Daarom kan ’n mens die literatuur nooit in isolasie beskou nie, want dit bestaan nie in isolasie nie.

Wat egter ook belangrik is om in te sien, is dat, omdat dieselfde tydsgees telkens die werklikheid, die wetenskap en die literatuur bepaal en kenmerk, geen skrywer of literator, of selfs natuurwetenskaplike, daarvan gevrywaar bly nie. ’n Mens bly eenvoudig kind van jou tyd. ’n Gebalanseerde sin vir die historiese bly dus ’n waardevolle instrument in die literatuurgeskiedskrywer se gereedskapskas, omdat selfs die mees radikale denker se vernuwende idees onvermydelik ook weer aan die kritiese oë van sy opvolgers sal blootstaan.

’n Ander interessante verskynsel wat met literêre evolusie verband hou, is impetusskeppende kunsbewegings of -groepe wat ’n rol speel in, of aanleiding gee tot, of as ’n manifestasie dien van, nuwe en vernuwende denke. Ek dink hier aan die Nederlandse Tagtigers, die Russiese futuriste (wat saam met die Russiese formaliste in groepe bymekaargekom en mekaar se denke gestimuleer het), die Franse impressioniste en die Duitse ekspressioniste in die beeldende kunste, die groepe rondom die Bauhaus en Der blaue Reiter. Hier kan mens ook die Afrikaanse Dertigers en die Sestigers noem wat as duidelik identifiseerbare groepe gefunksioneer het. Dit is net vir my asof hierdie soort groepsgevoel tans minder voorkom as in die vroeë 20ste eeu en ook asof dit ook meer voorkom by beeldende kunstenaars as by skrywers, maar ek sou hierdie aanvoeling eers moet gaan toets aan feite voor ek so iets ronduit kan beweer.

Die verband tussen die tendense in artistieke werk en die wetenskapsteorie waarna ek hier bo verwys het, is net so fassinerend. Die modernistiese intellektualisme het nie net skrywers estetiese patrone laat maak nie, dit het ook die literatuurwetenskaplikes daartoe gebring om in alles patrone en strukture te vind en ook te skep. Die aantoon van onderliggende patrone in vroeë morfologiese studies van die literatuur (bv Jolles en Propp) vorm so die voorwerk vir die strukturalistiese en semiotiese benaderings waarvan die filosofiese onderbou en tegnieke vir die literatuurstudie, die linguistiek, die antropologie, die sosiologie, die teologie en selfs die politiek ooreenstem. Net so manifesteer die postmodernisme as ’n denkstroming waarin al die modernistiese eienskappe in ekstreme vorm voorkom, waarin die twyfel relativisme word en uiteindelik alle meesterverhale en strukturerende patrone ondermyn word, en dit kan ook teruggevind word in die kunste self, in die dekonstruktiewe aanpak in verskillende vakwetenskappe en in die wetenskapsteorie, sowel as in openbare debatte en daaglikse omgang.

Die laat 20ste eeu was inderdaad ’n tydperk van sterk teoretiese denke. In die literatuurstudie is bepaalde sterk en dominante wendinge as keerpunte, draaipunte of merkers beskou en so aangedui, soos byvoorbeeld die talige wending van die strukturalisme vanaf die laat sestigerjare en die narratiewe wending van die narratologie in die negentigs van die 20ste eeu.

Hierdie wendinge kring inderdaad wyd uit na ander vakdissiplines. Ek het die afgelope paar jaar gereeld gesprekke gehad met ’n kollega in inligtingstegnologie wat ’n narratologiese benadering gebruik het in haar proefskrif wat sy by ’n toonaangewende Britse universiteit voltooi het. Sy het die narratiewe van werknemers ontleed as die sleutel tot die ontleding van die sukses of mislukking by die implementering van nuwe rekenaarstelsels. Die mense se verhale het aanduidings gegee van valse persepsies of persoonlike waarnemings en ervarings wat waardevol was in die beoordeling van die effektiwiteit van die stelsels.

Steeds bly die vraag: Wat kom eerste – die insig van die kreatiewe mens, van die kunstenaar wat op intuïsie en aanvoeling vertrou en sien waar leemtes in die denke ontstaan wat invulling soek; gebeure in die werklikheid wat verandering in mense se denkwyses bring of afdwing en waaruit kunswerke ontstaan; of is dit die wetenskaplikes en filosowe wat die denke vooruit du met hulle volgehoue en ondersoekende denke oor die werklikheid en die mens en die betekenis van alles? Of is daar dinge wat in die lug uit niks uit nie kristalliseer? (Ek begin laasgenoemde vermoed.)

Ek het nie hierop ’n antwoord nie, maar as ek na die hede kyk, dink ek wel dat ’n spektrum van faktore tot wendinge of nuwe strominge of tendense kan aanleiding gee en dat hierdie faktore nie noodwendig van dieselfde soort of op dieselfde vlak is nie. Hierdie eksterne faktore en die kunswerke is in elk geval altyd met mekaar in interaksie. Soms is dit politieke gebeure, ’n plaaslike ramp of oorgang wat ’n nasionale letterkunde bepaal, en soms is daar internasionale gebeure wat via die tegnologie die hele wêreld tot nadenke stem. Daar is ook die verrassende “events” waarvan Foucault praat, onverwagte stroomversnellings of rigtingveranderings wat net skielik intree en ’n nuwe styl, denkwyse of tydvak inlui. En in die kunste is daar soms die verskyning van ’n geniale of eksentrieke figuur wat ’n radikale verandering teweegbring, wie se werk so sterk en eiesoortig is dat ander mense se pogings flou lyk daarteen.

Nou word daar gevra mens moet poolshoogte neem van wat in die Afrikaanse letterkunde gebeur het of aan die gang is. Dit is geensins my voorneme om ’n literêre futuroloog te probeer wees nie – ons kry genoeg van kwasiprofete en amateur-kultuurontleders in die koerante. ’n Terugblik oor my navorsing van die afgelope meer as 20 jaar het my egter laat dink dat ek tog bepaalde waarnemings gemaak het (en aan wyer debatte getoets het) en dat ek op grond van hierdie navorsing dalk wel ’n bydrae kan lewer aangaande verskuiwings wat voorgekom het en oor die vraag of daar nou nuwe neigings merkbaar is. Mens kan immers net skryf oor wat jy met redelike sekerheid kon vasstel en verantwoord en ek gaan dus hoogstens ’n paar aspekte van vernuwing in die Afrikaanse letterkunde noem wat ek in my eie navorsing teëgekom en probeer beskryf het aan die hand van bestaande en beskikbare teorie en filosofie.

Die eerste punt wat ek wil stel, is dat nie alle vernuwings met groot drama gepaard gaan nie en dat daar nie altyd sterk skrywersbewegings voorkom wat die vernuwing dryf nie. Daar is stiller oorgange wat ook belangrik is, soos met die sogenaamde tagtigers in Afrikaans – waarskynlik wel so, met ’n kleinletter, gespel, omdat hulle nooit werklik so ’n duidelik definieerbare groep soos die Sestigers geword het nie. Maar hierdie geslag skrywers het wel die oorgang van die Sestigers se aanvanklik eksistensialistiese en modernistiese aanpak en hulle skuif na betrokkenheid in die sewentigerjare verder gevoer en bevestig – veral deur ook die postmodernistiese ondermyning en relativering sterker te laat deurwerk.

Een oorgang waaroor ek iets wil sê, gaan oor die vroeë negentigerjare, en dit het te make met ’n tipies Suid-Afrikaanse verskynsel, naamlik die baie sterk invloed van die politiek op die literêre sisteem. Trouens, politieke en ideologiese kwessies het van die begin af – van Totius, Leipoldt en Celliers af – ’n buitengewoon belangrike rol in die Afrikaanse letterkunde gespeel, soms instemmend en soms afwysend.

Die jare direk voor die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika het ’n soort asem-ophou-kenmerk gehad. Wat die Afrikaanse letterkunde betref, is daar dikwels die gedagte uitgespreek dat as die demokratiese ideaal nou bereik is, die skrywers veel minder gaan hê om oor te skryf. André P Brink het tydens ’n voordrag in Potchefstroom, met die TT Cloete-erelesing in 1999, vertel hoe hy in die vroeë negentigerjare ’n beraad van uitgeweke skrywers in Duitsland bygewoon het. Bedags het die skrywers almal gejuig en vertel hoe hulle skryfwerk tot bevryding op verskillende plekke bygedra het, onder meer tot die val van die Berlynse muur en die gevolglike bevryding van Oos- en Sentraal-Europa en tot die beëindiging van apartheid. Saans in die kelder het hulle om die kroegtoonbank op mekaar se skouers gehuil en gevra waaroor hulle nou gaan skryf.

TT Cloete

Die fokus op politieke kwessies in die tagtigs, en veral die politieke ondertoon in die beoordeling van skryfwerk in resensies, het, terugskouend beoordeel, tog ’n beperkende invloed op Afrikaanse skrywers uitgeoefen, al was dit baie goed dat dit inderdaad die politieke dringendheid deurentyd beklemtoon het. Die sterk klem op literêre teorie in die tagtigerjare het ook ’n mate van balans gebring en die Afrikaanse literatore in staat gestel om plaaslike verskynsels te plaas in verhouding tot wat in ander lande en tale gebeur. Hoewel die dominante diskoers dus onvermydelik baie sterk polities gekleur was, toon publikasies dat ’n verskeidenheid temas en aspekte volgens ’n verskeidenheid teoretiese benaderinge ondersoek en bespreek is.

Die groot vraag is egter: Wat het vanaf 1990 in die wêreld van die tekste self gebeur?2

Nou moet ek hier ’n persoonlike anekdote invoeg, want daaruit het ’n hele stuk navorsing voortgevloei. In 1996 het ek een van die laaste Leeskringseminare van die Vrystaatse Departement van Kuns en Kultuur in Welkom bygewoon. Op pad terug huis toe het ek oor die vier boekgevulde dae teruggedink en skielik besef dat wat ek beleef het, glad nie iets was wat van sterfte deurdrenk was nie. Inteendeel, daar was ’n groter verskeidenheid boeke en soveel nuwe skrywers is daar bekendgestel dat dit eintlik ’n fees van boekelewe was. Dit het my laat dink dat ’n mens tog op ’n wetenskaplik verantwoordbare manier moet bestek neem en ek het saam met Phil van Schalkwyk, toe ’n PhD-student in ons vakgroep, ’n projek begin waarin ons nagegaan het watter boeke verskyn en hoe dit deur die kritiek ontvang is binne die periode 1990–2000.

Wat na vore gekom het, was die bewys van ’n stil maar beduidende oorgang in die Afrikaanse letterkunde. Daar was miskien nie ’n opspraakwekkende omwenteling nie, maar die boeke wat verskyn het in die dekade van negentig het op verskeie manier getoon hoe die hele letterkunde aan die uitdy was. Daar was skielik ’n groter verskeidenheid genres op die rakke, meer vroueskrywers, meer bruin skrywers, meer gay skrywers, meer jeugskrywers. Dit was asof daar ’n soort bevryding ervaar is.

In ’n artikel het ons dit so verwoord:

Die bekommernis dat daar na apartheid nie meer iets sou wees om oor te skryf nie, is dus heeltemal ongegrond. Dit lyk eerder asof daar ’n soort bevryding in ’n omgekeerde sin plaasgevind het – die sosiale verantwoordelikheid van die skrywer om oor die ongeregtigheid van die sisteem te skryf, is deur die verwerkliking van die vryheid agterhaal. Die skrywer kan nou sy vlerke sprei en oor alles skryf. Die kritici aanvaar dit klaarblyklik ook net so. (Du Plooy en Van Schalkwyk 2000:123)

Wat ons ook gevind het, wel met verbasing, was dat die kritici ’n baie hoë premie geplaas het op ’n eienskap wat ons toe beskryf het as outentisiteit, dws die strewe van ’n skrywer om met “skoon oë” na sy stof te kyk, om nie deur een of ander ideologiese, religieuse of poëtikale sisteem of denkwyse beïnvloed te wees nie. Van die keurders van die artikel was skepties oor die term outentisiteit, omdat hulle, en volgens postmodernistiese insigte met goeie reg, die bestaan van enigiets outentieks bevraagteken het. Waarna die kritici in ons studie egter verwys het, was die bewustheid van skrywers en hulle strewe om hulleself ideologies te plaas, om bewustelik daarteen te waak dat jy as skrywer instrument van ’n ideologie word. Miskien is dit iets waarna nou weer gekyk kan word. Ons staan immers 20 jaar later en nuwe en subtiele vorme van ideologiese druk is tans duidelik werksaam en sigbaar vir dié wat met oop oë lees. Wat 20 jaar gelede relevant was, moet nou immers weer herbedink word.

As ek nou terugkyk, het hierdie uitdyende ontwikkeling van 1990–2000 in die eerste dekade van die 21ste eeu steeds voortgegaan, te meer nog omdat baie skryfwerk deesdae op die internet en op webwerwe gepubliseer word. Afrikaans het dus sedert 1990 werklik uitgewaaier tot ’n letterkunde wat van hygromans tot esoteriese werke bevat, van avontuurromans en speurverhale en rillers tot kinderliteratuur en egoliteratuur. Wat my altyd wel verbaas, is dat wanneer mens die boeke wat op boekelyste verskyn in die handel soek, dit nogal skaars is. Ek sou dus tog wou vra hoe die uitgewers dit regkry om hulle boeiende en interessante boeke so goed weg te steek. Of is dit dalk die lesers wat nie genoeg kopersdruk op die handelaars plaas nie?

Die tweede saak wat ek wil noem, impliseer ’n wyer blik op die letterkunde en wetenskapsteoretiese ontwikkelinge op internasionale vlak en ook in ander dissiplines, maar dit loop daarop uit om na te gaan hoe hierdie tendense in veral die Afrikaanse prosa na vore kom. Ek koppel my waarnemings aan twee romans: In stede van die liefde van Etienne van Heerden (2005) en Die boek van toeval en toeverlaat van Ingrid Winterbach (2006).

Hier wil ek ook weer graag ’n aanduiding gee van wat my in die besonder bewus gemaak het van die tendens wat ek in hierdie twee romans raakgelees het. In die loop van die negentigerjare het daar in die sielkunde ’n belangrike verskuiwing plaasgevind. In navolging van die werk van mediese sosioloë wat begin ondersoek instel het na die voorwaardes vir gesondheid eerder as om op siektes alleen te konsentreer en wat hierdie benadering die fortologie genoem het, het navorsers in die sielkunde begin om ook ’n studie te maak van geestesgesondheid eerder as om net patologiese verskynsels te ondersoek. Hulle het op soek gegaan na die eienskappe en voorwaardes wat dit moontlik maak om psigies gesond te wees, of gesond te kan word na trauma.

’n Kollega van my hier op die Potchefstroomkampus van die NWU, Marié Wissing, het baie navorsing op hierdie terrein gedoen en sy het in 1997 die term psigofortologie geskep. Hierdie benadering het nou geweldig uitgegroei, veral in die VSA, en internasionaal word die term positive psychology gebruik, wat eintlik nie ’n baie gelukkige benaming is nie, omdat dit die bestaan van ’n “negatiewe psigologie” impliseer, wat nie so is nie. Die benadering is egter baie sterk en groei steeds.

Die feit dat ek van hierdie navorsing geweet het, het miskien daartoe bygedra dat ek van die begin af sensitief was daarvoor dat Ingrid Winterbach (toe nog Lettie Viljoen) se romans in die negentigerjare dikwels oor psigiese regenerasie handel (byvoorbeeld in Karolina Ferreira en Vroue met landskap en slang). Winterbach se romans eindig telkens op ’n noot waar die hoofkarakter ’n nuwe fase en nuwe moontlikhede tegemoet gaan. Hoe die verhoudinge en denke ook al deur die loop van die roman ondermyn en gerelativeer word, word die moontlikheid van herstel en nuwe groei altyd weer gesuggereer.

In die middel van die eerste dekade van die 21ste eeu het ek tendense begin raaklees in Afrikaanse romans wat die postmodernisme probeer transendeer. Verder het wat ek in buitelandse studies gelees het en wat ek op kongresse gehoor het, vir my begin lyk na ’n soektog na ’n nuwe visie, ’n behoefte aan ’n ander blik op die mens en die werklikheid en die literatuur, soos wat dit ook in die sielkunde na vore gekom het. Ek het hierdie teoretiese gesprekke in verband gebring met wat ek in Afrikaans lees. Nou sien ek die verbande nog duideliker. Dit gaan dan waarskynlik ook daaroor dat mens eers by terugskouing kan sien hoe literêre tekste hulle tyd vooruit is en hoe nuwe strominge vooruit aangevoel en verwoord word. So was in ’n vorige era Etienne Leroux se romans net soveel postmodernisties as modernisties. Die modernistiese onderbou is daar, maar die bewerking van die teksoppervlak, die deurmekaarroei van allerlei patrone, is sterk postmodernisties.

Etienne Leroux

In 2005 verskyn In stede van die liefde van Etienne van Heerden. In hierdie roman is die hoofkarakter die prototipiese postmoderne mens. Hy is bekwaam, gearriveerd en nonchalant. Hy het verskillende identiteite wat hy verwissel en waartussen hy moeiteloos heen en weer beweeg, van vader en minnaar in Stellenbosch by sy gesin tot sakeman en byderwetse baas in sy kunshandelsaak in Johannesburg tot wêreldburger op sy reise. Sy lewens is as ’t ware los van mekaar en aanvanklik glo hy sy lewe as hedonistiese dwelmgebruiker in sy woonstel in Seepunt raak niemand anders as homself nie. Die belangrike is dat hy glo hy kan al die rolle hanteer en dat hy in beheer is. Dan ontwikkel hy ’n hartprobleem en moet ’n hartomleiding kry. Sy gesinslewe begin verbrokkel; hy begin wegdryf van sy seun en sy vrou en raak al hoe meer vasgevang in die dwelmwêreld as ’n bedryf. Uiteindelik staan hy gekonfronteer met die werklikheid daarvan dat hy dit wat vir hom die kosbaarste is, naamlik sy vrou en kind en die lewe self, kan verloor, en dit bring hom by die punt dat hy moet bieg.

Hierdie hele kwessie het ek uitvoerig in ’n artikel beredeneer en die kernargument is dat hoewel In stede van die liefde postmodernisties is in inhoud en styl, dit terselfdertyd die postmodernistiese "mites" bevraagteken en selfs verbreek, omdat die verhaalverloop daarop uitloop dat die hoofkarakter moet erken dat sy postmoderne lewe onmoontlik geword het. Daar is dinge wat saak maak; daar is menslike en argetipiese waardes en verhoudinge wat geen mens heeltemal kan veronagsaam of minag nie, al is die algemeen aanvaarde postmodernistiese opvatting dat sulke universele idees en temas relatief en leeg is en ter wille van die behoud van ideologiese of religieuse stelsels gekonstrueer is. Die roman suggereer dat daar inderdaad (hoe ironies ook al) perke is aan veranderlikheid en relatiwiteit.3

Naby aan die einde van Die boek van toeval en toeverlaat van Ingrid Winterbach word beskryf hoe Helena Verbloem se moeder, wat sterwende is, aan haar te kenne gee dat sy haar lewe anders sou gelei het as sy vroeër besef het hoe kort die lewe is. Sy haal dan aan uit ’n gedig van Gerard Manley Hopkins: "The world is charged with the grandeur of God" en sê: "As ek maar meer daarop gekonsentreer het en … minder … op die klein teleurstellings" (bl 322). Hierteenoor sê Helena Verbloem van haarself:

Ek weet ewe min as die skulp wat die dag van môre vir my inhou. Ek is ’n komplekser en gevoeliger wese as die weekdier, maar ek het ewe min beheer oor my lot – hoewel ek (soos die ryk man) oor hierdie lot kan besin en fantaseer. My lotsbestemming sien ek nie as bepaal deur die Voorsienigheid nie, maar as die sameloop van ’n honderd, van ’n duisend en een klein toevallighede. (bl 328)

Dit is ’n klein gedeelte van die roman, maar die eksplisiete manier waarop die teenoormekaarstaande lewensbeskouings, lewenservaring en vorme van selfbelewenis van die moeder en die dogter aan die orde gestel word, vra om interpretasie. Helena se ma het nog geweet van ’n "toeverlaat", al het sy dit nie altyd goed besef nie, maar Helena sien haarself in terme van toevallighede. En die implikasie is tog dat daar vir haar ’n soort verlies hierin opgeslote lê. Dit gaan nie daarom dat sy wil terugkeer na ’n vorige lewenstyl nie; inteendeel, sy is gesteld daarop dat sy bevry van beperkende en dwingende sisteme lewe – sy kan haarself konstrueer en rekonstrueer en vrylik bespiegel oor die eie hede en verlede en die verborge verbande tussen al die duisend en een dinge in haar lewe soos wat in die roman in die geheel gebeur. Die afwesigheid van ’n samehangende verklaringsraamwerk of aanvaarbare onderliggende denkstruktuur of epistemologiese patroonmatigheid is vir haar ’n werklikheid en alles wat sy oor die ontstaan van die aarde uitvind, verklaar nie haar rol en waarde in die groter samehang van dinge nie en verlig nie haar persoonlike verlies nie.4

Koop Kristin Lavransdatter by Kalahari.com

Mens sou kon vra of die roman dalk onder meer suggereer dat die postmodernistiese vryheid of bevryding ook ongeborgenheid inhou en dat Helena haar hier werklik bewus voel van ’n verlies in die vorm van die afwesigheid van ’n verklarende mite, selfs dalk ’n nuwe lewegewende mite, in Etienne Leroux se woorde. Die vraag is of die roman impliseer dat daar iets troosteloos in die toeval is omdat toeval so spesifiek die kondisie van bestaan in die postmoderne tydvak kenmerk.

Omdat alle vure uitbrand (soos Sigrid Undset dit in Kristin Lavransdatter stel), weet mens dat ook literêre strominge en denkraamwerke (of die gebrek daaraan) uitwoed, en dit wil nou vir my lyk asof daar hier kort na die eeuwending ’n gevoel begin posvat het dat die relativisme van die postmodernisme nie meer heeltemal so relevant en nuut aangevoel word in die nuwe millennium nie. Daar word dikwels genoem dat wanneer ’n stroming deurwerk na die domein van populêre gesprek, die skerpkantigheid daarvan afplat en oneffektief raak. Selfs die radikaliteit van die postmodernisme het genormaliseer tot gemeenplase en clichés in advertensies en populêre stories. Die ondermyning van valse sekerhede wat aanvanklik so skokkend effektief was, het voorspelbaar geraak in die hande van mindere skrywers, en as iets oormatig gebruik word, daal dit tot die vlak van clichés en slagspreuke, raak dit epigonies en leeg. Dit is mos nou mos maar eenmaal so dat gister se altaarkleed vandag se voetevel is.

Hierdie verskynsel is veral opvallend in die Amerikaanse diskoers, want daar is gevoel dat dit ná die aanvalle van 11 September 2001 eintlik onaanvaarbaar is om enigiets te relativeer. Die werklikheid het ironie en nonchalantheid en relativisme agterhaal en daar word van die post-postmodernisme gepraat.5 Odile Heynders6 het ook ’n baie mooi opstel geskryf oor die afwysing van die ironie en nonchalantheid in Joost Zwagerman se werk ná die moord op Theo van Gogh in Nederland. Theo van Gogh en Ajaan Alli Hirsi het ’n film gemaak oor die onhoudbare situasie van Moslemvroue. Zwagerman was die aanbieder van die reeks waarin die film vertoon is en Van Gogh is toe deur ’n radikale Moslemman vermoor. Die vraag is: Wie is reg en wie is verkeerd in so ’n situasie? Hoe relativeer jy óf die situasie van Moslemvroue óf die moord op Van Gogh?

In die twee romans wat ek hier bo genoem het, is daar ’n duidelike aansluiting by wat in ander tale en teoretiese gesprekke gebeur en ek sien daarin ’n vooruitwysing na ’n ander blik en uitkyk. Dit is asof daar aangevoel word dat daar in die bevryding wat deur die postmodernisme moontlik gemaak is, tog ander domeine van menslikheid agterweë bly.

Soos die tyd aangaan, wil dit vir my voorkom – méér as voorkom, want ek sien dit konkreet gebeur – asof hierdie tendens al hoe sterker na vore tree in die wetenskapsteoretiese werke wat verskyn. ’n Groep Amerikaanse literatore sien dit as ’n besliste wending en ’n aanduiding van ’n nuwe rigting. Hulle het ’n boek oor hulle idees geskryf met die titel The Eudaimonic Turn (en een van die skrywers het vir Marié Wissing ’n kopie present gegee wat sy vir my gewys het) waarin hulle nagaan wat daar in die literatuur is wat vir mense as mense belangrik is, wat lees vir hulle die moeite werd maak. Dit gaan vir hulle om nuwe aandag vir die goeie gees, dit wat heilsaam is.

Verder sal enige selfs oppervlakkige soektog op die internet ’n groot aantal – ’n verstommende groot aantal – boeke oor abstrakte temas soos etiek en ander aspekte van humanitêre belang oplewer. Teenoor die idees wat die afgelope paar dekades gangbaar was, naamlik dat die werklikheid blote oppervlak is; dat alle meesterverhale ideologies bepaalde magskonstrukte is; dat identiteit ’n selfkoesterende of vernietigende selfkonstruksie is wat ’n aangeleerde gedragskode weerspieël; dat tekste net woorde op papier, oorgelaat aan die diskresie van die leser, is; hierteenoor is daar nou ’n lewendige gesprek aan die gang oor etiese kwessies, oor menslikheid, oor humanitêre waardes, oor transendensie en metafisika en die belang van menslike verhoudinge. Die navorsing oor relasionaliteit, die webagtige aard van betekenis en die rol van die mens as individu binne ’n web van betekenisvolle verhoudinge kry toenemend aandag in publikasies (’n teoretiese besinning wat terloops soos ’n handskoen op Marlene van Niekerk se Die sneeuslaper pas).7

Nou moet ’n mens maar kyk wat in Afrikaans gebeur. Die eksterne druk op die taal en die spanning in die politieke omgewing sal gewis op die Afrikaanse romans ’n uitwerking hê, sowel op die tematiek as op die aantal boeke wat geskryf word en op die publikasie en bemarking daarvan. Bygesê, dalk voel baie mense hulle moet juis skryf om te wys Afrikaans lewe nog en dan kom daar dalk ’n stortvloed van boeke!

Maar hierdie internasionale neiging wat ek tog ook reeds hier opmerk, kan ons dalk in staat stel om die konkrete druk deels te verwerk, omdat dit ’n dieper indelf in die metafisiese, teenoor die fisiese, fasette van ons situasie sal vereis. Dat so ’n benadering hoë eise aan skrywers en lesers gaan stel, lyk ook onvermydelik – die hantering van abstrakte kwessies, die plasing van die mens binne ’n wye en uitkringende stelsel van komplekse verhoudinge, en dit met behoud van die bewustheid van relatiwiteit waaroor ons nooit weer onkundig kan wees nie, sal fyntrap van aanvoeling en verstand vereis. Of hierdie idees dus sal grondvat hier by ons, en of ons dit kan behartig, sal ons maar moet sien. Dit is wel iets waarvoor navorsers hulle oë kan oophou.

Maar die Afrikaanse letterkunde kon nog altyd sy uitdagings in die oë kyk. Dalk het ons spesifieke omstandighede, wat tans juis gekenmerk word deur ’n gebrek aan etiek en etiese bewussyn, ’n gebrek aan wedersydse kulturele respek, ’n gebrek aan insig in die eise wat ons multikulturaliteit werklik aan ons stel, juis diepgaande besinning oor die abstrakte fasette van ons menswees nodig.

 


Eindnotas

1 Die argumente oor strominge is gebaseer op ’n omvattende studie wat van 1993 tot 1995 gedoen is: Du Plooy, Heilna. 1995. Die Modernisme: Representasie of presentasie? In Viljoen, Hein (red). 1995. Metodologie en Representasie. Pretoria: RGN.

2 Hierdie kwessies is uitvoerig behandel en bespreek in Du Plooy, Heilna en Phil van Schalkwyk. 2000. “So is ek, so my lewe”: Outentisiteit in die dekade van negentig. Stilet, 12(1):115–34.

3 Die artikel waarna ek hier verwys, is: Du Plooy, Heilna. 2007. Weerskante van die slot. Stilet, 9(1):83–102.

4 Die artikel waarin ek onder meer na hierdie kwessie verwys, is: Du Plooy, Heilna. 2009. Die argeologie van die teken: woorde en skulpe en woorde in Niggie en Die boek van toeval en toeverlaat . Stilet, 21(2):1–28.

5 In haar proefskrif, “Bybelse intertekste in resente Afrikaanse gedigte en lirieke, met spesifieke verwysing na identiteitsformasies in die (post)-postmoderniteit”, voltooi onder leiding van Ronel Foster van US, gee GC Engelbrecht (2012) ’n uitstekende oorsig oor die ontwikkeling van die sogenaamde post-postmodernisme.

6 Heynders, Odile. 2010. Politics in poetry: epic poetry as a critique of Dutch culture / Politiek in die poësie: epiese poësie as kritiek op die Nederlandse kultuur. Literator 31(3):79–100.

7 Adéle Nel en Phil van Schalkwyk doen baie navorsing oor relasionaliteit.

 

<< Gaan terug na Poolshoogte <<

Uit die LitNet-argief
Akademies
In stede van ’n psigoanalise: Narkotiese ritmes van ’n onophoudelike trom
– Joan Hambidge
2007-06-29

Resensies
Die boek van toeval en toeverlaat: ’n Rykdom van verbeelding, besinning en toespeling
– Louise Viljoen
2007-03-20

Briewe deur die lug
Dis ’n slegte gewoonte om altyd oor kultuur te praat
– Jeanne Goosen
2000
Young Voices Conference 2004
Hearing voices
– Megan Hall
2004-11-22
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Om ’n deeglike “aanmaning van sterflikheid” te kry: Katabasis, relasionaliteit en retrovisie in Die benederyk van Ingrid Winterbach
– Adéle Nel
2012-05-25
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Die beeld is duursamer as die begrip
– Heilna du Plooy
2014-06-17
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
“Om leeg te word soos ’n skulp”: Verlies en verganklikheid in Die boek van toeval en toeverlaat
– Thys Human
2009-02-13
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Die toeval in ’n tentwoning / Die metanarratief van die toeverlaat
– Alettie van den Heever
2011-10-12
Seminaarkamer
In stede van die liefde: Etienne van Heerden se Gesamtkunstwerk
– Andries Visagie
2005-12-20
LitNet Akademies-gesprekruimte
LitNet Akademies-leesgoed
2014

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top