NP van Wyk Louw: 100 jaar
2006

  • 2

NP van Wyk Louw

 

 

Nicolaas Petrus van Wyk Louw is op 11 Junie 1906 op Sutherland in die Karoo gebore. Hy studeer aan die Universiteit van Kaapstad en word in 1929 daar dosent in die Opvoedkunde.

In September 1930 is hy met Joan Wessels getroud. Twee kinders, Ria en Anna, is uit hierdie eerste huwelik gebore.

In 1941 trou hy met Truida Pohl.

In 1945 is hy een van die stigters van die tydskrif Standpunte en bly redaksielid tot sy dood in 1970.

In 1948 ken die Universiteit van Utrecht, Nederland, aan hom ‘n eredoktoraat toe, en in 1950 aanvaar hy die leerstoel in Afrikaanse Taal en Kultuur aan die Universiteit van Amsterdam. Hy en Truida het reeds ‘n dogter, Reinet, gehad, en knap voor sy vertrek na Nederland word sy seun Peter gebore.

Sy gedigte, as mens verwysings daarna kry, word dikwels selektief voorgestel en aangehaal. Jy hoor selde die ironie, afgrond en drif van “Die dye trek die dye aan”, “Nuusberigte 1956”, “Wordende naak”, om net ‘n paar te noem. Die epiese gedig Raka is vir skoolgebruik voorgeskryf, maar die seksuele beskrywing van die kleimodel wat die kinders van Raka maak, is in die skooluitgawe uitgehaal: die woorde “skaamteloos groot/die skaamte”. Op die buiteblad van die boek is Raka uitgebeeld as ‘n boggelende “laer primaat”, hoewel Louw nooit wou gehad het die karakter moet énigsins grafies voorgestel word nie. Want hy was “die skoon sterk dier” vir die vroue, geen gedrog wat die kinders sou skrikmaak nie. ‘n Vroeëre kollega, nogal, het in ‘n intreerede by sy nuwe universiteit die epos Raka aangevat as ‘n aanval op Afrika, asof Koki nie óók Afrikaan was nie, en asof Afrika net listig , gewelddadig en “losbandig” is. Dis ‘n baie rassistiese, “edelbarbaarse” sentimentaliteit. Die werking van die rassisme en alle ander groepsdenke is juis om ‘n toonbeeldige lid van jou voorkeurgroep oor die hele gesamentlikheid te projekteer, en die teenoorgestelde te doen met die groep wat jy verguis. Hulle is mos almal so.

Talle later bekende Afrikaanse akademici het in Amsterdam onder Van Wyk Louw gestudeer, soos TT Cloete, Elize Lindes (Botha), FIJ van Rensburg, Ernst Lindenberg, en Merwe Scholtz, wat later die leerstoel beklee het.

In 1958 volg Van Wyk Louw vir CM van den Heever op as hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand. Die gesin woon in Kinrosslaan, Parkview, Johannesburg. Kort voor sy dood het hulle verhuis na Linden, ook in Johannesburg.

Sy kennis van intellektuele gebiede soos die Katolisisme, wiskunde, geskiedenis en veral die filosofie was enorm. In 1966 ontvang hy eregrade van onderskeidelik die Universiteit van Rhodes, Universiteit van Stellenbosch en Universiteit van Kaapstad.

Die jare in Europa was opwindend en besielend, te midde van die opbloei van die moderne kunste en die herstel en nuwe geesdrif na die skade en verskriklikheid van die oorlog. Louw het kennis gemaak en bevriend geraak met verskeie kunstenaars en denkers, oa die groot Nederlandse digter A Roland Holst.

Van Wyk Louw word algemeen erken as die sterkste en veelsydigste figuur van die geslag van 1930. Ook daarna het sy groei hom gevestig as baanbreker. Daar het nog niks in Afrikaans verskyn wat die durf van gedigte in Tristia ewenaar nie. Hy het in sy eerste essaybundels, Lojale verset en Berigte te velde (albei verskyn in 1939), in ‘n helder, strydvaardige prosa op swakhede in die Afrikaanse kultuurlewe gewys. Van Wyk Louw het ook op literêr-teoretiese gebied baanbrekerswerk verrig, soos in Die mens agter die boek (1956) en ‘n Wêreld deur glas (1958). Vir sy werk as literêre teoretikus ontvang hy in 1958 erkenning van die SA Akademie. Sy boek Vernuwing in die prosa (1961) het ook wye trefkrag gehad, en die Sestigers se vars, eksperimentele aanslag gestel teenoor die oormaat “gemoedelik-lokale realisme” van hulle voorgangers in die prosa. Hy het hulle telkens verdedig teen die bekrompe aanvalle van die behoudendes. Vir baie van die nuwe skrywers was hy ‘n mentor.

Eintlik laat Van Wyk Louw hom egter geld as digter. Met sy breedheid van aanleg, sy mag oor die woord en sy skerp intellek is hy een van die grootste digters van ons tyd. Die vernuwing waarvan WEG Louw met sy bundel Die ryke dwaas in 1934 die aankondiger was, is ‘n jaar later bevestig met Alleenspraak, die eerstelingbundel van Van Wyk Louw. Die bundel bevat verse wat ontstaan het tussen die digter se 17de en 28ste jaar. ‘n Brose teerheid tree na vore, maar hy delf ook graag in die verskillende lae van die persoonlikheid rond en wil die verborge dieptes van die siel peil: “Jy is soos ‘n ster vir my, ver en stil en rein; en my siel die donker water waar jou beeld in skyn” (“Nagliedjie”). Die beelde van lig en donker is miskien dié wat die heel meeste by Van Wyk Louw voorkom. “My naakte siel wil sonder skrome in alle eenvoud tot jou gaan, soos uit diepe slaap ons drome, soos teen skemerlug die bome opreik na die bloue maan” (“Grense”). Liefdespoësie voer aanvanklik die botoon. Dit is swewend, iets wat ons nooit volledig kan kry en sien en besit nie; daarom moet daar altyd na gesoek word. “Kom vannag in my drome as dit donker is en stil; reik my jou hand deur die drome, en ons sal dwaal waar ons wil” (“Kom vannag in my drome”).

Na die verskyning van die eerste digbundel het ‘n “sogenaamde” akademiese kenner van poësie vir Louw afgeraai, en diep gekrenk, om hom enigsins verder met verse te bemoei. Baie diplomaties het WEG tog later sy broer weer oorgehaal om die pen op te neem. In “Skreeu” staan die woorde: “met die oerkreet van alle dinge smyt ek my tartende skreeu in die sterre in, waar ylweg my smart weerklink langs die steiltes …” WEG Louw skryf oor Van Wyk Louw se eerste bundel: “Dié nag – sal ek dit ooit vergeet? – het ek gelees: verse soos nooit tevore in ons eie taal, woorde met ‘n wonderlike samehang, beelde soos vonke uit vuurklip geslaan. Dié nag was wit van daardie lig …”

Van Wyk Louw se voortdurende ontwikkeling as digter word duidelik deur sy eerste vyf bundels, die epos en die koorspel geteken. Alleenspraak verskyn in 1935; Die halwe kring (1937) word ook bekroon met die Hertzogprys. Die dieper reg (1938) is ‘n koorspel geskryf vir die Voortrekkereeufeesjaar, geïnspireer deur die simboliese ossewatrek van 1938; die epos Raka verskyn in 1941 en die sterk bundel Gestaltes en diere in 1942.

WEG Louw skryf in Naggesprek: “Voor ‘n gasvuurtjie wat ‘n mens met sjielings stook, het ek gesit en lees. Dit was Die halwe kring. Twee wêrelde begin skuiwe oormekaar: dié van my kinderjare in Karoo en Kaap – eers wreed, met garingbome teen die son, maar later milder – en hierdie tweede, uit boeke reeds bekend, dié van kruistogte en katedrale.” Vervolgens ‘n uittreksel uit “Herfsnamiddag” in Die halwe kring: “Hoog in die silwering van die koel sonlig flikker ‘n oomblik die vlerke van duiwe, maar alles is roerloos en yl soos die môre bokant die denne en wit horison.”

In Die dieper reg gaan dit nie oor die grootheid of die kleinheid van die Voortrekkers se dade nie, maar oor die suiwerheid waarna hulle gestrewe het – dít maak die dieper reg van hul voortbestaan uit. Die dieper reg is opgevoer tydens die hoeksteenleggingsfees van die Voortrekkermonument in 1938 in Pretoria. Daar was so ‘n toeloop na die opvoering dat dit vyf keer op een dag herhaal is! Rosa Nepgen, die vrou van Van Wyk Louw se jonger broer, het Die dieper reg in 1943 getoonset vir volle orkes.

In sy eerste vyf bundels maak Van Wyk Louw dus ‘n duidelike ontwikkeling deur. Hy kom van die liriese belydenis tot (ook) die skep van gestaltes, sodat die motiewe wat ons vroeg in sy werk leer ken (die profeetskap, die besef van die verstrengeldheid van goed en kwaad, die erotiek, die besef van ‘n donker ondergrond waaruit die geestelike lewe hom met moeite loswring), later verwikkelder terugkeer in objektief gekonsipieerde figure soos die profeet, die jagter, die drinker, die inkwisiteur, en die Raka- en Koki-gestaltes.

Raka is ons eerste volwaardige, moderne epos in Afrikaans. Dit bestaan uit vyf afdelings, wat in paarsgewys-rymende verse ‘n gemeenskap oproep êrens in Midde-Afrika. Raka, die “aapmens”, ‘n brute maar aantreklike liggaamlike wese, maak sy verskyning en slaag daarin om met seksualiteit, speelsheid en bomenslike krag die vroue, kinders en mans van die stam te imponeer. Koki, die held, in wie die volk se tradisie die suiwerste leef, merk hoe die waaksaamheid verslap en Raka se invloed onder sy mense groei. Hy bind die stryd aan met Raka en sterf, waarop die dier kan inkom en niemand dit ooit waag om die hek teen hom te sluit nie. Die gedig het tot talle interpretasies aanleiding gegee. Is dit nie ook ‘n klemmende waarskuwing vir ‘n klein kultuurgroep soos die Afrikanervolk nie? Raka is in Engels, Duits, Zoeloe, Sotho en Xhosa verwerk vir uitsendings deur die SAUK. Die bykomstige musiek vir die Zoeloe-uitsending is nogal deur E Buthelezi geskryf! Raka was ook die eerste volbloed Suid-Afrikaanse ballet vanweë sy tema, musiek, choreografie, inkleding en Suid-Afrikaanse rolspelers. Dit word ook die eerste vollengte-balletrolprent wat ooit deur die plaaslike filmbedryf vervaardig is.

Na ‘n stilswye van twaalf jaar verskyn Nuwe Verse (1954), waarin die digter weer ‘n nuwe begin maak. Woorde word die helder net waarmee blink visse uit donker waters gehaal word – en in die proses word daar van die grootste gedigte in Afrikaans gelewer. Daar is nuwe, subtiele en durwende vorme, maar ook ‘n nuwe mildheid, rypheid en nederigheid. Die bekende “Die beiteltjie” is ook in die bundel opgeneem; asook “Klipwerk”. Die gedigte toon soms die verlange na sy vaderland en sy mense gedurende die tyd in Amsterdam. Die bundel bevat talle tonele en beelde ontruk aan die Suid-Afrikaanse aarde, soos in “Beeld van ‘n jeug: Duif en perd”: “Dit runnik daarbinne, sag, en die pote stommel en glip op die ronde stalklippe; dan beur hy die deur uit, die swart grote, sy kop skuins van die halter, die oog wit gedop van die rem, … en die neusgate voel, voel reeds aan die lug”. FA Venter neem ook die titel van een van sy romans uit die gedig “Klipwerk”, naamlik Die middag voel na warm as.

In 1960 verskyn Gedigte, ‘n bloemlesing met van sy reeds gepubliseerde werk aangevul deur nuwe gedigte wat later sou verskyn in Tristia (1962). Tristia is in Nederland in “ballingskap” geskryf – ‘n ryk en ryp bundel vol nuwe motiewe, nuwe eksperimentering met die taal en ‘n kritieser gerigtheid op die tyd. “My land, my dor, verlate land: iéts wens olywe groei in jou.” Die bundel word met die CNA-prys en met die Hertzogprys bekroon.

Die volgehoue objektiveringsproses (van belydenis tot gestalte, onder andere) het ook op die drama uitgeloop, as mens so oorsaaklik kan praat. Die dramatiese monoloog word koorspel, word eenpersoonshoorspel en volledige verhoogstuk. “Die beeld moet soos ‘n lighuis se smal wit ligstraal die swart woelende waters van die gedagtes verlig.” Dias (1951) handel oor die eiesinnige ontdekkingsreisiger, ‘n profetiese gestalte met ‘n visie, ‘n man op die drumpel van ‘n nuwe tyd wat in eie krag wil oopmaak dit wat nog nie oop te make is nie. Dias se afskeid van die klipkruis (padrao) wat hy by Kwaaihoek opgerig het, word baie gevoelvol weergegee: “hy huil soos iemand wat ‘n kind moet groet in ‘n vreemde land, vir nooit weer te sien nie.” En dan volg eindelik die volwaardige drama: Germanicus (1956), bekroon met die Hertzogprys. In hierdie grootse en hewig-dramatiese stuk, met sy meesterlike versdialoog, word ons verplaas, met sterk projeksies op die hede, midde-in die geweld van die Romeinse ryk in die eerste eeu nC. WEG onthou sy eerste indrukke hiervan soos volg in Naggesprek: “Ná ‘n troue in die Groote Kerk het die vonkelwyn by die bruilof vryelik gevloei, sodat ek, vaak, die aand van ses tot nege eers wou slaap. Maar ons had ook ‘n afspraak: jy en Truida sou jou Germanicus vir ons twee lees. Die ‘rolverdeling’ onthou ek nie meer goed. En daardie nag – dit het half-drie geword vóór ons weer sou slaap – het ek iets beleef wat nooit daarvoor of ooit daarna met my gebeur het nie: dié verse had ‘n eie, innerlike lig, waarin dié nag my oë als mikroskopies fyn kon sien.”

In 1963 volg Koning-Eenoog of Nie vir geleerdes, ‘n prosadrama wat satiries spot met skyngeleerdheid en aanmatigende akademici. “Júlle is die oorheersers en júlle die vertrappers van ons wat sterk is, maar magteloos verneder; julle maal ons soos koring, julle eet ons soos brood; tog haat ons julle nie: omdat julle mens is.”

Van Wyk Louw publiseer ook verskeie hoorspele in prosa: Dagboek van ‘n soldaat (1961) wat ‘n SAUK-prys wen, Die held (1962), Lewenslyn (1962), Kruger breek die pad oop en ander hoorspele (1964). Sy dogter, Ria, sterf in 1964 en haar dood is vir hom ‘n geweldige skok.

In 1965 volg Asterion. Dis ‘n futuristiese radiofoniese opera waarvoor Henk Badings later die musiek gekomponeer het. Die SAUK het aan geen ander Afrikaanse skrywer soveel opdragte gegee soos aan Van Wyk Louw nie. Hy is ook (naas Chris Barnard) die enigste outeur wie se hoorspele byna almal as sodanig gepubliseer is. Postuum verskyn die drama Die pluimsaad waai ver (1972), ‘n stuk met president Steyn as sentrale figuur. Dis reeds in 1966 opgevoer, en het ‘n reusepolemiek ontketen omdat die destydse eerste minister beswaar gemaak het teen die voorstelling van ‘n volk as dinamies en uiteenlopend. Ook Blomme vir die winter (1974), Opstelle oor ons ouer digters (1972) en Deurskouende verband (1977) is na sy dood gepubliseer.

Van Wyk Louw neem ‘n sentrale en bevrydende plek in die Suid-Afrikaanse literêre wêreld in, ook deur sy teenkanting teen staatsensuur en benepenheid. As digter, dosent, dramaturg en literêre teoretikus geniet hy wye aansien, en die Hertzogprys is reeds vyf maal aan hom toegeken – meer kere as aan enige ander Afrikaanse skrywer.

Die gesag wat hy dra, het opnuut duidelik geword met sy sestigste verjaarsdag. By dié geleentheid het sy uitgewers verskeie, besondere uitgawes van sy werk uitgebring, terwyl Standpunte ‘n spesiale nommer aan sy werk gewy het. Ook het twee dosente van sy departement, met medewerking van vooraanstaande letterkundiges, twee feesbundels saamgestel en aan die jubilaris opgedra: Smal Swaard en blink, wat letterkundige opstelle van uiteenlopende aard bevat, en Beeld van ‘n digter, waarin van die beste byeengebring is van wat oor Van Wyk Louw geskryf is. Daar is ook ‘n borsbeeld deur Moses Kottler van Louw gemaak. Dis vandag in besit van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. DJ Opperman het ‘n huldigingsgedig, “Vele woninge”, aan Van Wyk Louw opgedra: “As ou steenmaker erken en eer ek jou bouwerk, vol swier of strak: in elke bundel, gebak uit ander klei: ‘n blywende binnevuur wat wisselend speel deur ruite.”

Tot aan die einde van sy lewe het Louw nuwe dinge onderneem. Hy het onder andere saam met sy seun, Peter, boeke oor regstudie bestudeer. Die Afrikaanse Bybelvertaling het Louw ook baie jare lank geboei en hy het vroeër selfs lesings in Amsterdam vir sy studente gegee oor die stylaard daarvan.

Na sy dood het die RAU sy private biblioteek van ongeveer 14 000 waardevolle boeke oorgeneem en dit word as ‘n eenheid in ‘n spesiale ruimte gehuisves. ‘n Reeks radiopraatjies, wat later in Rondom eie werk (1970) gepubliseer is, was pas afgesluit toe die digter op 18 Junie 1970 in sy slaap heengegaan het. Dit was ‘n week na sy 64ste verjaarsdag, en 35 jaar na sy debuutbundel. ‘n Vrugbare lewe is daarmee afgesluit. NP van Wyk Louw is op talle maniere by sy dood gehuldig, in verskillende tale en in talle koerante en tydskrifte. ‘n Roudiens is in die NG Kerk Linden, Johannesburg, vir hom gehou deur sy swaer, ds WFH Huyzers. Die grootste monument is egter sy werk en sy voorbeeld aan ander skrywers en denkers.

In sy eerste bundel stel hy die skoonheidsontroering en doodsvrees direk en vlot in die gedig “En as ek dood is”:

En as ek dood is, sal alles nog so mooi wees? …
die ylrooi bloeisels smôrens blink aan die perskeboom,
wit wolke torings bou daar bo die verste berge,
die kalwers langs die kraalmuur smiddags lê en droom?
sal daar nog warm son wees tussen donker bome?
Sal voor my venster nog die rose somers rank,
die berge ver, so ver en blou wees?
Ek wil geen mooier wêreld hê as hierdie,
ek wil nie blind wees, blind en doof en koud.

Vervolgens wil ek graag as antwoord en troos ‘n uittreksel uit “Winter” uit die sonnetreeks “Vier gebede by jaargetye in die Boland” plaas:

Nou lê die aarde nagtelang en week
in die donker stil genade van die reën,
en skemer huise en takke daeliks bleek
deur die wit mistigheid en suising heen.
Dis alles ryk en rustig van die swaar
geheime wasdom wat sy paaie vind
… tot ons ‘n helder middag skielik sien
die gras blink, en die jong graan teen die hange,
en weet dat alle rus die lewe dien:
hoe kon ek dink dat somer ryker is
as hierdie groei se stil geheimenis?

Ter herdenking van die digter se geboortedag, 11 Junie, het Human en Rousseau en Tafelberg Uitgewers gesamentlik, met versorgingsadvies van prof J du P Scholtz, Versamelde gedigte (1981) uitgebring. Dit bevat al die digbundels en Raka, sowel as enkele nagelate gedigte. Hierdie bundel van 352 bladsye toon die omvang en verskeidenheid van Louw se verse. Van Wyk Louw se wens is (soos in al sy vorige bundels) noukeurig nagevolg, deurdat elke gedig afsonderlik op ‘n bladsy gedruk is, hoe kort ook al, en so tot sy reg kom. Dit is nie die geval in Nuwe verse en Tristia nie; ook nie soos hulle in die Versamelde gedigte opgeneem is nie.

Bronnelys
• Cloete, TT. Gids by D.J. Opperman se senior verseboek. Kaapstad: Nasou Beperk.
• Cloete, TT. Die versamelde gedigte van N.P. van Wyk Louw, Tydskrif vir Letterkunde, Augustus 1981.
• Cloete, TT. 1974. Skrywers in beeld, N.P. van Wyk Louw. Kaapstad: Tafelberg.
• Dekker, G. 1960. Afrikaanse Literatuurgeskiedenis, Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk.
• Grové, AP. 1980. Letterkundige sakwoordeboek vir Afrikaans. Kaapstad: Nasou Beperk.
• Louw, NP van Wyk. Alleenspraak, Kaapstad: Tafelberg, 1978.
• Louw, NP van Wyk. Die halwe kring, Kaapstad: Tafelberg, 1971.
• Louw, NP van Wyk. Raka, Tafelberg, 1984
• Louw, NP van Wyk. 1982. Drie hoorspele. Inleiding deur R.H. Pheiffer. Johannesburg: Perskor.
• Nienaber PJ. Perspektief en Profiel, Afrikaanse Pers Boekhandel. NP van Wyk Louw met die medewerking van prof dr AP Grové.
• Van Rensburg, FIJ. 1983. Die smal baan – Aspekte en figure uit die ontwikkelingsgang van die Afrikaanse letterkunde. Kaapstad: Tafelberg

  • 2

Kommentaar

  • Baie, baie dankie vir die stuk, dit word opreg waardeer!
    So vinnig as ek kan, sal ek nou NPvan Wyk Louw se versamelde gedigte aanskaf, benewens die van sy gedigte wat ek reeds besit by wyse van Andre P Brink se Groot Verseboek.
    Van Wyk Louw; is Afrikaans onverbeterlik pragtig, en taal-sonder-woorde - blootgelê as ervaring en suiwer emosie.

  • Avatar
    Christo Loots

    Ian, so teer en gevoelvol. Dankie vir jou inspirasie, jou tyd - Ek dink aan egtheid soos ‘n skeersel wit mof-ooi-wol.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top