Tussen sekerheid en onsekerheid. ’n Gesprek tussen Willie Jonker en NP Van Wyk Louw

  • 0

In hierdie lesing wil ek fokus op die verbintenis tussen een van die grootste Afrikaanse teoloë en een van die grootste Afrikaanse digters: Willie Jonker en NP Van Wyk Louw. Daar was ’n wedersydse waardering tussen hulle, en tog het hul denkwêrelde verskil. Die een was ’n digter, die ander ‘n teoloog, en dit verklaar baie van die verskille. Albei soek na sin en waarheid, maar die uitgangspunte verskil: Die digter wil oop staan vir die volle werklikheid van die lewe; die teoloog wil waarsku teen valse leringe. Die teoloog verkondig ’n boodskap van blydskap en bevryding; die digter bring angs, kommer en verlange tot uiting as deel van die lewe. Die teoloog weet van die sekerheid van die geloof; die digter se sekerhede gaan dikwels gepaard met twyfels en onsekerhede. Dieselfde tipe verskille vind ons ook in die Bybel: Paulus se besliste stryd teen die dwalinge van die Galasiërs kontrasteer met die Psalmdigters wat hoop en wanhoop naas mekaar stel en die lof aan God dikwels met verwyte en neerslagtigheid verbind.

Ek wil hier ’n gesprek tot stand bring tussen die twee denkers – eers vir Jonker laat praat oor Louw en oor sy (Jonker se) Christelike siening van kuns; dan ’n weerwoord aan Louw gee gegrond op sy geskrifte; en ten slotte kry Jonker die laaste woord in. Dit is immers sy gedenklesing!

In Willie Jonker se NP Van Wyk Louw-gedenklesing in 1991, gehou aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) en opgeneem in Die oop gesprek (2006), vertel hy hoedat hy reeds as hoërskoolleerling gefassineer is deur die poësie van Van Wyk Louw, en dat hierdie waardering vir Louw se gedigte hom nooit weer losgelaat het nie. Toe hy met sy universitêre studie begin, vertel hy, “was sy bundels tot by Gestaltes en diere en Raka reeds ’n vaste deel van my wêreld” (Jonker 2006:193). Later het hy Louw persoonlik leer ken tydens sy nagraadse studie in Nederland, toe Louw professor aan die Gemeentelike Universiteit van Amsterdam was. Die verbintenis is voortgesit toe Jonker predikant was in Braamfontein en Louw hoogleraar aan die Universiteit van die Witwatersrand. Dit was Jonker wat vir Louw gevra het om ’n feesgedig te skryf vir die 75ste verjaardag van die Johannesburgse gemeente in 1962. Louw het ingestem en sy “Feesgedig” vir die geleentheid geskep.

Nou terug na Jonker se studentejare. As student kies hy Afrikaans en Nederlands as een van sy hoofvakke, en as tweedejaar skryf hy ’n insigryke artikel oor Louw in die studenteblad Trek. Hy wys daarop dat Louw wel ’n volksgevoel het, maar, soos elke groot kunstenaar, ’n individualis is wat hom van die massa distansieer – een wat “die dieper lewe van die nasie verteenwoordig” (1947:61), wat sodoende sy individualisme verenig met sy volksgevoel. Tereg wys die jeugdige Jonker daarop dat skoonheid in hierdie stadium ’n sentrale tema in Louw se werk is. Dit is skoonheid, en skoonheid alleen, wat vir Louw die “halwe kring” van die lewe tot voltooiing bring.

Wat godsdiensopvattinge betref, skryf Jonker: Louw se ingesteldheid teenoor God is nie dogmaties nie – God “is nie vir hom opgeslote in ons dogmatiese begrip nie, maar is veeleer vir hom oerbron van die bewegende dinge” (61). Louw sien homself as geroepene, as profeet, maar ’n profeet wat in ’n geding met God tree. Ook in Louw se gedig “Ballade van die sterwende man” is daar onkonvensionele elemente, want die mooi en die sondige dinge van die lewe word nie teenoor mekaar gestel nie, maar deur die sterwende man verbind: Dit is “alleen die mooi en sondige dinge” wat behoue bly.

Ondanks die afwykende dogmatiese elemente wat die tweedejaarstudent in Louw se gedigte waarneem, is sy gevolgtrekking oor Louw se poësie baie waarderend: “Die algehele samesmelting van taal en tempo, een gedagte tot een verheerlikte brokkie skoonheid – dit is die sterkte van sy werk wat hom verhef tot ’n digter wie se gelyke seker nie gou uit ons volk sal ontspring nie” (68). Louw se onkonvensionele sienings word nie veroordeel nie, maar met begrip gehanteer; die skoonheid van Louw se taal is die grondslag waarop die digter gewaardeer word.

Twee jaar later, as honneursstudent, skryf Jonker ’n artikel wat in Deo Gloria gepubliseer is, getitel “Die Christen, kunstenaar en kuns”. Hy is nou dieper in die teologie gedompel, en is meer dogmaties. Hy verklaar dat die Neo-Darwiniste van die 19de eeu “met hul leë en ontmoedigende leer van natuurlike seleksie sonder God” se tyd verby is (Jonker 1949:39). In die 20ste eeu, skryf hy, “twyfel ons nie meer daaraan dat die godsdiens ’n onontbeerlike faktor in die lewe van die mens is nie” (39). Hy haal Lecomte du Noüy aan wat krities teenoor ongelowiges is en wat skryf: “Die agnostikus en ateïs is blykbaar glad nie verontrus oor die feit dat ons gehele georganiseerde, lewende universum onverstaanbaar word sonder die hipotese van God nie” (39).

Ondanks Du Noüy se kritiek op agnostici en ateïste is Jonker nie tevrede met sy “hipotetiese God” nie – “sulke beskouings dryf nog ver by die ware godsdiens verby”. Vir die ware Christen-kunstenaar bevat die woord “God” veel meer as ’n hipotese – “God is vir hom die eerste werklikheid” (39). “God het hom gegryp, het Homself uit vrye genade aan hom geopenbaar, ja, hy bestaan alleen kragtens die wil van God.” Vir Jonker “kan daar geen ware kuns sonder ware religie wees nie”, en die “ware religie” behels ’n sekerheid gegrond op persoonlike ervaring”. Hy distansieer hom van die algemeen aanvaarde beginsel van “L’art pour l’art” (kuns om die kuns); in plaas daarvan stel hy die maatstaf van “L’art pour Deux” (kuns tot eer van God).

Twee en veertig jaar later, in 1992, lewer Jonker die NP Van Wyk Louw-gedenklesing aan die destydse RAU. Sy lesing is getiteld “Onmiddellik voor God”. Dit blyk dat hy nog steeds worstel met die vraag wat hom as honneursstudent besig gehou het, naamlik die verhouding tussen kuns en die Christelike geloof, maar sy redenering is nou veel meer genuanseerd. Die titel van sy lesing is ’n verwysing na wat Louw in 1936 oor Jochem van Bruggen se roman Ampie geskryf het, naamlik dat die leser Ampie nie leer ken “soos hy as mens onmiddellik voor God is nie”, maar deur die oë van Booysen en sy stand. Jonker haal Louw aan: “Die skrywer moet alle toevalligheid van omgewing en stand van hom afstroop om alleen die essensiële te kan sê; hy moet hom teenoor sy onderwerp plaas asof hulle alleen in die wêreld was, en sy woorde moet eerlik wees soos sterfbedwoorde” (Jonker 2006:195).

Jonker het waardering vir Louw se lewenslange passie vir die waarheid. Ook Jonker soek na die waarheid, maar hulle uitgangspunte verskil. Jonker wys daarop dat hy in sy gedenklesing Louw se digkuns teologies bespreek; sy uitgangspunt is soteriologies, dit wil sê vanuit die Bybelse perspektief van verlossing, terwyl Louw die waarheid vanuit ’n metafisiese perspektief nastreef. Jonker verduidelik die verskil na aanleiding van Louw se intreerede as hoogleraar aan die Gemeentelike Universiteit van Amsterdam in 1950 getiteld “Die digter as intellektueel”. Uit die intreerede blyk dit dat Louw hom as digter en intellektueel wil oopstel vir die volle werklikheid. Jonker haal daaruit aan:

[Die intellektueel] wil onbevooroordeeld wees; dit beteken: hy wil nie oordeel, nie meen om te weet nie voordat ’n saak hom aangespreek het en hy uitgehoor is. As voorbeeld: Wanneer sy eie opvoeding godsdienstig was en hyself dit ook nog, dan wil hy ook die ongodsdienstigheid tot op die laaste uithoor voordat hy finaal daaroor oordeel. Of as hy self tot dusver in die godsdiens alleen verwardheid gesien het, wil hy die godsdiens uithoor tot in sy heimelikste fluistering en vermoede. (199)

Vir Jonker is daar ’n probleem met so ’n ingesteldheid, want die waarheid bly dan steeds ontwykend en die sekerheid is onbereikbaar. Hy motiveer sy beswaar so:

Omdat Louw nie die Bybel wil napraat nie, maar op sy eie soektog gaan om die laaste en diepste werklikheid van die mens voor God uit te spreek, bly hy ten opsigte van die religieuse waarheidsvraag in onduidelikheid en onsekerheid steek. (201, kursivering deur Jonker)

Volgens Jonker het Louw ’n ambivalente houding teenoor die Christelike geloof – hy het wel vir die Christendom gekies, maar ’n vaste geloofsekerheid ontbreek; hy glo wel in God, maar God is vir hom steeds die groot Onbekende.

Jonker bespreek vervolgens ’n aantal gedigte van NP Van Wyk Louw en kritiseer die teologie wat uit die gedigte na vore kom, selfs in die gedigte uit die laaste fase van sy lewe, toe Louw die Christelike geloof aangeneem het. Daar is nie ’n duidelike aanvaarding van die triniteitsleer, die leer van die drie-enige God, in Louw se gedigte nie, sê Jonker – Louw praat veral oor God en met God, eerder as oor Christus. Dit is onseker wat hy dink oor die verhouding van Jesus tot God en of hy die goddelikheid van Jesus aanvaar. Verder is daar nie duidelike verwysings in sy poësie na die betekenis van Jesus se dood nie, naamlik dat dit ’n offer is wat verlossing van skuld en sonde bied.

“Daarom kan [Louw] nie in die evangelie ’n finale antwoord vind waarin sy hart tot rus kom nie,” sê Jonker; en verder: “Dit is waarskynlik daarom dat hy nie in sy poësie kom tot die soort verering en aanbidding van Christus wat ons by Sheila Cussons vind, of tot die soort deurleefde geloofsvreugde van TT Cloete nie” (204).

Louw se “Feesgedig”, wat hy op Jonker se versoek vir die gemeente van Johannesburg geskryf het, vind Jonker sy Christelikste gedig. Die hoofaksent in die gedig is op Jesus se vereenselwiging met die armes en ellendiges – sy dissipels is eenvoudige mense “met ’n oop gemoed”. Soos Dostojewski, sê Jonker, skryf Louw dat dit die geringes is, diegene wat bewus is van hulle sondes, wat vir Jesus ontmoet; hulle ontvang verlossing deur hul deemoed en liefde. Ook hier vind Jonker egter ’n teologiese leemte – die genade van Jesus word verminder omdat ’n rede vir die verlossing gegee word, naamlik ’n oop gemoed. Dis ’n gekwalifiseerde genade, sê Jonker, gewortel in die denke van Katolieke en Oosterse Christene. Hy verkies die Protestantse teologie van Martin Luther en Karl Barth – “teoloë wat die sentraliteit van Christus en die betekenis van die evangelie van genade op die voorgrond stel” (205).

Ten slotte verwys Jonker in sy gedenklesing na die gebed wat Louw die aand voor sy dood geskryf het, en wat die volgende dag voor sy bed gevind is. Die einde van die gebed, wat Jonker aanhaal, lui:

As my sondes nog nie genoeg uitgeboet is nie – of as hulle nie reeds in u genade vergeef is nie – dan is daar alleen u vergiffenis waarop ek kan vertrou. En ek vertrou daarop. Dit is my troos elke dag: dat U, my God, wat die allerheiligste Geregtigheid is, Liefde is. U, my God, is Liefde. (205–6).

Jonker spreek sy blydskap uit omdat Louw so volkome die liefde van God aanvaar het, maar hy is spyt dat Louw weer eens nie vir Jesus noem nie. Hy vind dit ook jammer dat God se vergifnis gepaard gaan met die Katolieke siening dat sondes uitgeboet moet word. Jonker vertel hoe bly hy was toe hy uitgevind het dat Van Wyk Louw se broer, die digter WEG Louw, by Louw se begrafnis ’n kruisie geplaas het op die lyk van sy broer. Want dit is Jonker se diepe begeerte: dat die verlossende betekenis van Jesus se kruisdood saam met Louw die ewigheid sal binnegaan.

En nou wil ek so vermetel wees om namens Louw ’n antwoord op Jonker se kritiek te lewer. Ek sal dit darem grond op wat Louw geskryf het, en verder hulp soek by ander skrywers soos TS Eliot, JM Coetzee en Fjodor Dostojewski. En aan die einde sal Jonker ’n laaste woord inkry.

Ek begin met ’n reeks radiopraatjies wat Louw aan die einde van sy lewe gehou het, en wat postuum in Rondom eie werk gepubliseer is. Louw eindig die laaste van die nege praatjies met ’n belydenis van sy oorgang tot die Christelike geloof. Die posisie waarin hy sy belydenis plaas, aan die einde van die laaste praatjie, suggereer dat dit iets is wat vir hom van besondere belang is. Hy doen dit nogtans so subtiel dat baie lesers die betekenis daarvan misgelees het, maar, geplaas binne die konteks van Louw se geestelike ontwikkeling in die latere deel van sy lewe, is daar min twyfel dat dit oor sy bekering handel. Ek haal gedeeltes aan van wat hy gesê het:

En ten slotte iets wat eintlik te persoonlik is om in die openbaar daaroor te praat. Dus slegs ’n aanduiding. [...] Lewensbeskouings het ek baie gehad. Hulle het gekom en gegaan, maar nie sommerso nie, vanself; ek het hulle gesoek en ek het hulle verwerp [...] Van myself kan ek eerlik sê: my enigste stryd, my lewe lank, was die vraag: “Wat is wáár? Wat kan ek wéét, wat kan ek glo? Waaraan kan ek vashou?” [...] En weet ek selfs nou dat die insig wat ek nou gekry het, die wáárheid is? (Louw 1970:86)

En dan sluit Louw sy praatjie soos volg af:

In een opsig was my denke koppig soos ’n muil, en ek is bly. Dit wou in geen sisteem óp- of íngaan nie. My filosofiese skoling het dít in my kop ingemoker: dat ’n mens jou koevoet onder elke beperkte -isme in kan kry.

Ons leef in ’n wêreld wat so oorheers word deur -ismes: konserwatisme, liberalisme, kommunisme ...

Binne die Christendom is daar baie -ismes: Thomisme, Augustinianisme, Calvinisme, Rooms-Katolisisme, maar dit lyk asof niemand dit nog reggekry het om die Christendom self tot een van die -ismes te reduseer nie. Waarskynlik kán dit ook nie.

En ek het daartoe gekom om sonder die bril van ’n enkele -isme die wêreld met ’n skoon oog te bekyk. (88)

’n Paar dinge is hier van belang. Eerstens, die skroom waarmee Louw praat oor die geloof waartoe hy gekom het. Hy begin sy negende praatjie met die woorde: “Ek sal maar ’n paar dinge wat nog gesê moet word, in min woorde probeer saamvat” (81). Dit is asof daar ’n teensin deurskemer om oor hierdie intieme dinge te praat, maar hy voel dit is sy plig om dit te doen – nogtans sal hy sy woorde beperk. Louw was ’n besonder private mens wat nie met sy diepste gevoelens te koop geloop het nie; en in sy gedigte kom die religieuse elemente dikwels baie subtiel na vore. Hy is ’n ander tipe mens en digter as Cussons en Cloete, na wie se poësie Jonker in sy lesing verwys.

Louw spreek hom in sy radiopraatjie skerp uit teen alle denksisteme wat met “-isme” eindig. Wat hy veroordeel, is hulle beperktheid, die feit dat hulle ’n beperkte waarheid verabsoluteer en alle ander denke met die bril van hulle eie -isme beoordeel. Dis veelseggend dat Louw ook -ismes binne die Christendom waarneem – sowel die Calvinisme as die Rooms-Katolisisme val vir hom in hierdie kategorie. Hulle wil oogklappe plaas op elke eerlike ondersoekende denker. In teenstelling met hierdie ingesteldheid het Louw “die Christendom self” ontdek, en dit bring mee dat hy met “’n skoon oog” na die wêreld kan kyk. Hy sê nie eksplisiet wat hy met ’n “skoon oog” bedoel nie, maar waarskynlik is dit die skoon oog van die liefde wat sentraal was in Jesus verkondiging, ’n liefde wat ook diegene insluit wat jou vyand is; ’n liefde wat met deernis kyk, ook na diegene wat anders dink en anders is as jy. Teenoor die veroordelende blik van die -isme staan die skoon oog van die begrypende liefde.

Die bekering waarvan Louw praat, gaan egter gepaard met sy kenmerkende beskeidenheid. Te midde van sy belydenis oor die waarheid wat hy gevind het, kom die vraag: “En weet ek selfs nou dat die insig wat ek nou gekry het, die wáárheid is?” (87). Hy besef die soeker mag nooit selftevrede raak nie; die soektog moet nooit afgesluit word nie.

Dit kan verhelderend wees om hier te verwys na die artikel waaraan Louw gewerk het net voor sy dood. Dit was ’n artikel oor die verband tussen lewensbeskouing en kuns, geskryf vir ’n reeks van die Potchefstroomse Universiteit oor die Christen en die wetenskap. Louw skryf in sy aantekeninge vir die artikel: “Daar was ’n lang tyd dat ek geen Christen was nie; sekerlik nie oortuig was van sy waarheid nie; sê maar: geleef het soos ’n heiden, met volle oorgawe aan die mooi, heidense lewe.”

Louw het dus ervaring van skryf as ongelowige sowel as gelowige, en hy formuleer die onderskeid in sy aantekeninge soos volg: “Die ongelowige is ‘soeker, eksperimenteerder, prakties en teoreties onbeperk mits eerlik soek na iets objektiefs: maar moontlikheid van afgly bly.’”

Daarteenoor sien hy die gelowige soos volg: “[D]ie basis is gevind, geen afgly nie; maar basis is so ruim dat die kans vir soek en eksperimenteer vir ’n aparte sterflike mens prakties onbeperk is” (Steyn 1998:1123–4, kursiverings deur Louw).

Hierdie basis wat sekerheid bied maar onbeperkte soeke moontlik maak, is myns insiens die skoon oog van die liefde.

Soos reeds genoem, haal Jonker in sy gedenklesing aan uit Van Wyk Louw se intreerede aan die Universiteit van Amsterdam, waarin Louw argumenteer dat ’n ware intellektueel hom moet oopstel vir die siening van andersdenkendes. Vir Jonker is daar ’n gevaar van so ’n openheid omdat dit jou kan weerhou van die sekuriteit wat ’n vasstaande sekerheid bied. Dit is by die konsep van openheid dat ’n aksentverskil intree tussen die strewes van die kunstenaar en die teoloog.

Ek illustreer die openheid van die groot kunstenaar met ’n opmerking van JM Coetzee. Hy skryf in Diary of a bad year (2007) dat die herlees van ’n hoofstuk uit Dostojewski se Broers Karamazov hom tot trane beweeg het, en hy verduidelik sy ontroering: Wat hom aangryp, is die feit dat Dostojewski, ’n Christen, soveel simpatie met die nihilistiese karakter Ivan openbaar, soveel insig het in die sielsworsteling van die ongelowige. Dit, skryf Coetzee, verhef die verhaal tot ’n “battle pitched on the highest ground” (226). Dostojewski is vir hom ’n voorbeeld: “By [Dostoevsky’s] example one becomes a better artist; and by better I do not mean more skilful but ethically better” (227).

Vir Dostojewski is die strewe na insig en waarheid nóú verbonde aan “compassion” (die Vlaminge praat van “kompassie”), die vermoë om jouself te plaas in die skoene van die ander om sy gevoelens en gedagtes te kan begryp. In so ’n verbinding van waarheid en liefdevolle deernis soos wat ons in Dostojewski se roman vind, kan die Christelike teoloog en die Christelike kunstenaar mekaar miskien tog vind.

Ek kom nou terug op een van die reeds genoemde tekorte wat Jonker in Louw se poësie vind:

Daarom kan [Louw] nie in die evangelie ’n finale antwoord vind waarin sy hart tot rus kom nie [...] Dit is waarskynlik daarom dat hy nie in sy poësie kom tot die soort verering en aanbidding van Christus wat ons by Sheila Cussons vind, of tot die soort deurleefde geloofsvreugde van TT Cloete nie.

Dit bring ons by die onderskeid wat Louw in sy intreerede tussen twee soorte digters tref, tussen kuns wat net “mooi” is en kuns wat mooi én groot is. Die reeds genoemde rede is in 1977 opgeneem in die bundel Deurskouende verband. Louw verklaar: “Op die gebied van die goeie kuns [bestaan] nog weer ’n onderskeid tussen goed en groot” (1977: 143). ’n Digter kan goeie verse skryf wat nie groot poësie is nie, omdat hy “die digter van alleen een gebied van die werklikheid word. Maar hoe ‘mooi’ sy werk dan ook word, iets sal ontbreek” (143). Daarteenoor is die ideaal wat hy vir homself stel, “[o]m die hele gespanne web van die werklikheid in ’n ewe gespanne kuns te weerspieël: dit is die hoë ideaal wat bokant alle poësie staan; dit is die maatstaf waarmee die grootheid van die poësie gemeet word” (145).

Louw sluit hier aan by ’n opstel wat TS Eliot geskryf het, getiteld “Religion and literature”, opgeneem in sy bundel opstelle Selected prose. In sy bespreking van religieuse literatuur onderskei Eliot tussen “minor poetry” en “major poetry”. Die onderskeid word deur nieliterêre maatstawwe bepaal, skryf hy: “Minor poetry [...] is the product of a special religious awareness, which may exist without the general awareness which we expect from the major poet” (1965:33). Die fokus van “minor religious poetry” is dus beperk; daarteenoor getuig “major religious poetry” van ’n breër bewussyn; die religieuse tema word met ’n wyer blik op die werklikheid verbind. “Minor poetry” is nie noodwendig slegte poësie nie, dis net op ’n ander vlak as “major poetry”.

Vervolgens wil ek taamlik uitvoerig ’n gedig van Van Wyk Louw bespreek wat sonder twyfel meer as ’n goeie gedig is – dis ’n groot gedig, omdat die openheid vir die volle werklikheid so duidelik daarin na vore kom. Dit gaan nie om ’n eksplisiete aanbidding en verering van Christus nie, ook nie na ’n belydenis van persoonlike geloofsvreugde nie; daar is ’n subtiele verbinding van die kruisdood van Jesus met die groter gang van die wêreldgeskiedenis. Die gedig is “Beeld van ’n jeug: Duif en perd” uit die bundel Nuwe verse (1954). Dis ’n komplekse gedig, en literatore het baie verskillende interpretasies daarvan gegee. Ek sluit aan by die beskouing van FIJ van Rensburg, wat skryf:

Ons het in “Beeld van ’n jeug: Duif en perd” ’n volwasse verteller aan die woord wat reeds die Christendom gekies het en hom nou, terugkykend, rekenskap gee van waar daardie hele proses van aanvaarding begin het, en dit vind in die oomblikke toe hy as jong seun die Christendom voor hom sien opstaan en die volte daarvan vermoed het. (Van Rensburg 1975:104)

Die spreker in die gedig onthou hoe hy as seun die duiwe in die agterplaas van hul woning waargeneem het en die genot gesien het wat hulle uit die sonskyn en die waterbad put:

my duiwetrop lê wit en bruin en blou
soos lappies warm wasgoed om my heen:
party al lang-vlerk en lou teen die son;
die ander pik mekaar nog by die bad [...]
gly skuins van lekker en laat die water spat.

Die genot van die duiwe sluit ook seksuele vreugde in:

Die rooie pronk nou op die stal se nok:
Slabbert, die ou vette, by sy wit maat,
Breggie; ’n klein kaartman wat heen en weer
bo teen die blou dringend sy buigings maak.

Die duiwe verteenwoordig die volheid van aardse genietinge; dit herinner aan wat Louw in sy aantekeninge geskryf het oor sy vroeëre “volle oorgawe aan die mooi, heidense lewe”.

Maar dan gaan die herinnering van die seun aan die duiwe oor na wat hy oor die algemene geskiedenis gelees het. Die een herinnering glip oor na ’n volgende. Hy onthou van die veldslag by die meer van Trasimene, waar duisende Romeinse soldate deur Hannibal in ’n lokval gelei is; hy onthou van Julius Caesar, “vol van die mededoë  / van ’n versadigde, verstandige mens”; hy onthou die verowering van die Asteke-ryk deur die Spanjaard Cortes; en dit lei tot ’n volgende herinnering, aan die offer wat die Asteke jaarliks gebring het – die offer van ’n jong seun, aan die gode geoffer om hul guns te wen:

[...] ’n jong man wat lewendig lê, die hart
met ’n klipmes van lapis lazuli –
“lasuursteen” – blootgemaak en uitgeruk
en aan die skittering van die god gebie.

Dit lei hom deur assosiasie na offers wat in die Bybel genoem word: Abel se “sterwe by ’n hopie klip”; Abraham wat deur God beveel is om sy seun te offer, en die voorsiening van die ram; en dan volg ’n strofe oor die sterwe van Jesus en die duisternis wat toe oor die land gekom het. Jesus word nie by die naam genoem nie, ook Golgota nie, en tog, ondanks die indirekte vertelling, word Jesus se kruisiging kennelik gesien as ’n gebeurtenis van kosmiese betekenis wat die son laat verduister:

dan op ’n laaste klipkop buite die stad
drie kruise oor ’n land wat donker raak,
en, eindelik, ’n vrye sterwe – en die vermoede:
dalk het dit daardie son kon donker maak.

Daar kom by die seun ’n vermoede wat die flenters herinneringe tot eenheid bind: die vermoede dat God se bemoeienis met die wêreld die struktuur van een “vertelsel” het, ’n versameling samehangende vertellinge waarin die lyding en vrywillige sterwe van Jesus ’n sentrale rol speel:

[...] dat die aarde en elke aardgebeurtenis
en die son self, en tot die verste ster,
tesame net een groot vertelsel is
oor Hom en ons, en deur Hom self vertel –
vol beeld, prefigurasie, voorbereiding
op een voleindigende slot –
en, dat in elke eeu die laaste ding
verwysing na Hom was, deel van sy Naam ...

Die seun reageer soos volg na sy herinnering aan Jesus se dood en God se “vertelsel”:

my vingers trek ’n driehoek om ’n kring
en streel dit uit en aarsel om te hou.

Die seun trek in die gruis ’n sirkel, en om die sirkel ’n driehoek. Van Rensburg verduidelik in sy artikel die betekenis van die twee motiewe: die sirkel, wat die volheid van die aardse lewe verteenwoordig en waarvan die duiwe die simbole is; daaromheen die driehoek, wat die heilige selfbeheersing simboliseer wat Jesus in sy vrye sterwe openbaar. Die driehoek sou ook met die Drie-enige God verbind kon word. Die driehoek ontken nie die sirkel nie, maar omsluit dit; die aardse vreugdes word dus nie misken nie, maar daar is ’n hoër, meer omvattende waarde as die sirkel. Die seun besef die simboliese waardes van die sirkel en die driehoek, maar hy aarsel om ’n finale besluit te neem.

Hierna word vertel van die seun se herinnering aan ’n episode met hulle perd. Wat het dit nou te make met die voorafgaande temas van die duiwe en die menslike offers? Dit lyk asof dit los daarvan staan, en tog is alles aan mekaar verbind. Die seun onthou: Die hings was ongeduldig in die stal; hy wou uitkom:

[...] die neusgate voel, voel reeds aan die lug,
spuls en wyd.

Wanneer die dier buite is, gaan hy uitgelate te kere:

[...] Dan hóórt die agterplaas
aan die swart hings; hy dreun die heining langs
speel na die hek toe, lig sy nek hoog en blaas
na die plaaspad se kant en die rante toe.

Maar die stalkneg weet hoe om met die perd te werk. Hy gryp die halter en lei die hings op die regte tyd terug na die stal, en dan ...

Dan kóm die hings krom-nek en hoë-stert
pronk-pronk na die waterbalie toe,
drink dorstig met sy riem vas om die paal;
blaas rimpeltjies; tel sy kop skielik op,
en laat die druppels deur die sonlig straal
op die groot hoewe.

Aan die einde van die gedig is daar ’n ontwikkeling by die perd sowel as by die seun. Met die perd het ons ’n verbinding van verskeie temas: die drang om uit gevangenskap los te breek; die vreugde van aardse genietinge; maar ook die innerlike vryheid van die terugkeer na die plek waar jy hoort. Die perd wil aanvanklik wegbreek uit die stal; vervolgens geniet hy die vryheid van buite te wees; maar uiteindelik laat hy hom teruglei na die stal.

By die seun het daar ook ’n verandering plaasgevind. Waar hy eers geaarsel het om oor die sirkel en die driehoek ’n besluit te neem, gaan hy nou oor tot handeling. Hy help om die perd na die stal terug te bring, en sy beskrywing van die perd se terugkeer, vol bewondering, suggereer sy waardering vir die perd – die hings wat die aardse genietinge buite die stal kan verbind met die aanvaarding van die halter wat hom na die stal terugbring.

By die perd is die sirkel en die driehoek dus verenig, en dit is waarmee die seun hom ten slotte vereenselwig. Die gedig eindig so:

Die hings word kort aan sy bek gevat;
en, magtig, gebonde, beheers en mooi,
die stal ingelei; en die grendelhout val vas.

Met hierdie gedig bewys Van Wyk Louw onteenseglik dat hy nie bloot mooi gedigte geskryf het nie, maar grootse poësie met ’n breë perspektief wat die Bybelse geloof in ’n groter verband plaas.

PG du Plessis het Louw se poësie goed gekarakteriseer:

Verbysterend [...] in sy wydheid – as kommentaar oor die kosmos en die gode, die heiligheid aan die een kant, met aan die ander kant ’n siening van die menswees in sy donker én sy lig, en die skoonheid van sy gespartel voor die kortstondigheid van sy vleis en die betreklikheid van sy denke. (Du Plessis 2006:219)

Louw se laaste bundel, Tristia, verskyn in 1962. Louw is teen dié tyd ’n ouer man; hy het ’n hartaanval agter die rug, en die gedigte in die bundel word gekenmerk deur onsekerheid en ’n besef van die nietigheid en sterflikheid van die mens. Die onsekerheid blyk reeds uit die eerste gedig, “Voorspel 1956”, met die herhaling van die woord “miskien”.

Die gedig eindig so:

miskien nog van Gods weë weet –
Sy paaie en Sy pyn:
maar ingewikkeld alles ken
en mens wil wees én rein.

Die woordkeuse “van Gods weë weet” suggereer dat daar nog veel is wat hy nie sal weet nie. Hy sal moontlik iets van God se paaie en God se pyn weet, maar hy sal dit nie ten volle kan begryp nie. Van alles sal hy kennis neem, maar ook kennis neem dat alles ingewikkeld is. Hy het steeds die wil om menslikheid met reinheid te verbind, maar dit bly onseker of hy sy wil werklikheid sal maak. Die gedig suggereer: Die menslike “weet” is beperk en onseker; die ideaal om menslikheid met reinheid te verbind, die driehoek en die sirkel van “Beeld van ’n jeug”, sal nie noodwendig bereik word nie.

’n Gedig uit Tristia wat hier besonder relevant is, is “Ex unguine leonem”. Die Latynse titel beteken “uit die klou, die leeu”, dit wil sê, uit die leeu se klou kan ’n mens iets van die leeu aflei, maar dit is nog nie die leeu nie. So ook kan ’n mens uit die skepping iets van die Wese van die Skepper aflei, maar die Skepper self kan jou klein menslike brein nie omvat nie. Jy kan patrone raaksien, maar die volle werklikheid bly buite jou bereik.

Louw skryf:

Ek vind op hierdie aarde soms ’n volte ...
my brein die kry die waan
dat ek, omdat ek altyd sirkel sien
die sfeer-self kan verstaan.

Die hoogmoedige mens dink dat omdat hy gedurig patroonmatige, sinvolle sirkels ontdek, hy die sfeer van die volle werklikheid kan begryp; hy besef nie die wesentlike verskil tussen die “volte” van sy patrone en die volledigheid van die sfeer nie – die sfeer is van ’n totaal ander dimensie.

Ook oor sy kunsskepping is hy beskeie. Hy besef die digter se kuns is niks in vergelyking met die heerlikheid van God se skepping nie:

Wat ek van mense of van God wil meen,
word in my dofheid dof.
Iets staan in sterre-en-helderte geskryf;
en ek skryf ná in stof.

Die digter is nie ’n skepper uit niks, soos God nie – hy is slegs ’n ná-skepper; hy put steeds uit die oorspronklike skepping van God. Teenoor die helderte van God se skepping is sy skeppings dof; anders as die ewige Skepper, is die mens stoflik en sy skeppings verganklik.

’n Laaste gedig van Louw wat ek wil bespreek, is sy “Feegedig”, die gedig wat hy op versoek van Willie Jonker vir die gemeente van Johannesburg geskryf het. Met dié gedig is Louw en Jonker weer bymekaar; Jonker noem dit, ondanks ’n teologiese leemte wat hy daarin vind, Louw se Christelikste gedig. Die goddelike herkoms van Jesus kom hierin duidelik na vore:

Hy, Visarendjie van God
[het] in ons benoude vlees geval.

Die beeld van die visarend suggereer dat Jesus uit die hoogte neergedaal het; Hy is die God wat vlees geword het, “in ons benoude vlees geval” het. Die beeld herinner ook aan die wonderlike visvangs wat Jesus bewerk het, en aan Jesus en sy dissipels wat vissers van mense was.

Jesus wou mense uit die diepsee van ellende red, maar nie almal het Hom aangeneem nie; sy dissipels was eenvoudige mense, maar met ’n “oop gemoed”. Hulle het nie die oogklappe gehad van die geestelike leiers met hul eng interpretasie van Judaïsme nie – want geleerdes kan ’n toe gemoed hê, en niegeleerdes ’n openheid vir die waarheid. Melaatses, besetenes, “sondaars van elke kleur en geur” het na Hom gekom en vergifnis, aanvaarding en reiniging ontvang: “in Sy glimlag, skielik: rein”.

Nou is dit tyd vir Jonker om repliek te lewer. Ek kan my voorstel dat die twee groot denkers in die hiernamaals ’n ewigdurende gesprek voer. Hulle is albei “ja, maar” mense wat die veelkantigheid van dinge insien, wie se instemmende “ja” dikwels gevolg word deur ’n relativerende “maar”. Dis die tipe mens wat geskik is vir die oop gesprek waarvoor Louw altyd gepleit het.

Ek stel Jonker nou aan die woord:

“Ja Wyk,1 ek het waardering daarvoor dat jy as digter jou wou oopstel vir die volle werklikheid, maar ... as teoloog wil ek jou waarsku dat ’n mens jou moet toe hou vir valse leringe wat jou van die waarheid kan weglei.

“Ja Wyk, inderdaad is dit Jesus se vrye sterwe wat die aarde donker gemaak het, soos jy in jou gedig sê, maar dit is vir my jammer dat die duisternis nie deur die wonderbaarlike lig van die opstanding gevolg word nie, wat die grondslag van ons geloof is.

“Ja Wyk, ons aardse sirkels is inderdaad niks teen die grootsheid van die hemelse sfeer nie – maar daar is darem ’n sirkel waaraan ’n mens op aarde kan vashou, ’n sirkel wat ander sirkels oortref: die bevryding deur die kruisdood van Jesus. Dis gevaarlik om iemand te wees wat altyd sirkel sien, soos wat jy in jou gedig skryf – die nuwe sirkels kan maklik die belangrikste sirkel na die agtergrond skuif.

“Ja Wyk, onsekerheid is ’n kenmerk van die aardse lewe, maar daar is darem ’n sekerheid wat gemoedsrus bring – die sekerheid dat Jesus ons skuld op Hom geneem het. Toe Martin Luther dit ingesien het, het dit gevoel of die hemelpoort vir hom oopgaan. Dit wens ek vir jou toe.

“Ja Wyk, jy het die goddelikheid van Jesus uiteindelik ingesien, en vasgehou aan die genade van God, maar jy noem nie dat dit deur die offer van Jesus is dat God se genade vryelik vir die mens beskikbaar geword het. Ek herinner jou aan wat ek in Vreemde geregtigheid gesê het, die boek wat ek en Flip Theron geskryf het:

Net die geloof in Hom regverdig ons, niks anders as dit nie en niks meer nie. Verwag alles net van Jesus. Onder geen omstandigheid mag dit vir ons gaan om ons “eie geregtigheid” nie, op watter wyse ons ook al meen om in besit daarvan te kom. Ons hele geregtigheid is net in Jesus.

Hou dááraan vas, in nood en dood, in blydskap en in vreugde. Dit is alles wat nodig is, en dit is vir ons meer as genoeg. (27)

“En verder, Wyk, het ek geskryf:

Dit is ’n wonderlike ontdekking as dit op ’n dag vir ’n mens duidelik word dat jou hele verlossing net uit genade is. Wat ’n vreugde is dit, watter oorstelpende blydskap. (34)

“Dit is die ‘vreemde geregtigheid’ waaraan ek vashou, dit is die kern van my teologie: die geregtigheid deur die geloof, die genade deur die offer van Jesus.”

Hierop wou Van Wyk Louw nog reageer, en hy het begin met: “Ja, maar ...” – maar toe was die lesing reeds op ’n einde.

Nota

1. “Wyk” is die naam wat sy vriende vir hom gebruik het.

Bibliografie

Coetzee, JM. 2007. Diary of a bad year. Londen: Harvill Secker.

Du Plessis, PG. 2006. Hoekom die poësie? In Die oop gesprek – NP Van Wyk Louw gedenklesings. Pretoria: LAPA.

Eliot, TS. 1965 [1953]. Selected prose. John Hayward (red). Bydrae tot die simposium Faith that Illuminates. Harmondsworth: Penguin Books.

Jonker, Willie. 1947. NP Van Wyk Louw – ’n paar gedagtes oor sy kuns. Castalia-rubriek in Trek.

—. 1949. Die Christen, kunstenaar en kuns. Deo Gloria, 10(10):39–40.

—. 2006. Onmiddellik voor God. NP Van Wyk Louw Gedenklesing, 1991. In Willie Burger (red), Die oop gesprek – NP Van Wyk Louw gedenklesings. Pretoria: LAPA.

Jonker, WD en PF Theron. 1983. Vreemde geregtigheid. Oor die regverdiging uit genade alleen. Kaapstad: NG Kerk Uitgewers.

Louw, NP Van Wyk. 1954. Nuwe verse. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk.

—. 1962. Tristia. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 1963. Feesgedig [75ste verjaardag van die Johannesburgse gemeente]. Standpunte, Desember.

—. 1970. Rondom eie werk. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1977. Die digter as intellektueel. Deurskouende verband, ble 132–46. Kaapstad: Human & Rousseau.

Steyn, JC. 1998. Van Wyk Louw – ’n lewensverhaal. Deel II. Kaapstad: Tafelberg.

Van Rensburg, FIJ. 1975. Van Wyk Louw as Christenkunstenaar. In Van Rensburg, FIJ,  Swewende ewewig, ble 90–111. Kaapstad: Tafelberg.

Lees ook:

NP Van Wyk Louw (1906–1970)

Vernuwing, vervreemding en taalvariante. N.P. Van Wyk Louw se Nuwe verse en die eietydse poësie

Video: NP Van Wyk Louw-gedenklesing ‒ Jeremy Vearey (18 Junie 2020)

Hoe lees ons Van Wyk Louw vandag

Universiteit Johannesburg: NP van Wyk Louw-lesing met Karin Cattell

N.P. Van Wyk Louw deur die oë van Adam Small

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top