Hoe lees ons Van Wyk Louw vandag

  • 7

...
Hoe is ’n Afrikaanse lewe moontlik onder die dwingelandy van ’n magsentralistiese en rasgedrewe regime wat geen ruimte buite sy Engels-gedomineerde voorskrifte duld nie? Kan ’n jong Van Wyk Louw weer na vore tree in ’n land waar ’n openbare Afrikaanse universiteit toenemend ontsê word?
...

Op die heuglike dag waarop ons die skenking van Peter Louw van boeke uit die binnekring van sy pa se studeerkamer vier, wil ek graag oor die belang en die betekenis van NP Van Wyk Louw vir ons tyd besin.[1] In die proses maak ek bondige opmerkings oor Louw se biografie en voorlopige beoordeling van Louw se betekenis vir ons wêreld (onderafdeling 1). Hierna wys ek op drie temas waarvolgens ek Louw interpreteer (2).[2] In ’n volgende stap fokus ek (eweneens bondig) op Louw se groot bundel Tristia (3) en gaan dan in ’n kritiese debat met Hein Viljoen en Alwyn Roux oor hoe hulle vandag Louw lees en interpreteer (4). Hier kom die temas van logosentrisme, postkolonialisme en Afrikaans as standaardtaal ter sprake.

 

  1. Kort biografiese en oriënterende opmerkings

Nicolaas Petrus (NP) Van Wyk Louw is in die hart van die winter op 11 Junie 1906 op Sutherland gebore en op 18 Junie 1970 op die betreklik jong ouderdom van 64 jaar in sy huis in Linden (Johannesburg) oorlede. Ons vier dus oor minder as ’n maand sy 116de geboortedag.

Hoe beoordeel iemand uit die generasie van een van sy kleinkinders hierdie denker en digter vandag? ’n Mens kan natuurlik in ons onstuimige tyd van politieke korrektheid en metodedwang maklik breedsprakig en selfs veroordelend met die geskiedenis, historiese figure en historiese tekste werk. Daar is reeds ’n enorme resepsiegeskiedenis van Van Wyk Louw se werk. Dit strek van die 1930’s tot in ons eie tyd. Behalwe resensies van sy werke (skeppend en besinnend) is daar spesifieke gedigte van hom wat bespreek is en verskeie omvangryke werke en akademiese M-en D-studies. Die resepsiegeskiedenis van Louw is enorm en enige interpreteerder wat dit wil waag om Louw te verstaan moet bewus wees van Louw se werk self en ook die lang (byna 100 jaar) van interpretasiepogings oor Louw.

Enige interpretasie speel natuurlik altyd in tyd af. So byvoorbeeld sal ’n lesing van Louw in die 1930’s of in die 1970’s anders lyk as in 2020. Tog bly die oeuvre van Louw dieselfde en was Louw self in sy werk in ’n omvangryke gesprek met die geskiedenis en tradisie van die Westerse mense met die oog daarop om ’n antwoord te kry op die kwessies van sy tyd wat tot in ons tyd weerklank vind.

Dit gesê is dit tog interessant om weer Karel Schoeman (wat, soos Louw, die Nobelprys kon gewen het as hulle in groter tale geskryf het) aan die woord te stel. In Die laaste Afrikaanse boek (2002:383) plaas hy vir Louw in die geledere van ’n Smuts en ’n Mandela: “die beroepspolitikus, staatsman en denker, die digter, en die versetvegter en staatshoof”. Hierdie driemanskap sou natuurlik vir Louw ’n probleem gewees het, omdat hy ’n sterk afkeer in Smuts gehad het – die staatshoof wat op wêreldverhoë speel terwyl die lokale Suid-Afrikaanse problematiek onaangeraak bly. Dit is ook moeilik om vanuit die hede Louw se beoordeling van Mandela, wat tydens Louw se Johannesburgse periode (1958–1970) gevangene geneem is, te takseer. Een ding is egter seker, en dit is dat Louw hom in sy trotsheid sonder arrogansie en sy “alleenheid sonder ongenaakbaarheid” (Schoeman) moeilik sou kon vereenselwig met die totaal onkritiese geknieval wat die figuur Mandela deesdae omgeef. Hy sou ook krities oor Mandela se idee van staatsentralisme gewees het. Weer Schoeman (2002:382) oor Louw: “’n Heel eenvoudige ouerige man in die boesem van sy gesin in ’n voorstedelike huis, en tog glo ek nie … dat ek my belaglik maak as ek dit waag om sy naam in dieselfde asem te noem as byvoorbeeld dié van Goethe nie, of as ek sê dat hy nader aan Goethe staan, na die een kant, as na die ander aan sy naaste portuur in Afrikaans, wat seker Opperman is.”

 

  1. Louw se skeppende en denkende nalatenskap

In die tweede deel van my bydrae stel ek graag die vraag: Hoekom maak dit saak om steeds met die skeppende en denkende nalatenskap van Louw, soos ek dit hier bo beskryf het, erns te maak? Hier stel ek drie punte en ’n ontwrigtende dog hoopvolle slotsom (wel wetende dat daar aan die ruimte hier en my eie bevoegdheid perke is).

In die eerste plek was Van Wyk Louw ’n groot kunstenaar. Met elke nuwe skeppende publikasie (veral in sy digkuns) kon hy homself soos min ander grondig vernuwe. In sy Versamelde gedigte (1981) kan mens die kreatiewe trajek van elkeen van sy digbundels met ingehoue asem en ’n groeiende bewondering volg. Vanaf die meer belydende, ingetoë en persoonlike inslag van Alleenspraak (1935) en Die halwe kring (1937) volg daar die enigmatiese, verwikkelde en donker-broeiende Gestaltes en diere (1942). Na ’n langerige stilte volg die meer aardse Nuwe verse (1954) met sy wonderlike onderafdeling “Klipwerk”. Uiteindelik kulmineer Louw se digkuns in die nederige, melancholiese en grootse Tristia (1962), wat vir my as een van die grootste prestasies in enige letterkunde uitstaan. (In die volgende afdeling probeer ek iets van die grootsheid hiervan, veral rondom die tema van die denkgeskiedenis van die mensdom, vasvang.)

Ook in die geval van sy dramas het Louw hierdie proses van grondige vernuwing vanaf Die dieper reg (1938) tot Raka (1941), Germanicus (1956) en Die pluimsaad waai ver (1966) gehandhaaf. (Daartussen is ook etlike hoorspele in die radiomedium van wisselende graad geskryf.)

In die tweede plek is daar Louw se kritiese prosa of besinnende werk, soos dit in die twee volumes van Versamelde prosa (1986) saamgevat is – ’n skatkis wat kritiese herwaardering en herdenking behoef. Hierin kan sy denkontwikkeling oor ’n verskeidenheid van temas vanaf Berig te velde (1939) tot Skietlood (1982) nagespeur word. ’n Aantal temas het nou reeds ’n klassieke status in die Afrikaanse debat verkry: die aristokratiese ideaal, lojale verset, liberale nasionalisme en die oop gesprek. Dit beteken egter nie dat ander temas, soos die waarde van ’n intellektuele lewe, vernuwing in die prosa, kultuurleiers sonder kultuur, kritiek, sensuur, die kwessie van tradisie (veral die Westerse tradisie) en vele ander afgeskeep moet word nie.

Op hierdie punt, so wil ek aanvoer, werk Louw in sy besinnende werk (in aansluiting by sy skeppende werk) met ’n hermeneutiese opvatting van denke. Hiervolgens (en ek borduur hierop voort in die volgende afdeling oor Tristia) is die denke ’n onvoltooide en nederige proses wat dialogies-hermeneuties verstaan moet word. Met dialogies-hermeneuties bedoel ek die denke is ’n nimmereindigende hermeneutiese sirkel van vraag en antwoord, woord en wederwoord wat op ’n beskaafde wyse op en af geweeg word. In so ’n hermeneutiese spel moet ’n mens se vooroordele ook in ag geneem word en is die horisonversmelting (ooreenkoms) wat bewerkstellig word tussen jouself, die teks of ander persoon of kultuur waarmee jy in gesprek tree, altyd voorlopig.

Hierdie enkele opmerkings oor so ’n dialogies-hermeneutiese opvatting is sterk deur Hans-Georg Gadamer (1900–2002) beïnvloed en ek wys graag op ooreenkomste tussen sy denke en Louw se belangrike begrip die oop gesprek.[3] Die oop gesprek gedy in ’n voortreflike proses van menslike intersubjektiwiteit waar die deelnemers of interpreteerders van so ’n gesprek (of teks) na mekaar luister en met mekaar in gesprek tree sodat die deelnemers hopelik aan die ander kant beter verstaan of anders oor dinge dink.[4]

In die derde plek wil ek nou met hierdie lees van Louw se dialogies-hermeneutiese denkstyl verder ’n handelende rigting (eties en polities) inslaan. Hier gaan dit oor ’n tipe niefundamentalistiese pluralistiese politieke denke.[5] Hier is die teiken daardie tipe politieke denke (ideologie) wat vanuit ’n magsentrum die werklikheid op so ’n wyse wil orden dat daar geen vrae gevra mag word nie. Teen hierdie agtergrond kan Louw se sterk kritiek op imperialisme gesien word as ’n denkwyse wat kritiek lewer op denke wat vanuit ’n voorskriftelike sentrum die kolonie volledig beheer. Volgens dieselfde logika het hy probleme met die magsentralistiese aard van die apartheidstaat gehad en sou die huidige magsentralisme van die ANC-elite ook teenoor sy opvatting van die politiek as dialogies-hermeneutiese deelname te staan gekom het.

Met die sketsing van Louw se niefundamentalistiese politieke denke, en veral hoe dit met die Westerse denkgeskiedenis in gesprek tree, kom ’n aantal vrae na vore: Wat staan die jong Van Wyk Louws te doen wat nie reeds na Londen, Toronto, Melbourne en Auckland uitgewyk het nie? Hoe is ’n Afrikaanse lewe moontlik onder die dwingelandy van ’n magsentralistiese en rasgedrewe regime wat geen ruimte buite sy Engels-gedomineerde voorskrifte duld nie? Kan ’n jong Van Wyk Louw weer na vore tree in ’n land waar ’n openbare Afrikaanse universiteit toenemend ontsê word? Hieruit dan die volgende slotsom: Ons is dit aan Van Wyk Louw en die hermeneutiese – lees “oop gesprek” – verskuldig om met selfvertroue weer nuwe instellings te bou sodat sy nalatenskap kan voortleef. Dat alles nie tevergeefs is nie. Dat vanuit die partikuliere ’n wisselwerking met die ander en die universele in onbevange spel gebring word.

Oor hierdie vrae is ek behoorlik deur Alwyn Roux geroskam (hieroor later meer), maar dit is nou eers nodig om ’n uiters bondige blik op Van Wyk Louw se Tristia te werp teen die agtergrond wat ek oor dialogies-hermeneutiese denke gesê het.

 

  1. Tristia: ’n Bundel oor die denke

Tristia, wat tydens die laaste deel van Louw se verblyf in Amsterdam (1953–1957) geskryf is (en laat in 1962 verskyn het, dus vanjaar presies 60 jaar gelede), kan basies in vier afdelings verdeel word: ’n enkele programgedig as voorspel, dan ’n afdeling “Verse”, ’n afdeling “Tristia: Elegiese verse”, en ’n slotafdeling, “Odes”. Reeds in die eerste gedig is daar ’n spel tussen miskien-faktore en ’n antwoord daarop. Tristia is in baie opsigte nie ’n estetiserende speletjie nie, maar ’n besinning oor hoe die mens denkend of onnadenkend met die natuur, die geskiedenis, sy medemens en God omgaan. Hierdie besinning word verder gedra deur ’n basiese stemming van weemoed en droefheid oor die mens “wat dit nie mooi met die heelal tref nie” (Kannemeyer 1978:428).

Tristia, wat van gedig tot gedig en afdeling tot afdeling opbou, eindig met die grootse gedig “Groot ode” (ble 322–32; Van Rensburg 1975:84–5). Die konteks van dié gedig is ’n besoek aan ’n grot waarin die spreker tekens van die oerlewe waarneem. Hierdie waarnemings laat die spreker dan dink aan die groot tydperke in die geskiedenis en die lewe op aarde en hoe dit vrae oor die lewe in die toekoms stel. Wesentlik gaan dit oor die mens se beperkte kenvermoë om die bestaan (Syn) te bereik en met tekens te benoem. Die gedig eindig met die mens wat onrustig uitskreeu na iets groter en anders as hy self (Kannemeyer 1978:432–3). Vir my is Tristia uiteindelik ’n grootse poging van Louw om op ’n dialogies-hermeneutiese wyse in die taal van poësie die komplekse aard van die menslike denkgeskiedenis na te speur met die oog daarop om ’n antwoord vir ons eie tyd te kry.[6] Dit gaan oor die verantwoordelikheid van die moderne mens om in ’n diep gesprek te gaan met die bronne wat hom of haar bepaal het en hoe om ’n antwoord in die hede te ontwikkel met die oog op die toekoms.

Nie almal dink egter so nie. Hein Viljoen byvoorbeeld wil Tristia eerder antilogosentries (in die taal van Derrida) (Viljoen 2006:307, 315) en postkoloniaal (in die taal van Homi Bhabha) lees.[7] Laasgenoemde hang volgens Viljoen (2020:25) saam met begrippe soos vermenging, hibriditeit en kreolisering. Hier is die punt dat Louw in bundels soos Nuwe verse en Tristia Griekse, Romeinse, Christelike en Europese tradisies as sy eie aanvaar en toepas – “maar ook sterk aanpas, plaaslik maak en … vir sy eie digterlike doeleindes (kreoliseer)” (Viljoen 2020:48). Voorts hang kreolisering (as antwoord op Europese hegemonie) eerder met die tegniese aspek van Tristia (“in taal en spel, in die vermenging van en dialogisering van ’n groot verskeidenheid stemme; in die konfrontasie van ’n ryk versameling tekste met mekaar”) as ’n vermenging van Afrika en die Weste saam.[8]  Tog is Viljoen (2020:48) se gevolgtrekking dat kreolisering van die tradisie (die tegniese aspekte by Louw) nuwe moontlikhede open “en ’n nuwe soort rasionaliteit buite die grense van die nasie in die vooruitsig stel”. So moet die uitreik na dit wat anders is, aan die einde van Tristia, verstaan word. Dit is ’n beweging “na ’n nuwe denkraamwerk wat verby volk en nasie beweeg na ’n transnasionale ruimte waarbinne ’n veel sterker wisselwerking tussen kulture … aan die orde van die dag is. So ’n ruimte is ’n wegbeweeg van “die mistieke, totalitêre (volks)eenheid” in Louw se denke en digterlike praktyk, en lei dan tot “’n ander soort denke wat helend kan wees” (Viljoen 2020:49).

 

  1. Louw se denke. ’n Kritiese debat

Hein Viljoen se student Alwyn Roux volg hierdie selfde logika wanneer hy my lees van Louw (Duvenage 2020) in ’n resensie (Roux 2022) aanvat. Hy verwys na Duvenhage (sic) se vraag wat jong Van Wyk Louws vandag moet doen onder ’n magsentralistiese en rasgedrewe regime wat geen ruimte buite sy Engels-gedomineerde voorskrifte duld nie. Wat hulle kan doen waar ’n openbare Afrikaanse universiteit hulle ontsê word. Vir Roux (2022:248) roer hierdie gedagte ’n hartsnaar, maar hy wil aan die “krake daarvan beitel”. Hy doen dit op die volgende wyse:

In die eerste plek speel hy nie in op my sketsing van Louw se denke as dialogies-hermeneuties nie, ook nie op die politieke implikasies van ’n niefundamentalistiese denke nie, en hy beantwoord ook nie my kommer oor politieke magsentralisme wat geen ruimte vir minderhede maak nie. Hy buig eerder my hele bydrae moedswillig as “teenhanger” in die rigting van Jeremy Vearey (2020) se opmerkings oor Kaaps (in sy Van Wyk Louw-gedenklesing). Sonder om enigsins die strekking van my opvatting oor dialogies-hermeneutiese denke in aansluiting by Louw se begrip van die oop gesprek in ag te neem, voel hy ek moet eerder op die bevoorregting van Standaardafrikaans ten koste van ander landstale (bv Kaaps) fokus. Indien ek dit nie doen nie, sal ek in ’n ekstreme vorm van selfbelang en vooropstelling beland – wat Louw self die chauvinistiese en swart engel van nasionalisme genoem het (Roux 2022:249).

Hieroor vir eers net dit: Afrikaans hoef nie teen Kaaps opgestel te word nie, en op hierdie punt is beide Vearey en Roux moedswillig (meer hieroor later).

Roux gaan dan voort, in die tweede plek, en sê dat die jong Van Wyk Louws vandag eerder Afrikaans “bruisend vitaal … sing” op so ’n wyse dat hulle hul nie vir Standaardafrikaans nie, maar eerder ’n “taalrevolusie (lees Kaaps én alle ander Afrikaans-variëteite)” beywer en daardeur ’n diskoers van “uitsluiting en suiwerheid” verwerp (Roux 2022:249). Ter ondersteuning van sy punt kom hy dan terug na Viljoen se bydrae oor postkolonialisme en kreolisering soos ek dit hier bo bespreek het.[9]

Hieroor die volgende: Louw was ’n digter en skrywer in die standaard sowel as in variëteit. Hiervan getuig die afdeling “Klipwerk” in Nuwe verse, wat simbolies verwysend na alle Afrikaanse variëteite optree. Maar in die gees van sy tyd het Louw ’n dialogies-hermeneutiese benadering tussen standaard en variëteit voorgestaan, nie ’n binêre strydmodel van “revolusie" waarin ’n eensydige en oorvereenvoudigde idee van kreolisering aan die werk is nie. Louw sou nie met so iets akkoord  gegaan het nie. Sy respek vir die eie-aard en waardigheid van ’n variëteit vind in ’n ander konteks plaas – dit is nie binêr nie, maar dialogies-hermeneuties wisselwerkend tussen standaard en variëteit.

Teen hierdie agtergrond moet ons versigtig en eerlik met mekaar in gesprek tree wanneer dit by Standaardafrikaans en Kaaps kom. Hier sit ek my kaarte ewe versigtig op die tafel neer, wel wetende dat hier van alle kante vooroordele in gesprek gebring sal moet word voordat ons hopelik by ’n beter verstaan sal uitkom. Kaaps kan, wat funksies aanbetref, onmoontlik op dieselfde vlak as Standaardafrikaans geplaas word. Standaardafrikaans is in sommige opsigte ouer as moderne Duits; dit het baie eeue gehad om sigself te vestig, te verfyn, te skep. Dit is een rede waarom Afrikaans so maklik in ’n kort tyd tot wetenskapstaal kon ontwikkel. Die taal is nie slegs jonk nie, dis ook horingoud.

Nogtans wens ek Kaaps al die ruimte en middele toe, by all means, om te ontwikkel, maar dit gaan tyd, hulpbronne en instellings nodig hê. Asook ’n eerlike erkenning van sy eie taalgeheuens, al staan dit in kreatiewe stryd met sommige fasette van daardie geheue. Ek sal graag hier help waar ek kan, binne hoor- en gespreksafstand bly, maar dit is nie primêr my stryd nie. Hierdie stryd sal primêr deur mense wat sterk oor Kaaps voel, gestry moet word. Hier iewers is geweldige verwarring, en dit is deels geleë in die idee dat Afrikaans in toto op Afrika-bodem ontstaan het. Dit sou nie eens waar wees van Kaaps nie – kyk maar na al die Arabiese woorde daarin. Standaardafrikaans het sy komplekse beslag hier gekry, en is ook ’n komplekse taal (soos Engels) wat sy funksies oor lang tye bekom, gekonsipieer en geïnkorporeer het – dit het ’n lang geheue. Insgelyks is Kaaps se krag, soos enige variëteit s’n, nie slegs “in sigself” opgesluit nie. Die dialogiese wisselwerking met die standaard (en dit kan ook Engels wees in dié geval) is heeltyd in die spel wanneer Kaaps sy trefkrag uitoefen, net soos die dialogiese wisselwerking tussen Praagse Duits en Standaardduits deel is van die krag van Kafka se werk.[10]

Om op te som: Ek dink nie Roux maak erns met my dialogies-hermeneutiese lees van Louw se skeppende en besinnende erfenis nie. Indien hy dit sou doen, sal hy agterkom dat daar in my voorstel dalk meer ruimte is om temas soos postkolonialisme, kreolisering en taalvariëteit dialogies-hermeneuties te hanteer as in sy en Viljoen se pogings om Louw se erfenis ongenuanseerd in die hede vir een of ander polities korrekte en voorskriftelike projek in te span.

In die hermeneutiese gesprek moet die deelnemer altyd probeer om sy of haar eie vooroordele te verreken, soos ek reeds aangetoon het. Een so ’n wyse van verrekening is om met nederigheid om te gaan met wat in die voorlopige situasie soos die antagonis lyk. Daardie nederigheid maak ’n terughoudendheid moontlik wat die vooropgestelde visie se dominansie opnuut in wisselwerking met ander opsies plaas.

’n Vooroordeel wat bykans uniform en totaal onsigbaar in die Suid-Afrikaanse debatte ten gunste van die nuwe orde voorkom, is dat geen ander paradigma as die binêre verknegting/bevryding-opposisie moontlik is nie, en dat bevryding noodwendig ’n inperking beteken van posisies buite die bevryde se posisie. Hierdie is beide vooroordele wat met vrug ontmasker kan word as uitsluitend van ander moontlikhede – moontlikhede wat ook tot bevryding kan bydra. Dat ’n gesprek soos “die Suid-Afrikaanse debat", wat hom so hartstogtelik vir “insluiting” beywer, nog steeds nie sy eie uitsluitingsmeganismes wat in werking is besef nie, is, om dit sagkens te stel, onbevredigend.

 

Bronnelys

Degenaar, J. 1980. Staat en samelewing binne pluralistiese model. In Voortbestaan in Geregtigheid. Kaapstad: Tafelberg.

Du Toit, L. 2020. “Die pot kook oral.” NP Van Wyk Louw, Johannes Degenaar en Afrikaanse dekolonialisering. In Johl (red) 2020:69–86.

Duvenage, P. 2006. Andersheid, nie-rassigheid, pluralisme – die blywende belang van Johan Degenaar. In Hertzog ea (reds) 2006.

—. 2013. Die kritiek van tradisie en die tradisie van kritiek in die Geesteswetenskappe. ’n Rekonstruksie van die debat tussen Habermas en Gadamer. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 54(4):530–45.

—. 2020. Van Wyk Louw 50 jaar later. In Johl (red) 2020:350–2.

Gadamer, H-G. 2004. Truth and method. Tweede, hersiene uitgawe. Londen: Continuum. Oorspronklik in Duits 1960. Vertaal deur J Weinsheimer en D Marshall.

Hertzog, D. ea (reds). 2006. Gesprek sonder grense. Huldigingsbundel vir Johan Degenaar by 80. Stellenbosch: H&B Uitgewers.

Hofmeyr, B. 2020. Lojale verset: Gedateerd of aktueel? NP Van Wyk Louw in gesprek met Foucault. In Johl (red) 2020:52–68.

Johl, R (red). 2020. ’n Huldiging. NP Van Wyk Louw – silwer herberg in die sneeu. Pretoria: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Kannemeyer, JC. 1978. Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur I. Kaapstad: Academica.

Louw, NP Van Wyk. 1981. Versamelde Gedigte. Kaapstad: Tafelberg, Human & Rousseau.

—. 1986. Versamelde Prosa. Vol. 1–2. Kaapstad: Tafelberg.

Olivier, G. 1992. NP Van Wyk Louw: literatuur, filosofie, politiek. Kaapstad: Human & Rousseau.

Roux, A. 2022. Resensie. ’n Huldiging: NP Van Wyk Louw – silwer herberg in die sneeu (2020) – Ronél Johl (redakteur). Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 62(1):248–52.

Schoeman, K. 2002. Die laaste Afrikaanse boek. Kaapstad: Human & Rousseau.

Van Rensburg, FIJ. 1975. Sublieme Ambag. Kaapstad: Tafelberg.

Vearey, J. 2020. “Kaantie wies NP Van Wyk Louw?” In Johl (red) 2020:343–9.

Viljoen, H. 2006. Alikreukel, dink-histologie en gewapende visie in Van Wyk Louw se Tristia. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 46(3):306–15.

—. 2020. Kreolisering en heling in Nuwe verse en Tristia van Van Wyk Louw. In Johl (red) 2020:25–51.

 

[1] Hierdie bydrae is op 25 Mei 2022 by Akademia in Centurion gelewer.

[2] Dele van afdelings 1 en 2 hierna het aanvanklik op 18 Junie 2020 in Die Volksblad en Die Burger verskyn. Hierna is dit in ’n bundel van Johl opgeneem (Duvenage 2020).

[3] Vir Gadamer se begrippe hermeneutiese sirkel, vooroordeel, tradisie, gesag, werkingsgeskiedenis, toepassing, horisonversmelting, werkingshistoriese bewussyn en vraag en antwoord, kyk Gadamer (2004, deel II, ble 268–371).

[4] Ek kan in hierdie bydrae ongelukkig nie op Olivier (1992) se belangrike materiële en sosiaal-kritiese lees van Louw reageer nie. Vir my besinning in so ’n rigting, kyk Duvenage (2013).

[5] Vir ’n pluralistiese opvatting van politiek, kyk Degenaar (1980) en my interpretasie (Duvenage 2006).

[6] Die taal van die poësie is ’n soort taal wat deur sy aard die taal in sy reeds bekende en reeds begryplike gedaantes bevraagteken en op losse skroewe plaas. Dit daag gewone diskursiewe taal grondig uit.

[7] Dit is ’n ope vraag of Viloen (2006) in sy artikel reg aan Derrida se komplekse begrip van geskiedenis laat geskied.

[8] Dit is interessant dat Viljoen se artikel in Johl (red) 2020 se geredigeerde bundel prominent eerste geplaas word as ’n teoretiese besinning en interpretasie van Louw.

[9] Roux bespreek die artikels van Hofmeyr (2020) se Foucauldiaanse lees van Louw en Du Toit (2020) se dekolonialiserende lees van Louw ter verdediging van sy posisie. Ek kan by dié geleentheid nie op die meriete van hierdie twee bydraes ingaan nie.

[10] In die formulering van die laaste paar paragrawe hier het ek baie gebaat by insigte van Charl-Pierre Naudé. Ek bly egter verantwoordelik vir die finale formulering.

 

Lees ook:

NP Van Wyk Louw (1906–1970)

Die soeke na God in “Groot ode” van N.P. Van Wyk Louw

N.P. Van Wyk Louw deur die oë van Adam Small

’n Klassikus se ontleding van N.P. Van Wyk Louw se Germanicus as ’n beeld van mag en onmag

Die dramatiese werk van NP van Wyk Louw: met volk-wees as inspirasie2002

Oh wide and sad land: Adam Small vertaal NP Van Wyk Louw

Video: NP Van Wyk Louw-gedenklesing ‒ Jeremy Vearey (18 Junie 2020)

NP van Wyk Louw: 100 jaar2006

Versamelde dramas – NP Van Wyk Louw: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

  • 7

Kommentaar

  • Breyten (Buitetjank) Breytenbach

    WOORDVLAM
    (vir al die ingehoktes)

    hierdie sonnet
    wil ‘n stukkende net span
    om die vermoede te vang
    dat Nicolaas Petrus Louw
    wat na die dood se stilteryk
    uit moes wyk
    onderlangs sy genoegdoening sal grom
    as hy moet weet
    hy is nog steeds die gom
    al lyk dit nie so nie
    wat ons oujongbruide en ander verhaalverlaters
    krom laat hurk van die sing
    om die is-is vlammetjie woorde versigtig omkring
    aan die lewe se bewe te hou

    (19 April 2020)

  • Corlietha Swart

    JC Steyn se tweedelige, omvangryke biografie van NP van Wyk Louw, 'n Lewensverhaal, deel I en II, is 'n belangrike bron wat ook vele insigte bied.

  • Isaac A. Engel

    Ek kan my nie ’n Afrikaans Huistaal matrikulant indink wat nie ten minste een van hierdie formidabele woordkunstenaar se gedigte onder oë gehad het nie, verkieslik "Vroegherfs".

  • Beste Pieter

    Dankie vir jou reaksie op my artikel. Ek is altyd bereid tot 'n oop gesprek, maar jy verwring en verskraal my argument darem baie. Kreolisering soos ek dit verstaan, is veel meer genuanseerd as wat jy laat blyk. Daarby dwing jy my standpunt in 'n bevrydingsraamwerk in, en dit is glad nie wat ek beoog nie. Ek argumenteer in my artikel dat Louw se kritiek op imperialisme maar baie sag was en, vreemd genoeg, skynbaar blind was vir die uitwasse van kolonisering en vir die anti-koloniale prosesse wat wêreldwyd na WOII aan die gang gekom het. Ek argumenteer ook dat Louw se digterlike praktyk in Nuwe verse en in Tristia 'n beweging ondersteun na 'n nuwe denkraamwerk "verby volk en nasie". Dit is eintlik die huidige transnasionale ruimte waarin 'n sterk wisselwerking tussen kulture en tale aan die orde van die dag is. Tristia dui reeds so 'n rigting aan. As jy mooi lees, sal jy sien ek praat van "'n nuwer soort RElasionaliteit" en nie 'n nuwe soort rasionaliteit nie. En terloops, Raka is nie 'n drama nie, hoe dramaties die stryd tussen Koki en Raka ook al is.

    Net soos jy worstel ek met die vraag of Van Wyk Louw se werk vandag nog relevant is, en ek meen sy denke kan helend wees as ons raaksien dat dit ook 'n nuwe soort RElasionaliteit buite die grense van die nasie suggereer.

  • Helize van Vuurebn

    Kommentaar op "WOORDVLAM" van Breyten (Buitetjank) Breytenbach:

    (Ek ken jou, jy is krom gebuig,
    ek, die deurgesteekte, is jou onderdaan.
    Waar vlam 'n woord wat vir ons albei getuig?
    Jy - gans gans werklik. Ek - gans waan.)
    _________________________________

    (Ich kenne dich, du bist die tief Gebeugte,
    ich, der Durchbohrte, bin dir untertan.
    Wo flammt ein Wort, das für uns beide zeugte?
    Du- ganz, ganz wirklich. Ich - ganz Wahn.)

    - Paul Celan, ATEMWENDE 1967
    [Afrikaanse vertaling: Helize van Vuuren, 30/6/2022]

  • Riaan Duvenage

    Enige beskouing van NP van Wyk Louw se werk sal mank gaan indien dit nie uit die studie(s) van FIJ van Rensburg put nie. Prof FIJ (soos hy by die studente van die destydse RAU bekend gestaan het) het byna 'n leeftyd daaraan gewy om NP van Wyk Louw se werk te begryp. Sy werke "Sublime ambag" en "Swewende ewewig" getuig van 'n gekalibreerde studie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top