Versamelde dramas – NP Van Wyk Louw
Skrywer: NP Van Wyk Louw
Samestellers: Deborah Steinmair en Kristèl de Weerd
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485312208
Die vyftigste herdenking van NP Van Wyk Louw se afsterwe op 18 Junie 1970 is in 2020 met drie publikasies gevier.
Vuur in sy vingers: Die verreikende invloed van NP Van Wyk Louw (met Ampie Muller en Beverley Roos-Muller as bydraende redakteurs) is ’n versameling van bydraes deur onder andere ’n groot aantal van sy familielede, vriende en kollegas, en bekende literêre figure, wat meestal kort herinneringe deel van sy invloed op hulle lewens en dikwels ook sy literêre en intellektuele invloed op hulle eie werk bespreek. Navorsing vir hierdie publikasie het reeds ses jaar tevore begin en die voorwoord voor in die boek lui: “Ter herinnering aan die digter NP van Wyk Louw (1906–1970) in die vyftigste herdenkingsjaar van sy afsterwe.”
Tydskrif vir Geesteswetenskappe (TGW) het in Junie 2020 ’n temanommer (NP Van Wyk Louw: Opstelle vir ’n oorgangstyd) met Ronél Johl as gasredakteur uitgegee. Die vraag wat akademici vanuit verskillende dissiplines in gedagte moes hou, was “die aard en relevansie van (literêre) kritiek in die hedendaagse samelewing”. Die bydraes van die TGW-temanommer (hoewel nie in dieselfde formaat nie en met twee bydraes bygevoeg) is weer gepubliseer as deel van die Akademie se reeks oor huldigings aan Hertzogpryswenners. NP Van Wyk Louw: Silwer herberg in die sneeu – ’n Huldiging met Ronél Johl as redakteur het in Augustus 2020 verskyn.
Terwyl die Muller-publikasie ’n duidelik meer persoonlike aanslag het en sekerlik gerig is op ’n meer algemene leserspubliek, is die TGW-temanommer sowel as die huldigingsboek deur die Akademie meer gerig op ’n ingeligte en belese leser wat die verskillende dissiplinêre invalshoeke van die bydraes kan waardeer.
In die nuutste publikasie (2021) oor NP Van Wyk Louw (Versamelde dramas) is dit volgens die inligtingsbrief van die uitgewer wat die publikasie vergesel “die eerste keer ooit [wat] al die dramas, hoorspele en die libretto van NP Van Wyk Louw in ’n versamelbundel uitgegee” word. Hierdie bundel word ingelei deur ’n bespreking van al die werke deur Chris van der Merwe.
Hoewel Van der Merwe nie in sy bespreking verwys na die feit dat Van Wyk Louw se vyftigste sterfdag in 2020 herdenk is nie, word hierdie belangrike datum wel op die flapteks genoem met verwysing na twee vorige versamelbundels van sy werk in die ander twee genres: “Vyftig jaar ná sy dood verskyn Versamelde dramas, wat volg op die verskyning van Versamelde gedigte in 1981 en Versamelde prosa in 1986.” Aangesien die inleiding nie self na die vorige twee versamelbundels verwys of enige melding maak van die herdenking van Van Wyk Louw se sterfdatum nie, moet die leser vir haarself uitklaar waarom hierdie publikasie juis nou (soveel dekades na die verskyning van die versamelbundels oor sy gedigte en prosa) verskyn het. Die leser kry dus geen antwoord op die vraag waarom daar so ’n lang onderbreking was voordat hierdie bepaalde versamelbundel gepubliseer is nie. Hoewel die bundel sekerlik reeds in die redigeerproses was in 2020, is dit jammer dat daar skynbaar ook geen kennis geneem is van die Akademie- en die Muller-projekte wat reeds ’n paar jaar in die pyplyn was voordat hulle boeke in 2020 gepubliseer is nie.
Hierdie bundel is nie net ’n versameling van Louw se dramas nie, maar soos Van der Merwe in ’n eerste voetnota aandui, “sluit dit die hoorspele, die libretto en die koorspel van Van Wyk Louw in – al die tekste wat in hierdie publikasie byeengebring is” (8). Die volgende “dramatiese tekste” is in die versamelbundel opgeneem: Die dieper reg: ’n Spel van die oordeel oor ’n volk; Dias: ’n Hoorspel; Germanicus; Dagboek van ’n soldaat: ’n Hoorspel; Lewenslyn: ’n Hoorspel; Koning Eenoog of Nie vir geleerdes: ’n Spel van anachronismes en ’n anachronisme; Kruger breek die pad oop; Die vonnis: ’n Episode uit Van Riebeeck se bewind; Die eerste voortrek; Asterion: Libretto vir ’n radiofoniese opera; Berei in die woestyn: Jesaja 40:3: ’n sinne- en wa-spel; Die pluimsaad waai ver of Bitter begin; Blomme vir die winter: ’n Hoorspel; Die val van ’n regvaardige man (eerste ontwerp vir ’n hoorspel).
Indien die leser van hierdie versamelbundel wonder wat die uitgangspunt(e) van die twee redakteurs, Deborah Steinmair en Kristèl de Weerdt, was met hierdie bundel, lees ons die volgende kort “redigeernota” ingevoeg op die kopieregbladsy:
Met die saamstel van Versamelde dramas is veranderinge aangebring om die dramas as leesteks te bevorder. Die akuutteken is konsekwent op vokaalletters en diftonge geplaas. Hooflettergebruik by aanspreekvorme en ná leestekens (vraagtekens, uitroeptekens en dubbelpunte) is eenvormig verander. Ontbrekende punte is bygevoeg, en spasies by woorde met ’n afkappingsteken is uitgehaal. Alhoewel sekere woorde met verskillende spelwyses konsekwent na een spelling aangepas is, kan verouderde spelling steeds voorkom, koppeltekens is volop in die oorspronklike teks, maar enkeles is wel uitgehaal om nie steurend te lees nie.
Aangesien daar geen verdere inligting by die individuele werke gegee word oor hoe elke drama/werk deur bogenoemde riglyne versorg/verander is nie, moet die leser dus aanneem dat die tekste seker tot groot mate in hulle oorspronklike vorm bewaar gebly het. Dit is egter jammer dat hierdie inligting nie meer uitgebreid en meer prominent binne-in die teks verskaf word nie – alle lesers lees sekerlik nie altyd die kopieregbladsy nie!
Telkens word die lees van hierdie dramas / dramatiese werk beklemtoon: in die redigeernota en deurgaans in Chris van der Merwe se bespreking.
Die inleiding (opgevolg met ’n kort bronnelys) deur Van der Merwe is die enigste uitgebreide bespreking van Louw se dramatiese werke wat in die bundel opgeneem is. Van der Merwe maak ’n aantal opmerkings oor hoe hy hierdie bespreking benader (en ook beperk) het. Sy oorhoofse benadering blyk een te wees wat nog grootliks vassteek in ’n “ou” benadering van die dramatiese genre as literêre genre waar dramas ge-“lees” word as tekste wat met “temas”, “motiewe”, “karakteriserings”, “intriges”, ens werk.
Self stel hy dit (8):
Ek fokus veral op die denke en lewensuitkyk van Louw soos wat dit in die karakterisering en intriges na vore kom, nie op die radio- of toneelmatigheid nie; dit laat ek aan deskundiges oor. Hopelik sal hierdie versameling van Van Wyk Louw-dramas nuwe studies daaroor stimuleer, vanuit verskillende perspektiewe.
In sy besprekings van die werke (nie altyd in chronologiese volgorde nie, maar soms “word dramas naas mekaar geplaas omdat hulle tematies by mekaar aansluit”) blyk die fokus op sodanige “literêre” ingesteldheid duidelik.
Die bronnelys direk na die inleiding bevestig die “tradisionele” aanslag van hierdie bespreking. Die meeste bronne wat geraadpleeg is, is besprekings van die 1960’s tot 1970’s wat almal fokus op ’n literêre lees van een of meer van Louw se dramas. Die enigste “nuwe” bron is die LitNet Akademies-artikel (2002) van Luc Renders se 2002-voordrag (UJ se NP Van Wyk Louw-lesing) wat destyds redelik opspraak verwek het vanweë sy uitgesproke kritiek op Van Wyk Louw se dramatiese oeuvre.
Renders het (soos Van der Merwe) in sy bespreking van Van Wyk Louw se “dramatiese werke” ook die hoorspele en Asterion ingesluit. Hoewel die volgorde van die onderskeie werke se bespreking soms verskil, kan ’n leser wel die Van der Merwe- en Renders-besprekings op vergelykende wyse lees. Dit is inderwaarheid ’n interessante leesoefening. Hoewel beide skrywers meestal fokus op ’n gedetailleerde lees van elke werk en opvallende temas, motiewe, beeldspraak, ens uitlig om groter samehang tussen die werke aan te toon, verskil die toonaard van elkeen se betoog beduidend. Terwyl Van der Merwe se werkswyse beskryf kan word as ’n meer tradisioneel-literêre benadering tot die werke en baie min kritiek uitspreek oor enige aspek van hierdie oeuvre van Van Wyk Louw, word Renders se bespreking van dieselfde oeuvre deurgaans gekenmerk deur ’n betoog wat deurspek is van kritiek. Die grootste gedeelte van Renders se argument gaan oor sy kritiek op Louw se Afrikaner-nasionalistiese oortuigings soos wat dit tot uiting gekom het in sy onderskeie dramatiese werke.
.........
Die kritiek wat Renders (16) het op die meeste van Van Wyk Louw se drama(s)tiese werk binne die konteks van sy Afrikaner-nasionalisme, is dat sy werke “te miopies gerig [is] op die belange van die Afrikanervolk”.
...........
Die kritiek wat Renders (16) het op die meeste van Van Wyk Louw se drama(s)tiese werk binne die konteks van sy Afrikaner-nasionalisme, is dat sy werke “te miopies gerig [is] op die belange van die Afrikanervolk”. Die klem op die Afrikanervolk is vir Renders (29) ten koste van ’n beskouing wat die groter Suid-Afrikaanse samelewing se probleme aanspreek:
Van Wyk Louw se dramatiese tekste hou aan die Afrikanervolk ’n spieël voor. Hulle wys voortdurend op die moeilikhede op die pad na volkswording. Sy dramatiese werk is geskryf vanuit ’n nasionalistiese perspektief oor temas wat net vir die Afrikanergemeenskap relevant is. Dikwels speel die handeling hom op abstrakte vlak af, of is dit gesitueer in ’n ander plek of tyd. Die antwoorde wat aangereik word, is vaag, dubbelsinnig en soms teenstrydig. Van Wyk Louw se dramas handel nooit regstreeks oor die akute maatskaplike probleme van sy tyd, soos die rasseverhoudinge of die demokratiese regte van die ander bevolkingsgroepe, nie.
Hoewel Van der Merwe (8) saamstem dat Afrikaner-nasionalisme duidelik teenwoordig is in baie van Louw se dramas, antwoord hy nie uitvoerig op Renders se kritiek nie, maar voer kortliks aan:
’n Mens dit moet plaas binne die konteks van die tyd toe Afrikaners geworstel het met die ekonomiese en psigologiese gevolge van die Anglo-Boere-oorlog. Daar was die wesentlike moontlikheid dat die Afrikaner se taal en kulturele erfenis deur die magtige Engelse taal en kultuur vernietig kon word. Sy verbintenis tot die Afrikaner-nasionalisme moet teen hierdie agtergrond verstaan word.
........
In my bespreking van Van Wyk Louw se Die pluimsaad waai ver of Bitter begin (2020:472) verwys ek ook na Renders (en andere) se kritiek op Van Wyk Louw se Afrikaner-nasionalistiese uitsprake en is ek ook, soos Van der Merwe, van mening dat Louw se uitsprake binne die konteks van sy tyd bespreek moet word.
...........
In my bespreking van Van Wyk Louw se Die pluimsaad waai ver of Bitter begin (2020:472) verwys ek ook na Renders (en andere) se kritiek op Van Wyk Louw se Afrikaner-nasionalistiese uitsprake en is ek ook, soos Van der Merwe, van mening dat Louw se uitsprake binne die konteks van sy tyd bespreek moet word:
Dit is tog duidelik, soos Renders ook uitwys, dat Louw hom hoofsaaklik bemoei het met Afrikanergeskiedenis en Afrikanerbelange in meeste van sy dramas. Vir die hedendaagse leser van die werke is hierde fokus van historiese belang, aangesien die politieke landskap vandag heeltemal anders daar uitsien as wat dit in die 1960’s was. Myns insiens moet mens versigtig wees om hierdie werke (Louw se dramas) te veel te bekyk vanuit slegs ’n hedendaagse perspektief. Sy werke is geskryf in ’n bepaalde tydperk toe die hele ideologie van Afrikaner-nasionalisme sterk gestaan het en die Afrikaner ’n tydperk van glorie beleef het.
Vir ’n hedendaagse leser van Van Wyk Louw se dramatiese werk is dit egter wel van wesentlike belang dat hierdie polemiese gegewe meer aandag moet ontvang as die enkele verwysings daarna soos in hierdie bundel se inleiding gegee.
’n Belangrike vraag wat die inleiding tot Versamelde dramas sekerlik ook moes probeer aanspreek het, is die vraag na die waarde en betekenis van Louw se dramatiese oeuvre vir lesers/navorsers/studente vandag. Renders (2) se betoog het ook hierdie vraag op die voorgrond gestel:
Die dramatiese tekste van NP Van Wyk Louw weerspieël en weerkaats vir mekaar. … ’n Analise van die ooreenkomste en verskille tussen die verskillende dramatiese tekste sal ons toelaat om die invulling wat Van Wyk Louw in dramavorm aan die konsepte “volk-wil-wees” en “volk-wees” gegee het, noukeuriger te bepaal en aldus bydra tot ’n skerper beeld van Van Wyk Louw se houding teenoor Afrikaner-nasionalisme. Dit sal dit ook moontlik maak om die meriete van die dramatiese werk van Van Wyk Louw beter te oordeel en om die relevansie daarvan vir ons tyd noukeuriger in te skat.
Die waarde van ’n versamelbundel van NP Van Wyk Louw se dramatiese werk 50 jaar na sy afsterwe is juis geleë in die terugblik wat ons kan werp op hierdie oeuvre van hom met behulp van ’n volledige stel van sy werke in een publikasie. So ’n herwaardering sou sekerlik ook na die dramas as dramas (dws werke wat opvoeringsgerig is) moet verwys. Hoewel die werke in hulle eie tydvak opgevoer is of as hoorspele uitgesaai is, is dit onwaarskynlik (hoewel seker nie onmoontlik nie) dat hulle vandag nog opgevoer sou word. Van der Merwe het hom nie uitgespreek oor die opvoerbaarheid van hierdie dramas nie, terwyl Renders dit (reeds in 2002) stel dat “die dramatiese werk van Van Wyk Louw baie verouderd aandoen en deesdae eintlik onopvoerbaar is” (19).
Die bestudering van dramas vanuit ’n literêre oogpunt volg natuurlik ’n lang tradisie binne die dramagenre en is nie ’n werkswyse wat op sigself gekritiseer hoef te word nie. Dit is egter wel so dat daar sedert die 1980’s alreeds heelwat dramateoretiese studies gedoen is wat wegbeweeg van ’n suiwer literêre bespreking en beoordeling van verhoogdramas na ’n groter erkenning en inkorporering van die opvoeringsgerigtheid van hierdie werke. In die meeste hedendaagse studies word die dramatiese genre se gerigtheid op die opvoering van die dramatiese werk – hetsy in die medium van die verhoog, radio of as “libretto vir ’n radiofoniese opera” – beskou as die onderskeidende kenmerk van hierdie genre. Vanuit die perspektief van ’n teaternavorser sou mens heelwat inligting in hierdie dramas kon kry wat wel aansluit by hedendaagse teoretiese invalshoeke, byvoorbeeld vanuit die teaterhistoriografie of resepsiestudies. Vergelyk byvoorbeeld my bespreking van Die pluimsaad waai ver of Bitter begin (2020:475) se resepsie waar ek tot die volgende slotsom kom:
Dit is so dat mens baie kritiek kan inbring teen NP van Wyk Louw se Die pluimsaad waai ver of Bitter begin: vanaf kritiek op sy ideologies gefundeerde Afrikanernasionalistiese konteks tot ’n uitwys van die werk se dramatiese en opvoeringsgebreke. Vir die hedendaagse drama- en teaternavorser bly die drama egter ’n interessante gevallestudie binne die (Suid-) Afrikaanse drama- en teatergeskiedenis. In die herbesoek aan ’n drama meer as vyftig jaar later is dit so dat die drama as drama moontlik vir huidige navorsers van minder belang is as die drama as (teater)historiese dokument. Dit is dus redelik onwaarskynlik dat hierdie werk weer opgevoer sal word. Die epiese omvang van die drama (inhoudelik, maar ook veral wat betref sy besondere lengte en groot hoeveelheid karakters) sou heelwat ingekort moet word vir moderne gehore. Binne die Afrikaanse drama- en teatergeskiedenis het hierdie werk ’n baie bepaalde ikoniese status verkry. In NP van Wyk Louw se Die pluimsaad waai ver of Bitter begin vind ons een van die grootste polemieke ten opsigte van toeskouerresepsie gereflekteer, asook een van die mees gedetailleerde optekenings daarvan binne die Afrikaanse drama- en teatergeskiedenis – ’n ryke gevallestudie vir die student van teaterresepsiestudies sowel as vir die Afrikaanse teaterhistorikus!
Hoewel dit dus onwaarskynlik is dat enige van die werke wat in hierdie bundel opgeneem is, weer opgevoer of uitgesaai sal word en die opvoeringsgerigtheid van hierdie werke dus nie meer van so ’n groot belang is nie, beteken dit egter nie dat resente teaterteoretiese perspektiewe nie op hierdie werke toegepas kan word nie.
Terwyl Versamelde dramas van NP Van Wyk Louw ’n welkome toevoeging is tot die publikasies wat nou onlangs oor hom verskyn het, moet enige belangstellende leser van hierdie dramas hulle wel lees binne die konteks van polemiese standpunte wat vroeër – veral deur Renders – oor hulle gestel is. ’n Vergelykende lees van Renders se 2002-betoog en Van der Merwe se inleiding in 2021 bied baie stof vir debat en nadenke – sekerlik ’n intellektuele oefening wat NP Van Wyk Louw self sou gesteun het.
Hierdie bundel behoort ook in samehang gelees te word met die drie publikasies wat in 2020 oor Van Wyk Louw verskyn het, veral omdat hierdie publikasies juis herwaarderings gee van sy hele oeuvre (met enkele verwysing na sy dramatiese werke), terwyl verskeie bydraes die vraag oor sy relevansie vir huidige lesers wel ook direk aanspreek 50 jaar na sy afsterwe.
Bibliografie
Johl, R (gasred). 2020a. Temanommer: NP Van Wyk Louw: Opstelle vir ’n oorgangstyd. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 60:60. Pretoria: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
─. 2020b. NP Van Wyk Louw: Silwer herberg in die sneeu – ’n Huldiging. Pretoria: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Keuris, M. 2020. ’n Herbesoek aan NP Van Wyk Louw se Die pluimsaad waai ver of Bitter begin. In Johl (gasred) 2020a:463–76.
Muller, A en B Roos-Muller (bydraende reds). 2020. Vuur in sy vingers: Die verreikende invloed van NP Van Wyk Louw. Hermanus: Hemel & See Boeke.
Renders, L. 2002. Die dramatiese werk van NP Van Wyk Louw: Met volk-wees as inspirasie. LitNet Akademies. https://www.litnet.co.za/die-dramatiese-werk-van-np-van-wyk-louw-met-volk-wees-as-inspirasie-2002 (23 April 2021 geraadpleeg).
Lees ook:
Video: NP Van Wyk Louw-gedenklesing ‒ Jeremy Vearey (18 Junie 2020)