Kaantie wies NP Van Wyk Louw?

  • 5

Goeienaand my ma se kinnes. Moerse groete vannie Kaapse Vlaktes.

Ek is wys dat daa is dié van julle wat vedag hie sit wie se gatte nou kriewel oo hoekô ek by soe ’n laanie biesagheid in Kaaps skiet. En oek miskien wonne, kaantie wies djy, om hie te kô soek en vra, soese ou boer virre dompaslyn.

Oppie kriewelgat-saak, yt respek vi my taalburgerskap, vekies ekkie stamtaal vannie Vlaktes – Kaaps. Stamtaal, ommat dié wat julle ken as Standaardafrikaans is in my boek maa Kaaps se verlore seun. Dié taalpa is hie om te sê welkom huis toe, NP Van Wyk Louw. Lat ek jou wys wat djy kan wies virrie tyte van nou en die djare wat kom.

Kom ôs praat oore velore laaitie wat ôs moet losmaak vannie taalsnoere. Hy wat gan mang het onne apartheid. Hy wat gelêrit innie taalkettangs wat Breyten Breytenbach soe innie nientientagtags oo geklarit: “Ai, hoe verpes ek daardie deftige Mercedes- of Fakulteits- of Burokratiese of Germaanse Aferikaans met sy korsette en Tanglippe en Akkademies en Hoofkantore! Gee my die lekker bokkem-en-biltong bruintaal, proletêr en mens!”

Hoo nou, Boeta NP, hy kô huis toe. Af vannie hoegene taalberge, daa waa hy gelê et oorgroei met gras, voorie mooi strome net daa waa hy velief geraak et op sy eie vookoms soes Narsissus. Tewyl dié wêreld hie onne hom veby beweeg et. Soes Adam Small se Kanna, ’n gewone Moses vi gewone mense, bryn soes grond. Gelies met nuwe brille – proletêr en mens. ’n Swatgebrande taal, al iewag gegiet onne die Afrika-son.

Ôs gat kopskiet sonne twis, wys gedoepa met sy woore in “Die oop gesprek”:

Waar twee mense twis, daar gaan dit om te wen; elkeen wil die ander klop, maar laat sy eie mening on-ondersoek … aanvaar dit as ewig-waar, vanselfsprekend, en probeer dit op die ander oordra. In die soort gesprek waaraan ek dink, was die eie standpunt altyd net soseer die onderwerp van analise en kritiek as die ander s’n.

Kô ôs begint met ôs selwes, die diepkoppe innie huis vedag. Hoepelik staan ôs nou mee kee saam ommie ghellieblik byte ôs kampe as Boeta NP se Afrikaner-“intellektueel”. Maa in lyn van gedagtes soes in sy opstel “Is ons ’n intellektuele volk?” Hy skiet:

Die intellektuele mens is geïnteresseerd in idees en hul waarheidsgehalte. ... En hy is krities – krities teenoor elke idee, ook sy eie. Sy kritiek is die proefbuis waarin elke idee, ook sy eie, ontbind word om daardie een element, die moontlike grein waarheid, uit te haal.

Volgens Boeta NP is idees – of gedagtes soes ôs it in Kaaps noem – offit nou oo taal, ôs politiek, ôs veliede, ôs nou, of ôs toekoms gan, nie geboks in yste nie. Ôs moet oepkop dowwel merrit, en nie vaskyk in ôs bokse nie. Ek praatie nou vannie ou storie van ytie boks dinkie. Want as djy nog soe dink, dan is djy nog vasgekettang annie boks. Djy praat nog van agterie draad om jou djaart. Kô narrie mirrelgrond. Kô pad toe. Wan is dáá waa ôs oepkop met gedagtes moet spit ommie vollene waarheid yt te skoffel.

En daa lêrie kadaa vannie saak. Die waarheid groei nie in net my of jou gedagtes ie, it groei daa waa ôs saam dala oppie mirrelgrond. Ennie waarheid van nou issie somma die waarheid van môre nie, it vedwyn soesie Sydooste die sand vannie Kaapse Vlakte wegwaai ennie grond onne ôs voete skyf.

Daai bring my by Boeta NP se Afrikaans virrie tyte van nou. Hy skiet soe hieoo in 1960 in Voorwoord tot die opkoms van ons Derde Stand”:

Wél het ek ’n innige begeerte – nee, ’n hartstogtelike wil – dat my volk, Blank en Bruin, en die taal wat ons praat, in hierdie land bly voortbestaan. En dit is óns wat bedreig word; ons Swart vriende, glo ek, is van hul voortbestaan deeglik versekerd.

Boeta NP se pa-speel kak oo bryn mense oppe stokkie; die pluimsaad het oekie rêrag innie politiek van sy tyd en gedagtes verdere as sy Afrikanervolk gewaai nie. Maa hy is nogal reg oorie messe van sy eie môre tien sy taal. Tien sy Afrikaans, en nie my Kaaps nie. My Kaaps was ’n moerstaal wat van slawerny deu apartheid tot nou allie pad die up vannie grond af gekhoeza het. Soe oek die Afrikaans van die Griekwas, Namakwas en Xhosas. Die anne ma’s wat oek Standaardafrikaans getêt it. En ek gloe vas it sal stêkgevriet bly staan tien ammel wat it wil vidalla, net soes prof Jakes Gerwel in 1978 innie Education gevôtja het:

“Maar so lank as daar Afrikaanssprekers is wat hul stemme vreesloos teen ons samelewingsongeregtigheid lug – en daar is sulkes – het ek die sekereheid dat ons met reg onder ’n nuwe bestel kan verklaar: Een rassisme en een outoritêre regime kon ons toe nie stil kry nie en ’n nuwe een gaan ons nou ook nie onderkry nie.”

Maa wie se okapi’s stiek nóú die diepste? Ôs s’n. Van ôs sit vi Standaardafrikaans net soes Ingels oppe wit klip en vihiemel it as dié tale met “hoërordefunksies”. Soe veklaa deu akademiese ringkoppe, of anneste gesê, mirrelklasdiepkoppe. Soe hoeg en vê weg vannie grond lat “Standaardafrikaans” starag wegvrek van hoogtesiekte. Soe hoeg dat ôs die grond ontstem.

Ampe soes met Afrikaanse letterkunde en literatuur, as ôs ie nou vinnag beginte walgooi nie. Boeta NP se woore in “Oud en nuut in die literatuur” van 1956 maak soe hieoo wys:

“Die literatuur is in ’n sekere sin tog iets van ons almal. Hy gebruik ons almal se taal. Opsetlik sluit hy hom teen niemand af nie ...”

Vêre innie stuk lies djy hoekô Boeta NP stêk hieoo gevoel it. Hy tel op vi Peter Blum se Kaaps innie sonnet “Oor monnemente gepraat”. Tienie groot literêre kokkedore wie dêtag tot veetag jaa na it geskryf was, gal tien it gegwarra it. Boeta NP sny soe hieoo: “Om in dialek-literatuur iets universeels te sê ... dit het ’n digter nodig.”

Djy sal somma vestaan hoekô, innie eeste ag lyne van Blum se sonnet:

Wat spog jul soe met julle monnement?
Hy’s groot ma’ lielak, en hy staan so kaal
da’ op sy koppie. Wie’t vir hom betaal –
en daai graniet en marmer en sement?

O ja, hy’s groter as ’n sirkustent –
ma waa’s die pêd, die mooi nooi innie saal?
die lekka clowns, die leeus in hul kraal?
Nei, daa’s g’n spôts vir jou Kaapse kjend! 

As djy vidag hie was, Boeta NP, sal djy nogal wys kô raak it lat ôs het vêre gekô mettie gebruik van “ons almal se taal” innie literatuur. Met skrywers soes Jolyn Phillips, Nathan Trantaal, Ronelda Kamfer, Chase Rhys, Olivia Coetzee, Jitsvinger en annes soes hulle is daa daam nou oek spôts virrie Kaapse tjend innie literatuurkraal. Ve’al met vroueskrywers, vi wie daa maa min staanplek links of regs innie literatuurkraal was. Maa starag maa sieke is van ôs nou voo’osse innie kraal. Maa wie nog allie pad die kraal pesêllie en hoe, makee nog wêk.

Maa wat van daai anne monnement, die letterkunde?

Eestens was Boeta NP al in Mei 1958 volyt dydelik oorie letterkunde in “Moeilike letterkunde”. Ek is halfpad met hom as hy sê:

Dit is ten eerste simplisties om te beweer dat die letterkunde veral met die gevoel te doen het: gevoel, verstand, sintuiglikheid en wat ons ook nog verder in ons mag hê. Maar ook nog dít: die letterkunde het te doen met veel meer as selfs die hele mens – as ons dit só wil stel: dit het te doen met God en mens, hemel en aarde, natuurlike en kultuur, ... met die volle werklikheid, die onuit-sê-bare volheid van wat ís.

Oek soe vi nou, mettie oepskryf van nie net wat is nie, maa oek die “volle werklikheid” van wat was. Wan wat was, was nooit rêrag vi ammel in ammel se taal deu ammel oepgeskryf en gerieken as letterkunde nie. Hievoo was die literêre kanonne van kanonisering van apartheid, om woore van Boeta NP te misbruik, te kleinburgerlik. Soe is tyd virrie nuwe kanonne om wee te kyk na Arthur Fula se “Jôhannie giet die beeld”, PJ Philander se “Rebunie”, Peter Snyders, Vernie Februarie, Patrick Petersen en baie anne se werke wat deerie apartheidkanonne gegwarra was. Tyd om te gat soek na die werke in alle tale van daai vrouense wie deerie kraal an alle kante ontstem was. Blanche La Guma, Phyllis Ntantala-Jordaan, Miriam Tlali, Cissy Gool, Jean van der Poel, Helene Malan, Ruth First en Truida Pohl, ad infinitum.

Twiedens, it sal ’n fout wies om te sê Boeta NP is nette man van sy tyd en sy wêk bly vasgemang dee daai tyd. Hie is ek volyt saam mit prof RE van der Ross wat in 1986 oek hierie gedenklesing gegie it. In “Onvoldoende liberalisme” skiet prof Dickie soe:

Wat sy politieke en sosiale denke betref, was Van Wyk Louw in die paradoksale posisie dat hy aan die een kant sy tyd vooruit was, en dat hy, met al sy versiendheid, nie die snelheid van die tempo van verandering in Suid Afrika kon antisipeer nie.

Ek wonne wat Boeta NP vi prof Dickie sal gesê it as hy in 1986 daa was om te vedydelik. Dieselfde wat hy oo skrywers en tyd in 1953 gesê it?

[G]een skrywer werk met ’n ander inhoud as dié van sy tyd nie: alles kom tog uit hom as mens voort; en hy is in en van sy tyd – selfs sy romantiese verlange na ander tye of na ’n eiland van wesenlikheid buite die tyd, is deur tyd bepaald. Maar: Met dieselfde tydsgewens, dieselfde gevoelens, vrees, hoop en ideale, kan slegs geskryf word – of goed. Dit is hierdie moontlikheid, en die afgrondelike verskil wat hy kan meebring, waaroor ons moet nadink ...

En hie is ek oek volyt saam hom virrie tyte van nou. Oek sy wêk moet gewieg wôd virrie “afgrondelike verskil” wat it vi ôs vidag kan batieken. Kô os beginte by sy Liberale nasionalisme (1951). Nou hie loep ek saam met hom oppe paa gedagtes. In “Uithoek en middelpunt sê hy soe oo Ingels: “[G]een nasionale kultuur – selfs nie die kultuur van die magtigste – is die kulturele middelpunt van die wêreld nie.”

Vi Boeta NP was taal die disseboem van kultuur. Hy het toe al hieoo reg gevortja in Geestelike bloedsomloop: “Suid Afrika is alleen amptelik ’n tweetalige land; in die werklikheid is hy veeltalig.”

Ôs Grondwet rieken it oek soe met ôs 11 tale vedag. Maa issit rêrag soe as ammel nie in hulle eie moedetale geskool wôd tie? Issit rêrag soe as ôs vidag van Ingels ôs disseboem vannie kultuur maak? Issit rêrag soe assie ienagste ding innie taalrollery wat ôs hoo, ’n saak van Afrikaans se plek tien Ingels is? Ek dink ie soe nie, ve’al as it by Kaaps kô wattie ees in Boeta NP se tyd en nou gerieken wôd as ’n taal ie. Het Boeta NP die woore van Boeta Adam Small hieoo daai tyd in 1962 gerieken? Boeta Adam stiek soe yt daaoo: “Kaaps is ’n taal, ’n taal in die sin dat dit die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat dra” (1962).

Nogallie; in Boeta NP se gedagtes herrit gegegat oo sy Afrikaans tien Ingels. Om wee daai wood van hom te lien, op dié punt was hy nog te kleinburgerlik oo Afrikaans soes net hy en Afrikaners dit ken, sy kultuur, sy volk en sy nasie. Regte woore en gedagtes, maa nie vi ammel van sy tyd ie.

Maa is ie bumpe wat hy bêre oorie nasionalisme, waaoo ôs virrie tyte van nou en môre altyd moet wysraak:

Die chauvinisme is die swart engel van die nasionalisme en bly bestendig naas hom ’n skaduwee. Wanneer ’n volk soos die Franse, die Duitsers, of jou eie mense, die Engelse, in die loop van eeue werklik ’n groot nasionale kultuur opgebou het – dan kom die bose engel na die domstes van so ’n volk en fluister vir hulle: “Julle kultuur is die hoogste, ja, die enigste werklike kultuur op aarde.”

Issit ie daai selfde swat engel wat ôs nog vidag hoo deerie tanglippe vannie taaldjingo’s as hulle praat van hulle tale se hoërordefunksies nie? Ampe asof ie res vannie land se tale agte hulle in daai lyn staan. Issit daai selfde swat engel wat kop uitstiek in kleinstamse kraalgedagtes oorie land en kultuur? Asof ôs ie een Syd-Afrika-nasie in ôs mixmasala kan wies ie.

Maa ôs liewe dan inne demokrasie. Of soe gloe van ôs. Boeta NP skiet soe hieoo:

’n Demokrasie – watter staatsvorm hy ook al besit – veronderstel dat daar besluit word alleen ná die wydste mate van meningswisseling. Die suiwer demokrasie is regering deur oorreding; en gemeet teen hierdie maatstaf, is daar helaas nog weinig demokratiese regeringhandelinge in die wêreld vandag.

Duidelik en mette vollene korrek virrie tyte van nou. Maarie grootste bumpe tienit is oek ôs selfsensorskap innie pibliek. Hoe binnebek ôs praat oo korrupsie, taaldinge, rassisme, ôs apartheidvelede, ôs leiers se kleivoete, en alles en wat-wat van dit wat ôs vedeel. Is daai wat rêrag ôs oepe wheaties en gedagtes vidalla.

’n Demokrasie waa ôs oueres, of vê te laat die stem vannie toekoms hoo, of daai stem issie altyd daa torrat it oepbom ie. En hieoo was Boeta NP al in 1938 dydelik:

Die jeug moet by ons op alle gebiede aan die woord kom, nie omdat hy die wysheid sou besit nie (die wêreld kry dit nogal reg om sonder wysheid aan te beweeg), maar die lewe vir homself te kry. [...] Die pad moet nie vir die jeug gelyk gemaak word nie, maar hy moet ten minste die geleentheid kry om te kan veg. Sy stryd uit te veg, en nie dié van ’n vorige geslag nie.

Ôs hettie in 1976, 1980 en 1985 gelyste nie, toe brand hulle ôs oorhare soelat ôs bietere kan hoo. Ôs het uitie wakkeskrik na hulle innie #FeesMustFall-oolog gelyste, en is nou miskien halfpad wyser. En is oek bietere soe vi ôs oueres in húlle toekoms. Wan soes Boeta NP sê:

“Die jeug moet kans kry om meer lewe onder ons te bring ... Hy kan dit doen, want sy lewensvorm is dié van die lewe self.”

Hoe’s daai virre toppie wat vyftag jaa geliede gesesvoet was? Soe, kaantie wies Boeta NP nou eintlik vi ôs vidag?

Ek lies nourie annedag Djits Desai se uitspraak in hai saak van 2006 oorie briewe tussen NP Van Wyk Louw en sy broer WEG. Hy sê:

Some of the views expressed in these letters are indeed unpalatable in modern society. They were, however, written in a complex historical setting. ... It is, however, apparent from the letters that they were not dogmatic and their views changed in response to the changing world situation.

Soes met CJ Langenhoven wie die politiek van sy tyd met rassistiese stront in “Die witman se pand” oo “naturelle” en “kleurlinge” bekak it, het ôs sy “Die Stem” oorie blou vannie wit man se hiemel ennie diepte van hulle private see getjandies virrie groter ôs, as deel vannie niewe Syd-Afrika se volkslied. Soe oek met Boeta NP. Ôs vestaan waa’uit hy kô en sien nou vannie kakgedagtes van sy tyd. Maa hy is wat ôs nou van hom maak mette mattedjala van sy woore virrie tyte van nou.

Soe it was ’n groot voorreg vi my om venaan saamit Boeta NP deurie smal hek van ôs veliede te trek. Raka hy kô hystoe hievanaan. Nie die wit stam se Raka die aapmens en swart dier wat nie kan dink nie, maa die een wat Koki gesesvoet it, en saamit ie wit stam narrie demokrasie vannie groter ôs getrek it.

Die ewige trek is verby, Boeta NP. Koki se dwepers en dwase by wie die wil suiwer en enkeld was, het aparte trekke ingeslaan en  gekwyn.

Raka die vrye, het opgestaan
en hulle lat loep, en self náby gat djag;
maa niemand het gewaag om met een slag
die smal hek ooit wee te sluit ie.

Kyk die video van die lesing hier:

Video: NP Van Wyk Louw-gedenklesing ‒ Jeremy Vearey (18 Junie 2020)

  • 5

Kommentaar

  • Avatar
    Elsabe de Beer

    Bravo! Ek het Jeremy se boek by ons Hermanus Leeskring in Februarie bespreek en stem saam: Omhels alle Afrikaanse "dialekte" want dan alleen sal ons taal in hierdie land van ons groei en gedy.

  • Margaret Cordier
    Margaret Cordier

    "Die jeug moet kans kry om meer lewe onder ons te bring ... Hy kan dit doen want sy lewensvorm is die van die lewe self."

    mag die betongegote denke en afgode tot stof vergaan, en ons ware stof tot nadenke vind in die inasem van vars lug en waarheid.

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Op grond waarvan het diegene wat op die spreker vir hierdie geleentheid besluit het tot die gevolgtrekking gekom dat Jeremy Vearey die geskikste persoon is? Dit sou interessant wees om te weet wat NP Van Wyk Louw van hierdie huldiging sou dink. Kaaps is bevorder maar geensins Afrikaans in die idioom van Van Wyk Louw nie; daardie soort Afrikaans waaraan daar tans ’n groter behoefte as ooit te vore is.

  • Avatar
    Theo van der Merwe

    ’n Interessante benadering, maar totale mislees van “Raka”, boeta Jeremy. Koki is swart en verteenwoordig die hoogste geestelike goed van ’n samelewing na my mening.

  • Laat my dink aan my skooldae. As jy nou werklik vies voel vir ’n onderwyser, dan is dit: “Wies daai ou onnie? Boeta Boepens?” Of sommer: “Ou Boepens”.
    Dit trek hom mos af na jou minderwaardigheidsgevoel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top