Hlophe en die Afrikanisering van ons howe

  • 3

Opposisieleier John Hlophe, leier van die MK-party (MKP), is ’n man wat nie wegskram van kontroversie nie.

Hlophe, ‘n akademikus, voormalige regter-president van die Wes-Kaapse afdeling van die Hooggeregshof, en op een stadium gesien as ’n potensiële hoofregter, se meteoriese opgang in die reg het gestotter en uiteindelik tot ’n einde gekom omdat hy Zuma probeer “help” het. Nou probeer hy Zuma in die politieke arena help.

Kort na die verkiesing afgehandel is, het Hlophe in ’n mediaverklaring aangedui dat hy hom verbind tot die “Africanising” van die regbank en regstelsel. Dit is nie regtig ‘n verrassing nie. Hy het hom alreeds in sy tyd as regter-president uitgelaat oor die demografie van die regbank in die Wes-Kaap. Met “Africanising” bedoel hy waarskynlik dekolonialisering, alhoewel hy nie daardie woord gebruik het nie. Weer is dit nie ’n nuwe of vreemde konsep nie. Daar is al heelwat akademiese tyd en ruimte bestee aan die dekolonialisering van ons regstelsel, wat grootliks Romeins-Hollandse reg is met ’n paar stukkies Engelse reg soos Frankenstein se ledemate ingewerk. Ons regstelsel weerspieël ons koloniale verlede.

.......
Daar is al heelwat akademiese tyd en ruimte bestee aan die dekolonialisering van ons regstelsel, wat grootliks Romeins-Hollandse reg is met ’n paar stukkies Engelse reg soos Frankenstein se ledemate ingewerk. Ons regstelsel weerspieël ons koloniale verlede.
........

Daar is natuurlik alreeds begin met die projek om ons reg te dekolonialiseer. Die erkenning van poligame en potensieel poligame huwelike is een voor die hand liggende voorbeeld wat alreeds deel van ons reg vorm. Hlophe is dus nie verkeerd wanneer hy die probleme binne ons sisteem uitwys nie.

Maar wat beteken dekolonialisering vir Hlophe, en vir Zuma? Ek neem aan dat hulle in ooreenstemming is oor wat hulle wil bereik. Boonop, aangesien Hlophe nou die politieke arena betree het, moet ons aanvaar dat hy nie suiwer vanuit ’n regsoogpunt na die moontlikhede kyk nie.

........
Maar wat beteken dekolonialisering vir Hlophe, en vir Zuma?
........

Ek verwag dat daar pogings sal wees om die magte van die tradisionele stamhoofde uit te brei. En die eerste slagoffer daarvan gaan vroueregte wees. Daar is nie te lank terug nie in ’n hofsaak beslis, juis in KwaZulu-Natal, dat swart vroue ook nou van hul mans kan erf. Voorheen het die vrou alles verloor, want haar man se besittings, en veral enige grond, het na sy manlike familie gegaan. Baie keer is die vrou dan weggejaag en het sy alles verloor. Die hofbeslissing het dit in die teorie verander. In die praktyk is die triomfantelike eiseres met die dood gedreig en moes sy van die grond wat nou regtens hare was, wegvlug vir haar lewe.

Ek vermoed gedekolonialiseerde reg onder Hlophe sal vroue na ’n infantiele posisie van magtelose, eiendomlose besittings van mans terugstoot. Dis nie ’n projek wat tuishoort onder ’n grondwetlike bedeling nie. Ek is ook glad nie seker dat Hlophe veel respek vir die Grondwet het nie. Hy is in ’n staat van beskuldiging geplaas omdat hy regters van die Konstitusionele Hof probeer beïnvloed het om ten gunste van Zuma te beslis. (Zuma glo, soos Trump, dat sy posisie verhewe bo die reg behoort te wees.)

Hlophe herinner sterk aan Clarence Thomas, die omstrede Amerikaanse regter. Albei is swart mans wat met briljante regsloopbane afgeskop het, maar wat te midde van beweerde korrupsie en hebsug hulle reputasie en aansien verloor het. Albei neem besluite wat uiteindelik tot swart mense se nadeel kan wees.

........
Ons Grondwet is een van die jongste en mees modernes in die wêreld. Maar ons Grondwet het ’n Achilles-hiel.
........

En nou gaan Hlophe op die Regterlike Dienskommissie (RDK) dien. Dis die liggaam wat oorsig oor regters bied, oor aanstellings besluit, en klagtes teen voorsittende beamptes ondersoek. Dis dieselfde liggaam wat Hlophe vroeër vanjaar uit sy pos onthef het. En nou is hy in ‘n besluitnemende posisie aangestel.

Hoe het dit gebeur? Die RDK is ’n grondwetlike instelling wat saamgestel word uit verteenwoordigers van verskeie liggame met belang in regspleging asook politieke partye. Die RNE kon nie hulle sake agtermekaar kry nie, en in die oneenheid wat gevolg het, is Hlophe as verteenwoordiger van die MKP op die RDK aangewys.

Dit gaan die verstand te bowe.

Of dalk nie.

Ons Grondwet is een van die jongste en mees modernes in die wêreld. Maar ons Grondwet het ’n Achilles-hiel. Dis gebou op die geloof dat politici, regters en ander deelnemers aan die demokratiese proses glo in die demokratiese proses en dat hulle eerbaar sal optree.

Hulle het nie John Hlophe sien kom nie.

Lees ook:

Oor hoop

The South African 2024 national election – an assessment

Is verkiesings vry en oop as kieseropvoeding laag is?

Hoe vry is ons na 30 jaar se demokrasie?

The Z factor in KZN and the elections

Zuma: Messiah or populist?

Wanneer is dit minagting van die hof?

Zuma gaan glo op die stokkies lê, maar het geregtigheid geseëvier?

  • 3

Kommentaar

  • Chris Marnewick SC

    Om Hlophe en Clarence Thomas in dieselfde asem te noem is onvanpas, met respek. Daar is nie eers naastenby 'n ewewig in kwaliteit nie. Hlophe was 'n onbekende proffie in Transkei toe hy in Kaapstad as regter aangestel is as deel van die ANC se oorname van alle wetsinstellings en regbanke. En daar was Hlophe sommer van die begin af omstrede.

    Wat die RDK betref: Die grondwetlike idee was dat dit uit senior regsiui sou bestaan en regters op meriete sou aanbeveel, maar die ANC weereens, het nie daarvan gehou nie, die wet verander sodat politici daarop aangestel kan word, en sodoende aanstellings te kan beheer. En ons het die chaos wat gevolg het gesien, met meriete nou op die agtergrond, politieke geskille op die voorgrond, en persone soos Malema wat daarop dien.

    Die SA Reg bestaan uit die onderliggende Romeins-Hollandsereg, met proses- en bewysreg gebaseer op Engelsereg, en die gereg-strukture (howe ens.) op die Engelse model, alles soos verander deur statute wat sedert 1952 hier te lande uitgevaardig is. Met hofuitsprake wat selfs in Engeland met goedkeuring aangehaal is.

    Hoe lyk die "afrikaniseringmodel"? 'n RDK wat familie van politici aanstel, uitstaande kandidate afkraak en beledig, en dekades neem om klagtes teen regters te ondersoek en dan beslissings maak wat deur die howe tersyde gestel word omdat dit irrasioneel is (soos met regter Motata)?

    Wie het daarvoor gestem?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top