Wanneer is dit minagting van die hof?

  • 0

Bettina Wyngaard (foto: Naomi Bruwer)

Gemoedere kan soms hoog loop gedurende die verloop van ’n verhoor.

Dis die aard van litigasie. Koppe stamp, die bereidheid om te konfronteer en argumenteer – dit word verwag in die hof. Tog is daar ’n basiese gedragskode wat in elke interaksie geld in die hof. Onderlinge respek moet gehandhaaf word. Elke party wat deelneem aan die proses, se professionaliteit moet eerbiedig word. Maar die hofproses is so gestruktureer dat daar ’n magswanbalans is. Die voorsittende beampte, die landdros of regter, het normaalweg die laaste sê. Dit beteken egter nie dat hulle nie hul kollegas in die verdediging en die aanklaerskorps met respek moet behandel nie.

Op 29 Oktober hierdie jaar het daardie verhouding tussen kollegas in die slag gebly in ’n skermutseling tussen ’n landdros en ’n kandidaatprokureur in die landdroshof in Port Alfred. Die kandidaatprokureur is ’n werknemer van die Regshulpraad, wat dalk relevant vir doeleindes hiervan is. Die kandidaatprokureur, ’n me December, was op rekord vir ’n spesifieke saak. Die landdros, wie se identiteit nie bekend gemaak is nie, beveel December toe om namens ’n ander kliënt te verskyn. December is nie hierdie kliënt se prokureur nie, en sy is ook nie op rekord vir die kliënt nie. Sy stel die landdros in kennis (na my mening tereg) dat dit nie haar kliënt is nie, en dat sy nie met die kliënt gekonsulteer het nie. Sy sê dit nie in soveel woorde nie, maar waarop haar reaksie neerkom, is dat sy nie in staat sal wees om ’n kompetente verdediging van die kliënt te gee nie.

Die beskuldigde word verteenwoordig deur ’n ander regshulpprokureur wat nie in die hof teenwoordig was nie. Die landdros het duidelik toe besluit die een is so goed soos die ander, plaas December op rekord en roep die getuie. Decembe volstaan dat sy nie die beskuldigde kan verteenwoordig nie, en dui aan dat sy dan nou onttrek as prokureur van rekord. Hou in gedagte dat sy nooit vrywilliglik op rekord gegaan het nie. Verdere woordewisseling volg, en die landdros beveel dat die kandidaatprokureur opgesluit moet word vir minagting van die hof.

Niks uit die rekord dui aan dat die kandidaatprokureur opgetree het op ’n wyse wat tradisioneel as minagting van die hof beskou kan word nie. Sy het inderdaad opgetree op ’n wyse wat haar eie etiese gedrag en die beskuldigde se beste belange verteenwoordig het. Die landdros, daarenteen, kom voor as ongeduldig, dreigend en arrogant.

December bring die res van die dag in aanhouding deur, en word voordat die hof verdaag weer voor die hof gebring. Die onderonsie gaan voort.

Dis nie duidelik uit die rekord nie, maar ek neem aan dat haar prinsipaal en die hoof van die regsentrum betrokke geraak het in hierdie aangeleentheid. Die saak word na die Hooggeregshof verwys, en Roberson, J moet hieroor beslis. Sy beslis dat die bevel om die kandidaatprokureur in aanhouding te plaas, tersyde gestel moet word. Dis natuurlik simbolies ten beste, want sy was klaar in aanhouding.

Die regter huiwer op die randjie daarvan om te verklaar dat die landdros ultra vires, dus buite haar bevoegdhede om, opgetree het. Dis een van twee gebreke in die uitspraak. Die ander is dat die regter nie beveel dat die saak na die landdrostekommissie verwys moet word vir ondersoek nie. Die oorweging daaragter was waarskynlik dat kollegiale hoflikheid sover moontlik behoue moet bly. Hier is dit mosterd na die maal.

Die landdros is geleentheid gegee om redes vir haar besluit aan te voer. Sy kon dit nie in terme van enige wetgewing doen nie. Boonop het sy nie die korrekte prosedure gevolg nie. Verder het sy ’n professionele persoon ongekende trauma besorg, om geen goeie rede wat sy kon verwoord nie.

Hofbeslissings is gewoonlik maar droog en nie juis ontwerp om die verbeelding gaande te maak nie. Hierdie geval is vir my egter anders, omdat ek die omstandighede ken. Ek weet nie wie die landdros is nie, en ek ken nie die kandidaatprokureur nie. Maar ek ken Port Alfred se hof, en ek weet hoe klein en beknop die selle daar is. Daar is geen manier dat December weg van die ander gevangenes aangehou kon word nie. Daar is gewoon nie genoeg plek nie.

Boonop weet ek dat die selle by howe nie regtig ingerig is vir gerief nie. Dalk het die selle verander vandat ek laas daar was, maar toe was daar nie sitplek nie. Jy het gestaan of op die sementvloer gesit. Ek het geen rede om te vermoed dat dit sou verander het nie. Neem verder in ag dat ons midde-in ’n pandemie is, en ons kan aanneem dat die ander persone in die selle waarskynlik nie maskers gedra het nie. Sosiale afstand in daai selle bestaan nie.

Ek hoop regtig dat die landdrostekommissie betrokke gaan raak hierby en die landdros gaan aanspreek. Goeie verhoudinge in die hof is van die allerhoogste belang, en ’n arrogante landdros wat dink die reëls bestaan om oortree te word, doen regspreking net skade aan.

’n Besadigde temperament, ’n koel kop, grondige kennis van die reg en basiese eerbaarheid is voorvereistes vir enige voorsittende beampte wat regspleging ernstig opneem.

Hierdie landdros het op alle vlakke klaaglik misluk.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top