
Het van Verlangekraal-omslag: Tafelberg Uitgewers; foto van Leon van Nierop: verskaf
Titel: Het van Verlangekraal
Skrywer: Leon van Nierop
Uitgewer: Tafelberg (2024)
ISBN: 9780624095538
Epub ISBN: 9780624095545
Leon van Nierop praat met Naomi Meyer oor Het van Verlangekraal wat pas by Tafelberg Uitgewers verskyn het.
Leon, baie geluk met die verskyning van die boek Het van Verlangekraal. Die boek verskyn betyds om in ouer lesers wat hierdie verhaal nog goed sal onthou, se Kerskouse te beland. Die verhaal is oorspronklik in 1960 gepubliseer en is deur Johann Bekker geskryf. Jy het die verhaal wel in 1985 vir die televisie verwerk en opgevoer en was ook in 2022 betrokke by die RSG-radioweergawe van die verhaal. Jy ken dus die storie deur en deur! Hoe het dit gekom dat Het nou in 2024 pas in boekvorm deur jou geskryf is en deur NB gepubliseer is?
Ek het nog altyd gevoel dat Het se tragiese, maar ook inspirerende geskiedenis nog nooit na behore ontgin is nie, en dat dit tyd is dat Het ook ’n stem kry en in sommige hoofstukke uit haar eie perspektief oor haar probleme praat.
Op radio kon ek dit nie doen nie, want dan het dit een lang pedantiese, stroperige vertelling geword. Op televisie het die klem op die verloop van die verhaal geval en die haglike toestande waaronder Het (pragtig gespeel deur die bekroonde Sally Campher) moes oorleef.
Maar ’n roman maak dit soveel persoonliker, want die skrywer (in dié geval verwerker) betrek die gehoor direk by wat gebeur het en maak die verhaal ook hulle s’n.
Verder was die oorspronklike roman eintlik baie formeel uit Doep se oogpunt geskryf, amper as ’n soort sedeles en ’n pleidooi dat onderwysers verantwoordelik moet optree en probleemkinders nie as struikelblokke moet sien wat getem moet word nie, maar as mense met probleme. Die opvoedingsproses en die Afrikaanse taal was vir hom ook baie belangrik. Hy het dit in lang woordryke paragrawe gedoen wat die oog soms laat struikel het. Ek het probeer om dit meer informeel en makliker leesbaar te maak.
In Bekker se roman het baie karakters blote randfigure gebly wat nooit ontwikkel is en tot die storie bygedra het nie. Daarom het ek Doep se vrou Mart ’n prominente en bydraende karakter gemaak wat Doep ondersteun en raad gee, soos Doep homself eintlik in die oorspronklike roman raad gegee het. Ek het haar ook ’n onderwyseres gemaak wat Doep se situasie só beter sou verstaan as wat die geval sou gewees het as sy net ’n huisvrou was wat vir hom kos maak. Ander kinders, en selfs karakters wat nie bestaan het nie, is geskep, en moes help om die storie in te kleur en Het se verhaal in perspektief te plaas, want dit gaan ook oor haar verhouding met ander mense wat haar gewoonlik as ’n bedreiging gesien het, maar wat haar nie noodwendig altyd kwaadgesind was nie. Maar hulle moes mense wees, nie net karakters na wie terloops verwys word nie.
Jou boek begin met ’n openingstoneel wat ek uit die TV-weergawe onthou. Hoedat Het geslaan is. Het was nie net ’n meisie wat lyfstraf gekry het in die jare toe dit nog toegelaat is nie; Het was ’n mishandelde kind. Wie was Het? Hoe het jy haar in al die verskillende gedaantes (vir radio, vir TV, en in boekvorm) as karakter ontdek en beleef?
Het was, wat my betref, totaal misken. Sy was ’n briljante kind wat geleer het hoe om haar sin deur middel van manipulasie en houding en parmantigheid te kry, iets wat Ansu Visser uitstekend in haar radiovertolking reggekry het. Ek het later agter haar speelstyl aan geskryf.
In my weergawe wou ek hê Het moet verander en haar foute raaksien en daaraan werk. Maar daarvoor het sy ander karakters nodig gehad om sekere aspekte van haar karakter uit te bring. Daarom Fielies/Francois, wat doelbewus teen sy nare bynaam rebelleer. Hy het glad nie in die oorspronklike boek bestaan nie. Maar hy het meer as ’n blote klankbord vir Het geword, hoop ek.
Francois het geweet hoe om haar te hanteer en te leer om te bedaar en haarself op ’n ander manier uit te druk. Hy is een van my mees geliefde karakters, omdat die storie (en Het!) hom bitter nodig gehad het om ’n ander dimensie na die storie te bring. Nie al die Heibergs was armblanke-lieplappers nie.
Soos van die ander kinders, soos Liefie, sou Francois/Fielies ook eendag iets van homself kon maak, maar hy het net ander metodes gebruik. Hy is Het se alter ego of vaderfiguur wat die beste in haar kon uitbring en sodoende haar rebelsheid in hulle tonele kon hanteer.
.........
Met elke reïnkarnasie het ek net meer respek vir Het gekry en wou ek haar verhaal volledig vertel en reg aan haar as volledige, geskakeerde mens laat geskied. Sy was in die oorspronklike roman grootliks net ’n “probleemkind”. In my verwerking hoop ek dat mense haar beter sal verstaan en haar selfs as ’n onwaarskynlike heldin, selfs ’n soort rolmodel, sal sien om te wys niks is onmoontlik as jou hart op die regte plek sit nie. Maar hulle moes haar tragedie verstaan.
.........
Met elke reïnkarnasie het ek net meer respek vir Het gekry en wou ek haar verhaal volledig vertel en reg aan haar as volledige, geskakeerde mens laat geskied. Sy was in die oorspronklike roman grootliks net ’n “probleemkind”. In my verwerking hoop ek dat mense haar beter sal verstaan en haar selfs as ’n onwaarskynlike heldin, selfs ’n soort rolmodel, sal sien om te wys niks is onmoontlik as jou hart op die regte plek sit nie. Maar hulle moes haar tragedie verstaan. Sy moes nie bloot struikelblokke op die pad van onderwysers gewees het nie.
Verlangekraal. Die dorp met die naam wat so goed pas by die atmosfeer van die storie. Mense wat praat van “die goeie ou dae” moet mooi dink as hulle dorpe soos hierdie een in die boek besoek. Is Verlangekraal gebaseer op ’n dorp wat regtig bestaan? (Ek lees en jy beskryf die omgewing ook so mooi dat dit in die Magaliesburg-gebied afspeel.)
Vir my is die plek waar ’n storie afspeel, van kardinale belang en word dit ook ’n karakter, want dit beïnvloed en vorm die karakters. Ek het baie jare gelede ’n TV-reeks, Skoolplaasstories, op Bekker-plaasskool naby Magaliesburg geskiet. Johann Bekker was klaarblykllik lank gelede hoof van die skool, van daar die naam.
Ek onthou hoe baie tonele ek daar in die veld en op plaasskole en klein dorpies moes skiet, en hulle het almal uit my onderbewussyn na vore gekom en hulle aangemeld vir die omgewing waar die verhaal afspeel, en waar die oorspronklike (ware?) storie ook afgespeel het. Het het vermoedelik werklik bestaan en het ’n groot invloed (dis my mening) op Johann Bekker en sy menswees gehad.
Voor in die boek dra jy dit op aan Johann Bekker en aan Het, die skoolmeisie wat alles geïnspireer het. Hoe skryf mens met vandag se blik oor ’n tydperk en ’n era toe alles anders was? Of wás alles so verskillend? Waar moes jy waarheidsgetrou bly en waar kon jy doodgewoon werk met die menslikheid van karakters wat in ’n ander tyd geleef het, maar steeds mense is soos mense vandag doodgewoon is en leef?
Ek het in daardie tyd grootgeword (ek was sewe in 1960), met die wonderlikste ouers, en baie van die menslikheid en dinge wat gebeur het, kom van hulle af. Die gesels vanaf die stoep. Die gaan stap smiddae. Die versugting om te gaan boer. Die waardering vir kos op die tafel en ’n werk doen waarvan hulle gehou het. (My ma was ’n onderwyseres van wie mense vandag nog in gloeiende komplimentêre terme praat.) Die klein dingetjies wat altyd vir my ma saak gemaak het, het my as mens gevorm. Hulle was grootliks daarvoor verantwoordelik dat sekere hoofstukke oor Doep en sy vrou geskryf is wat nie in die oorspronklike roman was nie, en ek het getrou aan alles wat hulle my geleer het, probeer bly.
Interessant dat jy die vraag vra, want Doep en sy vrou gaan Braamfontein toe om hul huweliksherdenking te vier, presies wat my ouers destyds gedoen het. Ek onthou Braamfontein en die omgewing waar ons destyds rondgeloop het, die His Majesty’s-teater wat my oorbluf en ademloos gelaat het. Hillbrow in 1960 was ’n soort rebelse paradys.
.........
My pa was deel van die administrasie van die Hillbrow-toring toe dit beplan en gebou is. Ek het baie hiervan self beleef, veral die inwyding van die toring met hom in sy belangrike pak klere. Daarom kom die Braamfontein- en stad-gedeeltes na vore, veral ter ere van my ouers. Dit kom so reg uit my kinderjare, en ek onthou die Blou Kamer waar ons geëet het, en hoe hoflik my pa was, en die feit dat hy en my ma my die eerste keer aan ’n fliekpaleis soos die His Majesty’s voorgestel het waar ons inderdaad Spartacus gesien het. Fantastiese herinneringe.
.........
My pa was deel van die administrasie van die Hillbrow-toring toe dit beplan en gebou is. Ek het baie hiervan self beleef, veral die inwyding van die toring met hom in sy belangrike pak klere. Daarom kom die Braamfontein- en stad-gedeeltes na vore, veral ter ere van my ouers. Dit kom so reg uit my kinderjare, en ek onthou die Blou Kamer waar ons geëet het, en hoe hoflik my pa was, en die feit dat hy en my ma my die eerste keer aan ’n fliekpaleis soos die His Majesty’s voorgestel het waar ons inderdaad Spartacus gesien het. Fantastiese herinneringe.
Het en haar broers is gevangenes van Floors Heiberg. Die vraag is wie Floors Heiberg was en hoe hy geword het wie hy is. Wat het jy van hom as karakter ontdek, of wat wou jy uitwys in die skryf van die verhaal? Niemand is ooit slegs boos of goed nie.
Floors het sy werk op ’n jong ouderdom op die spoorweë verloor as gevolg van sy drinkgewoontes. Dalk het hy potensiaal gehad. Hy het net moed verloor omdat hy as “armblanke” geklassifiseer is en nooit kanse gekry het nie.
Hy het destyds die pragtige Ragel ontmoet en haar gou swanger met Het gemaak. En van toe af was hy ’n gevangene van sy noodgedwonge huwelik en die kinders wat maar net altyd een na die ander opgedaag het omdat hy nie sy drange kon beheer nie.
Hy haal sy woede dus op hulle uit, want die drank en moontlik mishandeling deur sy eie ouers het van hom ’n halwe mens gemaak wat net met aggressie kon bereik wat hy wou, en wat nooit die waarde van sy kinders besef het nie. Dit omdat niemand ooit destyds sý waarde besef het nie en hom uit die huis geskop het om op die spoorweë te gaan werk. Dit verskoon nie wat hy gedoen het nie, maar dit plaas hom hopelik in konteks. Ek wou nie te veel aandag aan hom spandeer nie, want in die boek word bitter min oor hom gesê, behalwe wanneer hy moeilikheid maak. Ek het daarom probeer om ’n bietjie meer dimensie aan hom te gee.
Tog moet daar ’n protagonis en ’n antagonis in ’n verhaal wees. Doep du Plessis en sy vrou is die protagoniste. Doep is die soort onderwyser wat ’n kind in ’n skool behoort te hê. Iemand wat kinders ’n kans gee, al kom hulle uit haglike omstandighede, soos Het. Iemand wat raakgesien het wat binne Het skuil. Wat was jou gedagtes oor Doep terwyl jy oor hom geskryf het?
Doep, veral soos Pietie Beyers hom in die radioweergawe gespeel het, was vir my ’n hartskarakter. So ook sy vrou, gespeel deur Estel de Beer. Ek onthou dat luisteraars gereeld gereageer het en Doep “sexy” gevind het met woorde soos: “Ek wens ek het so ’n (sexy) onderwyser gehad”, terwyl Pietie hom glad nie as sexy gespeel het nie. Maar sy sagtheid, sy begrip, sy versiendheid, sy stryd teen die nare Erlank (wat ek dink ook dalk op ’n werklike skoolhoof gebaseer is wat Bekker se lewe bemoeilik het), en die feit dat Doep Het dikwels vergewe het en op die regte pad probeer hou het, het pragtig in Pietie se genuanseerde spel uitgekom. Ons het terloops ook baie privaat gesprekke oor die karakter van Doep gevoer. En as ek Pietie in my regie “kwaaier” en “strenger” probeer maak, het Pietie teëgeskop. Hy het gevoel dat ’n blote “Het! Ek praat nie weer nie!” ’n sterker invloed sou gehad het as ’n vloermoer. Doep is nie die vloermoertipe nie.
Ek het Pietie die hele tyd sy woorde hoor sê terwyl ek skryf. En ek het sy karakter baie uitgebrei, meer dimensies probeer gee, selfs selfverwyt en frustrasie omdat hy nie skoolhoof geword het nie. Ek wou ook die versugting na ’n kind by die Du Plessis-gesin probeer tuisbring. Het was vir Mart en Doep soos ’n eie kind, die kind wat hulle nooit gehad het nie, wat ’n sterker verantwoordelikheidsbesef na vore gebring het.
Interessant. In die oorspronklike roman het hulle twee kinders gehad, maar daar is sowaar net een keer na hulle verwys, op ’n terloopse manier. Ek het gevoel dat die feit dat die Du Plessis’s nie kinders kon hê nie en dus hul liefde en wysheid op Het sou fokus, dit ’n ryper storie sou maak. En indien daar kinders was, moes ons baie meer van Doep se invloed op sy eie seuns gesien het. Daarom het ek die karakters (seuns) uitgehaal.
Daar is ook ander karakters met wie hedendaagse lesers sal kan identifiseer. Soos Doors, een van Het se skoolvriende. Hy voer ’n stryd teen homself. Kom uit dieselfde omstandighede as sy, rook skelm en wil nie die verkeerde dinge doen wat hy aanhou doen nie. Hoeveel aandag gee mens aan newekarakters as mens ’n storie skep? Jy, wat ervare is met jare se stories wat jy skep. Hoe behou mens die fokus op jou hoofkarakter, hoe weet jy hoeveel aandag kry die res? Beplan jy dinge, loop jou stories organies?
Wonderlike vraag. Die newekarakters moet die hoofkarakter ondersteun, ’n invloed op haar (Het) hê en ’n rede hê hoekom hulle daar is. Hulle het net so ’n sterk funksie as die hoofkarakter en vorm en beïnvloed daardie persoon.
.........
Die newekarakters moet die hoofkarakter ondersteun, ’n invloed op haar (Het) hê en ’n rede hê hoekom hulle daar is. Hulle het net so ’n sterk funksie as die hoofkarakter en vorm en beïnvloed daardie persoon.
.........
Doorsie was in die boek net ’n komiese karakter wat agter die fietsloodse gerook het, niks meer nie. En hy was “dom”, en onderwysers het hom geslaan en eintlik mishandel.
Ek het myself die vraag gevra: Is Doorsie regtig dom (omdat hy rook? Ag nee, komaan!) en het toe geredeneer dat hy dalk disleksies is. Want in die hoërskool waar ek was, was daar ook ’n “spesiale klas” met ’n geweldig streng, onverbiddelike onderwyser wat genadeloos was en nie die moeite sou doen om uit te vind wat die kinders se probleme is nie. Ten minste, dit was my waarneming as 13-jarige gewees. Maar ek onthou net dat telkens wanneer ek by daardie klas verbygestap het, die rottanghoue neergereën het en die onderwyser geskreeu het.
Ek het gevoel Doorsie het net soveel potensiaal as Het. In die oorspronklike roman het hy maar net verdwyn of dampies gemaak of die inspekteur laat lag. Ek wou hê hy moes vir Het wys dat alles moontlik is, en my boodskap was: As jy die regte onderwyser, sielkundige of leiersfigure/rolmodelle het, soos hy in sy nuwe skool, wondere verrig kan word.
Ek wou ook ’n karakter skep wat die sagte kant van Het kon uitbring wanneer sy begin agterkom sy het gevoelens vir hom.
Mense het ook verkeerdelik aangeneem dat Het dalk lesbies kon wees, wat hoegenaamd nie so is nie. Vandaar Doorsie en die ligte soentjie wat sy op sy kop plant en haar gedagtes wat heeltyd by die een mens is wat van Het hou, veral vir wie sy regtig is, ’n meisie wat later ’n vrou sou word met haar eie lewe en wat moontlik die hoogste sport sou bereik.
Die skoolomgewing. Daar is baie interne politiek en ’n skoolhoof wat behep is met mag. Skole skep, in kinderboeke, sowel as in volwassene-literatuur, baie stof wat intrige kan meebring. Ek dink onafwendbaar aan jou eie Ballade vir ’n enkeling en die verbeteringskool daar. Praat met my oor die ruimte van skool in ’n storie.
Ek het ’n baie ongelukkige hoërskoollewe gehad, met ’n paar onverbiddelike onderwysers wat my om geen rede nie flenters geslaan het, veral omdat ek nie wiskunde verstaan het nie. (Onthou, enkeles.) My kop het nog altyd daar vasgesteek – my vrese vir die onderwysers (natuurlik nie almal nie) en die vernietigende invloed wat sommige op my ontwikkeling gehad het en my selfs uitgeskel het dat “daar nooit iets van my sou word nie”. Ballade vir ’n enkeling is ’n direkte uitvloeisel daarvan.
.........
My kop het nog altyd daar vasgesteek – my vrese vir die onderwysers (natuurlik nie almal nie) en die vernietigende invloed wat sommige op my ontwikkeling gehad het en my selfs uitgeskel het dat “daar nooit iets van my sou word nie”. Ballade vir ’n enkeling is ’n direkte uitvloeisel daarvan.
.........
Erlank kom nogal ook van daardie onderwysers met hul voosgeslaande rottangs af. In Bekker se roman was Erlank nog meer pedanties en verwaand en wreed en onverbiddelik. ’n Stommerik van ’n mens wat nooit naby ’n skool moes gekom het nie, soos sommige van my eie onderwysers. My onderwysers was darem nie almal so nie. Maar alles wat hulle verkeerd aan my gedoen het, het ek in Johann Bekker se karakterisering van Erlank gesien. Ek het baie rusies tussen hom en Het, asook sy gedurige geslanery, minder gemaak, sodat hy nie ’n karikatuur word waarop die skrywer/verwerker sy woede oor sy benarde mensweesl sou uithaal nie. Maar hy was soos Het.
Erlank is as seun met ’n swak selfbeeld self geboelie. Hy het homself in Het gesien, en het daardie deel van homself wat hy so verafsku het, in Het identifiseer en homself inderwaarheid masochisties gestraf wanneer hy haar foeter. En daardie verhewe manier van praat! Soos sommige van my onderwysers ook “gespreek” het. Ek het dit doelbewus pedanties en oorformeel gemaak soos ek dit destyds ervaar het, sodat die ander onderwysers (Scheepers, Mart, Doep) se manier van praat sagter en anders en meer mededeelsaam kon wees. Hulle moes ’n taal praat wat die leerlinge kon verstaan en wat inslag sou vind.
Jou storie is lewensvatbaar vir enige leser, maar ek kan dink dat lesers wat nog die TV-reeks sal onthou, die meeste genot hieruit sal put. Terwyl mens die storie lees, sien mens die storie voor jou afspeel. Was jy van kleins af geïnteresseerd in die silwerskerm en in die visuele manier van stories vertel? Dit is soos hierdie boek lees. Die leser gaan dit kan sién en dit op daardie manier kan beleef, al lees jy dit ook in woorde.
Omdat ek so baie draaiboeke geskryf het, en so in films belangstel, skryf ek nog altyd visueel. Sien ek die toneel voor my afspeel en wil ek hê die leser moet dit ook voor hulle sien afspeel soos ’n fliek. Ek was vandat ek kan onthou besete oor “die bioskoop” en die manier waarop ryk prentjies stories vertel, die kyker verryk en beïnvloed en selfs manipuleer. Fliek was ook my manier om van die skool te ontsnap, en het later ’n gewoonte en toe ’n obsessie geword.
.........
Omdat ek so baie draaiboeke geskryf het, en so in films belangstel, skryf ek nog altyd visueel. Sien ek die toneel voor my afspeel en wil ek hê die leser moet dit ook voor hulle sien afspeel soos ’n fliek. Ek was vandat ek kan onthou besete oor “die bioskoop” en die manier waarop ryk prentjies stories vertel, die kyker verryk en beïnvloed en selfs manipuleer. Fliek was ook my manier om van die skool te ontsnap, en het later ’n gewoonte en toe ’n obsessie geword.
.........
Die aktrise Antoinette Kellerman, wat saam met my op dramaskool op Stellenbosch was, sê nou die dag sy onthou dat ek altyd vir ’n bus of trein gewag het wat my na ’n fliek sou neem. Daardie prentjie was onuitwisbaar in haar geheue.
’n Volgende vraag oor jou werk in verskillende gedaantes van die kunste/media: Iets wat my geweldig baie interesseer, is hoe verskillend dit vir jou was om in drie verskillende gedaantes met dieselfde storie te werk. Met gehoor as radioverhaal, op ’n TV-skerm en visueel – en dan in boekvorm, met woorde wat alles uitstippel. Wat was jou ondervinding met al drie verskillende mediums? Vertel asseblief wat jy in elke geval moes doen en wat vir jou ooreenstem en verskillend was.
Moeilik. Elke gedaante/platform het sy eie reëls, en elkeen bring ’n ander faset van die storie uit. Ek hou daarvan om my aan daardie platform se reëls te onderwerp en te kyk wat dit met die storie maak. Ek dink die verwerkte roman bring dalk, as ek dit mag sê, die meeste van die karakters se innerlike goedheid en menswees uit, omdat ons diep in Het en ander karakters se koppe kon ingaan.
Met die radioverwerking het ek met ’n beperkte groep spelers gesit wat nie altyd beskikbaar was nie, daarom moes ek óm hulle skryf, wat die storie ander draaie laat gooi het. Sodra ek vat aan ’n karakter kry, moet ek die ontwikkeling staak, want so en so is nie beskikbaar nie, of daar is bloot nie geld om meer as vyf spelers per episode te akkommodeer nie.
Op radio het ek geleer om ekonomies en sterk gedissiplineerd te skryf en byklanke te gebruik om die storie te verryk of voller te maak en eintlik as ’n soort kamera te dien. Op TV loop ’n regisseur sy eie pad met jou teks. Op radio is die dissipline van slegs dialoog skryf ’n ander struikelblok. Daarom het die roman my die beste kans gegee om werklik lewe aan Johann Bekker se wonderlike karakters en storie en skeppings te gee. Ek eer hom ook vir die feit dat hy hierdie storie neergepen het. Ek wou net die dele verder ontwikkel wat hy nie dalk kon of wou nie.
Onthou, daar was ook ’n Carfo-film in 1962, Gee my jou hand, gegrond op die roman, maar ek het dit onlangs weer gekyk, en dit het net die seekoei se oortjies gestreel. En so hard gemoraliseer en gepreek dat die skakerings verlore gegaan het en karakters net goed of sleg was.
Uiteindelik is hierdie boek ’n boek van oorlewing. ’n Kind uit die mees hartverskeurende omstandighede wat nie net gaan lê het nie, maar wat moes voortgaan met ’n stryd – ook teen die einde. Die boek eindig nie sommer net stroopsoet en goed, alles goed, nie. Dit sou nie realisties gewees het nie. Dit raak wel die leser se hartsnare. Dit maak dat mens wens die storie kon nog voortgaan! Hoe laat die storie se einde jou uiteindelik voel? (Sonder om die volledige einde te verklap!)
Ek het die slot van Bekker se roman verander omdat ek wou wys dat Het die kanse wat na haar kant toe kom, gebruik, anders is sy bloot ’n stout kind wat ’n verbeteringskool verdien. Soos ek hom verwerk het, het ek berusting gekry in wat met Het gebeur, en het ek hopelik ’n geleentheid vir haar geskep om te vorder, te verander en die toppunt van die leer te bereik, want sy verdien dit. Sy was haar tyd baie ver vooruit. Ek wou die teelaarde skep vir Het die sakevrou wat dalk later uit haar sou ontwikkel.
Leon, wat vra mens oplaas vir iemand wat so ervare met stories in verskillende gedaantes kan werk? Vir iemand wat stories kan skep en herskep dat dit net reg op die oor of op die oog vertoon, of net reg lees dat dit hartsnare roer en mens nostalgies maak oor plekke waar mens nog nie eens was nie? Wat is jou geheim? Ek is ernstig – dis my vraag. Wat is jou geheim as jy ’n storie in jou hand kry – of is dit die karakters wat vir jou die belangrikste is? Ek kry die gevoel dis laasgenoemde – jy hou mos nie van ’n verteller wat buite die verhaal staan nie. (En soms word die storie die werklikheid, of hoe? Wil jy iets vertel van jou eie stryd met sig en ’n oogoperasie nadat jy onlangs ’n trefferradioverhaal oor blindes op die lug gehad het? Die vraag tussen hakies kan jy kies om te beantwoord, of ek kan dit uitlaat.)
.........
Die karakters kom altyd eerste, en uit hulle groei die storie.
.........
Die karakters kom altyd eerste, en uit hulle groei die storie. Dit is wat met Op die oog af gebeur het, my radioverhaal wat in ’n skool vir blindes afspeel. (Magtag, wat ’n wonderlike groep spelers – die meeste was onervare kinders wat vir die eerste keer voor ’n mikrofoon verskyn het!)
Drie weke gelede het my linkeroog my laserlens ingesluk en in die jellie agter my oog vasgehaak. Ironies vir iemand wat pas ’n storie oor swaksiendheid of blindheid geskryf het!
Ek het vir ’n week lank alles dubbel gesien voordat ’n wonderlike spesialis, dokter Peter Ambrose, na ’n lang operasie die beskadigde lens verwyder het en ’n nuwe een ingeplant het.
Daardie week van dubbel sien (toe ek steeds na reekse en films moes kyk om my resensies aan die gang te hou) het my geleer hoe belangrik dit is wat ’n mens as vanselfsprekend aanvaar. Jy kyk na iemand en daar staan twee mense voor jou langs mekaar.
Die ergste was om die autocue (papegaailens) vir Ontbytsake op kykNET te lees met dubbel visie. My wonderlike autocue-roller, wat die teks voor my rol, het die letters groter gemaak sodat ek dit maklik kon lees en my die teks ’n paar keer laat deurlees voordat ons dit opgeneem het. Dit was “paniekstasies”. Maar niemand (behalwe ons twee) het iets agtergekom nie!
Het gaan ook oor kortsigtigheid en nie raaksien wat om jou gebeur nie. Of om die moontlikhede en kanse wat na jou kant toe kom, mis te kyk. Of nie te waardeer wat jy het nie.
Ironies genoeg het dieselfde met my heldin in Op die oog af gebeur as met my. As ek haar karakter nou weer kon takel, sou die briljante Imari Oberholzer wat Emma gespeel het, ’n ander karakter gekry het terwyl ek in dieselfde situasie was, en nou eers verstaan wat haar tydelike blindheid aan haar gedoen het.
Die skryf van Het as roman was vir my ’n verrykende ervaring met die wonderlike samewerking van my geliefde uitgewer, Etienne Bloemhof van Tafelberg Uitgewers, wat versiende genoeg was om te vermoed ’n nuwe weergawe gaan werk. En wat my te alle tye aangemoedig het. Ook François Bloemhof wat geredigeer het en met sy skerp oog sekere dinge raakgesien het waaraan ek nog moes werk.
Lees ook:
Leon van Nierop oor Duiwelsroos by Momentum Beleggings Aardklop én Toyota US Woordfees 2023
Skermgreep: kykNET Silwerskermfees 2024 – ’n blik op die pas afgelope fees
Skermgreep: Die KinoBravo-filmfees 2024 in Rusland – 'n oorsig

