
Corné van Rooyen (regisseur), Tascha van der Westhuizen (vervaardiger), Leon van Nierop (filmresensent) en Pierre van Pletzen (akteur) by die KinoBravo-filmfees in Sotsji, Rusland. (Foto: verskaf)
- Leon van Nierop skryf gereelde filmrubrieke vir LitNet.
Om vir agt dae buite die stad Sotsji in Rusland die eerste KinoBravo-filmfees by te woon, was ’n unieke ervaring. Die hotel waar talle joernaliste, filmmakers en produsente van verskeie Brics-lande die fees bygewoon het, is geleë in die skilderagtige dorp Polyanna, 70 km buite die stad tussen pieke en die sneeubedekte toppe van berge.
Die vertonings het in die luukse Red Square-teater plaasgevind, met ’n goed ingerigte konferensiekamer waar filmmakers ná vertonings oor hul rolprente kom praat het, en joernaliste hulle vrae kon vra. Dan was daar ook ’n doodgewone fliekteater in ’n winkelsentrum waar die algemene publiek, hoofsaaklik Russe, gedurende die feesweek gratis na 20 rolprente kan kyk, 12 daarvan in kompetisie, van lande so uiteenlopend soos Hongarye en Suid-Afrika.
Interessant dat daar feitlik geen Engelstalige rolprente in Russiese fliekteaters wys nie, veral nie die jongste lokettreffers uit Amerika en Brittanje nie.
Suid-Afrika is verteenwoordig deur die veelbekroonde rolprentweergawe van Rudi van Rensburg se Hans steek die Rubicon oor. En alhoewel dit, te midde van strawwe kompetisie van veral Russiese rolprente, nie ’n prys gewen het nie, het die regisseur, Corné van Rooyen, in aanmerking gekom vir die prys as beste regisseur en die akteur Pierre van Pletzen as beste akteur, terwyl dit ook meegeding het in kategorieë soos beste redigering en musiek.
........
Waarop Suid-Afrikaners veral trots kan wees, is hoe ons deur die Russe ontvang is. Alhoewel hulle natuurlik baie meer ingetoë voorkom as ons (dikwels meer flambojante) Suid-Afrikaners, het hulle steeds die Suid-Afrikaanse rolprent lank toegejuig.
........
Waarop Suid-Afrikaners veral trots kan wees, is hoe ons deur die Russe ontvang is. Alhoewel hulle natuurlik baie meer ingetoë voorkom as ons (dikwels meer flambojante) Suid-Afrikaners, het hulle steeds die Suid-Afrikaanse rolprent lank toegejuig. En toe dit aan die publiek vertoon is, is veral Pierre en Corné oorval deur die gewone man op straat wat hulle wyd en syd aangeprys het vir “’n rolprent soos hulle nog nooit tevore gesien het nie”.
Om die waarheid te sê, Pierre is telkens in die straat en voorportale oorval deur bewonderaars wat uitgeroep het: “Hans! Hans!” terwyl hy vir tientalle foto’s moes poseer. Sy jovialiteit, vriendelikheid en die vreugde van akteur wees het veral geblyk in ’n perskonferensie wat hy en van die ander akteurs en rolverdelingregisseurs (casting agents) voor ’n gehoor gehou het.

Filmplakkaat: Hans steek die Rubicon oor
Pierre het, om die waarheid te sê, toe die gesprek oor akteurwees begin stol het, die toesprake in ’n nuwe rigting gestuur deur te noem hoe swak Suid-Afrikaanse akteurs betaal word, in teenstelling met die gespog rondom hom oor hoeveel akteurs in ander Brics-lande verdien, en die feit dat rolprente of TV-reekse waarin hy optree, dikwels herhaal word sonder dat hy vergoeding daarvoor ontvang. Die joernaliste en gehoor was verstom hieroor – veral regisseurs wat stewige begrotings kry waarmee hulle dan flambojante rolprente kan maak, in teenstelling met Hans se skamele R5,5 miljoen.
Eweneens het Corné van Rooyen hom uitstekend van sy taak gekwyt deur met gesag, vriendelikheid en toeganklikheid oor Hans se verfilmingsproses voor ’n vol saal van die pers en filmmakers kon praat, wat vir hom luide applous vir sy aanbieding verdien het. Dit veral vir sy 10 minute lange opsomming van waaroor Hans gaan, wat natuurlik dikwels onderbreek moes word vir vertaling in Russies.
........
Ons het inderdaad ’n stewige indruk op die Russe gemaak, tot so ’n mate dat die hoof van die gesogte St Petersburg Rolprentfees gedurende ’n perskonferensie opgestaan het en ten aanhore van almal vir Corné uitgenooi het om Hans steek die Rubicon moontlik in 2025 in St Petersburg in Rusland te vertoon!
........
Ander vervaardigers en rolprentmakers het dikwels met Corné kom praat, sommer impromptu gesprekke ook in die voorportaal oor moontlike koproduksies, en hoe hulle sy regie ervaar het. Ons het inderdaad ’n stewige indruk op die Russe gemaak, tot so ’n mate dat die hoof van die gesogte St Petersburg Rolprentfees gedurende ’n perskonferensie opgestaan het en ten aanhore van almal vir Corné uitgenooi het om Hans steek die Rubicon moontlik in 2025 in St Petersburg in Rusland te vertoon!
Daar moet bygesê word dat veral Russiese akademici, resensente en joernaliste nie maklik beïndruk word nie, daarom is dit des te meer merkwaardig dat Hans en sy span die fees stormerhand verower het.
Tascha van der Westhuizen, die hardwerkende vervaardiger van die rolprent, moet ook uitgesonder word. Saam met Corné het sy self gedurig genetwerk, aantekeninge op haar immer werkende rekenaar gemaak en knap kommentaar gelewer toe sy ook gedurende ’n gesprek ná die vertoning van Hans haar woord moes doen.
Sy het veral genoem dat ons inderwaarheid van die beste filmmakers, vervaardigers en veral tegnici en rolprentspanne in die wêreld het, en dit is hier weer eens bewys toe ’n mens geluister het na die vrae wat die joernaliste veral oor die tegniese aspekte en die verfilmingsproses gevra het.
Die lande wat aan die kompetisie deelgeneem het, sluit Thailand, Ethiopië, Hongarye, Egipte, Iran, Indonesië, Indië, Rusland, China, Serwië, Brasilië en Suid-Afrika in.
Die wenners van die eerste KinoBravo Filmfees was:
- Beste rolprent: Guardians of the formula (Serwië, wat Slowenië, Montenegro en Masedonië insluit)
- Beste regisseur: Karim Mohammad Amini vir Fossil uit Iran
- Beste draaiboek: Omar Hilal vir Voy! Voy! Voy! uit Egipte
- Beste akteur: Muhammad Farrag vir Voy! Voy! Voy! uit Egipte
- Beste aktrise: Usha Seamkhum vir How to make millions before Grandma dies uit Thailand
- Beste klankbaan: Sushin Shyam vir (The) Manjummel boys uit Indië
- Beste kinematografie: Boonyanuch Kraithong vir How to make millions before Grandma dies uit Thailand
- Beste spesiale effekte: Alexander Gorokhov se The wish of the fairy fish uit Rusland
- Beste redigering: The hijacking of Flight 375 uit Brasilië.
Die fees was so ’n sukses dat daar reeds planne gemaak word om die tweede een volgende jaar aan te bied, en dié keer na ander plekke uit te brei. Die jurie het bestaan uit agt jurielede, waaronder ’n Suid-Afrikaner, Michael Auret.
Dit was ’n voorreg om al hierdie mense te ontmoet, waar die jurie nadat die pryse uitgedeel is, na Pierre van Pletzen toe geloop het om hom geluk te wens met sy spel as Hans, en genoem het dat hy amper gewen het! Mag die fees van krag tot krag gaan!
KinoBravo is georganiseer deur die Russiese North Film Company in samewerking met Radio Monte Carlo.
Lees ook:
Skermgreep: kykNET Silwerskermfees 2024 – ’n blik op die pas afgelope fees
Press release: 11th European Film Festival in SA line-up announced
Hier.Na – ’n Silwerskermfees-film review van ’n Muslim Malay perspective