Eerste slukkie: Het van Verlangekraal deur Leon van Nierop

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.

Titel: Het van Verlangekraal
Skrywer: Leon van Nierop
Uitgewer: Tafelberg (2024)
ISBN: 9780624095538
Epub ISBN: 9780624095545

Boekblurb

Het Heiberg. Die weggooikind wat Verlangekraal se naam sou verewig. 

Sy was een van baie siele wat onder Floors Heiberg se verroeste bywonersdak gewoon het. Vanuit die uiterste omstandighede het sy steeds daarin geslaag om op akademiese en sportgebied te prestreer. Sy het dit gewaag om in opstand te kom teen ’n rigiede skoolsisteem wat geen rebelsheid of individualiteit sou duld nie. Net meneer Doep het tussen haar en die verderflike skoolhoof meneer Erlank gestaan.

Leon van Nierop se herbesoek aan dié geliefde en diep menslike verhaal wys vir die eerste keer Het Heiberg se kant van die saak. Wie in haar lewe saak gemaak het en wat in haar gedagtes omgegaan het. Dit vertal bowenal hoe sy oorleef het.

Het se storie speel af teen die agtegrond van ’n tyd toe Suid-Afrika ’n republiek sou word en groot veranderings sou plaasvind. En wys hoe ’n versiende onderwyser, ’n sadistiese skoolhoof en ’n seun in ’n spesiale skool haar net meer vasbeslote gemaak het om die leer na sukseks te klim.


Inligting oor die skrywer

Leon van Nierop (Foto: verskaf)

Leon van Nierop is ’n skrywer, TV-aanbieder, resensent, regisseur, rolprentnavorser, vervaardiger, radio-omroeper, rubriekskrywer en dosent. Hy is reeds vir 50 jaar in die bedryf en het begin as omroeper/regisseur by die SABC.

Hy skryf rolprentresensies vir verskeie publikasies, tans vir Rapport. Maar hy resenseer ook reekse wat gestroom kan word op RSG se oggendprogram Op en wakker as Stroomaf. Hy resenseer ook tans rolprente vir LitNet, onder die titel Skermgreep.

Sy TV-reeks Ballade vir ’n enkeling en sy vervolg is in die tagtigerjare gebeeldsend.

Hy het Ballade vir ’n enkeling en Wolwedans in die skemer se draaiboeke geskryf en albei rolprente was groot treffers. Hy het ook vyf TV-dramas geskryf en verwerk, onder andere CM van den Heever se Laat vrugte in 1984.

Die rolprentweergawe van Ballade vir ’n enkeling wen die Tempo-toekenning as beste rolprent in 2015, ook vir hom as medevervaardiger daarvan.

Van sy bekendste verhale is Stralerjakkers wat vir ses jaar as radioverhaal uitgesaai is, asook die jeugverhaal Ratels wat vir nege jaar op RSG was. Sy mikro-vervolgverhaal Hartebreker is vir agt jaar lank op dieselfde stasie uitgesaai.

Hy het vir 25 jaar rolprentontleding by TUT aangebied en was vir vier jaar hoof van die rolprentakademie, later die TUT Filmskool. Hy was ook professor in film aan die universiteit.

Leon het 40 romans geskryf, waaronder Moord op Lake Panic, Duiwelsroos, die Plesierengel-trilogie (wat hy in ’n eenmanverhoogstuk verwerk het) en Droomjagter. Ook vier akademiese boeke, naamlik Seeing sense: On film analysis, Movies made easy, Druk speel en ’n boek oor die geskiedenis van die Afrikaanse rolprent Daar doer in die fliek.

Dit is gebaseer op sy dokumentêre TV-reeks met dieselfde titel vir kykNET wat hy ook op TV aangebied het. Hy het Het van Verlangekraal as TV-reeks in 1984 verwerk, daarna as radiovervolgverhaal op RSG in 2022 en toe in ’n meer moderne roman verwerk. Sy radioverhaal wat in ’n skool vir blindes afspeel, Op die oog af, was ’n reusetreffer in 2024.

Hy doen steeds regie van radioteaters en vervolgverhale vir RSG, het ook twee vervolgverhale vir Maroela Media, Briekaandraai, geskryf. Hy bied rolprentresensies op kykNET se Saterdagoggend ontbytSAKE-program aan, fliektydSAKE, en gee gereeld lesings oor films en bied skryfskole aan. Hy was ook onlangs in Rusland waar hy vandaar verslag gedoen het oor die KinoBraVo-Rolprentfees.

Hy word in 1999 deur die reklamebedryf vereer met ’n spesiale medalje vir sy bydrae tot die rolprentbedryf in Suid-Afrika. Hy word in 2018 met ’n medalje van die Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer vir sy rolprentresensies, met spesifieke verwysing na die TV-reeks en boek, Daar doer in die fliek.

Hy wen ’n spesiale toekenning vir sy bydrae tot die TUT Filmskool in 2008. Ook ’n ATKV-veertjie vir beste dokumentêre radioprogram vir sy program oor die Afrikaanse rolprent in 2010. Daarna wen hy ’n ATKV-veertjie as beste regisseur vir die radiodrama Hirosjima, Mon Amour in 2011.

Hy wen die Caxton-toekenning drie keer as beste rubriekskrywer vir die reeks Sê amen in Vrouekeur. Hy was ook die naaswenner as beste skrywer van die RSG Radiodrama-skryfkompetisie vir sy drama Twyfelberg in 2009.

Sy boek Vuurvreter is in 2010 benoem as beste spanningsroman, terwyl Daar doer in die fliek ook vir ’n kykNET-Rapport-boekeprys benoem is.

Hy is in 2023 vir ’n Naledi-toekenning benoem vir sy verhoogverwerking van Plesierengel.

Hy werk tans (2024) aan ’n nuwe roman.


Eerste slukkie-uittreksel

Hoofstuk 5

Het Heiberg het vir Erlank fyn deurgekyk. Sy kon dadelik dwarsdeur hom sien. Sy sou later, hoeka in meneer Du Plessis se klas, ’n nuwe woord in die Afrikaanse woordeskat raak kyk. Grotesk. Dit, sou sy toe besef, is eenhonderd persent op dié nare, plankdun likkewaan van ’n mens van toepassing. Dis net so ’n moeilike woord om te sê. Dit maak eintlik haar mond seer. “Aaklig” en “mislik” is makliker. Maar die nuwe een het in haar kop vasgesteek. “Groteske monster!” brom sy onderlangs elke keer wanneer sy hom sien.

Sy het reeds soveel opdraande met haar pa – en van boere in die distrik wat haar as ’n laeklas-bywoner beskou en soms aftakelende woorde na haar toe skree wanneer hulle in hul bakkies verbyry. “Voertsek, jou bywoner-lieplapper!” Of een keer: “Armgat!” Maar sy het nog altyd haar kop regop gehou en verder gestap. Gemaak of sy hulle nie hoor nie. Maar altyd gedink: Ek sal julle wys. Ek sal julle almal eendag wys! Armgat is ’n baie lelike woord, het meneer Doep begin verlede jaar gewaarsku voordat hy waarnemende skoolhoof geword het. Van die leerlinge, veral daardie senuweeagtige meerkatgevreet van ’n Anna Louw, sou geskok reageer wanneer Het die woord, natuurlik uit skone moedswil, gebruik.

“Ons is nie armgatte nie, meneer.” Dan het meneer Doep gevra watter plaasboer dit vir haar geskree het, en die leerlinge verbied om daardie woord te gebruik.

Maar hier en daar het iemand dit tog in die verbygaan gefluister. Of wanneer sy van die bus afklim, is dit haar toegesnou. Toe dink sy: Woorde maak baie seerder as wat riemspring of rottanghoue op die hand ooit kan. Daarom het sy besluit om daarvoor te koes, soos wanneer haar pa haar met iets in die huis gooi. Deur dit te ignoreer, laat dit die woede wat daarmee saamgaan skadeloos by haar verbytrek, soos ’n ster wat verskiet.

Hoe dikwels het sy nie onder die sterrehemel gestaan en haar vergaap aan al die sterre nie. ’n Paar keer het sy ’n ster sien verskiet, dan wens sy sy kan daardie ster wees wat met so ’n blink stert agterna die ewigheid inskiet. Sy het ook al vliegtuie dopgehou wat na verre stede reis. As sy maar net eendag op een van hulle kan wees. Sy het gedink aan die advertensies in Rooi Rose, van ’n lugwaardin wat vriendelik ’n koeldrankie vir ’n sakeman in ’n pak klere en met ’n hoed op bedien. Die meisie glimlag so mooi. Hoe moet dit voel om so te glimlag en dit te bedoel?

Lees ook:

Het van Verlangekraal: ’n onderhoud met Leon van Nierop

Eerste slukkie: Die kontrak deur Erla-Mari Diedericks

Eerste slukkie: Meer as jou seerkry deur Johannes de Villiers

Eerste slukkie: "Die soldaat se vingerhoed wikkel en flits", ’n essay uit Tom Dreyer se Kodachrome, 90 flitse

Eerste slukkie: Platsak maak ’n plan deur Anneke Langner

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top