LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.
Meer as jou seerkry – groei as jy stukkend is
Johannes de Villiers
Tafelberg Uitgewers
ISBN: 9780624093428
Boekblurb
Hoe gaan jy aan as jy beroof is van die lewe wat vir jou kosbaar was? Die insig wat Johannes de Villiers verwerf het toe sy eie lewe uitmekaar geval het, is die inspirasie vir hierdie boek. Johannes gaan steek kers op by deskundiges en terapeute, maar ook veral by gewone mense wat deur die lewe platgevee is. Groei, vind hy, is nie om veerkragtig terug te bons na wie jy was voor dinge verkeerd geloop het nie. Maar jy kán dit oorleef - en selfs sterker wees.

Foto van Johannes de Villiers: verskaf
Inligting oor die skrywer
Johannes de Villiers is ’n skrywer en meditasie-instrukteur. Hy bedryf ’n jogaskool in Bloemfontein. Hy lei landwyd slypskole en naweekkursusse oor meditasie en mindfulness. Johannes was jare lank joernalis by Huisgenoot, Rapport en Die Burger, en ook voorheen dosent in joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch.
Eerste slukkie-uittreksel
In die 1970’s het William Sledge, ’n psigiatrieprofessor, navorsing gedoen oor Amerikaanse vegvlieëniers wat in Viëtnam deur hul vyand, die Viëtkong, gevange geneem en oor jare heen in haglike omstandighede gemartel is.
Mens weet seker nie hoe akkuraat Hollywood-flieks aldag is nie, maar as rolprente soos The Deer Hunter en The Hanoi Hilton hoegenaamd die werklikheid weerspieël, was dit jare van fisieke en emosionele foltering, vuil kos en elke denkbare vernedering. Die mans is uitgehonger en gereeld geslaan. Toe ’n aantal van dié gevange soldate ná jare in Viëtnamese tronke terugkeer, het die Amerikaanse owerhede hul families gewaarsku hulle sal só erg deur hul ervarings geskaad wees dat hulle nooit weer normaal sal kan funksioneer nie.
Die stories wat Sledge egter by die veterane gehoor het, was só onverwags dat hy by tye gevoel het asof hy watte in sy ore het en verkeerd hoor.
“Dit was ’n baie intense ervaring, ek het heelwat daaruit geleer,” was ’n tipiese respons van die mans. Hoewel 4% van die oudgevangenes simptome van posttraumatiese stresversteuring getoon het, het selfs meer van hulle vertel hulle is nou sterker mense as voor hul ontbering.
Talle het gefloreer. Een van dié mans, John McCain, sou in later jare ’n pre-sidentskandidaat in die Amerikaanse verkiesing word, en ’n ander, James Stockdale, ’n visepresidentskandidaat. In ’n kliniese studie het Sledge die mans wat in Viëtnamese tronke aangehou is, vergelyk met ’n groep soldate wat ook in Viëtnam geveg het, maar wat nooit gevang is nie.
Van die tweede groep het 30% berig hulle het tydens hul diensplig in Viëtnam geestelik en emosioneel gegroei, maar onder die voormalige krygs- gevangenes was die syfer dubbel so veel – 61% van hulle het hul tyd in die tronk as ’n groei-ervaring beskryf. Bid jou dit aan: 61% van die gevangenes het hul aanhouding as ’n groei-ervaring beskryf, teenoor 4% wat met posttraumatiese stresversteuring teruggekeer het.
Was daardie 4% die enkeles wat die ergste gemartel is? wonder mens. Nee. Sledge het bevind hoe langer ’n soldaat gevange gehou is en hoe erger hy gemartel is, hoe groter was die kans hy sou berig hy het danksy die ervaring gegroei.
’n Paar jaar later het twee ander Amerikaanse navorsers op iets soortgelyks afgekom. Richard Tedeschi en Lawrence Calhoun was twee sielkundiges wat ingesit het by steungroepe van ouers wat hul kinders aan die dood afgestaan het.
Ook hulle was verstom. Daar was geen tekort aan seerkry en hartseer nie, maar die ouers het vertel dat hul verhoudings met ander mense sedert hul kinders se afsterwe verdiep het en dat hulle opnuut begin voel het daar is ’n doel aan hul lewe.
Talle het nuwe projekte aangepak, soos om basketbal in arm buurte af te rig ter ere van hul gestorwe kind wat dié sportsoort liefgehad het. Uiteraard het almal gesê die groei kan nooit vir die verlies van hul kind vergoed nie, maar hulle kon ook nie ontken dat hulle in die proses wysheid en innerlike krag aangeleer het nie.
Dié navorsingsresultate was só ongewoon dat niemand dit aanvanklik wou glo nie. Tedeschi en Calhoun het hul navorsing onder ander getraumatiseerde groepe herhaal. Hulle het met oorlogsveterane, kankeroorlewendes en oudgevangenes gesels. Waar hulle posttraumatiese stresversteuring verwag het, het hulle keer op keer groei aangetref. In 1996 het hulle hul “posttraumatic growth inventory” gepubliseer, ’n databasis van bevindings wat só omvattend was dat niemand dit meer kon ignoreer nie.
Hul bevinding was dat minstens 50% van mense wat ’n traumatiese ervaring beleef, jare later vertel hulle het daarna gegroei. Dié groei gebeur selde dadelik ná die terugslag; mense moet eers lank rou en met die seerkry worstel.
Kommentaar
Nee, nou wil mens die res ook lees!
Dankie, dis nou 'n goeie boodskap van hoop in ons onsekere tye van eensaamheid, wanhoop en verwoesting in Suid-Afrika.
Ek gaan koop!