Eerste slukkie: Die kontrak deur Erla-Mari Diedericks

  • 2

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Oor die boek

Titel: Die kontrak
Skrywer: Erla-Mari Diedericks
ISBN: 9781776359967
Uitgewer: Romanza

Kort nadat haar verloofde haar met haar vrouebaas verkul het, ontmoet Marike die enigmatiese Brett. Brett is aantreklik, skatryk, en ‘n beroemde draaiboekskrywer. Daar is net een probleem: Sy is met ‘n kontrak aan hom verbind, een wat dit duidelik stel dat sy nie op hom verlief mag raak nie, maar dat sy mildelik vergoed sal word om sy minnares en muse te word. Hoe moeilik kan dit tog wees? Veral noudat sy besluit het om mans vir altyd af te sweer, en wild, wragtig en onafhanklik in die oomblik te leef. Maar die hart sluit sy eie kontrakte, ongeag wat die verstand vir haar voorsê. Soos Marike en Brett meer tyd saam deurbring, vat vonke tussen hulle vlam in passievolle oomblikke. Hul verhouding is ongekompliseerd, totdat hulle terugkeer van ‘n stomende vakansie in Mauritius en hulself in ‘n uiters netelige posisie bevind met ‘n kontrak van ‘n heel ander aard.


Oor die skrywer

Erla-Mari Diedericks is ’n joernalis, rubriekskrywer en outeur. Sy is al meer as 30 jaar ’n joernalis en het haar droom verwesenlik om vir byna elke publikasie in SA te skryf, waaronder Fairlady, Femina, You, Huisgenoot, Sarie, Rooi Rose, Idees, Tuis, Keur – en selfs Playboy. Sy het ook al geskryf vir Beeld, Die Burger, Rapport en Sunday Times. Sy het talle boeke op haar kerfstok – Sin, Sushi & Survival, Still Standing, V-Verhale, Seks, Leuens en die internet, Agter grendels, Dominique en Die bewonderaar.

Tans skryf sy rubrieke vir Netwerk24 wat dikwels die manlike geslag ontstig.


Eerste slukkie

Sy stap uit op die veranda. Oranje, geel en pienk strepe vleg soos helderkleurige spookasem deur die lug. Dit slaan haar asem weg. Dan vang iets haar oog aan die een kant van die stoep. ’n Jacuzzi borrelend reg vir ’n sonsondergang-en-vonkelwyn-sessie.

Marike kan haar oë nie glo nie. Dié man leef in totale weelde. En vir drie maande gaan sy ook ’n smakie hiervan kry.

“Hell, yeah!”

Sy begin rondomtalie draai . . . rond en rond . . . tot reg in die arms van ’n vreemde man.

Die man is mooier as die sonsondergang. Nee. Hy is mooier as die sonsondergang, die jacuzzi én die bloue see.

Hy dra ’n jean en ’n seegroen oopknoophemp. Fyn lagplooie kreukel om sy groen oë. ’n Effense stoppelbaard beklemtoon sy sensuele mond net nog meer. Swart hare krul in sy nek.

Dié songod gee ’n paar tree terug en bekyk haar op en af. Van die kroontjie van haar blonde krulle tot by die tone van haar klokkiesandale.

“Wow. Jy’s nou nie juis wat ek verwag het nie,” sê hy.

Skielik hoop sy uit die diepte van haar hart dié vent is nié Brett Bezuidenhout nie.

Want as dit is, hou sy al klaar net mooi niks van hom nie.

“Ek dink ek moet eerder my goed vat en loop,” sê Marike. “Ek is nie hier om beledig te word nie.”

“Ek is jammer. Ek het nie bedoel om jou in die gesig te vat nie. Dit is net dat Hendrik se smaak gewoonlik meer aan die gesofistikeerde kant is.”

Marika draai net daar om en stap so vinnig as wat sy kan voordeur toe terwyl die klokkies wat aan haar sandale vas is, verwoed klingel soos dié van ’n koei wat stal toe gejaag word.

“Hei, wag! Kalmeer!” keer hy haar. “As jy saam met my gaan werk, moet jy leer om jou nie so vinnig te wip nie.”

Sy kan voel hoe die volgende wip in haar opstu, maar sy hou haar in.

“Jy bedoel ek moet meer gesofistikeerd wees?” Sy spoeg die woord met sarkasme tot teen sy duur leerskoene.

“Wel, dit kan jou dalk net goed doen om minder soos ’n bedonderde blommekind op te tree. En hier het ek altyd gedag hippies is vredeliewend.”

“’n Hippie! O, ek is jammer! Moet ek eerder lyk soos jou tragiese heldinne met hul botox-voorkoppe en vullergepofte lippe?”

Hy vryf sy oë – vies, geïrriteerd. Hy is ooglopend nie daaraan gewoond dat iemand hom aanvat nie.

“My heldinne lyk beslis nie so nie.”

“Wat! Al jou heldinne lyk dieselfde! Ek het die afgelope week elke liewe rolprent gekyk wat jy nog ooit gemaak het, en dit is die een depressiewe besemstok ná die ander wat snikkend deur ’n man verlaat word.”

Sy kakebeen trek styf, en ’n spiertjie spring in sy wang.

Shit. Sy het te ver gegaan. Hierdie ou is haar nuwe werknemer, die man wat sy moet inspireer en al wat sy sover doen, is om te kritiseer.

Maar tot haar verbasing bars hy uit van die lag.

“Wat is so snaaks?” vra sy.

“J’y is,” antwoord hy. “Ek is een van die bekendste rolprentmakers in die wêreld, al my rolprente is benoem vir Oscars, waarvan twee gewen het, en hier kom jy en sê my heldinne lyk soos depressiewe besemstokke.”

Die man het ’n punt beet. Wat weet sy van die rolprentbedryf af? As sy haar werk wil behou, beter sy ’n wag voor haar mond plaas.

“Maar dan weer – my laaste twee rolprente het nie so goed gevaar nie. Dit kan wees dat jy ’n punt beet het. Dalk is die gehore verveeld. Wat het jy nog opgemerk oor my rolprente?”

Sy is half bang om haar mening te lug. Dalk is dit beter om stil te bly terwyl sy nou weer op goeie voet met hom is.

“Toe, spoeg dit uit, ek weet jy wil,” sê hy.

“Wel, waarom dra al jou heldinne swart satynnagrokke in die slaapkamer? Wie trek so aan as hulle gaan slaap?”

Hy lag.

“Verwag jy regtig my heldinne moet teddie-beerpajamas aantrek, of wat dit ook al is wat jy bed toe dra?”

“Wat laat jou dink ek dra teddiepajamas! Ek . . .”

“Wat dra jy dan bed toe?”

Sy haal diep asem. Sy het heel duidelik vir haarself ’n gat gegrawe.

“Ek dra niks bed toe nie. Dit voel meer gemaklik en natuurlik.”

Die oomblik toe die woorde uit is, is sy spyt. Sy kan sien hoe hy haar bestudeer. Dié keer met nuwe oë. Elk grein in haar liggaam kan voel hoe sy oë haar uittrek.

Hy stap nader en glip haar rok se bandjie van haar skouer af en streel met sy vinger oor haar ontblote skouer.

Sy is só geskok, sy beweeg nie.

“Natuurlike lig in die slaapkamer, kaal vel teen wit lakens . . . dit kan nogal ’n goeie toneel wees om te verfilm.”

Dan draai hy om en los haar net daar – roksbandjie nog halfmas oor haar skouer, haar vel aan die gloei waar hy haar aangeraak het.

Toe sy uiteindelik half verdwaas omdraai om te sien waar hy is, is hy besig om vir hulle albei vonkelwyn in te gooi.

Hy hou ’n glas na haar uit. “Sien, daar inspireer jy my al klaar. Kom sit hier op die bank, dan begin ons die aand op ’n vriendeliker noot.”

Sy neem die glas by hom en gaan sit op die punt van die bank, kniekoppe bymekaar, albei haar hande rondom die vonkelwynglas se steeltjie asof dit ’n swaard is.

Sy is nie van plan om toe te laat dat hy haar ontwapen nie. Al is hy ook hóé aantreklik.

Hy gaan sit langs haar op die bank.

“Ek het nie bedoel om jou ongesofistikeerd of ’n hippie te noem nie.”

“Jy het my ’n aggressiewe hippie genoem,” help sy hom reg.

“Ja, maar jy was aggressief.”

“Ek was glad nie . . .”

Dié keer is dit hy wat haar in die rede val.

“In elk geval. Ek het nie noodwendig bedoel jy is ongesofistikeerd nie. Eerder dalk kunssinnig.”

“Maar is kreatiwiteit dan nie wat jy nodig het in ’n muse nie?”

“Wel, wat my aanbetref, is ek die een wat kreatief moet wees met die muse as inspirasie.”

“Ek sien. En hoe is sy veronderstel om jou te inspireer?”

“Soos wat muses dit nog altyd gedoen het – deur hul teenwoordigheid, hul skoonheid, hul sensualiteit, hul energie.”

“Jy laat vroue soos seksvoorwerpe klink. Ons het idees ook, weet jy.”

Vir ’n oomblik kyk hy haar peinsend aan.

“Dalk. Ek weet net ek voel meer energiek en geïnspireerd in die teenwoordigheid van mooi vroue.”

“Vroue?” vra Marike. “Deur hoeveel muses is jy al?”

Hy het darem die ordentlikheid om verleë te lyk.

“’n Paar.”

“En almal raak verlief op jou?” vra sy.

“Wel . . .”

“Ek sal beslis nie verlief raak op jou nie,” antwoord Marike ferm.

“O, ja?” Hy lag. “Ek dink weer jy’s die tipe wat maklik verlief raak,” sê hy. “Jy’s ’n romantikus. En dalk selfs effens konserwatief.”

Vonkelborrels dwarrel in pure verontwaardiging by haar neusgate op en laat haar proes.

“Ek is beslis nié konserwatief nie!”

“Bewys dit.” Sy groen oë kyk nie een keer weg nie.

“Wat bedoel jy?” vra sy.

Hy begin om sy hemp se knope los te knoop. Hy is glad. Gespierd.

“Wat is jy besig om te doen?!”

“Soos wat lyk dit vir jou? Ek is besig om uit te trek.”

“Ek het nie besef ons gaan jou liefdestonele prakties uittoets nie!”

Vir ’n oomblik stol sy vingers op die laaste knoop.

“Dit, my liewe muse, is glad nie ’n slegte idee nie.”

Dan ruk hy sy hemp oop dat ’n knoop daar spat.

Dit voel of haar senuwees saam met die knoop oor die gladde vloer rol.

Hy staan op en begin doodluiters om die gordel van sy broek los te maak. Dan draai hy sy rug na haar en trek sy broek uit – dan sy onderbroek. Sy kan nie haar oë wegskeur van sy gespierde agterstewe nie . . .

Hy loer na haar oor sy skouer.

“Toe, kom jy? Jy is die een wat gesê het kaal is natuurlik. Of is jy tog wel so konserwatief as wat ek dink?”

En daarmee loop hy rustig na die jacuzzi, ’n beeld van ’n kaal man met ’n vonkelwynbottel in sy hand.

Weer vererg sy haar.

“Dit het niks te make met konserwatiwiteit nie.”

“Nou wat anders is dit dan?”

Hy glimlag waar hy nou in die jacuzzi sit en hou die bottel na haar toe.

“Toe, komaan, ek dare jou.”

’n Uitdaging. Die vervlakste man het haar uitgedaag. En sy kan nie ’n uitdaging weerstaan nie.

Sy sal hom wys. Sy het niks om te verloor nie. Geen man, geen kind, geen kraai. En ook geen haan wat hierna sal kraai nie. Sy maak haar sandale los en skop dit uit. Dan trek sy haar rok oor haar kop. Maar sy hou haar broekie aan.

Vir die wis en die onwis.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top