Heil die Leser!: Van liefde en van moord

  • 0

Boekomslae: Die moord op Liezel de Jager deur Anena Burger (Penguin, 2025); Tweede kans vir liedfe deur Malene Breytenbach (Lapa, 2025)

  • Nini Bennett-Moll skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.

1

Titel: Die moord op Liezel de Jager
Skrywer: Anena Burger
Uitgewer: Penguin Random House SA, 2025

Ek onthou as kind was ek versot op waremisdaadverhale en ek het veral dié van Patricia Cornwell en John Dunning verslind. Dalk is die woord versot hier effe uit wans – maar is waremisdaad nie soveel “beter” as die fiksie wat ’n skrywer uitgedink het nie? En uiteraard sê ek laasgenoemde met die grootste respek teenoor die slagoffers van hierdie gruverhale. Hierdie faksie verteenwoordig immers die gewete van die stryders vir geregtigheid, en dit sluit die skrywers daarvan in.

Die statistiek rondom vrouemoord (femicide) in Suid-Afrika is inderdaad ontstellend hoog en dit bly een van die ernstigste vorme van geslagsgebaseerde geweld; ’n nasionale krisis wat duisende vroue se lewens jaarliks eis, ondanks wetgewing en inisiatiewe soos die Nasionale Strategiese Plan teen Geslagsgebaseerde Geweld en Vrouemoord wat in 2020 ingestel is.

Oor die periode van die afgelope vyf jaar (2020–2025) het dit geblyk dat die koers van vrouemoord in Suid-Afrika vyf keer hoër as die wêreldgemiddeld is, met ’n kommerwekkende toename in moorde wat deur mans na/bekend aan die slagoffers gepleeg word. Insgelyks het skuldigbevindings tot onder 20% gedaal as gevolg van onopgeloste sake en swak polisiëring.

Binne die konteks van bogenoemde verskyn Anena Burger se boek, Die moord op Liezel de Jager. Burger is reeds 15 jaar ’n joernalis en is opgelei deur die beste joernaliste in die Media24-stal. Sy was redakteur van ’n streekskoerant en het ook joernalistieke dekking van talle ánder belangwekkende moordsake gedoen.

Daarom kan die belangrikheid van ’n boek soos Die moord op Liezel de Jager nie genoeg onderstreep word nie. Die moord op De Jager op 13 Oktober 2021 het vir jare lank lesers se belangstelling geprikkel, en met goeie rede. Haar man, Werner, het haar liggaam vroegoggend in die oprit van die pastorie in Dan Pienaarstraat 39, Amanzimtoti ontdek. Werner het die paniekknoppie na die beheerkamer van die alarmstelsel gedruk en ’n wag het op die gruvonds afgekom. Die afleiding is dat Liezel de Jager oorrompel en vermoor is nadat sy teruggekom het van ’n drafsessie saam met vriende. Niks op die misdaadtoneel is gesteel of vermis nie. Wat was die motief vir die moord?

.......
Burger se boek is ’n noodsaaklikheid – in ’n sober, dokumentêre styl weef sy die narratief rondom De Jager se moord aanmekaar. Selfs vir lesers wat nie die gebeure rondom die moord in die media gevolg het nie, ontvou die verhaal in ’n helder en op-die-man-af styl.
.......

Burger se boek is ’n noodsaaklikheid – in ’n sober, dokumentêre styl weef sy die narratief rondom De Jager se moord aanmekaar. Selfs vir lesers wat nie die gebeure rondom die moord in die media gevolg het nie, ontvou die verhaal in ’n helder en op-die-man-af styl. Daar is talle verwysings na die diskoers deur De Jager se ouers, Henk en Salomé van Zyl; vriende; gemeentelede; bure; en ook ander joernaliste wat betrokke was by die saak. En was dit nie ’n frustrerende saak nie! Eers meer as twee jaar later, nadat Ian Cameron van Action Society ingegryp het, het daar vordering met die moordondersoek gekom.

Op die 590ste dag sedert Liezel se moord slaan Action Society ’n harde hou en dien Ian Cameron ’n klag teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens by die menseregtekommissie in weens hul versuim om die moord te ondersoek, geen belangstelling toon nie en glad nie kommunikeer met belanghebbendes nie. (78)

Maar dit was steeds nie genoeg om die polisie te beweeg om hulle werk te doen nie.

Op Dinsdag 31 Oktober 2023 – twee jaar, twee weke en vyf dae ná Liezel se dood – nader Action Society en die waghond Ian Cameron, namens Henk en Salomé van Zyl, die hooggeregshof in Pretoria om ’n mandamus-bevel te bekom om só die polisie te verplig om Liezel se moord na behore te ondersoek. (83)

Op Donderdag 23 November 2023, drie weke en drie dae nadat die mandamus-bevel toegestaan is, slaan die polisie in die vroeë oggendure toe en arresteer die 45-jarige Werner de Jager by sy blyplek in Bloemfontein. Dit is seker nie vreemd nie; die gemeenskap het hulle vermoedens gehad, en gegewe die feit dat die meeste vroue vermoor word deur mans wat hulle goed ken, soos gades en minnaars, kom dit ook nie as ’n verrassing nie. Liezel se pa was immers ’n oud-polisiebeampte wat sedert dag een sy suspisies jeens Werner de Jager gekoester het.

Die moord op Liezel de Jager deur Anena Burger (Penguin, 2025)

Die boek lewer verslag oor al agt hofverskynings van bogenoemde beskuldigde, en die uitdagings daaraan verbonde om sy aansoek om borgtog teen te staan. Burger se boek is insgelyks ’n bevestiging van die krag van joernalistiek bó die polisiediens, wat ineengestort het en nie eers ’n moord, met net één misdaadtoneel, kon ondersoek nie. Alle lof ook aan Action Society en aan organisasies soos Operation Bobbi Bear en The Elders Voice KZN wat weer eens bevestig dat wanneer ’n gemeenskap saamstaan teen predatore en ’n powere regstelsel en só druk op die sisteem plaas, dinge uiteindelik ten goede begin gebeur. Cameron het ook alle kanale op sosiale media ingespan om landswyd – en internasionaal – mense attent te maak op die geregtigheid wat Liezel de Jager ná haar tragiese moord toekom. Anders het ook hierdie moordondersoek weens onbevoegdheid in obskuriteit verdwyn.

Burger laat val die soeklig meedoënloos op Werner de Jager, die moordbeskuldigde. Hy het ’n lang geskiedenis van psigiatriese steurnisse, het 12 keer probeer selfdood pleeg en by tye net spoorloos verdwyn. Soos die keer toe hy ’n paar dae na sy vrou se dood bedwelm in ’n suikerrietplantasie gevind is. Of die keer toe hy met snywonde aan sy polse en arms gevind is – asook die keer toe hy met gasbottels en ’n sak vol hamburgers elders gevind is. (Wie pak hamburgers in vir ’n selfdoodekskursie?) Hy het voorts beweer dat hy met lemmetjies deur ’n bende mans aangeval is. Nou ja, Werner de Jager se aberrasies ten spyt – die boek lewer kritiek op mense met sielkundige steurnisse wat deur byvoorbeeld ’n pastorie “beskerm” word met die geloof dat terapie, medikasie en ’n gesonde leefstyl sodaniges sal genees, maar dat die ware toedrag van sake, die ernstige waarskuwingstekens, misgekyk word. Skynbaar het Liezel de Jager dit oorweeg om van haar man te skei, maar deurgedruk met die huwelik – want sy was ’n predikant, en méér nog: die eerste vroulike predikant in die Noordkaap.

Die bisarre omstandighede rondom Werner de Jager het steeds bly ontvou. Op 15 April 2023 het hy roekeloos en nalatig bestuur op pad na Kroonstad en in ’n voertuig voor hom vasgery – en die dood van twee onskuldige vroue, Bernice Eales en Linda Cornelia Eales, veroorsaak. Hy het na bewering onder die invloed bestuur – en nóg mense is in die voorval beseer. Dit sou nie gebeur het as hy vroeër vasgetrek was vir die moord op sy vrou nie. ’n Saak van dubbele strafbare manslag is teen hom geopen; ’n insident, heeltemal onverwant aan die moord op sy vrou.

Alhoewel Werner de Jager tydens ’n eedsverklaring aan ’n polisiebeampte skuld op die moord van Liezel de Jager erken het, ook dat hy haar liggaam verskuif het en die indruk wou skep dat sy verkrag is, het hy in sy spore omgedraai en weer sy eie onskuld bepleit. Hy het navraag gedoen oor polisse wat aan hom sou uitbetaal by die afsterwe aan sy vrou. Verder wys sy slimhorlosie dat hy baie rondbeweeg het by tye van Liezel se dood, terwyl hy leuens vertel en beweer het dat hy geslaap het ten tye van die insident. Hierdie boek, as narratiewe joernalistieke beriggewing, laat talle vrae by die leser: Wie was die man met wie Werner ’n verhouding aangeknoop het? Is dit dieselfde stem wat hoorbaar is in die agtergrond toe Werner die ET Rapid Response se knoppie gedruk het? (1).

.......
As ’n samelewing saamstaan, gebeur daar inderdaad dinge – maar sonder die stem van vreeslose joernaliste soos Anena Burger sou dit nie moontlik gewees het nie.
.......

Hy is op 15 April 2024 in die King Edward VIII-hospitaal in Durban oorlede. Hy het na bewering selfdood gepleeg.

Was daar geregtigheid vir Liezel de Jager? Dis ’n retoriese vraag. In haar dokumentêre styl skets Burger die verhaal as ’n binneblik op dié moord, ook vir die slagoffers wat agterbly. Die boek is op talle maniere ’n triomf: eerstens, ’n triomf vir die rol van joernalistiek om ’n trae regstelsel te kon beweeg om hul werk te doen. Tweedens, die rol van burgerregteorganisasies, wat gelei het tot ’n deurbraak in die saak en dat Werner de Jager nie borgtog gekry het nie; en derdens, die rol van die “gewone” landsburgers wat die sosiale media ingespan het as wapen téén vrouemoord en hierdie kanker in ons samelewing sonder meer aangespreek het. As ’n samelewing saamstaan, gebeur daar inderdaad dinge – maar sonder die stem van vreeslose joernaliste soos Anena Burger sou dit nie moontlik gewees het nie.

2

Tweede kans vir liedfe deur Malene Breytenbach (Lapa, 2025)

Titel: Tweede kans vir liefde
Skrywer: Malene Breytenbach
Uitgewer: LAPA Uitgewers, 2025

Ek dek twee heeltemal uiteenlopende genres in die rubriek: eerstens, die meedoënlose joernalistieke beriggewing oor ’n grusame moord op ’n vrou; en dan, ’n Romanza waarin die leser ontvlug en weer aan die liefde wil glo. Al is dit suiwer fiksie.

Ek het al voorheen geskryf oor die voordele wat die lees van romanses inhou. Waarom is dit so gewild? Romanses is wêreldwyd die topverkoper as dit by fiksie kom. Dit is suiwer ontvlugting op steroïede. Die lesers weet die heldin gaan veilig wees – daar is ’n gelukkige einde en geen trauma sonder genesing nie.

Dan moet mens nie die voyeuristiese element vergeet nie. Vroue én mans lees romanses vir die stomende erotiese tonele; dis net ’n feit. Aanvanklik is die held ’n korrelkop, ’n halsstarrige alfaman, maar die leser weet: Hy gaan sy sagte en liefdevolle kant aan die vroulike protagonis wys; dis net ’n kwessie van tyd. Die heldin is inderdaad só spesiaal dat sy hierdie “onmoontlike” man kan tem.

Die afgelope paar jaar het die verskyning van romanses behoorlik op TikTok en BookTok ontplof. Dit is soos Netflix-binge, maar net die boekweergawe van laasgenoemde.

.......
Daar is heelwat te sê oor romanses se rol in stresverligting en die bevordering van geestesgesondheid. As subgenre van fiksie, bied die boeke ’n veilige ruimte waarbinne vroulike seksualiteit verken kan word, sonder die skuldgevoelens van “werklike” ervarings.
.......

Daar is heelwat te sê oor romanses se rol in stresverligting en die bevordering van geestesgesondheid. As subgenre van fiksie, bied die boeke ’n veilige ruimte waarbinne vroulike seksualiteit verken kan word, sonder die skuldgevoelens van “werklike” ervarings. En laastens help die boeke ook om empatie en verhoudingsvaardighede te bou.

’n Interessante tendens wat ek in onlangse romanses (soos die Romanzas van LAPA Uitgewers) waargeneem het, is die swaarder intellektuele lading wanneer dit by geskiedenis, historiese geboue en selfs argeologie of geologie kom. In Breytenbach se Tweede kans vir liefde maak Nikolas Demetriou, ’n professor, ’n studie van ou kerke in onder meer Siprus. Historiese geboue en die geskiedenis van die goudstormloop, asook ’n restourasieprojek op Kaapsehoop vorm die verhaalgegewens van Bets Smith se Droomwewer. En in ’n Man met ’n plan is Steffi se pa ’n navorser wat ’n studie maak van die Minoïese kultuur op Kreta, een van die katalisators wat die verhaal laat vloei. Hierdie leersame inligting lig die intellektuele peil van die romanses wat véél meer substansie aan die verhale bied as ’n blote romantiese – of erotiese – ontvlugting, en dit daag die stereotipes dat romanses blote leëkop-ontvlugting is kaalvuis uit.

Karla Malan is ’n prokureur. Haar dogter Estie is werksaam as ’n au pair vir die Demetriou-egpaar se twee kinders in Siprus en Karla is op pad daarheen om vakansie te hou.

Op die lughawe loop Karla per ongeluk in ’n man se bagasietrollie vas, min wetend dat dit Yiannis Demetriou, haar gasheer, se broer is. En Karla voel onmiddellik aangetrokke tot die man – soos dit later sou blyk, Nikolas Demetriou, verbonde aan die Universiteit van Kaapstad. Nik is besig om navorsing oor ou kerke in onder meer Siprus te doen.

.......
Breytenbach skep nie net ’n genietlike romanse nie, maar ook ’n slim reisverhaal met talle kleurryke en interessante inkledings. Dit is kennelik die werk van iemand wat eerstehands in Siprus was ...
.......

Breytenbach skep nie net ’n genietlike romanse nie, maar ook ’n slim reisverhaal met talle kleurryke en interessante inkledings. Dit is kennelik die werk van iemand wat eerstehands in Siprus was, en die verhaal is outentiek in stoffering en detail, soos die talle besienswaardighede, stalletjies en restaurante wat grafies beskryf word. Dit voel vir die leser of ’n gids hom of haar aan die hand op ’n toer deur die boek neem.

Die verhaal word gekenmerk deur talle onderstrominge: Estie is verlief op Yiannis se seun, George. Is dit net kalwerliefde?

En waarom het die aantreklike Nik ’n verhouding met Eleni, ’n meisie wat sy dogter kon gewees het? Karla dra nog die letsels van haar eks, Pierre, wat haar gelos het vir Candice, wat óók sy dogter kon gewees het. Dan is Eleni uiters kinderagtig en besitlik oor Nik, wat ’n skadu werp op Karla se verliefdheid op dié Adonis.

Ander karakters maak ook hul opwagting, soos die flambojante en wêreldbekende skilder, Theodora Zakariades, wat net oë vir Nik het. Haar broer, Savvas, besluit om Karla uit te neem: ’n “kuiertjie” wat amper noodlottige gevolge kon gehad het, was dit nie vir Nik wat haar kom red het nie ...

Tia Demetriou se broer, Jaco, gaan op sy beurt deur ’n moeilike egskeiding en besluit om af te saal by sus Tia en swaer Yiannis. Maar hy is ’n rokjagter wat sy visier op Karla het.

Breytenbach vermy die versoeking van oormatige versuikering en onrealistiese romantiese verwagtinge, en haar boek is werklikheidsgetrou. Die karakters kon “net sowel gewees” het, en die aanbod van die verhaalgegewens is eweneens realisties. Die skrywer weet hoe om interessante karakters te skep, prototipes wat mens so maklik herken in hulle warelewe-eweknieë.

Malene Breytenbach het al meer as 50 boeke die lig laat sien, en tog slaag sy telkens daarin om met kraaknuwe karakters en boeiende verhale die leser te verras. Daar is inderdaad ’n tyd en plek vir alles – om gekonfronteer te word met die Suid-Afrikaanse realiteite rondom vrouemoord, óf om te ontvlug in die liefdesverhale van ouwêreldse (dog moderne) kavaliers.

Lees ook:

Heil die Leser!: Narratiewe medisyne

Heil die Leser! Carpe diem! ’n Selfhelpboek en ’n romanse

Romantiese en erotiese fiksie in Afrikaans: variasies op ’n wenresep?

Boekevat met Deborah: Die moord op Liezel de Jager deur Anena Burger en Undone deur Michelle Roniak

Boekevat met Deborah: Moord en mooi woorde

Liefdesleuens deur Malene Breytenbach: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top