Romantiese en erotiese fiksie in Afrikaans: variasies op ’n wenresep?

  • 5

Foto’s: Die kontrak deur Erla-Mari Diedericks (LAPA Uitgewers); foto deur Annie Spratt (Unsplash)

Liné Loff gesels met Andrew Sutton oor sy LitNet Akademies-artikel “‘Haar grense is besig om te verskuif’: Die kontrak as nuwe romantiese fiksie en erotiese fiksie in Afrikaans

Hallo, Andrew. Baie geluk met die publikasie van jou artikel in LitNet Akademies! Hoekom het jy besluit om in jou navorsing op romantiese en erotiese fiksie te fokus? Dié genres word selde in formele of akademiese kontekste ondersoek.

Hallo, dankie vir die geleentheid en die publikasie. Ek het in my honneursjaar oor erotiese fiksie geskryf, spesifiek die kortverhaalbundel Bloudruk (saamgestel deur Tom Gouws, 1995) en in die verloop van die navorsing afgekom op ’n artikel oor romantiese fiksie en seksueledraaiboekteorie. Dit was interessant en nuut en daar is baie ruimte in dié onderwerpe vir verdere navorsing en nuwe toepassings. Van daar af het ek meer tekste ontdek en Die kontrak het op die regte tyd verskyn vir my artikel.

Ja, die genre word selde nagevors. Ek dink die rede daarvoor is dat navorsers nie die gepaste raamwerk of teorie het om die navorsing te loods nie. Soos ek genoem het, ek het tydens ander navorsing die regte beginpunt ontdek vir nuwe ondersoeke oor romantiese en erotiese fiksie. Ander genres of onderwerpe in die letterkunde, soos historiese fiksie, reisverhale of karakterstudies, bied meer moontlike kombinasies met die bestaande korpus teoretiese raamwerke, maar ek glo genrefiksie moet met die gepaste raamwerk of teorie benader word vir ondersoeke om sinvol te wees.

........
Ek dink die kategorieë wat Romanza nou op die voorblaaie plaas, dui aan hoe wyd die genre kan strek en hoeveel ruimtes en temas by die romanse-formule betrek kan word.
........

Hierdie stelling in jou artikel skakel met die titel: “Dit is duidelik dat Afrikaanse romantiesefiksie- en erotiesefiksiegenres se grense besig is om te verskuif.”

a. Watter veranderinge het jy bevind is besig om in dié genres plaas te vind?

Daar word soms meer openlik, meer eksplisiet en met meer variasie oor seks geskryf, nie net in die Stoom-reeks en Klaskamer-trilogie (deur Vita du Preez) nie, maar ook in ander liefdes- en romantiese verhale. Die eersgenoemde reeks word as meer eroties as die ander romantiese fiksie op die mark bestempel en dit is een van die aanduidings dat die genre besig is om te verander.

Ek wil ook noem dat Kleur en karamel (Analize Viljoen, 2022) die grense verskuif het en dat dit ’n wonderlike boek is. Ek hoop ons sien meer boeke oor gay of lesbiese karakters.

Ek dink die kategorieë wat Romanza nou op die voorblaaie plaas, dui aan hoe wyd die genre kan strek en hoeveel ruimtes en temas by die romanse-formule betrek kan word. Hierdie kategorieë (soos inspirasie en fantasie) sal ook lig werp op minder bekende temas en ruimtes en dalk die leser se eie leesgrense uitdaag en verbreed.

Daar is lesers wat iets mak wil hê en ander wat iets meer wild wil hê. Ek hoop die genre brei uit en dat uitgewers dit beskikbaar sal stel. Ek hoop ons sal in die toekoms byvoorbeeld beide Romanza-Plaas en RomanzaStoom-Plaas sien.

b. Wat dink jy is die rede(s) vir hierdie grensverskuiwings? Dink jy mense (spesifiek Suid-Afrikaners) se opvattings oor seks is besig om te verander en dat dit verband hou met hoe daar oor seks geskryf word of waarvoor daar in die genres ruimte is? Of is daar ander faktore wat jy dink hierby betrokke is?

Ja, ek dink opvattings oor seks het verander. Die ontwikkelings in die genre is ’n aanduiding daarvan. En ja, hoe daar oor seks geskryf word, maak ook ’n bydrae. Die genre-en-leser-verhouding is simbioties. Ek dink die genre verander om by te bly met hoe lesers verander, maar ook dat die lesers se opvattings verander aan die hand van wat hulle lees.

’n Ander faktor is die internasionale invloed. Romantiese en erotiese fiksie word regoor die wêreld in verskeie vorme gepubliseer en vandag het ons maklike toegang tot daardie tekste. Die bekendste hiervan is sekerlik Colleen Hoover en EL James se boeke. Fifty shades of Grey het merkwaardige veranderinge teweeggebring. Ons kan die boeke en films na hartelus kritiseer, maar dit verander nie die feit dat die reeks internasionaal miljoene kopieë verkoop het, lesers na die genre toe gelok het en ’n permanente merk op die genre gemaak het nie.

........
Fifty shades of Grey het merkwaardige veranderinge teweeggebring. Ons kan die boeke en films na hartelus kritiseer, maar dit verander nie die feit dat die reeks internasionaal miljoene kopieë verkoop het, lesers na die genre toe gelok het en ’n permanente merk op die genre gemaak het nie.
........

As ek kyk na die omslae van die romantiese fiksie wat in Afrikaans verskyn, let ek op dat dit dieselfde tipe karakters uitbeeld: wit, heteroseksuele karakters. Ek sou aanneem dat dit ’n resep is wat goed verkoop.

a. Dink jy hierdie resepmatigheid is geregverdig?

Ja. Dit dra by tot die ontspanningsaspek van romantiese fiksie. Die herhaling, eenvoudige taalgebruik en voorspelbaarheid wat die resep bied, maak die tekste maklik om te lees. Die stories moet lekker wees om te lees. Dit was nog altyd sentraal tot die genre en ek dink dit regverdig die resepmatigheid.

b. Is daar, volgens jou, ruimte in romantiese en erotiese fiksie vir ander grense om ook verskuif te word?

Ek hoop ons sien meer en meer eksperimente met ruimtes en, soos ek reeds genoem het, meer uitbreidings in die Stoom-reeks. Ek het al ’n paar romantiese- en erotiesefiksietekste uit die internasionale mark gelees en daardie skrywers maak gereeld gebruik van onkonvensionele ruimtes. Die hoofslaapkamer is prakties en bekend, maar die occassional stort, kar en strand is ’n welkome variasie op die verwagte verloop van gebeure. Ek dink die Stoom-reeks is ’n awesome bydrae tot die genre.

Ek sal ook graag ’n reeks oor ’n vriendekring wil sien. Soms lees jy ’n romanse en een van die randkarakters trek jou aandag en is wonderlik geskryf, en wil jy meer oor hulle lees, maar hulle word tot ’n mate agtergelaat wanneer die held en heldin hul gelukkige einde kry.

In jou artikel vergelyk jy Die kontrak deur Erla-Mari Diedericks met Fifty shades of Grey deur EL James. Wil jy dalk iets uitlig oor die bevindinge van hierdie vergelyking? Ook: Gegewe die groot sukses van die Fifty shades-boekreeks en -films, dink jy daar bestaan die gevaar dat potensiële lesers alle romantiese- of erotiesefiksietekste daarmee vergelyk en oor dieselfde kam skeer?

Ek dink vergelyking gaan ontstaan, veral met betrekking tot die kernelemente, maar skrywers fokus daarop om iets nuuts aan te bied. In die geval van die romantiesefiksie-resep word dit bewerkstellig deur nuwe kombinasies en meer afwykings en variasies aan te bied.

Soos ek genoem het, het die Fifty shades-reeks wêreldwyd ’n permanente merk op die letterkunde gemaak.

Ek het onlangs vir eerste keer The godfather gekyk en baie tonele herken omdat ek dit voorheen as nabootsings of verwysings in ander films en TV-programme gesien het. Dit was ongelooflik om die oorsprong van byvoorbeeld die bekende perdekoptoneel te sien en uiteindelik te weet dít is waar dit vandaan kom. Ek dink dieselfde gaan met romantiese fiksie en Fifty shades gebeur. Die boek se invloed gaan aanhou neerslag vind (soos dit reeds het) en lesers wat die verwysings raaksien, gaan vergelykings tref, maar daar gaan ’n tyd kom wanneer lesers net vaagweg bewus is van James se boeke en films en nie die vergelykings kan maak nie. Dit is nou maklik om alle tekste oor dieselfde kam te skeer, maar ek glo dit sal tot ’n einde kom. Dalk sal Fifty shades nog in die toekoms ’n hoeksteen (of boeksteen) van die romantiese en erotiese genres wees, of dalk ontwikkel die genres verder en bevind ons onsself in ’n post-Fifty shades-boekwêreld. Persoonlik hoop ek vir laasgenoemde opsie.

Lees ook:

“Haar grense is besig om te verskuif”: Die kontrak as nuwe romantiese fiksie en erotiese fiksie in Afrikaans

  • 5

Kommentaar

  • Chanette Paul

    Dankie tog! 'n Akademikus wat verstaan dat genrefiksie ook 'n belangrike deel uit maak van Afrikaanse literatuur. En boonop nie net speurromans nie, maar ook romantiese- en vermoedelik ander soorte ontspanningsfiksie. Dankie, Andrew Sutton.

  • Lees gerus Oor en Weer deur myself & Analize Viljoen vir grense wat geskuif word. In ons Oop Deure is ook tonele wat nog nie in Afrikaans beskryf is nie.

  • Analize Viljoen

    Baie dankie, ek voel geëerd dat Kleur en Karamel hier genoem word. In die twee boeke wat ek saam met Trisa Hugo geskryf het, is daar inderdaad ook temas van erotika en vriendskappe of vriendekringe. (Oor en weer, en Oop deure.)

  • "Ek sal ook graag ’n reeks oor ’n vriendekring wil sien. Soms lees jy ’n romanse en een van die randkarakters trek jou aandag en is wonderlik geskryf, en wil jy meer oor hulle lees, maar hulle word tot ’n mate agtergelaat wanneer die held en heldin hul gelukkige einde kry."
    Ek moet noem dat heelwat reekse oor 'n vriendekring al binne die groter konteks van die Romanza-reeks verskyn het. Dit is net nie so sigbaar nie, omdat dit as onderdeel van die groot geheel bestaan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top