Boekevat met Deborah: Die moord op Liezel de Jager deur Anena Burger en Undone deur Michelle Roniak

  • 0

Die moord op Liezel de Jager
Anena Burger
Penguin Random House South Africa
ISBN: 9781776391974

Undone
Michelle Roniak
Michelle Ferguson Books
ISBN: 9781990973994

  • Deborah Steinmair skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.
........
Waarom lees ons nog niefiksie? Die werklikheid, veral in hierdie uitdagende Jaar van die Slang in die Chinese horoskoop, is ontstellend genoeg. ’n Mens behoef fiksie om te ontsnap. En tog – om oor ander se smarte en dilemmas te lees kan ook ontvlugting bied. Soos my vriendin se oupa wou weet toe hy hoor van die Westonaria-sinkgate: “My kindjie, is ons ver genoeg?”
........

Waarom lees ons nog niefiksie? Die werklikheid, veral in hierdie uitdagende Jaar van die Slang in die Chinese horoskoop, is ontstellend genoeg. ’n Mens behoef fiksie om te ontsnap. En tog – om oor ander se smarte en dilemmas te lees kan ook ontvlugting bied. Soos my vriendin se oupa wou weet toe hy hoor van die Westonaria-sinkgate: “My kindjie, is ons ver genoeg?”

’n Mens vergeet so gou as tragiese gebeure nie ’n direkte impak op jou lewe het nie. Verontwaardiging vervaag. In 2021 is ’n jong dominee, Liezel de Jager, in haar oprit vermoor nadat sy die oggend gaan draf het. Haar ontstelde man het ET Rapid Response gebel nadat hy vroeër op hulle oproep, toe die alarm afgaan, geantwoord het dat alles in orde was. ’n Mens vergeet die klein, vernederende besonderhede soos dat haar broek op haar knieë was en sy met een van haar dogtertjies se speeltuinvurkies verwurg is.

Nou het Anena Burger, joernalis en vriendin van Liezel, die gebeure geboekstaaf: Die moord op Liezel de Jager. Dis nie maklik om te lees nie; die leser word hoogs ontstoke. Liezel se man, Werner, het gesukkel met geestesongesteldheid. Hy was ook, in Liezel se woorde aan haar pa, total ambisieloos. Hy het by ’n paar geleenthede met leuens en versinsels vorendag gekom, soos dat hy aangeval en met lemmetjies gesny is – terwyl sy wonde selftoegedien was. Hy het soms spoorloos verdwyn en meer as een keer probeer selfdood pleeg.

Hulle verhouding was gespanne, maar hy was ’n goeie pa en Liezel wou hom help. Sy het ook gevoel sy kan nie as predikant en huweliksberader ’n geskeide vrou wees nie. Volgens alle berigte was sy ’n lieflike, borrelende mens wat vir ander omgegee het, wat geleef het om mense te help en baie hard gewerk het. Daar was ook gerugte dat sy naby die punt van egskeiding was.

Die mees flagrante feit wat aan die lig kom, is die totale onverskilligheid, luiheid en onbevoegdheid van die polisiediens. Dit was ’n eenvoudige misdaadtoneel. Sy het haar teëgesit en Werner het skraap- en kneusplekke gehad. Tog is die forensiese bewyse nie na behore ingesamel en ontleed nie. Vir meer as twee jaar het daar absoluut niks in verband met die saak gebeur nie. Die outopsieverslag is nie uitgereik nie. Familie en vriende het gedurig navraag gedoen, maar vergeefs.

Tot Anena besluit het om Ian Cameron van die burgerlike beskermingsdiens se hulp in te win. Hy het vuur gemaak onder die polisie en die saak is deur ’n ondersoekeenheid oorgeneem. Werner is uiteindelik in hegtenis geneem, maar nie voordat hy vir nog twee vroue se dood verantwoordelik was nie – hy het vroeg een oggend, na bewering onder die invloed van een of ander middel, van agter in ’n motor vasgejaag. Met daardie saak het ook niks gebeur nie.

In die tronk het Werner vertel dat hy selfdood sal pleeg as hy borgtog sou kry. Borgtog is geweier en hy is in die hospitaal aan onbekende oorsake dood. Die vermoede is dat hy selfdood gepleeg het, maar ook daardie outopsieverslag is nie uitgereik nie. Natuurlik is alle sake teruggetrek na sy dood, en hy is met sy geheime graf toe, soos die gerugte dat hy in ’n verhouding met ’n man was en dat hy ’n medepligtige gehad het.

Nou ja, as jy niefiksie wil lees, moet jy jou versoen met oop eindes – al die legkaartblokkies word nie mooi ingepas om die prentjie te voltooi nie.

........
Die boek is uiters leesbaar en die leser kry ook ’n blik op Liezel as kind en jongmens. Wat ’n gebrek is, is dat ons geen insae kry in Werner se psige en verlede nie. Dis mos altyd die tergvraag: Hoe word iemand ’n monster?
........

Die boek is uiters leesbaar en die leser kry ook ’n blik op Liezel as kind en jongmens. Wat ’n gebrek is, is dat ons geen insae kry in Werner se psige en verlede nie. Dis mos altyd die tergvraag: Hoe word iemand ’n monster?

Ek het nog ’n niefiksieboek aangedurf, uit die stal van Melinda Ferguson: Undone deur Michelle Roniak. Die skrywer kom uit ’n bevoorregte agtergrond, maar soos ons weet, is alles nooit pluis in die paradys nie. Haar pa was ’n Oostenrykse playboy en haar ouers is geskei toe sy klein was. Sy het ook ’n jonger sussie gehad wat volgens haar pa die Oostenrykse gene geërf het: Sy was slank met ’n vlekkelose vel en gladde hare. Michelle was plomp met ’n probleemvel en verkeerdeveer-hare. Sy het altyd soos die lelike eendjie gevoel en van kleins af aan liggaamsdismorfieversteuring gely. Sy het haar spieëlbeeld gehaat. Sy het van jongs af gevraat-eet of gevas. Anoreksie, bulemie en alles tussenin het haar geteister.

Sy het ’n flirtasie met plastiese snykunde begin: eers haar borste op 21 en later Botox en vullers. Op 39 was sy suksesvol en gewild, maar steeds behep met liggaamlike volmaaktheid. Toe onderwerp sy haar aan ’n nip, tuck en liposuiging, wat egter lelik skeefloop. Daarna het sy nie weer ’n dag sonder ongemak en pyn beleef nie. Haar maag was té plat gestryk, sodat daar ’n rol vet bokant haar midrif ontstaan het, soos ’n muffin top. Haar arms en borste het opgepof.

Then my breasts started to literally balloon. Almost overnight, I went up three bra sizes and the pain was chronic. Then the fat started moving to the back of my shoulders and the crease between my breasts and upper arms, then down my arms, to the point where I developed a flab of skin along with a huge squidge of cellulite. And then, my neck.

Sy het dapper geveg, met ysere selfbeheer ’n marathonloper en ystervrou geword ten spyte van chroniese pyn. Haar gevolgtrekking is dat strenger wetgewing nodig is. Plastiese snykunde, reken sy, is so gewoontevormend soos heroïen. Dit buit jou swakheid uit en vernietig jou lewe en dis gebaseer op valse verwagtings wat deur die media en vervaardigers geskep word, onderskryf deur glansmense.

Uiteindelik het sy meer geld aan korrektiewe maatreëls bestee as aan die oorspronklike snykunde. Sy het die ironie daarvan besef. Sy het ’n eiesoortige stem en humorsin.

Ja, sy het uiteindelik vrede en heling gevind. “It’s all about rebuilding my relationship with myself – scars, saddlebags, fuller neck and all.”

........
Dis ’n dapper, eerlike verslag wat tot nadenke stem.
........

Dis ’n dapper, eerlike verslag wat tot nadenke stem.

Nou gaan ek weer stories lees.

Lees ook:

Boekevat met Deborah: The interpreters, saamgestel deur Sean Christie en Hedley Twidle

Boekevat met Deborah: Moord en mooi woorde

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top