Boekevat met Deborah: The interpreters, saamgestel deur Sean Christie en Hedley Twidle

  • 0

Boekomslag: The interpreters, edited by Sean Christie and Hedley Twidle (Soutie Press, 2025)

  • Deborah Steinmair skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.
.......
Dis ’n koor van uiteenlopende stemme, ’n skare hande van verskillende skakerings wat ’n tapisserie van ons gebroke land weef.
.......


 

The interpreters, edited by Sean Christie and Hedley Twidle (Soutie Press, 2025)

Titel: The interpreters: South Africa’s new nonfiction
Samestellers: Sean Christie en Hedley Twidle
Uitgewer: Soutie Press (2025)
ISBN: 9781037047831

Ek lees te min niefiksie, want stories verlei my altoos. Maar die membraan tussen die twee word al dunner. Soos Antjie Krog by ’n praatjie oor Die binnerym van bloed gesê het: Sodra jy ’n herinnering of gewaarwording neerskryf, word dit fiksie. Skrywers lieg die waarheid.

Ek het my dae lank verloor in die lywige bundel The interpreters. Dit bevat van die beste niefiksie van die 21ste eeu. Dis ondersoekende, skeppende joernalistiek uit die boonste rakke – daardie soort beriggewing waarvoor nie genoeg mense wil betaal om aanlyn te lees nie.

Dis ’n koor van uiteenlopende stemme, ’n skare hande van verskillende skakerings wat ’n tapisserie van ons gebroke land weef. JM Coetzee het – wat het ek verwag? – my omgeknikker met sy gebruiklike reguit eerlikheid in sy stuk, “Nieteverloren”:

The bitterness of defeated love. I used to love this land. Then it fell into the hands of the entrepreneurs, and they gave it a makeover and a face-lift and put it on the market. This is the only future you have in South Africa, they told us: to be waiters and whores to the rest of the world. I want nothing to do with it.

En:

A light grade of sorriness sits over the whole country, like cloud, like mist. But there is nothing to be done about it, nothing he can think of.

Hy mymer dat die inwoners van die Karoo deur die drie fases van beskawing gegaan het: jag en bymekaarmaak, pastoralisme en landbou. “Who would have believed that there were places in the world where in the space of a century or two man would graduate from stage one to stage two to stage three and then regress to state two.”

.......
Daar is wonderlike geskiedenis wat lees soos fiksie in die hande van bedrewe woordwewers ...
.......

Daar is wonderlike geskiedenis wat lees soos fiksie in die hande van bedrewe woordwewers, soos Lin Sampson se vertelling oor Billy Monk wat in die sestigs in Kaapstad se klubs foto’s geneem en die rou onderbuik van Kaapstad se naglewe blootgelê het. Hy is doodgeskiet toe hy ’n vriend wou verdedig in ’n argument oor meubels. Sy laaste woorde was: “Now you’ve gone ’n killed me.” Hy het nie geleef om die uitstalling van sy foto’s wat deur ’n Kaapse fotograaf by die Markteater gereël is te beleef nie, en nie geweet dat die Johannesburgse Kunsgalery ses van sy werke vir hulle permanente uitstalling gekoop het of dat die koerante dit hoog aangeprys het nie. Hy was 45 toe hy dood is.

 

Ewe meesleurend is Rian Malan se ondersoekende joernalistiek oor Solomon Linda, die Zoeloe-musikant wat, min of meer in die opname-ateljee, met die song “Mbube” (“leeu”) vorendag gekom het. Pete Seeger het dit later uitgereik as “Wimoweh” (“verkeerd gehoor”), maar dit was eers toe George Weiss dit vir The Tokens verwerk het dat dit vlamgevat het. Hy het die inkantasie behou, maar die wonderbaarlike melodie die middelpunt van die song gemaak en oorwurmwoorde daarvoor versin: “In the jungle, the mighty jungle, the lion sleeps tonight.” Die res is geskiedenis, wêreldwyd boaan die trefferlyste, in verhoogproduksies en flieks gebruik, oor en oor opgeneem. Linda het geen van die tantieme gesien nie, want hy het die song vir ’n appel en ’n ei verkoop. Hy is arm oorlede. Sy dogters het wel later gemakliker begin lewe. Malan het die geldspoor gevolg en dis fassinerend om te lees.

Dis die menslike, terloopse stories wat my aangryp eerder as die politieke verslaggewing. Nou ja, in hierdie land is alles politiek, maar die persoonlike invalshoek fassineer my. Soos Julie Nxadi se treffende “The end of a conversation”. Die verteller het saam met haar ma, die huishulp, in ’n buitekamer gewoon, maar het soos een van die gesin gevoel: Sy het op die werkgewers se skoot gesit en TV kyk. Eendag sit sy op die vloer en speel terwyl haar ma haar skoolrok stryk. Sy hoor die baas by die deur. Hy staan en huil dat sy vrou hom nie meer liefhet nie. Haar ma troos hom, en meer. Toe hy opstaan, knipoog hy vir haar en sê vir haar ma: “Don’t say anything to the kids.” En sy besef sy is nie een van die kinders nie. “I was not their kin.”

Artikels oor musiek, oor bands en songs, gigs en platemaatskappye is gewoonlik uitsonderlike leesstof, soos Roger Young se “Fresh fruit for rotten vegetables” oor die Durbanse groep Fruit ’n veggies. Hoor hoe sing hy in vrye vers:

At this hour, there is nothing insightful to say about their music; they’re hard, fast, destructively structured, stupidly pop punk, with the kind of lame Gogol Bordello small-town aspirations that are both cringeworthy and awe-inspiring. In short, these fuckers of various births are the most exciting, and most mystifyingly incapable, saviours that rock’n’roll has going for it right now. They’re joyful prophets of systematic abandon, the champions of regretful sex.”

In hierdie lywige bundel kan jy lees oor die sluiting van die Tygerberg-dieretuin, oor die “interpreters” van die titel wat by die Waarheid-en-versoeningskommissie blitsig moes vertaal, of eerder vertolk terwyl mense getuig. Dis ’n opname met ’n paar sprekers, en soos altyd sê Antjie Krog min, maar wat sy sê, staan uit. Sy vertel dat hulle nuwe woorde moes bedink. “Oortreder” was heeltemal te sag vir “perpetrator” en hulle het toe met “skender van menseregte” vorendag gekom.

.......
Daar is strippe. En vele meer. Dit eindig met ’n hou in die maag: Adrian Leftwich se vertelling “I gave the names”, oor hoe hy as bloedjong aktivis en bomplanter deur die Veiligheidspolisie in hegtenis geneem is, ondervra en ligweg opgefoeter is en in doodsangs soos ’n kanarie gesing het oor sy kamerade.
.......

Jy kan lees oor die Goodman-galery se hantering van die haat en protes wat opgevlam het rondom Brett Murray se skildery van Zuma se spies. Oor hoe die Weekly Mail Book Week se beplande gesprek met Salman Rushdie ná Satanic verses woede, haat en doodsdreigemente in Kaapstad ontketen het. Michiel Heyns skryf onderhoudend en met nostalgie oor “cottaging” in Kaapstad in die 1960’s. Daar is strippe. En vele meer. Dit eindig met ’n hou in die maag: Adrian Leftwich se vertelling “I gave the names”, oor hoe hy as bloedjong aktivis en bomplanter deur die Veiligheidspolisie in hegtenis geneem is, ondervra en ligweg opgefoeter is en in doodsangs soos ’n kanarie gesing het oor sy kamerade. Hy het name verskaf en in die hof getuig in ruil vir sy vrylating en deportasie na Engeland. Hy het ’n halflewe geleef tot ’n vriendin wat ’n terapeut is, eendag vir hom sê: “No. It was not okay at all. Whatever the pressures were, it was not okay to behave like that.” Hy vertel: “I know it seems unbelievable, but I had never previously allowed myself to admit that simple truth.”

The interpreters is ’n deurdrumpel van 487 bladsye. Dis soos ’n sloertoer deur ons geknelde geskiedenis en landskap. Ek kan dit nie hoog genoeg aanbeveel nie. 

Lees ook:

The interpreters: ’n kragtoer van nuwe Suid-Afrikaanse niefiksie

Boekevat met Deborah: Binnerym van bloed

Boekevat met Deborah: The Nicotine Gospel deur Sven Axelrad en Canary deur Onke Mazibuko

Boekevat met Deborah: Mevrou Smit se reëls vir goeie gedrag, An act of murder en Outopsietafel

Press release: Announcement of the winner of the Philida Literary Award in 2025

Under Nelson Mandela Boulevard by Sean Christie: a book review

Afrikaanse skrywers kraai koning in Engelse niefiksie

Commendatio: kykNET-Rapportprys vir niefiksie 2024

kykNET-Rapport-prys vir niefiksie 2023: Die Kaapse slawe (1652–1838) deur Eunice Visser

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top