
Die volmaakte moord
Leon van Nierop
Penguin Random House South Africa
ISBN: 9781776380831
Ontbloot
Marthé McCloud
Turksvy
ISBN: 9781037074394
- Deborah Steinmair skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.
Ek is lugtig vir boek- of enige ander snobisme. Lesers se demografie strek wyd en daar is behoefte aan allerlei soorte boeke, meer of minder literêr. Helaas is die grootste aanvraag na minder literêre boeke, en ons begaafde prosateurs moet hulle maar troos aan pryse en toekennings. My gevoel is: Solank mense lees, is daar hoop. En ek wil nie graag iemand se gunstelingskrywer soos ’n duif uit die lug skiet nie, sou ek die mag gehad het om dit te kon doen.
In elk geval het ek diepe respek vir enigeen wat die pot aan die kook kan hou met skryfwerk in Afrikaans. Dit wil gedoen wees, en om dit te doen moet jy jou vinger op die volkspols hê en jou nie opstêrs hou nie.
’n Skareliefling, so stel ek my voor, is Leon van Nierop. Ons het grootgeword met sy radioverhale soos Wolwedans in die skemer en sy smeulende TV-reekse soos Ballade vir ’n enkeling. Enkeling, vreemdeling, lig gedraai op die ligte kring … Nou skryf hy romans. Oor sy hygromans het ek my al uitgespreek, hoewel ek geen kenner van die genre is nie. Maar ek lees graag misdaadfiksie, en daarom het ek iets te sê oor Die volmaakte moord. Of “Moord aan boord”, soos dit op die agterplat beskryf word.
Dit speel op ’n passasierskip af, ’n plesierboot in die Verre Ooste. Dit het my oog gevang, want ek was onlangs op so ’n bootreis. Die mooi plesiersoekers en sonaanbidders was nie op my radar nie, of die deftige etes, vertonings en speletjies nie. Wat my bekoor het, was die gedurige nabyheid van die see: om vir tien dae jou eie balkon te hê wat uitkyk op die wye oseaan, om eiland en vasteland te sien verbyskuif, om snags die skuifdeur na die see oop te los en gesus te word deur water en wind.
Aan boord die Leonardo hou ons heldin, die forensiese patoloog Madelein Blignault, haar medepassasiers fyn dop. Sy is gewoond aan lyke en bewyse versamel. Sy is jongerig, enkellopend, nie onaansienlik nie, maar ’n werkesel: eensaam en in ’n groef. Onmiddellik vang die aantreklike, misterieuse kulkunstenaar Helmut Coleman haar oog, met sy netjies gesnoeide sout-en-peper-baard, sy stewige skouers, mooi kuite, silwer borshare en hipnotiese stem.
En daar lê my eerste probleem: Ek het as leser nie verlief geraak op Helmut nie. En dis nie omdat ek aan die ander kant van die draad wei nie; ek hef graag my ongeloof op. Ons hoor tot vervelens toe hoe aangetrokke Madelein tot hom is, hoe mooi hy vir haar is, hoe sy besig is om haar hart aan hom te verloor, hoe hy haar pols opjaag, hoe veilig sy by hom voel. Ons word meegedeel, eerder as toegelaat om dit self af te lei uit haar woorde en gedrag. En sy gedrag. As jy my vra, is hy ’n pedantiese poephol wat gedurig vir haar preek oor hoe sy moet ontspan en haarself weer moet vind. Uiters prekerig en voorskriftelik.
Nog iets wat my skuins laat opkyk: Die betowerende Helmut is, wanneer dit by seks kom, so terughoudend soos ’n hoërskoolmaagd. Telkens is hulle op die drumpel van die daad wanneer hy wegdraai en verduidelik dat die tyd nie reg is nie, dat dit besonders en onvergeetlik moet wees wanneer dit gebeur. My gevoel is dat hy haar soos ’n boek lees en soos ’n viool bespeel. Elders verwys ’n karakter ook na die soort man wat meisies uitlok tot net duskant fyndraai en dan onvervuld los. Huh? Sulke mans het ek nooit teëgekom nie. Maar wat weet ek.
........
Daar is ander ongure en eksentrieke karakters en ’n tergende raaisel aan die hart van die roman. Van Nierop het ’n uitstekende kop vir storielyne. Ek hoop Afrikaanse misdaadvrate gaan dit geniet.
........
Daar is ander ongure en eksentrieke karakters en ’n tergende raaisel aan die hart van die roman. Van Nierop het ’n uitstekende kop vir storielyne. Ek hoop Afrikaanse misdaadvrate gaan dit geniet. Ek wil nie meer verklap nie, behalwe om te sê dat ek reg was oor die identiteit van die moordenaar.
Omdat ek nog nooit gehou het van ’n gebrek aan subtiliteit nie, van skrywers wat vir my vertel so en so is ’n karakter en so en so voel ’n ander karakter oor hulle, en besonderhede wat met ’n hamer ingeslaan word, is ek lief vir digkuns. Mits dit dig is.
Ek het ook Marthé McLoud se debuutbundel, Ontbloot, gelees. Ek het opgehou om agterplatte te lees presies omdat dit voorskriftelik is en jou vertel waaroor die boek gaan en hoe jy dit behoort te interpreteer. Ek het eers nadat ek al die gedigte gelees het, agterop gelees dat dit ’n memoiresdigbundel is. Jeanne Goosen het gesê alles wat jy skryf, is ten minste ’n emosionele outobiografie. Dit het my opgeval dat die gedigte stories vertel – dit handel oor mense en oomblikke in haar verlede. Dis redelik gestroop en onopgesmuk en laat veel aan die verbeelding oor.
........
[E]k hou van poësie wat toevallig klink. Ek weet teen hierdie tyd dat dit harde werk verg, daardie terloopsheid. Hier is ’n digter met ’n houtoog en ’n aanvoeling vir metafoor. ’n Aangetrokkenheid tot die melankoliese; soos Leonard Cohen gesê het: "Some like it darker."
........
Ek is ’n leek en ek hou van poësie wat toevallig klink. Ek weet teen hierdie tyd dat dit harde werk verg, daardie terloopsheid. Hier is ’n digter met ’n houtoog en ’n aanvoeling vir metafoor. ’n Aangetrokkenheid tot die melankoliese; soos Leonard Cohen gesê het: "Some like it darker."
Sy identifiseer haar in die eerste gedig as die vis waaroor die bundel handel, “ontbloot / tussen die seewiere en koraalriwwe / van hierdie wêreld”. Sien jy wat ek bedoel: gewone, alledaagse taal wat iets net-net buite bereik vasvat.
Daar is soveel juwele: dae, maande en tye wat soos glippertjies deur hulle lywe gegly het, haar oupa wat lief was vir die grond en vir ’n ander vrou, wat ouma soos ’n drukspyker onder sy duim hou, wie se tong soms soos ’n bobbejaansleutel gegly het. Die kinders het deur hulle pa se vingers geglip en in hulle ma se greep beland. Sy het hulle vasgevat soos ’n potlood. Ook oor haar pa:
tussen Grabouw en Villiersdorp
was die sleutelbene
en blaaie van die berge
weggevreet
soos hy.
In haar truspieëltjie weerkaats haar grootworddorp, Stellenbosch, kneusblou.
Soos dié van elke hipersensitiewe kind was haar skooldae vreesaanjaend en stresvol. Sy word al kleiner, verteer haarself as ’t ware soos ’n Matriosjkapoppie. Soveel dinge was vreesaanjaend, soos skaapslag op ’n maatjie se plaas, die diepkant van die swembad, die man wat tussen twee dogtertjies op ’n krismisbed kom lê, verhoogvrees by die eisteddfod – tot sy haar hare begin uittrek. Haar broer se ken wat ná ’n val van sy fiets oopgeflerts is soos ’n wulpse rooi rok.
Sy het die soort kop wat in die oomblik ooreenkomste tussen dinge sien, een ding sien as ’n ander. ’n Digterskop. Sy was altyd ’n afloerder – vanuit die boom voor haar ouma se huis in Fort Beaufort het sy die mense by die Royal Hotel oorkant die straat dopgehou. Sy gee die dodelike verveling van kindertydse Sondae weer.
Geheime is by haar ingeboender
en sy verdrink onder hulle gewig.
Die dagboekblaaie waarin haar kinderjare vasgevang was, verbrand haar ouers in die agterplaas. Maar haar herinneringe kan niemand bykom nie.
Daar is ’n onsentimentele terugkyk op eerste liefde. Amper objektief en tog ook liries:
die wilde-esels op die heuwels snuif
met oopgesperde neusvleuels in die wind
en uit die spieël bo die pootjiesbad
tuimel die onthou van jou gesig
in die flikker-flik van kerslig
en dryf dan in die wierook weg.
Sy kyk terug op die dae toe hulle oë nog vol swane was.
Sy sien jare later ’n foto van ’n pedofiel op die internet en onthou net sy roosknopmondjie vol bye. Daar is skrams verwysings na geslagsgebaseerde geweld en sadisme. ’n Popklein porseleinteestelletjie word weggepak soos jeugliefde.
Daar is ’n oomblik van religieuse roeping, die ontmoet van haar man, wat later met sagte oë walgooi teen haar melankolie: “jy het vir ons en ons vir jou. / Moenie jouself saboteer nie.” Haar werk met verhongerde, verwaarloosde kinders met grondjiebotter-oë en gouestroopvelle.
Soos Bloubaard se vrou moes sy altyd weet wat agter geslote deure skuil, en in ruil vir haar weetgierigheid is sy tot as verbrand.
Die bundel eindig met ’n liefdesgedig:
ons someraande is nou ingekort
maar ons sal saamstap totdat
die nag soos ’n swart skulp
voor ons oopvou
Dis ’n kompakte, volgepakte bundel wat sing soos pyn. Dis ’n pluimpie vir Turksvy.
Lees ook:
Boekevat met Deborah: The interpreters, saamgestel deur Sean Christie en Hedley Twidle

