Gekkedag 2025: Om cool te wees

  • 0

  • LitNet het sy lesers uitgenooi om iets vir Gekkedag 2025 te skryf. Jy is ook welkom om iets te stuur! Lees Adéne Lotz se bydrae hier onder.

Vir my tiener

Jy roep weer uit die bad uit. Mamma kom sit by my.

(As dit so aangaan, dink ek, sal ek vir my ’n stoel moet indra, want ’n toiletsitplek is vir net so lank gemaklik.)

Mamma, gaan ons vir ons ’n vape koop? Want ek wil ook cool wees.

(My gedagtes skuif van ’n stoel na ’n bed, met ’n lappie op die voorkop.)

Liewers sigarette, sê ek. (Of probeer ek, want ek wil mos ook ’n cool mamma wees.) Want in my tyd was dit baie cool om te kan sê jy rook Camel Lights en daar is ten minste ’n ritueel aan verbonde. Julle kits-generasie sal nie verstaan nie.

Dit werk so:

Jy maak ’n beker koffie.

Sonder jouself af; ’n plekkie waar die wind nie waai nie.

Jy bemeester die kuns om ’n vuurhoutjie aan te steek; en ’n sigaret, sonder om te hoes.

Trek diep in en blaas die rook aandagtig uit, met jou bene in die lug en ’n beker koffie in die hand.

Besin oor die lewe en hopelik oor jou longe ook!

Jy is nog nie oortuig nie. Mamma, dis soos ’n stokkielekker.

Presies, sê ek. Jy loop en suig dit orals en dink nie meer aan wat jy doen nie, nie aan die mense om jou nie en ook nie aan jou longe nie. En wat kos die ding? R100 vir ’n weggooi-ene met 10 puffs, Mamma. Genade, gelukkig is jy klaar in die skuld, dink ek. Mens kan baie meer sigarette koop van R100 en heelmaand rook!

Het jy al aan drank gedink? vra ek. As jy dan nou ’n verslawing moet kies, kies tog ene waar jou orgaan homself herstel, probeer ek.

Jy antwoord verontwaardig. Mens moet 18 wees, Mamma!

En om te kan vape, vra ek? Die gemiddelde ouderdom is tussen 14 en 15 jaar wanneer kinders begin tjoef. Deur die genade het “ons” nog ’n jaar om te gaan, dink ek!

En verder, as jy die Boland-atletiekspan wil haal, kan jy nie jou longe opneuk nie.

Jaaaaa, Mamma, en ek wéét ook jy kan boude slaan vir die Springbokspan!

NS: Ek wil nie vir ChatGPT vra wat is ’n tjoef nie. Die woord en konteks moet my liewer vir nou ontgaan. Die lappie op my voorkop is al perspektief wat ek nou eers kort.

Lees Gekkedag 2025-bydraes hier:

Gekkedag 2025: ’n slang in die gras

Gekkedag 2025: Die hoogtepunt van wanhoop

Gekkedag 2025: Maak vol asseblief

Gekkedag 2025: By ampermoedverloor, ’n klippepad, slaggatpad en ’n bakkopslang verby

Gekkedag 2025: My man is ’n man met ’n plan (en hy sing soos ’n kanarie)

Gekkedag 2025: Om oor ’n swart hond te struikel

Gekkedag 2025: Dit is wat gebeur wanneer jy jou lyf jam hou ...

Gekkedag 2025: Jou humorsin

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top