
Foto: Pexels
- LitNet het sy lesers uitgenooi om iets vir Gekkedag 2025 te skryf. Jy is ook welkom om iets te stuur! Lees Mariska Ford se bydrae hier onder.
Dit is die lente van ’95 en hier en daar sien jy ’n PUK wat kaalvoet klasdraf. Ek is op pad van die Sielkunde-klas na die kafeteria om ’n Steri Stumpie vir middagete te koop toe ’n SR-lid my voorkeer in Lovers’ Lane.
“Is jy eerstejaar?”
“Ja,” antwoord ek.
“Gaan amfiteater toe. Jy moet deelneem aan die Uno Jam.”
Ek skrik en drafstap om te gaan aanmeld.
“Hierdie enetjie is lekker klein,” sê ’n ander SR-lid en druk my voor in die ry in.
“Wat gaan ons doen?” vra ek saggies vir die eerstejaar wat agter my staan.
“Hulle gaan kyk hoeveel mense hulle in daai Uno kan indruk. Dis ’n nasionale kompetisie.”
Die amfiteater is gepak en die lug is dik met die belofte van reën. Iemand praat oor ’n megafoon en toe ek weer sien, staan ek by die oop deur van die Uno.
“Lê jy daar,” sê die SR-lid en wys na die uitgeholde hok wat gemaak is vir ’n passasier se voete. Ek klim in.
“Maak jouself in ’n bondeltjie!” kom die bevel van buite.
Ek maak my oë toe en begin bid.
Ek onthou toe hulle die Uno se deure toemaak, was die enigste ding wat ek kon sien, ’n harige voet en die agterkant van ’n vuil denimkortbroek. Die dowwe reuk van Shield gemeng met sweet en die geruis van angstige asems sal my altyd bybly.
Ek het daardie dag my eerste klas gebank en na ’n lang stort vir die res van die middag in ’n fetusposisie op my bed gelê.
Dit is nou 30 jaar later en dit voel of ek weer in daai Uno gejam word. Ek lê in ’n bondeltjie onder werksverpligtinge, universiteitskostes, tieners, menopouse, familiekwessie en nog ’n spul ander ongenooide goed.
Dit is ’n kuns om hierdie gekkespul wat ons die lewe noem, te bestuur en soos ek terugdink aan die dag van die Uno Jam, kry ek perspektief.
As ek nie weet waarheen ek op pad is nie, gaan ek niksvermoedend meegesleur word! Dís wat die pad na die kafeteria my geleer het.
Dan is daar ook die traumatiese reuk van die sweet gemeng met Shield ... Dit sal my altyd herinner dat NEE ’n volsin is en dat gesonde grense nie daar is om mense aanstoot te gee of tevrede te stel nie, maar om my te beskerm en uit die jam te hou!
Lees Gekkedag 2025-bydraes hier:
Gekkedag 2025: By ampermoedverloor, ’n klippepad, slaggatpad en ’n bakkopslang verby
Gekkedag 2025: My man is ’n man met ’n plan (en hy sing soos ’n kanarie)

