
- LitNet het sy lesers uitgenooi om iets vir Gekkedag 2025 te skryf. Jy is ook welkom om iets te stuur! Lees Marietjie Steenkamp se bydrae hier onder.
Dis amper so drie maande gelede toe my ou handsome weer een middag, na ’n trippie “bosveld” toe, by die huis aankom. Hy het my met een van daardie “kom kyk gou wat het ek gekry”-stappies begroet. Ek het sommer geweet dat daar weer een of ander iets aan die broei was. Dit was ook nie anders nie. Met ’n triomfantlike aankondiging (net die gerol van die tromme het geskort) haal hy die koutjie met die twee kanaries uit die bakkie en hou dit soos ’n Wimbledon-trofee omhoog. “Jislaaik, maar dis lelike voëltjies,” sê ek. “Nee man, hulle moet so lyk. Frans sê hulle word so geteel en die ouens koop hulle net daarvoor,” is sy vinnige comeback.
Die mannetjie het so ’n windverwaaide kuif gehad soos ’n bekende Afrikaanse sanger (syne is seker ook so geteel), dink ek by myself. Ek was egter so besig om die lelike voëltjie te bekyk dat ek nie eers die helfte van ou handsome se storie gehoor het nie. Ook maar goed so, anders het ons net daar en dan ’n argument gehad.
Nou moes “ons” besluit waar die kanariehokkie teen die muur gesit moes word. Ek moes met die hokkie van een kant van die stoep na die ander stap en meet en pas terwyl hy van ’n distansie af, eers die kant toe en dan daai kant toe, korrel. Hy wou dit bokant die deur hê en ek aan die oorkant.
Onnodig om te sê dat ons NIE ooreen kon kom waar dit moes hang nie. Vir eers moes die hokkie maar van die dak af hang.
Toe ek die volgende middag van die skool af kom, kry ek ou handsome op die voorstoep, pens-en-pootjies op die tafel waar hy die kanaries voer, reg teen die muur wat ek aanbeveel het. “Frans was hier vandag en hy sê hierdie is net die regte plek vir die hokkie,” sing hy soos ’n kanarie. Ek hou maar my mond, want anders sou ek verseker niks anders as “ek het jou mos gesê” kon uitkry nie.
Lees Gekkedag 2025-bydraes hier:
Gekkedag 2025: By ampermoedverloor, ’n klippepad, slaggatpad en ’n bakkopslang verby

