Gekkedag 2025: Die hoogtepunt van wanhoop

  • 0

  • LitNet het sy lesers uitgenooi om iets vir Gekkedag 2025 te skryf. Jy is ook welkom om iets te stuur! Lees Nini Bennett-Moll se bydrae hier onder.

Gereed om die wêreld met sy manie en onnoselheid aan te durf, trek ek die voordeur agter my toe. Op pad supermark toe. Nou moet ek konformeer – óf as fool óf as charlatan. Dis my eksistensiële lot. Ek het my wollerige boot-pantoffels aan en gestewel en gespoor, soos Perrault se sprokieskat, gee ek die eerste tree. Maar o wee ... ek het vergeet hoe glad die sole is.

Ek voel hoe my voete vanself 70° buig en ek skaats vier trappe af, my rug stokstyf. Ek ski – ’n virtuose arpeggio. In my geestesoog sien ek dié toneel in ’n Tom & Jerry cartoon afspeel. Lizt, weet jy hoeveel keer jou Hongaarse Rapsodie nr 2 al gebruik is in Disney-films? Dink net hoeveel royalties jy daarop kon verdien het.

Einafok, ek moes drie tone verrek het in die balanseertoertjie om my balans te behou.

Ek hink aan na die hek, want my drang om te rook is sterker as my beseerde tone. Ek sou met ’n gebreekte voet ook aangeslof het winkel toe, sou dit daarop neerkom. Dit is bibberkoud; dit is só koud, mens kan ander mense se poepe sien, het ’n vriendin van my vanoggend opgemerk.

Maar die biometriese stelsel by die hek weier om my wysvinger te lees. BIOMETRIC MISMATCH, wys die skerm. Dis elke dag se storie. Is ek dalk (regtig) ’n alien? Ná vyf probeerslae laat die sisteem my eindelik deur. My bestaanskrisis verdiep: My eie vingerafdruk negeer die moontlikheid dat ek is wie ek beweer ek is.

.........
Daar is niks so depressing soos motiveringsprekers nie; hulle laat my soos ’n mislukking voel.
.........

Maar daar is hoop, die hoogtepunt van wanhoop. Ek het onlangs ’n dissipel van Emil Cioran geword – by verre die heuglikste gebeurtenis van my hele lewe. Cioran is sinoniem met eksistensialisme, nihilisme, pessimistiese filosofie, die absurde en selfmoord. En ja: Dit alles kikker die gemoed op. Dit is die onwaarskynlike antitese, die kontrakontrak van die lewe. Daar is niks so depressing soos motiveringsprekers nie; hulle laat my soos ’n mislukking voel. Dit is juis mense wat depressed is wat my opbeur, om dieselfde rede wat Goth-musiek ’n elikser vir die gemoed is. Oorlogsfilms het dieselfde genesende waarde: Dit gaan toe nie so sleg met jou soos jy gedink het nie.

By die till staan en wag ek op dieselfde idiotiese ritueel, een wat ek elke dag uitvoer. Dis ’n lang en vervelige lewe. Ek kyk wat in ander mense se trollies is. Die vrou voor my sit ’n boks 5ℓ wyn en ’n kaktusplant op die voerband neer. Net dit. Op ’n vreemde manier maak dit vir my volkome sin: Ek moet net uitfigure waarom.

Ek kyk rond. Daar lê ’n Lifebuoy-sepie tussen die lekkers op die rakkie voor die till – hartverskeurend, want iemand moes dit teruggesit het; die persoon het nie genoeg geld gehad om daarvoor te betaal nie. Hoe wens ek nie ek kon die sepie vir daardie gesiglose arme koop nie ...

Jirre, dis ’n horribale lewe.

’n Man pak sy mandjie uit: ’n bruinbrood en rol polonie. Urghh ... as jy die beginpunt van ’n polonie afskil, lyk dit kompleet soos ’n anus. Ek gril tot in my solar plexus.

“Smart’shoppa’card?”

Ek swipe en vra vir my karton sigarette. Die kassiere se naellak roes. Sy gee my ’n vuil kyk en ’n ánder, vreemde vrou loop agter die kiosk se toonbank in, na die deur van ’n toe kamer. ’n Stoorkamer? Waarom is dit juis my brand sigarette wat in die stoorkamer aangehou word? Wat gaan aan? (Sluit hulle dalk my ciggies in ’n kluis toe?)

“Cartoon,” roep die kassiere agterna, en die rug verdwyn in die geheime vertrek.

Die kassieres praat altyd van ’n “cartoon” sigarette, nie van ’n carton nie. Het ’n wakker leksikograaf al die woord opgeneem in ’n woordeboek? Suid-Afrikaanse slang op sy beste.

Nou vir die wag, en die tou mense wat my beskuldigend aanstaar. My cartoon is iewers weggesteek soos ’n skat in ’n Indiana Jones movie.

.......
Ek kon biljoene ander mense gewees het. Die legio transmutasies van wat/wie kon wees, is genoeg om van mal te word.
.......

Ek is moeg gedink. Waarom die lewe so ernstig opneem? Ek is, per slot van sake, ’n genetiese ongeluk. Die feit dat ek die sperm lottery gewen het en bestaan; die feit dat ek Nini is, is bloot die gevolg van toeval en willekeur. Daar is 70 biljoen moontlikhede vir chromosoombindings tussen twee ouers. Dis nou afgesien van die kans op ewekansige mutasie en rekombinasie. Hou voorts in gedagte dat 300 miljoen spermatoïede kompeteer om een ovum te bevrug en net een wen. Jy, ek, ons almal is ongelukke. Dis heeltemal random, niks goddelik daaraan nie. Ek kon biljoene ander mense gewees het. Die legio transmutasies van wat/wie kon wees, is genoeg om van mal te word. Met ’n antropomorfiese arrogansie kon ek my verbeel ek is spesiaal, uniek, enig; maar ek is nie so verwaand nie.

Uiteindelik bring die vrou my cartoon.

Ek betaal en hink terug huis toe.

Ek het vrede gemaak met als wat pla. Ek het vertrek op my eie hero’s journey. Ek is die absurde heldin van Sisyphus se mite, viva Camus, viva Cioran! Dankie dat julle my bevry het. Nou gaan ek blymoedig my rots bly stoot soos ’n miskruier sy bol drek en dié roetine daagliks met ’n carpe diem-sinisme herhaal.

Lees Gekkedag 2025-bydraes hier:

1 April 2025: Gekkedag-uitnodiging

Gekkedag 2025: Maak vol asseblief

Gekkedag 2025: By ampermoedverloor, ’n klippepad, slaggatpad en ’n bakkopslang verby

Gekkedag 2025: My man is ’n man met ’n plan (en hy sing soos ’n kanarie)

Gekkedag 2025: Om oor ’n swart hond te struikel

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top