
- LitNet het sy lesers uitgenooi om iets vir Gekkedag 2025 te skryf. Jy is ook welkom om iets te stuur! Lees Peet van Schalkwyk se bydrae hier onder.
Dit gebeur gereeld dat my kar se brandstoftenk amper leeg is, want ons het twee platsak studente in die huis. Dan maak ek maar weer vol sodra ek kan. Ek het al benoud geraak vir die dag as die kar heeltemal leeg is. Daarom het ek 2 liter petrol in die garage weggesteek.
Eendag kom ek met die kar van die dorp af. Ek het nie opgelet dat die brandstofmeter op leeg staan nie. Naby die huis sluk die kar en die enjin sny uit. Ek trap die koppelaar en met sy momentum loop die kar al stadiger, gelukkig tot by die huis. Die petrol is op. Maar gelukkig het ek mos ’n bottel petrol in die garage.
Maar net die leë bottel staan daar op die rak. Een van die kinders het dit natuurlik gebruik en my nooit gesê nie.
Daar is nou net een ding om te doen: Ontspan en gaan haal brandstof. Ek sit die bottel agter op my fiets se drarak en begin die 2 kilometer tog na die Bult-vulstasie.
By die vulstasie trek ek met my fiets langs ’n pomp in.
“Kan ek help, meneer?” vra David vriendelik.
“Maak vol asseblief,” sê ek ernstig en ek wys met my kop na die bottel agter op die fiets. Ek stoot my bril reg en bly sit op my fiets, net soos iemand wat te belangrik is om uit sy motor te klim.
David kyk my stip aan, vat die bottel, draai die prop stadig af en vra ernstig: “En hoe is die water en olie, meneer?”
“Nee, hulle is nog reg, dankie. Ek het gecheck,” sê ek en ek hou my houding. Ek kyk net vorentoe en tik verveeld met my vingers op die fiets se handvatsel.
Hy vul die bottel en draai die prop op.
Toe roep hy ’n ander pompjoggie: “Elias, kom help gou hier!”
En toe wen hy my met: “Kom maak gou die meneer se windscreen skoon!”
Lees Gekkedag 2025-bydraes hier:
Gekkedag 2025: By ampermoedverloor, ’n klippepad, slaggatpad en ’n bakkopslang verby
Gekkedag 2025: My man is ’n man met ’n plan (en hy sing soos ’n kanarie)


Kommentaar
Peet! Beste storie ooit! Dankie
Sê ek mos ook!