Francois Smith (1964–)

  • 0

Gebore en getoë

Francois Alwyn Harbin Smith (vernoem na sy oupa Smith) is op 15 November 1964 in die hospitaal op Aliwal-Noord gebore. Dit was die naaste hospitaal aan die plaas waarop sy ouers in die distrik Rouxville in die suidooste van die Vrystaat gewoon het. Hy is die oudste van vyf kinders (vier seuns en een dogter) van Hendrik en Grietjie Smith van die plaas Mispa.

Francois se eerste twee name is ou Fouché-name en die derde een is afkomstig van ’n grootoumagrootjie, Emily Harbin, wie se naam verewig is ná sy in ’n ossewa-ongeluk haar lewe opgeoffer het om haar babadogter te red, vertel hy aan Rooi Rose (Januarie 2015).

Sy pa stam uit ’n generasie Smith-boere wat sedert die 1850’s in die distrik Rouxville geboer het. Francois vertel in ’n e-pos aan LitNet dat sy pa ’n onwaarskynlike boer was. Hy het al sy BA Admissie-graad voltooi en sy plek was al by die Stellenbosse kweekskool bespreek toe sy jonger broer aan polio oorlede is. Hy moes dus noodgedwonge gaan boer. “Hy was uiteindelik ’n landbouer in hart en siel,” vertel Francois. “Hy het egter ’n boekeman gebly, deur Unisa onder meer Afrikaans 3 gedoen sodat hy kon skoolhou en het lang rukke op die naburige dorpe Afrikaans gegee om die pot aan die kook te hou.”

Hendrik is ook ’n gewese LP en ministeriële verteenwoordiger in die Vrystaat.

Francois se ma, Grietjie, was ’n kleuterskoolonderwyseres wat vir ’n paar jaar op Bethulie onderwys gegee het voordat sy getroud is “en moes help raap en skraap om uiteindelik vyf kinders groot te kry. My ma was ’n beskawende force majeure en die feit dat sy ons elke aand uit die FAK aan die slaap gesing het, het grootliks bygedra tot ons taalgevoeligheid. Ook natuurlik dat ons in ’n huis vol boeke grootgeword het.”

In ’n onderhoud met Jackie Pienaar-Brink (Vrouekeur, 24 Oktober 2014) vertel Francois dat ma Grietjie hulle nie toegelaat het om na enige radiostasie te luister waarop advertensies uitgesaai is nie: “My ma was baie kultuurbewus. Ek dink sy het enigiets kommersieel aangevoel as ’n bietjie common en gelykstaande aan die lees van fotoverhale, wat in ons huis verbied is en wat ons dus baie graag gelees het.”

Sy pa en ma het die Sotho-taal in hulle kinders ingeplant: “My ma het Sotho met die werkers gepraat en die kinderoppassers het Sotho met ons kinders gepraat.”

Mispa is steeds in die familie se besit. Sy pa boer egter nie meer nie en verhuur die grond. Die Smith-gesin is egter baie geheg aan hierdie familieplaas en probeer om gereeld daar bymekaar te kom.

Die vyf Smith-kinders is besonder naby aan mekaar. Die een broer, Charles, is ’n joernalis en is ook ’n woordmens. Die ander twee broers, Hendrik en Chris, is grondmense (landboukundiges) en hulle suster, Hanneke (die jongste) is ’n sielkundige in palliatiewe sorg.

Francois vertel verder dat omdat hulle van die plaas gekom het, hy noodgedwonge van sub A (graad 1) koshuis toe moes gaan en dit was vir hom “skrikwekkend”. “Ek onthou van my eerste skooldag dat ek nog nooit soveel wit mense bymekaar gesien het nie (en dit was maar ’n piepklein skool). Eers heelwat later het ek agtergekom hoeveel dit my ma verwond het dat ek op so ’n jong ouderdom van haar moes weggaan koshuis toe, selfs meer as vir my.”

Op skool was Francois ’n baie goeie leerder – een wat goed gevaar het in sowel tale as die wetenskappe. Hy het ’n baie goeie wetenskaponderwyser gehad in die persoon van Ria Krause – “heeltemal onkonvensioneel maar met só ’n groot greep op my denke en verbeelding dat ek heeltemal teen my draad in ingenieurswese gaan studeer het”.

Francois vertel aan Johan van Zyl (Netwerk24, 9 Augustus 2020) dat wanneer hy terugdink, hy besef dat sy ma die vroegste invloed gehad het op sy skryfwerk: “My ma, wat vir ons kinders elke aand met bedtyd uit die FAK gesing het, dis die eerste een. Daaruit kom my twee oertekste, die Vrystaatse volkslied en ‘Die dood van oupa uil’. En in daardie blootstelling wat ek – ons – by my oorlede ma gekry het, kry die begrip ‘moedertaal’ vir my beslag, in die omvattendste en innigste sin van die woord.”

Francois het sy tweede roman, Die kleinste ramp denkbaar, aan sy pa, Hendrik Smith, opgedra en hy verduidelik aan Van Zyl: “My liefde vir my pa het iets te make met my liefde vir hierdie land en sy hele boel beklotterde mense.”

Hy matrikuleer in 1982 aan die hoërskool op Rouxville.

Verdere studie en werk

Ná matriek is Francois na die Universiteit Stellenbosch, waar hy ingeskryf het vir ’n graad in siviele ingenieurswese. Hy het besef dat hy net as hy ’n beurs kry verder sou kon studeer aangesien sy pa nie vir hom sou kon betaal nie, verduidelik hy sy keuse aan Murray la Vita (Die Burger, 18 Julie 2014). Hy is toe met ’n WNNR-beurs universiteit toe. “Ek het op Stellenbosch baie vinnig agtergekom dit was ’n ontsettende groot fout en dat ek eintlik in boeke en goeters belang stel. Maar daar sit ek toe. As ek opskop, moet ek die beurs terugbetaal. Toe moet ek deurdruk. Ek het toe ingenieurswese klaargemaak.”

Die jaar daarna is hy weermag toe en het hy tydens sy opleiding aan Unisa vir ’n BA-graad met literatuurwetenskap en Afrikaans-Nederlands as hoofvakke ingeskryf. Ná sy weermagopleiding het hy by die WNNR begin werk om sy beurs terug te betaal en dit tot sy verrassing nie as ’n tipiese ingenieursomgewing ervaar nie. Hy het hom tussen “ou verstokte navorsers, nuwe interessante breine en hoogs eksentrieke mense op die ontwikkeling van die verbeterde geventileerde putlatrine toegespits,” vertel hy aan Jackie Pienaar-Brink.

“Vir my praktiese ervaring het ek ’n maand lank in ’n township in KwaNdebele gebly. Dit was wonderlik. Baie mense het Pedi, wat aan Sotho verwant is, gepraat. Ek onthou hoe ’n sloot in ’n stadium voor ’n taverne gegrawe moes word en daar ’n stryery tussen die pikslaners en die vroegoggenddrinkers uitgebreek het. Kort voor lank het hulle mekaar met kluite gegooi. En onmiddellik toe hulle begin vloek, toe vloek almal in Afrikaans.”

Nadat hy sy beurs aan die WNNR terugbetaal het, het Francois tot die onderwys toegetree en het hy wiskunde en Afrikaans aan die Hoër Tegniese Skool in Sasolburg gegee. “Ek is werklik aan die diep kant ingegooi,” vertel hy aan Pienaar-Brink. “Ek was byna 30. Dit was my eerste skoolervaring en om in ’n tegniese skool taal te gee … Daai jaar was erger as die weermag.”

Die volgende jaar was hy onderwyser aan ’n akademiese skool in Aliwal-Noord, waarna hy Kaapstad toe is – agter die vrou aan met wie hy toe getrou het. Hy is na die Universiteit van Kaapstad om sy honneursgraad voltyds in Afrikaans te verkry. Hier het die geleentheid hom voorgedoen om vir drie maande in Gent in België te gaan studeer. Oor die ervaring sê hy: “Dit was ’n wonderlike blootstelling aan Europa en ’n stuk kultuur. Ek het myself gedwing om in alle gesprekke Nederlands te praat, wat my gehelp het om taamlik vertroud met Nederlands te wees op ’n vlak wat ek nie andersins sou regkry nie.”

Met sy terugkeer na Suid-Afrika is Francois na Die Burger, waar hy vir twee jaar in die nagkantoor gewerk het. Dit het hom gepas, aangesien hy toe deeltyds aan sy M-graad kon werk. Daarna word hy die kunsredakteur, voordat hy as boekeredakteur aangestel is. Hy het egter besef dat hy nie genoeg tyd het om ook aan sy doktorsgraad te werk nie en het bedank. Hy het op ’n kontrakbasis by Tafelberg-Uitgewers begin werk, waarna hy sy vryskutloopbaan begin het.

Nadat sy eerste huwelik in die skeihof geëindig het, is Francois in 2005 met Lisbé Smuts, ’n dosent aan die Universiteit van Kaapstad, getroud. Hulle het hulle op Wellington gaan vestig. Drie maande na hulle getroud is, is Lisbé een oggend in hulle huis vermoor. Hy verduidelik aan Pienaar-Brink van Vrouekeur hoe hy daarna vir maande alleen in hulle huis gebly het en hom totaal verdiep het in sy studies vir sy doktorsgraad: “Dit was ’n verskriklike tyd vol vertwyfeling en spookbeelde, seker ’n soort van traumatiese reaksie.”

Hy het al sy besittings Vrystaat toe gestuur en hom vir ’n paar maande in die huis waar sy oupa-hulle gebly het toe hy ’n kind was, gaan afsonder: “Deel van verwerking van die trauma was die afsondering. Ek het net gelees en probeer konsentreer en aan my doktorsgraad gewerk.”

Hy het egter besef dat hy nie sommer so onbepaald in die Vrystaat kan bly nie en dat hy weer ’n inkomste moet kry. Só is hy terug Kaapstad toe, waar hy sy vryskutloopbaan as uitgewersredakteur hervat het.

Oor sy werk as uitgewersredakteur verduidelik Francois aan Murray la Vita dat hy meen die beste ding wat hy met sy lewe kan doen, is om te skryf: “Dis net nie so maklik om jou brood en botter daarmee te verdien nie; dís hoekom ek die meeste van my tyd redakteurswerk doen, manuskripontwikkeling … Ek is dikwels ’n spookskrywer. En ek matig my geweldig aan in die proses deur te sê: ‘Ek dink, nee, moet dit nie só doen nie, doen dit eerder só. Hier kort dít; daar kort dát.’ Ek probeer vasstel wat die teks wil hê, wat in die meeste gevalle iets anders is as wat die skrywer wil hê.

“Dit is makliker met ervare skrywers … as iemand met verantwoordelikheid met die teks omgaan, kan hulle baie meer van jou vat wanneer hulle agterkom, dat jy met gróót, gróót erns worstel met wat daar staan … Ek sê ook: ‘Uiteindelik staan jóú naam op die boek; nie myne nie.’”

Francois vertel aan Vrouekeur dat hy net ná Lisbé se dood eenkeer met Gilbert Gibson, digter en mediese dokter, gepraat het. “Hy wou weet waaroor my doktorsgraad gaan. Ek was toe al jare daarmee besig, lank voor Lisbé se dood. Die titel was ‘Letterkunde en die dood: Onmoontlikheid en die moontlikhede van die teks’ – in watter mate die dood eintlik die voedingsbron van die letterkunde is.

“Gilbert se reaksie was: ‘Ek het al meermale agtergekom by sekere mense gebeur dit dat jy lank voordat jy dit rêrig nodig het, aan jou eie terapie werk.’”

Francois vertel aan Murray la Vita meer oor sy doktorsgraad: “Dit het eintlik daaroor gegaan dat die onkénbare, die gans ándere – en by implikasie die dood – aan die bron van die letterkunde lê, eerder as die lewe as sodanig … dít wat jy glád nie kan dink of jy jou glád nie kan voorstel nie, of wat ánderkant ons kennis of ons wete lê, is eintlik die voedingsbron van dít wat ons wil sê.” (Die Burger, 18 Julie 2014)

Francois is in 2008 weer getroud, met die keramiekkunstenaar Tania Babb. Hulle woon in Wynberg en het ’n 12-jarige seun Harbin saam. Tania het ’n dogter, India. “Harbin was ook half vir my in daardie stadium van my lewe ’n soort van noodwendigheid waarvoor my hele lewe gevra het.”

Tussen die publikasie van Kamphoer en Die kleinste ramp denkbaar (in 2015) verhuis Francois na Bloemfontein as dosent in die letterkunde aan die UV, asook om saam met Henning Pieterse ’n meestersgraad in Afrikaanse kreatiewe skryfkuns aan te bied. Vir hom was dit ’n emosionele aanpassing nadat hy deur ’n egskeiding is en sy seun in die Kaap moes agterlaat.

“My werk in Bloemfontein is bevredigend, hoewel ek van my gesin verwyder is,” sê Francois aan Pieter Steyn (Volksblad, 29 Oktober 2016). “Ek is nou by my groter familie. In vergelyking met Kaapstad het ek in Bloemfontein baie interessante en warm mense leer ken op ’n skaal wat ek nie in Kaapstad ondervind het nie. Die Vrystaatse landskap is mý landskap. Bloemfontein, die stad self, is nie mooi nie. Dis verwaarloos en effens vervalle omdat die regering swak is of dalk ander prioriteite het.”

In 2020 verskyn daar drie boeke uit hierdie kreatiewe skryfkuns se stal, waaronder een deur Francois self. Hy is baie trots daarop, sê hy aan Van Zyl: “Ons studente is nie die tipiese student nie. Hul skryfwerk is ’n saak van lewe en dood. Hulle wil dit wat in hulle is, na vore bring. Ons leer hulle nie skryf nie. Wat ons doen, is hulle die ambag deur tegnieke te leer. Die student word aan ’n dissipline onderwerp om binne twee jaar ’n manuskrip te lewer. Miskien is die eintlike waarde daarin dat ons en hulle vir mekaar terugvoering of kritiek gee en ontvang. Dis aanvanklik vreemd, maar later waardeer hulle die menings. Niemand raak meer de moer in nie. Die skrywer besef uiteindelik elke boek het sy lesers, diegene wat met insig en waardering lees, en ander nie.”

In 2011 vertaal Francois die Nederlander Ray Kluun se opspraakwekkende boek, ’n Vrou gaan dokter toe. Die boek is gegrond op die waarheid en handel oor Steyn, wat aan monofonie ly, en sy vrou Carmen wat ’n rykmanslewe in Amsterdam lei. Dan kry Carmen borskanker …

Francois vertel aan Nadine Petrick op LitNet dat voordat jy begin met ’n vertaling, jy eers ’n gevoel vir die “toonaard en styl” van die boek moet kry, “maar vertaling self is ’n soort stiplees. Jy hersien ook voortdurend soos wat jou vertaling gestalte kry.”

Vir hom was dit ’n groot eer toe die uitgewer hom nader om ’n Vrou moet dokter toe te vertaal, aangesien die boek ’n internasionale topverkoper was. “Dit was twee maande se ysere dissipline om die spertyd te haal. Omdat ek ook net die helfte van elke werkdag daaraan kon wy, moes ek 2 000 woorde per dag vertaal. Klink min, maar vir iemand wat met twee vingers tik …”

Oor die omstredenheid en emosionaliteit van die boek vertel Francois aan Petrick dat hoewel hy meen dat dit nie baie goed geskryf is nie, dit ’n merkwaardige verhaal is, “’n uitdaging van ’n mens se opvattings omtrent verbondenheid-in-liefde. (…) Die Amsterdamse sleng wat die verteller gebruik, is soms nogal obskuur, en selfs Nederlandse vriende in die uitgewersbedryf moes hier en daar namens my kopkrap.”

En toe, in 2014, verskyn Francois se eerste roman, Kamphoer, en druk hy sy stempel wel deeglik op die Afrikaanse literêre toneel af.

Francois vertel aan Elmari Rautenbach (Rapport, 17 Augustus 2014) dat hy nooit van plan was om ’n roman oor die Anglo-Boereoorlog te skryf nie: “Nóóit so ’n tema nie. Nóóit so ’n karakter nie.” Maar dit was sy broer Charles – toe adjunkredakteur van Volksblad – wat aan hom die storie vertel het nadat hy Nico Moolman se The Boer whore gelees het met dié woorde: “Dié storie hoort in Afrikaans.”

“Maar,” sê Francois aan Rautenbach, “hoe skryf jy as ’n mán oor verkragting? Hoe skryf jy as ’n mán oor ’n vróú?”

Die storie van Susan Nell wou hom nie los nie. Die storie van die kind van bywoners wat gedurende die Anglo-Boereoorlog ’n gewelddadige verkragting in die konsentrasiekamp in Winburg oorleef het toe haar “lyk” van die lykswa afgeval het en ’n Sotho-man en -vrou haar gekry het en verpleeg het tot sy gesond was; die kind wat later in Engeland ’n psigiatriese verpleegster geword het en tydens die Eerste Wêreldoorlog haar een verkragter teengekom het in ’n hospitaal waar sy gewerk het …

Die feit dat die storie die Vrystaat as agtergrond het, was ’n bydraende faktor, en dat dit ’n ware storie was, was ook deel van die rede waarom hy nie kon vergeet van Susan Nell nie. “Die joiner, wat deel was van die verkragting … sy graf op Ventersburg word tot vandag toe nog geskend. Die fotograaf, Jack Perry, wat ’n groot rol in Susan se lewe speel en heelwat kampfoto’s geneem het … ek het van sy foto’s gesien.

“Een bly by my: ’n onbekende meisie wat saam met twee ou, ou krygers gevange geneem is. Die twee Boere sit hangskouer op die perdekar met die maer merrie. Sy staan langsaan, uitdagend – ’n nimfagtige figuur, met ’n bos gekoekte hare. Jy kon dit vóél: die wilde seksualiteit …”

Op die ou end is dit Francois se uitgewer, Riana Barnard, wat aan hom sê: “Ek wil die boek doen. En jý moet hom skryf. Ek sal probeer om die geld te kry.”

Riana was die persoon wat met Nico Moolman ooreengekom het dat Francois se weergawe van die storie nie ’n vertaling van die Engelse boek sou wees nie, maar slegs losweg op die gebeure gebaseer sou wees.

Francois het teenoor Murray la Vita erken dat hy nie Kamphoer vanself sou geskryf het nie: “Maar by nabetragting was juis dít ’n goeie ding omdat dit my geforseer het in goeters waarmee ek nié te gemaklik was of te houtgerus mee kon omgaan nie.”

Jonathan Amid het op LitNet ’n onderhoud oor Kamphoer met Francois gevoer. Hy wou weet of dit ’n doelbewuste besluit was om Susan en haar komplekse karakter eers te probeer verstaan voor hy haar storie probeer vertel het, of het hy eers sin gemaak van die verskillende en uiteenlopende elemente wat deel vorm van beide haar geestelike en fisiese reis?

Francois het as volg hierop gereageer: “Ek het met twee sleuteltonele begin: daardie oomblik toe sy die naam van haar verkragter op die deur van ’n kamer in ’n Britse militêre hospitaal herken, en die moment sestien jaar vroeër toe sy as agtienjarige ná haar trauma in ’n grot naby Winburg ontwaak. Ek het geweet ek wil twee stemme gebruik: die vrou as volwassene en as kind. Van hierdie twee aanvangsmomente het die twee verhaalstringe uitgegroei en verweef geraak op maniere wat ek nie voorsien het nie. Stelselmatig het ek agtergekom die een string is ’n beweging vanuit die duister na die lig; die ander ’n teenoorgestelde beweging, vanuit die lig na die donkerte. Maar alles het in die laaste instansie in taal plaasgevind. Dit is waarmee ’n skrywer werk, dit is sy materiaal. Per slot van rekening gaan dit dan oor vakmanskap, oor hoe jy in taal iets geloofwaardigs en aangrypends skep.”

Wat betref die hoofkarakter Susan Nell vertel Francois aan La Vita dat hy die heeltyd baie bewus was daarvan dat hy as mán oor ’n vróú skryf: “In daardie stadium was ek byvoorbeeld in druk korrespondensie met Karel Schoeman, wat baie gehelp het met van die historiese navorsing. Hy was besig met iets anders waarvoor hy ontsettend baie leeswerk gehad het, wat vir my persoonlik van waarde was.

“Dit was ’n baie vreemde korrespondensie, want enersyds het hy my van materiaal voorsien en andersyds was dit asof hy geskreeu het: ‘Weet jy wat jy doen? Beséf jy dat jy as man probeer skryf oor ’n vrou wat verkrag is?’

“Een ding wat ek voor die tyd reeds geweet het, voordat ek die volle implikasies daarvan besef het – en ek kon dit eers behoorlik besef toe ek daarmee besig geraak het – is in watter mate, wanneer jy oor iemand anders skryf, jy baie seker moet maak dat jy nie oor jóúself skryf nie.

“Hoewel ’n mens skryf met ál jou ervaring, met ál jou kennis, met álles wat in jou is, moes ek vir myself sê: Maak doodseker wie se gevoel is dit hierdie. Is dit ’n mate van algemene melancholie wat in mý is, of is ek nou rêrig besig met wat hierdie Susan besig is om te voel?

“Ek het ook agtergekom dat ek geneig was om te skryf met so ’n effense melancholiese stemming en wat ek goed geweet het eerder ék is as wat dit sý is, en ek moes myself dwing om te herlees. Ek het ook die redakteur Linda Rode gevra om báie spesifiek te kyk vir wat ek genoem het opgeklitste emosies, dinge wat nie rérig organies uit daai karakter kom nie, maar wat eintlik my eie goeters is wat ek op haar projekteer.”

Met dié dat Kamphoer in groot mate die Vrystaat as agtergrond het, kom die naam van Karel Schoeman in hierdie verband ook by ’n mens op en hieroor brei Francois ’n bietjie verder uit teenoor La Vita: “Sonder dat ek dit voorsien het, is daar in Susan se terugkoms na Suid-Afrika en daardie reis beslis eggo’s van Karel Schoeman se ’n Ander land … En sy reageer eintlik op ’n tipe Karel Schoeman-landskap; op daardie léégheid. En sy ril daarvan; sy kan eintlik nie daarna kyk nie.

“Ek het met my heel eerste skryfsels al daarvan bewus geraak dat ek Karel Schoeman se stem moet dóódkry in myself … En sy ritmes. Die een ding wat ek dink ek ánders doen as Karel Schoeman, is dat ek ’n variasie van ritmes probeer. Álmal is nie afsplitsings van dieselfde soort gemoedstemming nie. Die ander ding is hierdie boek speel omtrent uitsluitlik in ’n vrou se kop af; ál die ruimtes is eintlik háár ruimtes.”

Nadat Kamphoer vir ses letterkundige pryse benoem is, slaag Francois daarin om die ATKV-Prosa-prys vir 2015 in te palm. Die benoeming vir die Sunday Times Literary Awards was vir Francois “’n lekker verrassing” en ’n “triomf vir vertaling”. (Volksblad, 16 Mei 2018)

Oor die ATKV-Woordveertjie was sy reaksie dat hy baie trots en dankbaar is: “Dit was amper vir my genoeg om op daardie kortlys te wees. Ek is ook diep onder die indruk van wat die ATKV vir Afrikaanse skrywers doen. En ek moet sê ek is bly ek kon die prys Vrystaat toe bring, ook na my kollegas en studente aan die UV.”

Die resensente was deur die bank baie beïndruk met Kamphoer. Só het Willie Burger sy resensie in Vrouekeur (10 Oktober 2014) begin: “Laat ek eerlik wees, ek het baie langtand aan hierdie boek begin lees. Ek was nie lus om nóg ’n boek oor die Boereoorlog en konsentrasiekampe te lees nie. Tydens die lees van die eerste klompie bladsye was ek so half op soek na enigiets wat sou regverdig om dit opsy te gooi. Maar toe oorrompel die boek my en ek kon dit nie weer neersit nie. Kamphoer is ’n kragtoer. (…)

“Smith maak van hierdie merkwaardige lewensverhaal ’n onvergeetlike roman. Die effek van die trauma op Susan word fyn verken in afwisselende hoofstukke waarin ’n eerstepersoonsverteller aan die woord is van toe sy haar bewussyn in die grot herwin totdat sy in die Kaap aankom, en ’n derdepersoonsvertelling van Susan wat tydens die Eerste Wêreldoorlog in Engeland werk. Die manier waarop herinneringe ’n mens ontwyk, waarop hulle onderdruk word en hoe hulle ’n mens dan onverwags oorrompel, word op ’n ongelooflike manier beskryf. (…)

“Hierdie roman gaan nie oor die Boereoorlog nie, nie net oor verkragting of oor trauma as gevolg van een of ander geweld nie. Dit word ’n baie, baie fyn ondersoek van een vrou se besondere ervaring, op só ’n manier dat dit begrip vir trauma se durende nagevolge vir die leser oopmaak. En die besondere taalgevoeligheid maak hierdie verkenning ’n ervaring vir die leser.”

In Rapport (27 Julie 2014) beskryf Kerneels Breytenbach Kamphoer as een van die sterkste debuutwerke tot op daardie stadium in Afrikaans. Hy meen Francois Smith het dit reggekry om sy stempel met sy eerste roman af te druk – “’n indrukwekkende vermenging van verbeelding, feite en fyn berekende skryfwerk.

“Die dinge wat ’n mens opval, en wat Kamphoer nie net ’n puik debuut maak nie, maar ook ’n roman wat iets nuuts in Afrikaans bring, is die manier waarop hy die struktuur koppel aan ’n genuanseerde emosionele bouwerk om ’n aktuele tema.

“Sonder om vas te val in tegniese detail, is dit hier nodig om te noem dat hy met die afwisseling van nabye en diep fokus werk, en daarmee saam die emosionele struktuur van die roman vestig. (…)

“Uiteraard sal Francois Smith se Kamphoer ook ’n aanduiding wees van sy eie insig in die verwikkeldheid van menslike verhoudings. As reaksie op Moolman se The Boer whore is dit ’n ontsagwekkend verbeeldingryke beskrywing van die grein van beskaafdheid, in al sy vorme, in ’n tydperk toe soveel in die naam van beskaafdheid verloën is.

“Ek het laas met Donna Tartt se The secret history ’n roman gelees wat dieselfde reaksie by my ontlok het: Ek wou daagliks die aantal sinne wat ek lees, rantsoeneer, sodat ek die genot kon uitrek. Skryfwerk uit die boonste rakke, en ’n reuse-bydrae tot die debat oor geweld teen vroue.”

Cas van Rensburg (Volksblad, 4 Augustus 2014) beskryf Francois as ’n “toekomstige meester” wat sy buiging op die verhoog van die Afrikaanse letterkunde gemaak het, terwyl Joan Hambidge op Woorde wat weeg die volgende skryf: “Hierdie roman is inderdaad ’n tweesnydende swaard. Dit vertel meer as ’n verhaal van konfrontasie met diegene wat jou skade berokken het. Hurst, ook, word goed geteken. Dit is eweneens ’n analise van die geskiedenis, maar veral ’n komplekse teks waar die duiwels onder draai. Dit neem sy plek in langs tekste oor die Boereoorlog en trauma-letterkunde in die algemeen. Dit is geskryf met ’n onuitwisbare pen. Vir my aangrypend, veral oor die slim hantering van Freud, et al.”

In 2019 word Kamphoer deur Cecilia du Toit verwerk tot ’n drama en debuteer dit op die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein met Sandra Prinsloo in die rol van Susan Nell en Lara Foot as die regisseur. En net soos die boek is ook die drama ’n wegholsukses.

Francois se reaksie op die verhoogstuk was dat die drama “intens en geweldig aangrypend” was. “Dit was lekker om soms my prosa te herken, maar dit was so goed om te sien wat gedoen is om van die roman kragtige drama te maak. Elke aspek het meegespeel, van die teksverwerking, die regie en dan Sandra Prinsloo se deurleefde vertoning. Bravo!”

Ook Johann Rossouw van die Departement Filosofie aan die UV was beïndruk “deur die rou emosie waarmee Prinsloo die verkragte hoofkarakter, Susan Nell, uitbeeld, dekades ná die verkragting plaasgevind het. Sandra is vandag die naaste wat ’n getraumatiseerde volk aan ’n dramamoeder het, en die waardigheid waarmee sy as aktrise haar ouderdom dra, versmelt met die waardigheid waarmee Susan haar trauma dra.”

Oor die positiewe ontvangs van Kamphoer het Francois aan Jonathan Amid (LitNet) gesê dat hy nie net ontroer was deur die reaksie van lesers en kritici nie, maar ook oorweldig was. “Ek dink nie my boek is maklike of ontspanningslektuur nie, maar ek het soveel reaksies op Kamphoer gekry waarin daar blyke is dat mense nie net deur die storie aangegryp is nie, maar hulle dieper vlakke kon ontgin, dat hulle geskakeerd en ontvanklik en kreatief op die boek kon reageer. Daaroor is ek verskriklik bly. Ek weet nie eintlik wat anders om daaroor te sê nie as net maar dankie.

“Kyk, ek weet ook ek sou anders hieroor gepraat het as die reaksie minder geesdriftig was, selfs al het ek voor my siel geweet ek het iets goeds geskryf. Ek probeer my bes om nugter hieroor te bly, om ironies te bly lewe. Ek voel hoe my gesigspiere seer word van te veel glimlag.

“Maar ek hoop regtig hierdie boek koop vir my die tyd om gou weer iets aan te pak. Ek verdien nie ’n gereelde salaris wat my in staat stel om iewers in die dag ’n tydjie vir skryf af te knyp nie. My bedryf is nie juis ’n geldmaakbesigheid nie en ek bly dikwels tot laat saans besig met die manuskripte wat sorg vir kos op die tafel. As ek net weer so ’n drie maande grasie kan kry ... net om vastrapplek te kry, want daar is iets in my kop wat wil uit.”

En hierdie grasie het Francois toe gekry met sy aanstelling aan die UV wat hom die tyd gegee het om te werk aan sy nuwe boek, wat in 2020 onder die titel Die kleinste ramp denkbaar by Tafelberg gepubliseer is.

Francois vertel aan Melt Myburgh op LitNet dat hy nogal senuweeagtig was oor die ontvangs van Die kleinste ramp denkbaar, maar nie vanweë die sukses wat Kamphoer beleef het nie: “Ek het trouens al begin dink dat ek bloot ’n volgende boek sal skryf om net nie weer ’n leserskring oor die boek hoef toe te spreek nie.”

Maar die publikasie van enige boek is, soos Myburgh skryf, ’n storie wat aan die skrywer se nerwe vat. Francois stem saam: “Soos Virginia Woolf wil ek ook net onder ’n besembos gaan wegkruip totdat alles verby is. Selfs wat die publisiteit betref, is ek ook maar my pa se kind. Ek onthou goed hoe onwillig hy was om sy ramme te adverteer – hy was ’n boer – omdat reklame vir hom soos brag geklink het.”

En om te moet publiseer is een van die “kruise” wat dosente aan universiteite en hoofde van skryfskole moet dra: “Dit is beslis een rede waarom ons, ek en Henning Pieterse, moet aanhou publiseer,” vertel hy. “Gelukkig is ek geneties of kultureel – of deur die gode – belas met die noodsaak om te skryf.”

Die idee vir Die kleinste ramp denkbaar het ontstaan toe hy gedurende een wintervakansie op hulle plaas naby Rouxville griep opgedoen het en na die dorp se dokter moes gaan – dieselfde dokter wat sedert Francois se kinderdae op Rouxville gepraktiseer het: “’n Lieflik eksentrieke man wat so ’n lang rooi Mercedes gery het en die een Van Rijn-sigaret na die ander gerook het; my selfs ’n inspuiting gegee het met die sigaret in die ander hand. Hy was ook ’n geweldige geselser en onophoudelik het hy gesels, oor buffeljagavonture in Mosambiek, oor Dooyeweerd se kommentaar op Paulus se sendbriewe …”

Francois het begin aantekeninge maak, sekerlik met die doel voor oë om eendag ’n boek daaroor te skryf, maar, sê hy aan Myburgh, Karel Schoeman het eendag gesê dat “niks aan die toeval oor te laat is nie”. Die waarheid van hierdie gesegde is weer eens by hom tuisgebring toe hy deur The book of evidence deur John Banville blaai en die notas wat hy daarin aangebring het, lees: “Die boek moes my reeds smeulende gedagtes behoorlik laat vlamvat het, want agterin is ’n hele rits notas wat ek gemaak het oor ’n boek-in-wording, en een wat ek toe al Kleinste ramp genoem het.”

Wanneer ’n mens hierdie notas deurgaan, blyk dit dat sy hoofkarakter ’n “intelligente maar koelbloedige man” moes wees met ’n “ongekultiveerde maar sexy vrou met ’n gevaarlike, onvoorspelbare instink” in sy lewe – een wat hom meesleep. Maar Die kleinste ramp het toe heel anders uitgewerk.

Die storie van Die kleinste ramp denkbaar word vertel deur die hoofkarakter, Gustav van Aardt, die dokter op ’n klein plattelandse dorpie wat op ’n plaas woon. Die dag waarop die geneesheer se nuwe ontvangsdame, Luna, begin werk, kom die dorp se polisieman, Frans Schuin, na die dokter. Hy is doodsiek nadat hy deur ’n bosluis gebyt is.

“En van hier af aan,” skryf Melt Myburgh, “word die leser aan verskeie karakters op die dorp bekendgestel, elkeen met ’n bepaalde ingesteldheid teenoor die polisieman. Van Aardt probeer sin van alles maak te midde van die verval wat in die dorp waarneembaar is.”

Francois vertel verder: “Op ’n heel instinktiewe vlak is die boek gemoeid met ’n geheim – die geheim van die lewe op daardie dorp, wat ’n mens seker kan sien as ’n soort Suid-Afrika in die kleine. Dis ’n dorp wat verval, maar ook op allerhande maniere nuut en anders word. Van Aardt reageer op hierdie vreemdheid met weersin en irritasie, totdat die polisieman verskyn en die afstandelikheid plek maak vir verwondering.

“Dit is asof daardie polisieman vanuit die dokter se onbewuste ontsnap het en hy hom noodgedwonge moet volg, omdat hy die sleutel tot die geheim van lewe en dood het. Die dokter word egter heeltemal onbewustelik gelei deur sy fantasie en sy haas kwylend begerende oog. Hy hoor ou, ou stemme, hy dool rond in mites.

“Dis ’n oeroue fantasie van die mens,” verduidelik Francois, “dat daar ’n sekere soort kennis is wat net deur die bose ontsluit kan word, dat die ware lewensgeheime net toeganklik is vir monsteragtige figure soos die polisieman Schuin.”

Oor die ontstaan van die verskeidenheid van karakters vertel Francois aan Myburgh: “Ek het ’n kerntoneel gehad waarin ’n dokter en ’n polisieman was en ek moes gaan sit en uitwerk wat daar aan daardie toneel was wat my ’n poort sal bied tot ’n wêreld wat groot genoeg is vir ’n roman.

“My aanvanklike idee, my oertoneel, was piepklein en die meeste van wat die roman geword het, moes ek ontdek. Die mees voor die hand liggende manier om dit te doen, was om van daardie oertoneel uit te beweeg buitentoe. Ek moes byvoorbeeld die mense ontmoet wat daar in die spreekkamer was toe die dokter die oggend inkom; en voordat die pasiënte aangekom het, was daar mos die vrou by ontvangs …

“In daardie stadium van skryf moes ek as gevolg van ’n rugprobleem heelwat tyd in dokters se spreekkamers deurbring. En dit is waar ek twee ontvangsdames teëgekom het van wie lesers in die boek afbeeldings sal vind: die kriptorassistiese ou ene, en dan ook die nuwe ene wie se wonderlike geheime agter die toonbank verskuil is.”

Kerneels Breytenbach sluit sy bespreking op LitNet van Die kleinste ramp denkbaar as volg af: “Met die tweede lees van die roman is ek opnuut beïndruk deur die deeglike beplanning wat die geheel onderlê. Ek was meegesleur in die leesproses en erg geïnteresseer deur die manier waarop Francois Smith doelbewus teen die bou van spanning in geskryf het. Dit is nie ’n speurverhaal hierdie nie, ofskoon ’n soort speurtog aan die kern daarvan lê. Vir my is dit ’n karakterstudie, ’n ontginning van ’n personasie wat nie ’n verhewe, geïdealiseerde mens is nie. Gustav van Aardt verryk ons letterkunde; die omwenteling wat die beskrewe naweek in sy lewe bring, maak nie van hom ’n nuwe mens nie. Soos Bart Nel is hy steeds hy wanneer hy sy besluit neem om in die land aan te bly; hy het net geen illusies meer oor sy aard binne hierdie geografiese konteks nie. Hy verstaan dat hy nie alles kan – of wil – verstaan nie.”

Op Netwerk24 (9 Augustus 2020) is Louise Viljoen die resensent en vir haar is dit ’n roman wat die leser sal aangryp. Dit gaan oor ’n man “wat deur onverwagte gebeure gedwing word om sy eie beperkinge te konfronteer, al bied dit geen maklike verklarings of eenvoudige verskonings nie. Selfs al lees ’n mens dit as ’n allegorie van die wit man se situasie in Suid-Afrika, neem dit nie weg van die uitnemende konkreetheid waarmee Van Aardt as feilbare en kwesbare mens geteken word nie. Die effe oorlade styl wat in Smith se debuut Kamphoer (2014) soms gehinder het, is hier presies gepas en onder beheer. Die roman roep ook Afrikaanse styl- en stemmingsgenote op, soos die romanskrywer Ingrid Winterbach en die digter Gilbert Gibson, asook Damon Galgut se roman The good doctor (2003). Ek vermoed Die kleinste ramp denkbaar gaan een van die literêre hoogtepunte van hierdie vreemde jaar wees.”

Op Woorde wat weeg is ook Joan Hambidge positief oor die boek. “Smith speel met vele kodes: die konvensionele liefdesroman met die dokter op die dorp wat deur die vroue begeer word, word hier nek omgedraai; die speurverhaal wat afstuur op sluiting of closure: hier is ’n verdagte of ’n probleem wat van jou die leser ’n speurder maak. Hier implodeer die roman telkens en blyk elke leidraad of kode ’n vals een te wees.

“Dis geskryf met sjirurgiese presisie en ou Afrikaanse woorde word lewend(ig) gemaak. Is dit ’n analise van hoe ons eens idilliese platteland daar uitgesien het en dat ’n besoek van ’n wit man aan die township onmiddellik gesien word as ’n soeke na die transgressiewe?

“Dit is ’n boek van displacement. Van abandonment. ’n Reis ín die psige ín, geskryf in keurige en soms outydse Afrikaans. ’n Mens blaai telkens terug om Mahler-verwysings weer te ontleed. Visconti gebruik die musiek van Mahler in sy film Death in Venice (1971). Daardie pragfilm oor onbeantwoorde liefde, nee, eerder ’n fantasie in die ouer persoon, gebaseer op Thomas Mann se novelle Der Tod in Venedig (1912). Mahler se naam was immers Gustav; die hoofkarakter is Gustav van Aardt; van die aarde dus.

“En Mahler het as komponis ook ’n brug geslaan tussen die 19e-eeuse Austro-Duitse musiek en die modernisme aan die begin 20e-eeu. Hierdie roman wil dalk eweneens ’n soort oorgang wees van hoe Afrikaanse prosaïste oor die platteland gaan skryf.

“Francois Smith vang in hierdie ondergestemde roman die ‘irony’s edge’ (Linda Hutcheon) vas van wat ons weet vir ewig verby is.

“Dit is ’n roman vir stadiglees, vir terugkyk en terugblaai. Soos wat Mahler se musiek tot gevolg het. Of soos ’n mediese handleiding waar jy die verskillende plastieklae geplak oor organe moet afhaal om by die essensie uit te kom. Die belewenis van die indertydse bykans idilliese bestaan teenoor die tyd van onrus en onsekerheid word helder verbeeld.

“Die voorblad suggereer iets van die essensiële. Geraamtes dalk van ...”

Die kleinste ramp denkbaar bly enduit ’n behoorlik uitdagende lees- en speurprojek,” skryf Jean Meiring in sy resensie op Netwerk24 (5 Oktober 2020). “Lesers sal lank nadat hulle die boek toegevou het, nog met die sleutels – onder meer name soos Portia, Klaas en Vergunning, die Van Aardt-familieplaas, en gegewens soos Dannhauser van Heerden se verkoop van sy bakkie aan die Kubaanse dokter – in die halsstarrige sleutelgat torring.

“Smith se prosawerk is fyn afgewerk en poëties. Sy Afrikaans is überkorrek en klinies-eksak (met dalk net ’n enkele ‘werktuiglik’ te veel). Sy beelde is tegelyk beskeie en juis hierom verrassend treffend. Dikwels brand hulle die binnekant van die oog.

“Daar lê in Smith se sinne en paragrawe – die glimmende kwik wat hy oor die Vrystaat neerwerp – gróót plesier. Soveel so dat jy later vergeet: Soos Van Aardt, is jy ook hier, met die kleinste traantjies denkbaar, ’n vlieg vasgevang in ’n spinneweb.”

Oor die geel buiteblad van Die kleinste ramp vertel Francois aan Johan van Zyl (Netwerk24, 9 Augustus 2020): “Ek is jammer, ek besef dit kan mense laat gril, soos dit in die roman ook een van die karakters die horries gee. Maar kleure speel wel ’n rol en dit kom eintlik uit ’n vroeë stadium in die boek toe ek nog nie geweet het wat om te skryf nie en probeer slim wees het deur allerhande literêre en mitologiese verwysings in te bou, onder meer die kleursimboliek.

“Daar het gelukkig nie veel daarvan gekom nie, maar die kleure – die blou, groen, rooi en geel – het gebly, onder meer omdat die slot van die boek heel vroeg al daar was. Ek het met die skryf vaagweg onthou dat ek dié slot iewers neergeskryf het.

“Toe ek in my dagboek/notaboek daarop afkom, was ek verstom om te sien ek het dit reeds in 2014 geskryf, in die doodsnikke van Kamphoer, dié toneeltjie van die man wat stilhou vir ’n geel blommetjie langs die pad. Die titel kom van daardie toneel en my gewaarwording dat daardie minuskule geel spikkeltjie lê op die breekpunt tussen ’n onherroeplike verlies en ’n kardinale insig. Ek het gesoek en gesoek na ’n woord, ’n frase, wat vir my die essensie daarvan sou vasvat.

“‘Dis ’n ramp!’ is een van die goed wat by my opgekom het, en toe kom daar ook so ’n stemmetjie wat sê: Maar dis darem maar ’n klein rampie. Siedaar.”

Francois se volgende roman, Die getuienis, word in Augustus 2021 gepubliseer. Dit het in Maart 2021 die tweede prys in NB se Groot Afrikaanse Romanwedstryd verower. Op NB Uitgewers se webblad het die beoordelaars as volg oor die boek geskryf: “In Francois Smith se Die getuienis (Tafelberg) doen ’n egpaar afwisselend verslag oor hul belewenisse en reaksies wanneer hulle met te min geld en slegs in geloof ’n reis moet onderneem na die grootwordwêreld van die man. Hulle is betrokke by ’n fundamentalistiese geloofsgroep wat letterlik volgens Die Woord leef, en hul geloof rig dus al hul besluite. ’n Aangrypende en menslike roman met karakters wat dikwels baie verskillend reageer op gebeure – die motiverings vir hul optrede word eerlik dog sensitief ontgin. Onder meer is dit indrukwekkend hoe die skrywer die kwessie van mense se geloofsoortuigings (hoe naïef of stiksienig ook al in die oë van die leser) aanbied en hanteer sonder implisiete kritiek of morele oordeel. Die taalgebruik, register en idioom word deurgaans besonder goed volgehou. ’n Roman met fyn emosionele trefkrag en integriteit.”

Die impuls wat gelei het tot die skryf van Die getuienis was ’n e-pos wat sy een broer vir hom aangestuur het, vertel Francois aan Naomi Meyer (LitNet, 22 November 2021): “Jarre gelede, in 2013 om presies te wees, het ek ’n e-pos aangestuur gekry waarin ’n vrou in ’n bladsy of drie verslag gedoen het van hierdie wonderbaarlike reis van haar en haar man om ’n evangeliese boodskap iewers in die Noordoos-Kaap te bring. Een van die goed wat my opgeval het van hierdie e-pos, wat die vrou so wyd moontlik wou versprei, was dat sy heeltyd van ‘Vader’ gepraat het, sonder die lidwoord van die konvensie waaraan ek gewoond was. Vader was vir haar ’n intieme reisgenoot wat as’t ware self om elke hoek en draai ’n koevertjie met ’n paar honderd rand in die reisendes se hand gedruk het, of kort-kort ’n engel gestuur het om met ’n vlammende swaard teen Satan en sy kornuite te veg.

“Wat was dit wat my daardie e-pos in my inboks laat lê het? Om te skryf is vir my om te probeer agterkom wat dit is wat sekere indrukke in my gemoed laat vasslaan. Wat is dit wat ek gesien het? Dis daardie reis, ja. Dis twee mense, nee drie, op God se genade in ’n klein Ford Figo. Dis ’n godsdiensbelewing wat geheel en al van myne verskil. Maar wat nog? Dit moes ek agterkom.”

Die prysgeld van die Groot Afrikaanse Roman stel hom in staat om sy volgende roman – een oor ’n skurkagtige figuur wat buite die Vrystaat en in Europa sal afspeel – in alle erns aan te pak.

Francois vertel aan Johan van Zyl hy kon egter weens die Covid-19-pandemie nie reis om navorsing te doen vir sy nuwe roman nie: “Maar danksy die inperking het ek tog tyd gehad om vir Die getuienis wyd te lees en na godsdienstige preke te luister. My versameling indrukke het die onbewuste aangeskakel sodat die volgende boek by my aangemeld het. Maar toe geskied die laaste redigering van Die getuienis.

“Ek het gedag ek vat ’n vet kans om so ’n dun boek vir die Groot Roman-wedstryd in te skryf. Groot staan vir dik. Maar ek wou nie met selfverwyt sit nie. Die manuskrip het die minimum getal woorde van 40 000 bevat, maar ek het geweet dis nie ’n slegte boek nie. Die prysgeld sou help om studieverlof te kan neem, te reis, ’n volgende projek met gemak aan te pak. My ‘Vrystaatse drie’ is die laastes wat in die Vrystaat afspeel.

“Die goeie nuus was dat die uitgewer ongeag die uitslag van die kompetisie my boek wou uitgee. En die grootste pluimpie was toe sy sê niemand sou dit as ’n Francois Smith-boek herken nie.

“Daarvan het ek sommer baie gehou, want my styl en stem is herkenbaar in my eerste twee boeke. Al drie boeke handel oor trauma. Kamphoer het ’n vrou as verteller en in Die kleinste ramp denkbaar is dit ’n man.

“In die derde boek beleef ’n man en ’n vrou trauma uit verskillende perspektiewe. Hulle is ’n Christelike fundamentalistiese egpaar wat ’n visioen van God kry, wat hulle Vader noem, om van die noorde na die suide te ry en te preek. Hoewel hulle net R219 in die bank het, kry hulle op ’n wonderbaarlike wyse ’n kar en brandstofgeld, wat hulle aan die voorsienigheid van Vader toeskryf.

“Onwetend word hulle na die man se geboorteplek gelei, waar hy traumatiese kinderjare gehad het, maar dit uit sy bewussyn verdoem het. Die reis neem hulle na ’n ontsaglike donker plek, maar in hul weergawe is dit ’n reis na die lig. Nie hulle of die lesers sal (hopelik) die einde kan voorspel nie.”

Francois het dit as ’n tegniese uitdaging beskou om die verhaal te vertel met vertellers wat mekaar afwissel en wat verskillende insigte het – ook mense wat ’n totaal ander uitkyk op die lewe het as wat Francois self het.

“Die karakters wil wegkom van dit wat in hul lewe verkeerd geloop het,” verduidelik Francois aan Van Zyl. “Net soos mense wat hard deur die lewe geklap is, interpreteer hulle die Bybel letterlik. Hulle soek na tasbare oplossings – die probleem het ’n naam, die oplossing het ’n formule en sukses is gewaarborg. Hulle onderskei net tussen swart en wit, die eenvoudige, tussen dit wat sonde is en wat nie. Grys, die onsekerheid, is te kompleks. Die mistieke sy van godsdiens werk nie vir hulle nie.”

Vir Francois is godsdiens en letterkunde verweef: “Dink aan die beelde en taal in Totius se Bybelvertalings, die simboliek, ritme en die poësie daarvan. In Karel Schoeman se Die uur van die engel besef jy hoe deurtrek dit is van ’n mistieke belewenis, die ervaring van híér wees en om sin te maak van dié land en sy ontsaglike kompleksiteite.”

Op LitNet gesels Francois met Naomi Meyer oor Die getuienis en sy wou weet wat is die sin van die lewe. Hierop antwoord Francois: “Ek gryp nou instinktief na iets wat jy in jou vorige vraag gesê het, en dit is dat die sin van die lewe daarin lê om die lewe leefbaar te maak. Maar hoe doen ’n mens dit? Om pyn te probeer vermy? Nee, ek dink nie dit is al wat daar is nie. Dalk is dit ook een van die goed wat ek geleer het met die skryf van hierdie boek, of tydens die skryf daarvan, terwyl die lewe met my gebeur het en ek onder meer moes dink oor wat dit is wat die kontak tussen mense sinvol maak. En ek dink dit het nie soseer te make met ’n absolute ding nie, maar met die soeke daarna. Dat die sin van die lewe lê in die nimmereindigende soeke na sin.”

Op LitNet is Louise Viljoen die resensent van Die getuienis: “Die getuienis lyk op die oog af na ’n eenvoudige verhaal in twee stemme. Tog skuil daar veel onder die oppervlak om te oorweeg en ontleed. Dit is nie net Gerbrand se interpretasie van Abraham se situasie op Moria wat stof tot nadenke bied nie, maar ook ander aspekte van die roman. Daar is byvoorbeeld die rol van geslag en klas in die karakters se ervaring van geloof, trauma en verlies; die impak van geloof op mense se opvattings oor siekte, ook geestesiekte, seksualiteit en politiek; die rol wat charismatiese kerke in die samelewing speel; en op meer persoonlike vlak die drome en visioene (van veral Gerbrand) en die verwysings na hom as ’n valk.

“Die getuienis lig op heel besonderse wyse ’n bepaalde snit uit die Suid-Afrikaanse samelewing om aan die leser te toon. Die subtiele, empatiese en onderbeklemtoonde manier waarop Smith te werk gaan, slaag egter daarin om die roman se vrae oor liefde, geweld en geloof ver buite die grense van ’n bepaalde plek en tyd te laat resoneer.”

Vir Jean Meiring op Netwerk24 (15 Augustus 2021) is Die getuienis wat toon en opset betref, ingetoë: “Ook stilweg maar beduidend ambisieus. Dis ’n elegante fyn afgewerkte vertelling dié. Dit beskik ook oor volop sjarme. Soos die titel aandui, is die teks inderwaarheid die optekening van die egpaar se wedervaringe op hul sending Ventershoop toe. Dit moet as getuienis dien van God se voorsienigheid, van sy hand wat in alles lê.”

Met Retha en Gerbrand wat om die beurt as verteller optree, verkry die verhaal ’n “ingegreinde ritme”, skryf Meiring verder, “’n stuwende tempo. Die een wat die aflosstok oorneem, vertel soms ’n bietjie óór en beur dan voort. Boonop werk die naasmekaarstelling van die stemme wat dieselfde gebeure uitpak noodwendig ’n ironiese spanning in die hand tussen die twee se onvermydelik verskillende gesigspunte.”

En Meiring sluit sy bespreking af: “Met dieselfde skynbaar nonchalante chutzpah waarmee Zirk van den Berg sy novelle Ek wens, ek wens (2019) die wêreld ingestuur het, vermag Smith hier binne ’n klein bestek wat die skrywers van baie groter en dikker boeke dikwels nie regkry nie.

“Hy skep ’n volledig geloofwaardige wêreld, met karakters vir wie se heil die leser byna onmiddellik intens omgee. Al is dit dalk nie op Ventershoop te vinde nie, is daar tóg uiteindelik hier ’n sprankie hoop. Die getuienis is Smith se kortste boek – en sy beste.”

Naomi Meyer wou ook weet of dit vir hom ’n lekker boek was om te skryf: “Was dit vir jou ’n lekker boek om te skryf? Het dit maklik gekom, of was dit ’n hele proses? Boonop: geskryf tydens die eerste inperkingstyd, soos jy genoem het – was dit vir jou maklik om jou af te sluit van die lewe rondom jou?”

Hierop het Francois as volg gereageer: “Ek moes inderdaad iets doen om die lugleegte van die grendeltyd te vul. Maar wat ook ’n rol gespeel het, was dat dit die jaar was van die Groot Romanwedstryd. Ek was platsak en daar was hoeka die saadjie van ’n storie in my kop en ek het begin dink ek sal myself baie kwalik neem as ek nie ten minste probeer nie. Toe gaan sit ek maar. Die kompetisie het ’n minimum van 40 000 woorde vereis en die dag van die sperdatum tik ek my 40 000ste woord en ek stuur! Ek het geweet dis nie ’n slegte poging nie, maar dit het in my gekriewel dat dit te dun was.

“En kyk nou net! Daarna, nadat Tafelberg tot my groot vreugde gesê het hulle wil die boek uitgee, het ek die storie probeer rek, maar ek kon kwalik duisend woorde byvoeg. Dit was die storie. Dit was alles. 

“Skryf is vir my per definisie moeilik, en ek dink dit is hoe dit moet wees, maar hierdie ene was tog vir my in ’n sekere sin lekker. Om byvoorbeeld ’n liefdestoneel te skryf tussen mense wat hulle so onsexy gedra, was vir my ... ja, dit was nogal lekker.”

Die getuienis was ook die wenner van die filmprys, die kykNET-Rapport Herman Binge-filmprys vir 2022. In die commendatio skryf Beer Adriaanse op LitNet (24 September 2022): “Iewers in die afgelope vyftien jaar het die woorde ‘geloof, hoop, liefde’ ’n soort dekoratiewe revolusie in Afrikanerdom teweeggebring. Jy weet jy’s in ’n Afrikaanse huis as ‘geloof, hoop, liefde’ iewers teen ’n muur, op ’n plekmatjie, op ’n kussing, óf sommer op al drie voorkom. Met Die getuienis sleep Francois Smith hierdie eenvoudige mantra uit die cliché-kis, stof dit vir die 2020’s af, en neem dit op ’n besonder filmiese reis deur die verlate agterpaaie van Afrikana.

“Om in die hedendaagse Afrikaanse boeke-oes behoorlik deur ’n roman trompop geloop te word, is ’n vreemde gevoel. Die taal pak immers die afgelope tyd alles aan en skrik nie om nuwe genres ook te verken nie. Terselfdertyd wil ’n mens ’n nuwe Afrikaanse boek versigtig benader – veral as dit oor twee ultragelowiges se bewussynstroomvertellings tydens ’n Godgeleide werksbesoek gaan. Ervaring dikteer daar is vele slaggate op so ’n pad.

“Die getuienis is egter eiesoortig. Dit verras die leser van begin tot end; dit voer gelowige én ongelowige mee; die prosa smeek om visueel getransponeer te word tot film en die wêreld van die lesersverbeelding te veruiterlik vir verdere ontplooiing voor die kinematografiese oog. Ingebed in die roman is die materiaal waarmee twee akteurs ’n kragtoer voor die kameras sal kan lewer.

“Aanvanklik skyn Die getuienis ’n misdaadroman te wees. ’n Donker paartjie in ’n dor mielieland met ’n noir-agtige tint. Ons almal ken daardie opset. Iewers is ’n lyk begrawe en ’n geharde speurder gaan enige oomblik opdaag. Soos die res van dié verhaal is dit egter bloot die eerste salvo in Smith se arsenaal van toertjies om jou te verfomfaai terwyl hy jou ál dieper in ’n avontuur soos geen ander insuig. (…)

“Die uitdaging wat Francois Smith aan Die getuienis se lesers stel, is om te besluit wat die waarheid is. Met die toekenning van hierdie prys aan die roman, stel ons by implikasie aan ’n regisseur die uitdaging om daardie waarheid nie blatant te maak nie, maar dit visueel te suggereer, sodat die kyker self kan besluit wat die waarheid is. Dít is die essensie van groot filmkuns; dít is waarna ons met hierdie toekenning streef.

“Alles wat die karakters doen, word toegeskryf aan ‘Vader’ en sy wil, of word ten minste ter ere van hom gedoen. Hulle geloof is fundamenteel en letterlik, en is ’n uitstekende dramatiese dryfveer om hulle deur hulle tog te kry. Verbeel jou ’n jong Solly Ozrovech skryf ’n geloofsfabel oor twee Coen Brothers-karakters wat per ongeluk op Cormac McCarthy se The road beland. Dit klink soos drie donkies wat in verskillende rigtings trek, maar dis juis hierdie wisselwerking tussen opregtheid, humor en trauma wat – nes Gerbrand en Retha se geleende Ford Figo – Die getuienis se enjin vol brandstof hou.

“’n Hoogtepunt is die fyn nuanses van Gerbrand en Retha se klinkklare en uiteenlopende stemme. Elkeen se binneste word snaaks én teer ontbloot. Hulle is regte, herkenbare mense, al voer hulle ’n bestaan in die buitewyke van die sogenaamde gewone samelewing. Met ‘Vader’ as hulle enigste werklike kompas, beur Gerbrand en Retha deur die saai platteland op soek na hulself en katarsis. In ondersteunende rolle het ons ’n seun wat met die helm blyk gebore te wees, ’n ma en stiefpa wat hul bes doen om positief te bly, ou vriende wat vyande geword het, en ’n bandemechanic-broerskind met geheime. Die feit dat Smith ’n betekenisvolle oomblik kan skep met laasgenoemde wat vir sy oom en tannie ’n pizza wil koop, dui op die grootgeestigheid waarmee Smith hierdie mense uitbeeld. Een en elk is ’n karakter, geeneen ’n karikatuur. Hoewel die gebeure gereeld komies is, mik Smith na iets diepers as goedkoop grappe en pothoue.

“Die getuienis wen die filmtoekenning vir 2022 omdat ons bedryf sulke films nodig het. Kleinfilms, in die luim van Chloé Zhao se Nomadland, Wim Wenders se Paris, Texas of Alfonso Cuarón se Y tu mamá también, wat sagkens die groot temas aanpak. Die karakters is enige akteur se droom. Die dialoog is voyeuristies eg. Die landskap waardeur Gerbrand en Retha rits is so te sê reeds ’n apokaliptiese film; die skrapnellandskap van hedendaagse Suid-Afrikaanse klein dorpies wat smeek om verfilm te word. Boonop vleg al hierdie elemente saam om die dieper temas van ‘geloof, hoop en liefde’ met deernis te verken sodat enigiemand, en nie net Afrikaners nie, daarby sal aanklank vind. As dit Vader se wil is.”

Publikasies

Publikasie

Kamphoer

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780624065517 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • 2015 wenner van die ATKV-prosa-prys
  • Wenner Sala vir beste debuutwerk 2016
  • Benoem vir die Jan Rabie-Rapport-prys
  • Kortlys vir die UJ-prys
  • Kortlys vir die Nielsen-prys
  • Kortlys vir die 2018 Sunday Times Barry Ronge Fiction Prize
  • Kortlys vir WA Hofmeyr-prys 2015

Vertalings

  • Nederlands 2015
  • Engels vertaal deur Dominique Botha 2017
  • Frans vertaal deur Naòmi Morgan 2021

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die kleinste ramp denkbaar

Publikasiedatum

2020

ISBN

9780624089988 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • Kortlys 2021 ATKV-Prosaprys
  • Kortlys 2021 kykNET-Rapportprys
  • Kortlys 2021 Jan Rabie-Rapport-prys

Vertalings

Frans: voorlopig teen die einde van 2024; vertaal deur Pierre-Marie Finkelstein

Resensies en besprekings

  

Publikasie

Die getuienis

Publikasiedatum

2021

ISBN

9780624092353 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • Wenner 2022 Film: Rapport-kykNET Herman Binge-prys
  • Naaswenner 2021 Groot Afrikaanse Romanwedstryd

Vertalings

2024 Nederlands vertaal deur Robert Dorsman

Resensies en besprekings

 

Vertalings deur Francois Smith 

Artikels oor Francois Smith

Artikels deur Francois Smith

Francois Smith se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2021-07-12 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

  • Knipselversameling van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top