
https://www.nb.co.za
Ons skulde
PP Fourie
Queillerie
ISBN: 9780795710834
263 bladsye
PP Fourie volg sy opspraakwekkende ’n Hart so groot soos ’n vuis op met ’n boek wat tematies nou verwant daaraan is, maar in styl en toonaard radikaal verskil. In Hart is die kwessie van skuld en boetedoening weliswaar net by implikasie teenwoordig; nou skreeu die voor- en agterplat dit uit. Maar dan het die titel ’n heel intrigerende besitlike voornaamwoord – ons – wat laat blyk dat die skulde waarom dit hier gaan, ’n universele soort skuld is, selfs ook iets waarby die leser betrek sou kon word. Dalk Augustinus se erfsonde?
............
Dat dit hier inderdaad ook oor sonde gaan, in die godsdienstige sin van die woord, word te kenne gegee wanneer die boek se protagonis, Emma Lindgren, een oggend met ’n fundamentele sondebesef wakker word: Sy is ’n sondaar. Maar, let wel, nie weens Adam en Eva se primordiale vergryp nie, maar deur haar eie toedoen: Sy verneuk haar man.
..................
Dat dit hier inderdaad ook oor sonde gaan, in die godsdienstige sin van die woord, word te kenne gegee wanneer die boek se protagonis, Emma Lindgren, een oggend met ’n fundamentele sondebesef wakker word: Sy is ’n sondaar. Maar, let wel, nie weens Adam en Eva se primordiale vergryp nie, maar deur haar eie toedoen: Sy verneuk haar man. Dat haar huwelik lank reeds verlep het en haar man ’n ploert is, is nie verskoning genoeg nie, ook nie dat haar nuwe bedmaat ’n regtig gawe en sagsinnige en intelligente ou is nie. Maar die neukery begin – die storie begin – wanneer die sondebesef so dwingend word dat sy besluit om haar man van haar ontrouheid te vertel.
Daar is party sondes en/of skulde wat liewer onder die maatemmer verborge moet bly. Dit suggereer die roman se onheilspellende omslag met die motor wat in ’n donker poel wegsink. Alles sal uiteindelik deur die modderwater bedek word. Toe nou nie, want die verhaal volg Freud se vermanende wysvinger na ’n verskynsel wat keer op keer as onvermydelik bewys word. As sonde en skuld en griewe en wrokke verdring word, as dit nie toegelaat word om op die een of ander beheerde manier uit te bars en van die lading daarvan ontneem word nie, dan kom dit terug. Met weerwraak.
Die roman speel hoofsaaklik op Clarens af, en hierdie naweekparadys vir Gautengse jappies is een van die boek se koppelvlakke met Fourie se vorige boek. Daar is nog ’n belangrike skakel, maar dit durf nie verklap word nie, behalwe om te sê dat die bloederige naelstring (!) tussen die boeke die leser wel sal kan laat wonder oor Ons skulde as ’n soort wraakroman. Maar fiksie is dit gewis, en miskien moet ’n mens dadelik bysê dat dit genrefiksie is, want Ons skulde is weinig meer as ’n knap whodunnit. Ja, motto’s deur Nathaniel Hawthorne, Isabel Allende en WG Sebald sit nogal ’n hoë literêre noot aan, maar dit is nie regtig ’n diepgaande besinning oor skaamte en wanhoop en stilte nie, of oor die misterieuse werkinge van die geheue en hoe die verlede en hede, en toekoms, so vervleg is dat dit bykans altyd dieselfde ding is nie.
In die eerste hoofstuk of twee word hierdie hoë noot nogal gehou, want dan is die leser dikwels in Emma se kop, en dit is diep bevredigend om die verhaalwêreld deur haar oë te sien: Sy is intelligent en haar denke is soepel en vol interessante kinkels – en dit is die soort perspektief wat die goudstandaard vir enige storie is. Nou goed, ’n mens wonder wel waarom en presies wanneer sy so deur ’n sondebesef getref is. Het dit regtig eers so diep in die affair in gebeur, of was dit al daar toe sy die eerste geurtjie van die verbonde vrug gekry het? En die woord “sonde” – is dit regtig háár woord? Die verhaal gee nie hieroor uitsluitsel nie, want sodra Emma op Clarens beland om as te strooi, is dit asof die derdepersoonsverteller haar terugtrek van Emma af en die gebeure van buite beskou. Die verhaal word dan in hoofsaak deur dialoog vertel – weliswaar pikante dialoog – maar van Emma se perspektief, en van die lekkerte om te ervaar hoe die storie in haar gemoed posvat, kom daar feitlik niks meer nie.
Miskien is hierdie verwagting dat die vertelling meer innerlik moes geskied het, veels te literêr, en dus ene waarvan hierdie boek bewustelik wegstuur. En tog en tog ... Die boek het dit aanvanklik belowe en hier en daar is daar tog flertsies van Emma se gedagtegang, en dan net genoeg dat jy oor van haar reaksies bly wonder. Waarom byvoorbeeld is dit dat as sy heel vroeg in die verhaal in die huis oorval word en byna doodgemaak word – die wit waks word uit haar geskop – hierdie aanranding geen ooglopende nagevolge het vir haar en haar storie en hoe sy daaroor dink en voel nie? Stories is nou eenmaal ’n ketting van oorsaak en gevolg, en as daar iets ernstig in ’n storie gebeur sonder dat dit ewe ernstige nagevolge het, dan krap die leser kop.
.............
Stories is nou eenmaal ’n ketting van oorsaak en gevolg, en as daar iets ernstig in ’n storie gebeur sonder dat dit ewe ernstige nagevolge het, dan krap die leser kop.
...............
Waaroor ’n mens wel lekker aan die raai gaan, dit wil sê wanneer die intrige jou aan die kort hare beetkry, is wanneer jy betrokke raak by die lotgevalle van die vrou by wie Emma op Clarens tuisgaan, ene Vera, ’n tante van haar oorle man. Vera is ’n korrelkop van ’n vrou, moeilik; suip vir die eerste span, met so ’n hakkelende sidekick, Danie, wat deur sy familie vir die honde gegooi is.
Die ding van hierdie Vera is dat sy, moeilik soos wat sy is, buitestander wat sy is, so wars van konvensies wat sy is, dit reggekry het om met byna die hele dorp se mans te slaap, getroud of te not. Hoe ’n mens dit regkry, weet ek nie, maar hierdie rondslapery van haar het haar in elk geval in ’n vieslike slagyster laat trap. Sedert 2013 kry sy elke jaar ’n koevert met goeters daarin wat weldra leidrade blyk te wees van iets verskrikliks wat met haar gaan gebeur: Haar huis brand af; haar kat word doodgemaak; haar kleindogter aangerand; haar seun verdwyn ...
Emma wen in so ’n mate hierdie kwasterige Vera se vertroue dat sy die hele verhaal koevert vir koevert aanhoor. En haar eie afleidings begin maak. Is dit een van die vele minnaars wat hieragter sit? Wie is Vera se seun se pa? Die net word ooglopend al nouer en nouer om Vera gespan. Wat gaan volgende gebeur? Die jongste koevert het pas aangekom en enige regdenkende mens kan net die ergste verwag.
Dit is egter vreemd dat Emma nie meer vrae het oor byvoorbeeld die polisie se betrokkenheid of onbetrokkenheid nie. Of wonder hoekom die familie dan nie gehoor het van die gruwelike aanval op Vera se kleinkind nie. Sy is immers die dogter van haar oorlede man se neef, die man aan wie hy so geheg was dat sy besluit het om sy as op Clarens te kom strooi.
Dit is die soort vrae wat begin knaag as jy aanvaar dat Ons skulde nie ’n voortsetting van ’n Hart so groot soos ’n vuis se komplekse sielkundige en selfs metafiksionele diskoers is nie. Dit is ’n aksieroman waarvan die hartklop spanning en uiterlike handeling is.
.............
Dan kan jy oor hierdie kleinigheidjies mor, maar wat veel meer tel, is daardie naelbyttonele teen die einde met ’n helikopter wat oor Bloemfontein stotter, polisiesirenes, flitsende ligte, ambulanse – en die moontlikheid dat almal – óns almal – reddeloos in ’n poel yskoue donker water wegsink.
................
Dan kan jy oor hierdie kleinigheidjies mor, maar wat veel meer tel, is daardie naelbyttonele teen die einde met ’n helikopter wat oor Bloemfontein stotter, polisiesirenes, flitsende ligte, ambulanse – en die moontlikheid dat almal – óns almal – reddeloos in ’n poel yskoue donker water wegsink.
- Francois Smith is ’n skrywer en dosent in letterkunde en kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat.