
Johan Degenaar deur Onbekend – Stellenbosse Galery, PD-SA, via WikiMedia.
Johan Degenaar (1926–2015) was een van die belangrikste Afrikaanse filosowe van die twintigste eeu. Hy het nie ’n geslote filosofiese stelsel nagelaat nie. Sy nalatenskap lê eerder in ’n manier van dink: vraend, dialogies, ironies en voortdurend bereid om ook die eie uitgangspunte te ondersoek. Hy het filosofie nie as die besit van finale antwoorde verstaan nie, maar as ’n tweede refleksie waardeur ons leer om anders na die wêreld en na onsself te kyk.
Degenaar is op 7 Maart 1926 op Ladysmith in Natal gebore. (Vanjaar is dus sy honderdste geboortejaar.) Hy het in ’n arm, Afrikaanssprekende NG Kerk-gesin grootgeword, maar omdat Ladysmith ’n oorwegend Engelse dorp was en hy ’n dubbelmediumskool bygewoon het, is sy wêreld vroeg reeds deur meer as een taal en kultuur gevorm. Hy sou later sê dat hy die wêreld deur Afrikaans ontdek het. Die Bybel, Van Wyk Louw, Opperman en die skoonheid van taal was deel van hierdie eerste ontdekking.
In 1944 gaan hy na Stellenbosch om teologie te studeer. Daar ontmoet hy Sokrates – en dié ontmoeting verander sy lewe. Die Sokratiese gedagte dat ’n ongeëksamineerde lewe nie die moeite werd is nie, word die grondtoon van sy denke. Filosofie begin wanneer ons nie net ervaar en handel nie, maar ook krities nadink oor die begrippe, gesagsaansprake en vooroordele waarbinne ons leef.
Hy voltooi in 1948 ’n MA onder Professor Freddie Kirsten, met Bergson se opvatting van die lewe as beweging en proses as belangrike invloed. In 1949 en 1950 studeer hy in Groningen, waar Helmuth Plessner hom aan Husserl en Scheler se fenomenologie bekend stel. By Gerardus van der Leeuw ontdek hy die betekenis van mites en godsdienstige simboliek. Hy besoek ook Karl Jaspers en Karl Barth.
Sy doktorale studie, wat hy in 1951 op Stellenbosch voltooi, behandel die vraag na die aard van filosofie. Kant, Jaspers en Heidegger help hom om die grense van objektiverende, wetenskaplike rede te ondersoek. Die werklikheid kan nie volledig in presiese begrippe vasgevang word nie. Die estetiese, morele en religieuse open ander dimensies van menslike ervaring.
Vanaf 1949 was Degenaar aan die Universiteit Stellenbosch verbonde. Sy kritiese benadering het spanning met die teologiese establishment veroorsaak. Sy werk oor sekularisasie en die sterflikheid van die siel het die tradisionele dualisme tussen liggaam en siel bevraagteken. In 1961 is hy uit die filosofiedepartement na ’n nuwe kursus in staatsfilosofie verskuif. Soos ’n voormalige student ironies opgemerk het: die universiteit het hom verwyder uit ’n gebied waar hy vir die kerk gevaarlik was en hom geplaas waar hy vir die staat gevaarlik kon word.
Degenaar word in 1969 professor en ontwikkel tot ’n vooraanstaande politieke filosoof en openbare intellektueel. Hy tree in 1991 af, maar bly skryf, lees en gesprek voer. Hy is op 22 Julie 2015 in Somerset-Wes oorlede.
Sy sentrale begrip was “tweede refleksie”. Ons leef aanvanklik binne ’n taal, kultuur, geloof en politieke orde wat vir ons vanselfsprekend voorkom. Filosofie begin wanneer ons op hierdie eerste ervaring terugbuig en vra:
- Wie praat?
- Vanuit watter geskiedenis?
- Wie oefen gesag uit?
- Wie word uitgesluit?
Degenaar het eerstejaarstudente gewaarsku: “Julle moet nie ’n woord glo wat ek sê nie.” Dit was nie sinisme nie, maar ’n uitnodiging tot verantwoordelike selfstandigheid.
Sy politieke ontwaking het geleidelik plaasgevind. Die Nasionale Party se 1948-slagspreuk “Hou Suid-Afrika blank” het hom as absurd getref. Sharpeville en die uitsluiting van bruin Afrikaanssprekendes het sy kritiek op apartheid en Afrikanernasionalisme verdiep. Tog het hy later eerlik erken dat filosofiese distansie aanvanklik ook ’n veilige skuilplek teen politieke betrokkenheid gebied het.
Teenoor liberalisme het hy die waarde van individuele vryheid behou, maar die afgesonderde individu bevraagteken. By Buber leer hy dat die mens in verhouding tot ander bestaan. Teenoor nasionalisme het hy gewaarsku dat een verbondenheid – die volk – alle ander verhoudinge kan versmoor. By Marxisme waardeer hy die kritiek op ekonomiese onreg, maar verwerp hy die reduksie van die geskiedenis tot klassestryd.
Sy alternatief was politieke pluralisme: die mens leef tegelyk in verskillende tale, gemeenskappe, verhoudinge en geskiedenisse. Geen staat, volk, klas of nasiebouprojek mag hierdie veelheid tot een identiteit reduseer nie. Daarom het hy voor 1994 reeds gewaarsku teen ’n nuwe staatsnasionalisme wat verskeidenheid onder die naam van nasionale eenheid kon onderdruk.
In sy latere werk het kuns, metafoor, Ricoeur, Derrida en ’n affirmatiewe postmodernisme belangrik geword. Taal weerspieël nie bloot die wêreld nie; dit help om nuwe moontlikhede van bestaan te ontsluit. Ons moet leer om verskil nie net te verdra nie, maar sinvol te leef.
Vanuit ’n krities-hermeneutiese perspektief kan ’n sagte vraag tog aan Degenaar gestel word: bied pluralisme genoeg maatstawwe om tussen botsende aansprake te oordeel? Hoe word openheid met geregtigheid verbind wanneer sommige stemme ander se menswaardigheid ontken? Sy denke sou ook verder gevoer kon word deur sterker met ekonomiese strukture, tegnologie en die institusionele werking van mag te worstel.
Maar miskien lê sy blywende betekenis juis daarin dat hy nie die gesprek wou afsluit nie. Degenaar leer ons dat ’n tradisie slegs lewend bly wanneer sy tot tweede refleksie bereid is. Om die wêreld te ontdek, is nooit afgehandel nie. Ons moet telkens weer beweeg tussen erfenis en kritiek, verbondenheid en vryheid, interpretasie en verantwoordelike oordeel.
Lees ook:
100 jaar sedert Johan Degenaar se geboorte: ’n Onderhoud uit 1989
Johan Degenaar: Filosoof in opdrag van die vreugde, die woord en die Woord

