Hulde aan Johan Degenaar

  • 0
etiennebritz_degenaar650

Etienne Britz (foto: Jean Oosthuizen)

Etienne Britz se bydrae tot die Departement Filosofie se openbare huldiging van die ontslape Johan Degenaar, Wilcocksgebou, Universiteit Stellenbosch, Saterdag 1 Augustus 2015.       

Dames en here

Ek is 'n letterkundige en het slegs 'n eerstejaarskursus in die filosofie gevolg, sowat 50 jaar gelede, in 1966.

In 1966 het Christelik-Nasionale oortuigings die universiteitsbestuur, die studenteraad en die huiskomitees op Stellenbosch oorheers. Die meeste primariusse was tokkelokke en Eben Dönges was die kanselier. Johan Degenaar, senior lektor in die Departement Filosofie, het hierdie bolwerk op Sokratiese wyse bevraagteken. Hy was toe 40 jaar oud. 'n Gedistingeerde dosent op die kruin van sy kragte.

'n Konserwatiewe Stellenbosser het Degenaar in 1966  teenoor my beskryf as “die adder in ons midde”. Dit was nogal raak, want Degenaar het in dié jare, net soos die adder in die Bybelse paradysverhaal, die aard van die menslike sterflikheid ter diskussie gestel. Ek dink aan sy boek Die sterflikheid van die siel van 1963.

In 1966 het die hoof van die departement, Freddie Kirsten, die Griekse filosowe een vir een, in chronologiese of miskien logiese volgorde, aan ons eerstejaars bekendgestel.

Ek is telkens gefassineer deur 'n denkskool of filosofiese teorie wat Kirsten kragtig uiteengesit het. Kirsten het aan die oortuigingskrag van elke teorie volle geleentheid gegee. Die volgende week het hy egter 'n nuwe Griekse filosoof bekendgestel, 'n denker wat gewoonlik die mat onder die vorige een uitgetrek het.

Toe Sokrates aan die beurt kom, is die patroon verbreek, omdat Sokrates nie 'n verklarende teorie aangebied het nie. Hy het insigte by gespreksgenote losgemaak en dan intelligent, oftewel krities, daarop gereageer. So is na verlossende kennis gesoek. Kennis is nie langer gesoek in die gesag van 'n verklarende teorie nie.

Kirsten het sy klasse telkens met 'n gebed geopen. Dit was asof hy met die een voet op vaste Christelike grond gaan staan voordat hy met die ander voet die heidense grond van die Griekse filosofie betree. Hierdie benadering het 'n suiwer akademiese waarde, soms byna 'n kuriositeitswaarde, aan die antieke Griekse denkbeelde gegee. Die Christelike geloof is duidelik voorgehou as ons klas se vertrekpunt en bron van uiteindelike waarheid.

In Degenaar se klasse het iets totaal anders plaasgevind.

Geen sprake van 'n openingsgebed nie. Ons heel eerste opdrag, in die tweede week, was om na te dink en dan iets te skryf oor die vraag: Wat is 'n universiteit?

Dit was geen neutrale opdrag nie, want almal het geweet “Stellenbosch staan vir 'n idee”, en dat DF Malan met dié idee iets bedoel het soos die akademiese veredeling van die Afrikaner, op Christelik-Nasionale grondslag.

Sokratiese vraagstelling eerder as 'n Christelike gebed was ons vertrekpunt en weg na die waarheid in Degenaar se klas. En ons sou begin met die mees fundamentele vraag, die vraag oor wat ons op die Universiteit Stellenbosch soek.

Degenaar het sy studente uit die staanspoor gedwing om na te dink oor ons universiteit voordat die waarheid ons universiteit kon inhaal. Die vraag of, en hoe, Stellenbosch moet transformeer, was in 1966 eerste op die agenda in Degenaar se klas.

Was Degenaar 'n ondermyner van die Afrikanersaak?

Johan het grootgeword op Ladysmith in Natal. Ladysmith was op sy dag die Boererepubliek Kliprivier met Andries Spies as kommandeur. Degenaar se pa, Johannes Jakobus Degenaar, was tydens die Anglo-Boereoorlog 'n Natalse rebel. Die Britse koloniale bewind het hom vir hoogverraad gevonnis.

Die grootste reis wat Johan as kind onderneem het, was waarskynlik die tog saam met sy ouers en drie susters na Pretoria vir die herdenking van die Groot Trek in 1938. So lyk dit altans volgens 'n foto waarop Degenaar se pa, ma, drie susters en hy self as twaalfjarige seuntjie met Voortrekkerklere aan langs 'n ossewa staan.

Sy ouers was betreklik behoeftig, maar Johan kon nietemin in Stellenbosch kom studeer vir predikant. Die bediening was in die veertigerjare nog die mooiste ideaal wat 'n Afrikaner kon nastreef. Johan kon nie beter Boerseun-kwalifikasies gehad het nie. En ek dink hy het tot sy dood trou gebly aan alles wat hy altyd was.

Op Stellenbosch aangekom, in 1943, het Kirsten hom egter aan Sokrates blootgestel. Gaandeweg het Degenaar in Stellenbosch, en vervolgens aan Europese universiteite, ook denkers soos Kant, Heidegger en die eksistensialis Jaspers begin lees. 'n Belangrike invloed, in samehang met die invloed van Jaspers, was Gerard van der Leeuw, onder wie hy aan die Universiteit van Groningen gestudeer het. Dit moes Degenaar as mens laat verander het.

Hy moes begin droom het van 'n mens, ook 'n universiteit, wat bo die behepthede en bevangenhede van sy plaaslike omgewing uitstyg. 'n Mens en 'n universiteit oop, nuuskierig, vreugdevol, lief vir debat, onbevooroordeeld, moreel gevoelig, verdraagsaam, verbeeldingryk, verfynd, volwasse.

Hierdie belese Degenaar is in 1949 deur Kirsten as dosent in sy departement aangestel. Mooi so, prof Kirsten.

Later sou Degenaar se belangstellingsveld steeds groter uitgroei. In 1966, my eerste jaar op Stellenbosch, het sy boek Die wêreld van Albert Camus byvoorbeeld verskyn.

In die laat sewentigerjare het ek lid van Degenaar se gespreksgroep geword. Lees gerus die boek Gesprek sonder grense wat Dirk Hertzog in samewerking met baie gespreksgroeplede in 2006 uitgegee het. Dit moet in die biblioteek beskikbaar wees.

In die sewentigerjare het die gespreksgroeplede nog tot eenuur in die nag op die gasheer se grasperk voortgeredekawel. Na die wisseling van die millennium het ons grysgeworde koppe om tienuur reeds begin knik.

My laaste bydrae tot die gespreksgroep het gehandel oor die Genootskap van Regte Afrikaners se verbod op bydraes van vroue in Di Patriot, en die algemene vooroordeel teen vroue in die heel eerste Afrikaanse gedigte. Ek wou Hermann Giliomee hiermee treiter, maar hy het helaas onder my gedreun aan die slaap geraak.

'n Mens het pret beleef in Degenaar se gespreksgroep. Jy moes net nie daarop uit wees om 'n argument te wen deur die bespreking te oorheers nie.

Johan Degenaar was baie goed vir die Universiteit Stellenbosch, op die eerlike wyse van 'n kritiese lojalis, 'n ware vriend. 'n Mens kan na sy dood alleen met groot liefde aan hom dink. Dankie vir die geleentheid om dit hier te mag sê.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top