US-huldigingsgeleentheid van Johan Degenaar: Indrukke en foto's

  • 1

degenaar_geleentheidblomme650

 

Die Departement Filosofie aan die Universiteit Stellenbosch (US) het op Saterdagoggend 1 Augustus 2015 ʼn huldigingsgeleentheid in die Wilcocksgebou gehou vir Johan Degenaar wat verlede Woensdag oorlede is. Jean Oosthuizen deel sy indrukke en foto's van die geleentheid met LitNet. 

Johan Degenaar was veel meer as die versinnebeelding van die oop gesprek. Met sy gevaarlike vraagstelling oor kerk, staat en party wat hy by Sokrates geleer het, het hy generasies studente by Maties vir hulleself leer dink.

Die man wat van Christene weer mense wou maak maar die adder in die kerk se boesem geword het, die Sokrates van Stellenbosch, is die afgelope naweek na sy dood deur sy alma mater op Stellenbosch gehuldig vir sy enorme bydrae tot oop gesprek.

degenaar_antonvanniekerk

Anton van Niekerk

Degenaar het Stellenbosch toe gegaan om teologie te studeer. In die filosofieklas ontdek hy toe vir Sokrates en dit word ʼn draaipunt in sy lewe. Daardie woorde van Sokrates: “An unexamined life is not worth living” het sy lewe verander.

Die afgelope Saterdag het spreker na spreker in die Universiteit Stellenbosch se Wilcocksgebou in Ryneveldstraat agter dieselfde woorde, “die ongeëksamineerde lewe is nie die moeite werd om te leef nie”, hulde gebring aan hierdie uitnemende Stellenbosse filosoof en intellektueel.

degenaar_death

Die rektor van sy alma mater waar hy menige hard been moes kou, Wim de Villiers, het hom beskryf as ʼn leermeester in die soeke na antwoorde op die lewe se grootste vrae. Iemand met ʼn fenomenale intellek wat die vermoë gehad het om self te dink en krities na die wêreld te kyk.

Geen antwoord was vir hom ooit ʼn finale antwoord nie.

“Dit is ironies dat dit juis sy alma mater was wat hom opdraand gegee het oor die kritiese vrae wat hy gevra het,” het De Villiers in sy huldeblyk gesê.

degenaar_aantekeninge

Die US se Filosofiedepartement het destyds noue bande met die NG Kerk gehad en as voorgraadse voedingsbron vir die kweekskool gedien. In die 1960’s is dié departement geherorganiseer om Degenaar weg te kry van die vrome tokkelokke. ‘n Eenmansdepartement in staatsfilosofie is spesiaal gestig, waar hy gou ook vir die Nasionaliste ’n bedreiging geword het, onder meer oor sy protes teen die waansin van apartheid.

“Ons kan weer baat by sy onverskrokke verbintenis tot die oop gesprek. Stellenbosch en Suid-Afrika het ʼn groot figuur verloor. Mag ons nooit ophou vrae vra nie,” het De Villiers die afgelope naweek gesê.

degenaar_etienneb

Etienne Britz

Een van sy studente en latere huisvriend en jare lange kollega in die Departement Staatsfilosofie, André Du Toit, het vertel hoe Degenaar sy inleiding tot die filosofie aan sy studente altyd begin het deur vir hulle die storie van Rooikappie te vertel om anders na die wêreld te kyk.

Degenaar was die produk van ’n bepaalde volkstradisie en is grotendeels deur die kerk se eie toedoen as filosofieprofessor aangestel. Maar dit was nie lank voordat die NG Kerk hulle fout agtergekom het en van hom ontslae wou raak nie. Hy is onder meer kwalik geneem vir sy artikels oor “ketterse” onderwerpe soos die sterflikheid van die siel. Die NG Kerk, wat effektief in beheer van die universiteit en die kuratorium was, het besluit Degenaar moes weg.

degenaar_nogaantekeninge

Daar was sterk druk op die universiteit om ʼn plan te maak met Degenaar. Die universiteit kon egter nie sommer so goedsmoeds van hom ontslae raak nie en so word hy ʼn al hoe groter trekpleister vir diegene wat verder wou dink.

As ʼn eenmansbende het daar ʼn konstante stroom publikasies uit sy pen gevloei. Die gespreksgroep wat hy begin het, het vir meer as 40 jaar mense aan die dink gesit en was nie net tot akademiese kringe beperk nie.

degenaar_antonrandall

Jurie van den Heever en Randall Wicomb

Hy was veel meer as uitnemende filosoof en intellektueel. Degenaar se ideaal van oop gesprek en lojale verset het die politieke magshebbers en kerklui van die dag ongemaklik gemaak. By dieselfde instelling waar hy destyds lank gemarginaliseer was, is daar die afgelope naweek net lofredes gelewer vir die profeet wat nie in sy eie land geëer is nie.

Een van Degenaar se studente en jare lange kollega, Willie Esterhuyse, het vertel hoe hy altyd die gebede neergeskryf het waarmee Degenaar die klas geopen het soos wat die gewoonte destyds was. “Ek het gevoel as ek eendag op die kansel staan sal ek dit goed kan gebruik,” het Esterhuyse vertel. Uiteindelik het Esterhuyse ook filosoof geword en nooit die kansel bestyg nie.

degenaar_laasteonderhoud

Laaste onderhoud met Degenaar

Een van die gebede wat Degenaar in die filosofieklas gebid het, weerklink vandag nog helder in Esterhuyse se ore: “Here, vroeër was dit nodig om van mense Christene te maak. Help ons vandag om van Christene weer mense te maak.”

“Daar was destyds baie vadergode in die politiek en die kerk,” vertel Esterhuyse: die dominee, die skoolhoof, die landdros en baie ander. Degenaar het hom gehelp om daardie vadergode van die tafel te vee en op ʼn ander manier oor mag en gesag te dink.

degenaar_linaenchris

Lina Spies en Chris Jones

Op aandrang van die kerk is hy uit sy pos geskop. Maar nooit het hy sy lewenslus en humor verloor nie. Op ʼn ironiese manier het hy steeds die beheptheid met mag en gesag gebruik om ʼn klomp vadergode in die afgrond te laat tuimel, sê Esterhuyse.

Toe daar onder sy leiding ʼn nuwe Filosofiedepartement tot stand kom, los van die kuratorium en mooi netjies in die middel tussen die Bybelkunde en Joernalistiekdepartemente, was dit Degenaar wat met ʼn vonkel in die oog gesê het dit is nou die balans tussen die Bybel en Die Burger.

degenaar_louisedutoit

Dit was ook by Johan Degenaar in die filosofie en by DJ Opperman in die Afrikaanse en Nederlandse poësie dat Lina Spies geleer het wat metafore is: dat die digter se sterkste uitdrukking deur middel van die taal van die poësie die metafoor is en dat ’n mens net in metafore oor God kan praat.

“Wat ek later in my lewe aanvanklik nooit kon begryp nie, is dat Johan Degenaar beskou is as iemand wat studente kon ‘verwar’ en dus ‘gevaarlik’ was. Vandag begryp ek dit in ’n sekere sin wel,” het Spies Saterdag vertel.

degenaar_andredutoit

André du Toit

“Blydskap was die grond van sy geloof in en vreugde aan die aarde en ons liggaamlike aardse bestaan. Dit het ’n kardinale rol gespeel in my geloofsoortuigings wat my al hoe meer weggelei het van Christus, die gekruisigde Verlosser, wat vir ons die hiernamaals verseker, na die historiese Jesus wat in sy lewe grense oorskry het tussen Skrifgeleerdes en eenvoudige vissers, tussen Jood en Samaritaan; en wat omgegee het vir die statusloses van sy samelewing, vrouens en kinders.

“Ek verstout my dus om te sê wat ek sedert Johan se dood aanhoudend dink, naamlik dat Johan Degenaar vir my die naaste is aan die voorstelling wat ek vir my kan maak van wie Jesus, die lewende mens, was,” het Spies hom opgesom.

Louise du Toit, voorsitter van die Departement Filosofie, het gewys op die kombinasie van Degenaar se humor en intellek. “Die scary ding van Degenaar was dat hy sy studente ernstig opgeneem het. Net soos Sokrates.”

degenaar_willieesterhuizen

Willie Esterhuyse

Hy het alles op ʼn Sokratiese wyse bevraagteken. Daarom is hy as die adder in die kerk se midde bestempel, sê die letterkundige Etienne Britz, een van sy studente en later ʼn jare lange kollega in sy gespreksgroep.

Die Christelike geloof van daardie tyd is voorgehou as die vertrekpunt van alles. Degenaar het egter verkies om op die Sokratiese vraagstelling te fokus eerder as op die Christelike voorgeskrewe dogma. Baie mense het gevoel hy is die ondermyner van die Afrikanersaak. Maar hy kon dit regkry om mense te leer uitstyg bo die beheptheid van politieke en kerklike mag en het hom deurgaans vir oop gesprek beywer.

degenaar_wimdevilliers

Wim de Villiers

Lina Spies het verder gesê: “Johan Degenaar se dood het my gekonfronteer met die wrede finaliteit van die blywende afwesigheid van al die mense wat in my leeftyd die grootste deel gehad het aan my vorming as mens. Maar hoe kan jy getrou wees aan Johan Degenaar se geestelike nalatenskap as jy nie weer opstaan in die lig van die hiermaals nie?

“Ek is nie ’n geleentheidsdigter nie. Ek kan nie besluit om ’n gedig te skryf nie. Die gedig vir Johan Degenaar se 80ste verjaarsdag het ‘gebeur’; dit is nie uitgedink nie; dit was ’n geskenk aan hom wat aan my gegee is om te skryf,” het Spies haar huldeblyk afgesluit, met die voorlees van haar gedig:

Johan Degenaar

Filosoof van die hiermaals 80

Hy het my laat besef
dat die vreugde ’n opdrag is;
dat God die hande wat ons ophef
na Hom as ’t ware wegstoot
om die aarde te omklem.

Woorde om nooit te vergeet nie
het hy aangehaal en sedertdien
glo ek soos Chesterton dat God,
ons Vader, jonger is as ons
en soos ’n kind nooit moeg word nie,
maar elke oggend die son beveel om op te kom.

Ek het van Johan Degenaar geleer
dat al maak jy jou nie sonder klere skeur
los uit die knelgreep van dogmas nie,
al moet jy jou telkens ontswagtel
uit die grafdoeke van leed en verlies,
jy altyd weer soos ’n Lasarus
in die lig van die hiermaals op kan staan.
             (Tydelose gety)

Foto's: Jean Oosthuizen

  • 1

Kommentaar

  • 'n Vriend van my het my hierdie week herinner dat Degenaar my 0 (zero) vir my eerste opstel vir hom gegee het.

    "Beauty is truth, het jy geskryf in daai opstel as ek reg onthou. Ek reken Degie het 'n mooi lewe gehad. Nie as gevolg van die groot soeke na waarheid ens nie, maar net: lekker niche, oraait salaris, boeke, lekker kak praat, respek van sy slim kollegas en venyn van die dommes, en vindikasie so driekwartpad deur.  Beautiful."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top