100 jaar sedert Johan Degenaar se geboorte: ’n Onderhoud uit 1989

  • 0

Foto van Johan Degenaar: https://oulitnet.co.za/seminaar/23Degenaar.asp; foto van mikrofoon: Canva

In 1989 was ek ’n honneursstudent in politieke filosofie aan die Universiteit Stellenbosch. Mike de Vries was die rektor en aktiewe lid van die Broederbond, en PW Botha was beide staatspresident en kanselier van die universiteit.

Johan Degenaar was reeds ’n legende, en ek het hom bewonder vir sy intellek en sy uitgesproke voorkeur vir ’n nierassige demokratiese toekoms vir Suid-Afrika. My pa was baie jare tevore ook ’n student van Degenaar, en het my vertel dat die Departement Politieke Filosofie spesifiek gestig was om hom weg te hou van die teologiestudente, omdat sy sokratiese metodes te gevaarlik was vir die Kweekskool se produksielyn van NG Kerk-tokkelokke.

Maar ek was ook onseker oor die waarde van strukturalisme en dekonstruksie terwyl die land gebrand het. Degenaar het vir ons Marx én Derrida laat lees, en ek dink nie ons jong studente het sy metodes ten volle verstaan en waardeer nie.

Ek het besluit om hom uit te nooi vir ’n onderhoud, en hy het ingestem. Hy was naby aftrede en iets in my het geweet dat dit goed sal wees om sy stem vas te vang. Met ’n splinternuwe TDK-kasset in die hand het ons afgeloop van die sesde vloer na die taallaboratorium in wat toe die BJ Vorster-gebou was. Dit was Desember 1989, ’n paar maande na PW Botha se bedanking as president, en ’n paar maande voor FW de Klerk se 2 Februarie-toespraak.

.........
Dit was Desember 1989, ’n paar maande na PW Botha se bedanking as president, en ’n paar maande voor FW de Klerk se 2 Februarie-toespraak.
.........

Dit is vanjaar 100 jaar sedert Degenaar se geboorte, en ek het besluit om weer na die onderhoud te luister. ’n Mens se eie stem klink altyd vreemd as jy daarna luister, maar in hierdie geval ook onbeholpe as jy hoor hoe ’n redelik naïewe 21-jarige student probeer om ’n onderhoud met ’n swaargewigfilosoof te voer. Sy antwoorde was egter, soos sy lesings, geduldig, weldeurdag en nederig.

Die opname eindig met Degenaar se besinnings oor die verskil tussen die geskrewe teks en die improvisasie van ’n gesprek. Die onderhoud was reeds beëindig, maar ons moes saam uitloop uit die ateljee sodat ek die stop-knoppie kon gaan druk in die beheerkamer, en ek was seker hy sou daarvan gehou het om te luister na sy eie stem wat dowwer raak terwyl hy praat oor die voordele van dit wat met deeglike oorweging op skrif geplaas word.

Hier is ’n paar geredigeerde uittreksels uit die onderhoud.

Oor die ontstaan van die Politieke Filosofie-departement in 1967

Daar het besware gekom van die kant van die kerk en die teologie omrede die invloed wat ek sou gehad het op die admissiestudente. Prof Kirsten [hoof van die Filosofie-departement] het my altyd simpatiek behandel, omdat hy wel ’n verband met die kerk gehad het, maar ook ’n volwaardige filosoof was en die integriteit van die akademie wou bewaar. Daar was ook ’n regstudent wat ons genader het omdat daar nie ’n politiekewetenskapdepartement was nie. Ek was nie die regte persoon om politieke wetenskap te begin nie, maar ons het wel gesê ons sal politieke filosofie doen.

Oor die politiek op kampus in die tagtigerjare, en die rol van waarna verwys is as die verligtes en die oorbeligtes

Daar het ’n spanning ontstaan met die mense in die Broederbond wat meer met die Filosofie-departement verbind sou wees as met ons in die politieke filosofie, wat nie in die minste daardie asemhaling kon verdra en nie in daardie wêreld tuis gehoort het nie. Dit hoef op sigself nie so ’n spanning te wees nie. Dis maar net twee verskillende wêrelde, maar daar het wel ’n verskilpunt na vore getree. “Verlig” was ’n woord wat gebruik is vir mense wat meen dat hulle binne die Broederbond en binne die Nasionale Party en eintlik die hele nasionalistiese beweging sterk genoeg was om rigting te gee. My standpunt was dat jy ’n regverdiging gee aan die Nasionale Party, al sê jy jy is krities. Ek het gesê die verligtheid het ook ’n negatiewe funksie, omdat dit die Nasionale Party ’n sekere geloofwaardigheid gee omdat hierdie sogenaamde verligte mense ook in die Nasionale Party is. Die skerpste verskil tussen verlig en oorbelig was eintlik tussen ons en buitekant beide departemente. Maar daardie mense wat buitekant was, en ook Willie Esterhuyse self binne die departement, het oorgekom na die oorbeligtes, want hulle het self agtergekom dat hulle moes breek met die Nasionale Party en die Broederbond, omdat daar geen moontlikheid was om werklik na ’n nierassige demokratiese Suid-Afrika te beweeg nie.

Oor die belangstelling in dekonstruksie

In 1984 was ek met verlof en het ek negatiewe politieke begrippe nagevors, en het dit toe gekombineer met ’n kongres oor moderne literêre kritiek by die Northwestern University in Chicago. Daar het ek gesien dat dekonstruksie veel belangriker is as wat ek ooit gedink het. Wat ek daar ontdek het, was strukturalisme, die idee dat iets ’n stel verhoudinge is wat ’n mens moet ondersoek. En ook dekonstruksie, wat hierdie benadering ondermyn, omdat daar sekere veronderstellinge en aannames ingebou is in daardie verhoudinge. Dit het my baie geboei, die feit dat jy onder ’n struktuur kan inkom as gevolg van die veronderstellinge, en veral die idee van die hiërargie van waardes in magsverhoudinge, wat oral ’n rol speel. En derdens ook die sosiale kritiek, wat met behulp van dekonstruksie sê jy moet nie net beskryf nie, maar jy moet gewoon ook nee sê vir die bepaalde magsverhoudinge wat ’n rol speel in die verstaanbaarheid daarvan.

Dit was die eerste keer dat ek so baie gevra is deur ander universiteite en deur kongresse en deur somerskole en herfsskole en winterskole – verskillende universiteite het my gevra om by al drie op te tree. Daar is blykbaar iets bevrydends in, want dekonstruksie sê “It needn’t be the case” – wát jy ook al analiseer, daardie bepaalde toedrag van sake hoef nie so te wees nie. Iemand het dit juis ook eendag vir my gesê na ’n byeenkoms waar die mense op die trappe in Kaapstad moes sit omdat hulle nie plek gehad het nie. Die entoesiasme dáár het hy verbind met die feit dat jy soms in die politiek en in die teologie voel dat jy in ’n doodloopstraat is.

........
Dekonstruksie help jou – nie deur vir jou die antwoord te gee nie, maar net deur vir jou tog daardie sensitiwiteit te gee dat die toedrag van sake nie so hoef te wees nie – in die kerk, in die teologie, in die parlement, in die politiek. Aan ’n universiteit, ook die styl waarmee ’n mens klas gee – dit hoef nie so te wees nie. Daar is nie ’n ghoeroe wat voorskryf hoe al die verhoudinge in ’n samelewing moet wees nie.
..........

Dekonstruksie help jou – nie deur vir jou die antwoord te gee nie, maar net deur vir jou tog daardie sensitiwiteit te gee dat die toedrag van sake nie so hoef te wees nie – in die kerk, in die teologie, in die parlement, in die politiek. Aan ’n universiteit, ook die styl waarmee ’n mens klas gee – dit hoef nie so te wees nie. Daar is nie ’n ghoeroe wat voorskryf hoe al die verhoudinge in ’n samelewing moet wees nie.

Oor ’n vergelyking met John Keating, die onderwyser in die film Dead Poets Society

Die een tema van Dead Poets Society wat vir my belangrik is, is dat elke mens sy eie stem moet vind. Dit was my metode reg van die begin af. Elke student moet sy eie geluid kan maak en dan argumente gee vir watter standpunt hy ook al het. Dit is waar dekonstruksie ook help, omdat dit mense aanmoedig “to put a new spin on the word”, maar dis sy éie “spin”, om dit so te stel. En ek hoop maar dat die filosofie en die politieke filosofie gehelp het dat studente hulle eie stemme vind. Ek dink ook jy sal dit sien as jy sou nagaan hoe die studente in die teologie ontwikkel het, en in die letterkunde ontwikkel het en in die politiek ontwikkel het. Ek glo nie dat almal dieselfde slagspreuke gaan staan en gebruik nie. Maar ek hoop dat wanneer hulle in die politiek en in die letterkunde en in die teologie hulle geluid gebring het, hulle dankie sal sê vir die bydrae wat ons gelewer het om hulle daardie kritiese houding te gee. Dit is die interessantheid van daardie kritiese houding en om jou eie lewe te eksamineer: As hy jou eenmaal byt, dan bly hy altyd by jou. En dit is ’n gesonde ding dat elke mens sy eie kritikus is en nie hoef te wag vir ander mense om hom tot verantwoording te roep nie.

  • Die datum van die onderhoud is 15 Desember 1989. Die opname is beskikbaar by hierdie skakel.

Lees ook:

Afrikaans-wees in Afrika en die Wêreld2000

By die dood van Johan Degenaar (1926–2015)

Uit LitNet se argief: https://oulitnet.co.za/seminaar/23Degenaar.asp

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top