By die dood van Johan Degenaar (1926–2015)

  • 2

degenaar_memoriam_etienne_britz

Hierdie huldeblyk is geskryf deur Etienne Britz, voormalige dosent aan die Universiteit Stellenbosch, en voorheen ook lid van die Degenaar-gespreksgroep.

"Hoe gaan dit met jou, Johan?"

"Dit gaan met my uitstekend!" het Johan Degenaar dit vreugdevol of dalk rebels uitgegalm, in sy "frail care"-kamer enkele weke gelede. 'n Mens moes tot die einde van sy dae raai wat Degenaar regtig oor enigiets gedink het. Maar sy lewensvreugde het beslis nog die oorhand oor enige moontlike selfbejammering gehad toe ek en die digteres Lina Spies hom verlede maand in Helderberg Retirement Village opgesoek het. Lina was 'n student en later 'n huisvriend van Johan en sy vrou Jetty. Ek was lid van sy gespreksgroep op Stellenbosch.

Met die ondersteuning van raadgewers en rigtingaanwysers het ek en Lina in Junie afgesit na Helderberg Village se Heatherton House, die fasiliteit vir siek of verswakte bejaardes waar Johan die afgelope tyd versorg is.

Ek en Lina is ook nie meer vandag se kinders nie, al bly mens altyd dieselfde ouderdom van binne. Ons het eers die afrit na Helderberg Village op die pad na Somerset-Wes misgekyk, hoewel ons dié uitdraai al ons lewens lank ken. Vies vir onsself moes ons omdraai en terugry, my GPS-opsporingstoestel met sy mondelinge instruksies dié keer aangeskakel.

Binne die aftreeoord het 'n swart beampte ons die weg probeer wys. Maar ek moes 'n keer in trurat uit 'n straat binne die doolhof retireer, steeds op soek na Johan. Later het 'n Engelse dame in 'n Honda ons oor die laaste hekkie gehelp.

Uiteindelik by Heatherton House aangekom, was dit nogal ontstellend om ons weg verby die Dementia Unit na die Frail Care Unit te vind. 'n Doodse (verdoofde?) stilte hang oor die kamers vir demente inwoners. Niemand selfs sukkelend meer op soek na iemand nie.

"Dis ook maar bra Engels hier," het Lina opgemerk. Haar ouers, stoere Vrystaters, was nie goed tuis in Helderberg Village nie, hoe utopies geleë en goed versorg die oord ook al mog wees.

Al hierdie negatiwiteit het Johan Degenaar kragtig van die tafel gevee toe ons in sy kamer aanmeld. Dit gaan met hom uitstekend, en dit was geweldig, nee, fantasties dat ons hier was, al het hy my nie herken nie. Opgewek, netjies aangetrek en met 'n stralende uitdrukking het Johan in sy leesstoel gesit.

Die geleentheid om iets van praktiese aard wat hom gepla het met ons hulp reg te stel, het hy veglustig aangegryp. Hy wou die muurprop van die lamp bo sy leesstoel ingeprop hê. Aan die diensdoenende verpleegster se stemtoon het dit geklink asof haar geduld beproef word deur die lasposte wat die oumense van hulle kan maak. Maar met besoekers in die kamer het sy die lamp weldra laat brand.

Wat my opgeval het, was dat Johan die brandende lamp nie opgemerk het nie en blykbaar terstond vergeet het van die muurprop waaroor hy minute vantevore nogal ontsteld was.

Die probleem met Johan Degenaar, in die laaste maande van sy lewe, was dus sy vervlietende korttermyngeheue.

Dit het vir my gelyk asof hy letterlik in die oomblik leef en 'n onderwerp nie langer as een of twee minute onthou en vashou nie. Maar hy was op die dag van ons besoek van oomblik tot oomblik helder en homself - met behoud, wonderbaarlik, van sy legendariese ironiese laggie.

Met hierdie veelseggende lag het Degenaar as Sokratiese denker geboer, sy lewe lank. Dit het sy eie mening aanvoelbaar maar nie-eksplisiet gemaak, en 'n onderwerp oop vir bespreking gehou. Dit kon enige voortvarende betoog ontsenu. Sy sketterende, relativerende lag het gesorg dat 'n gespreksgenoot geen bespreking in 'n hoek van verstarde oortuiging kon vaskeer nie.

Lina het 'n pragtige bos ligroos blomme saamgebring. Sy was nie 100% seker of dit asters was nie, maar ons het afgespreek om dit asters te noem teenoor Johan wat glo eintlik 'n liefhebber van rose was. Op die boekkassie in sy "frail care"-kamer het ons juis 'n bossie rose aangetref – kunsrose as ek my nie vergis het nie.

Die pienk blomme het Johan se entoesiasme en nuuskierigheid onmiddellik geprikkel en hy het gevra wat dit was. "Asters," het Lina geantwoord. "Merkwaardig!" het Johan met 'n enigmatiese lag uitgeroep, en met sy vinger gewys na die blomme op sy boekkassie, wat volgens hom definitief "rose" was.

Miskien het ek my dit verbeel, maar dit het gelyk asof die radar van Johan se vraende intelligensie onmiddellik die onsekerheid oor die asters geregistreer en in 'n Sokratiese lag omgesit het.

Dieselfde het gebeur toe Lina vertel dat sy destyds die slimste student in sy klas was. "Werklik!" het Johan met 'n lag uitgeroep. Ek is herinner aan talle kere toe Johan my ook 'n koppie kleiner gemaak het juis wanneer ek gehoop het om in sy estimasie te styg.

Degenaar kon sy hele gespreksgroep op hierdie manier beskeie hou. Ek onthou 'n geleentheid toe rektor Chris Brink besig was om die appelkar op Stellenbosch met sy transformerende taalpolitiek te skud.

Die helfte van die gespreksgroepslede was reeds afgetree. Sommige was "has-beens" van wie mens nie veel meer gehoor het nie. Daar was nietemin 'n voorstel dat ons Chris Brink uitnooi sodat ons hom aan die tand kon voel. "Maar het julle genoeg status om die rektor uit te nooi?" het Degenaar met 'n sketterende laggie gevra. Einde van die voorstel.

Ek en Lina wou die man wat byna 'n universiteit op sy eie was, en wat soos 'n kleinskalige Sokrates, Christus of Confucius 'n lewenslange invloed op sy volgelinge uitgeoefen het, nie te lank vermoei nie. Die besoek is afgesluit met die voorlees van Lina se gedig "Johan Degenaar – filosoof van die hiermaals".

Ek meen Lina Spies het die woord "hiermaals" gemunt, maar Johan Degenaar het dit geïnspireer. Tydens Johan se loopbaan as Stellenbosse akademikus was daar 'n breuk tussen die Afrikaner se godsdienstige en politieke oortuiginge. Waarop hy as politieke filosoof gewys het, was dat 'n mens jou sake in die hiermaals in orde moet kry alvorens jy met die hiernamaals te koop mag loop.

Degenaar het sy eie lewe in die hiermaals nie verkeerd geleef soos baie van ons nie. Met sy vreugdevolle, toegewyde en betekenisvolle lewe het hy 'n wit brug na die dood gebou. Dit het inderdaad uitstekend met hom gegaan tot aan die einde, of dit nou die einde was of nie.

Johan Degenaar
Filosoof van die hiermaals

- deur Lina Spies

Hy het my laat besef
dat die vreugde 'n opdrag is;
dat God die hande wat ons ophef
na Hom as't ware wegstoot
om die aarde te omklem.

Woorde om nooit te vergeet nie
het hy aangehaal en sedertdien
glo ek soos Chesterton dat God,
ons Vader, jonger is as ons
en soos 'n kind nooit moeg word nie,
maar elke oggend die son beveel om op te kom.

Ek het van Johan Degenaar geleer
dat al maak jy jou nie sonder klere skeur
los uit die knelgreep van dogmas nie,
al moet jy jou telkens ontswagtel
uit die grafdoeke van leed en verlies,
jy altyd weer soos 'n Lasarus
in die lig van die hiermaals op kan staan.

Lees 'n SeminaarKamer-bydrae deur Johan Degenaar op LitNet se heel eerste skrywersberaad.

 

  • 2

Kommentaar

  • Stefaan de Jager

    Ek sluit aan by die laaste deel van die gedig: " ....jy altyd weer soos 'n Lasarus in die lig van die hiermaals op kan staan."

    Na Lasarus se eerste opstanding uit die dood het hy nog `n entjie gegaan in die hiermaals. Ons weet nie oor sy pad as gelowige daarna nie, maar indien hy sy pad as `n volgeling van Christus sou loop, sal `n nog groter wonderwerk vir hom waar word, wanneer hy met die wederkoms van Christus in die lig van die ewige hiernamaals sal opstaan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top