André du Toit deel sy bydrae omtrent Johan Degenaar by 'n onlangse huldigingsgeleentheid met LitNet.
Stellenbosch, 1 Augustus 2015
Dit was my besondere voorreg om Johan Degenaar sedert 1957 – toe ek ‘n eerstejaarstudent in die Stellenbosse Departement van Filosofie was – oor ‘n periode van amper 60 jaar van naderby mee te maak as dosent, Sokratiese leermeester, studieleier, kollega in ‘n tweemansdepartement, gespreksgroepleier, huisvriend en nog veel meer. Dit is nie moontlik om in ‘n paar minute hier reg te laat geskied aan die betekenis wat hy vir my, soos ook vir generasies van studente en kollegas op Stellenbosch, gehad het nie. Daar was al meerdere huldigingsbundels en -geleenthede wat dit op verskillende maniere probeer doen het. Daar sal sekerlik nog meer geleenthede wees waarby ons op gepaste wyse vir Johan Degenaar en sy veelkantige nalatenskap sal gedenk. Ek sal my beperk tot enkele opmerkings oor Johan se beginjare in die Stellenbosse Filosofiedepartement en sy rol in die totstandkoming en uitbouing van die Departement van Staatsfilosofie (later Politieke Filosofie) waarin ek van 1969 tot 1986 nou met hom kon saamwerk.
Dit het tereg legendaries geword hoe Degenaar beginnende studente ‘n eerste inleiding tot die filosofie gegee het deur hulle die storie van Rooikappie en die wolf te vertel – en die onderliggende betekenisse en implikasies daarvan uit te spel. Minder bekend, en vandag nie net vergete nie, maar moeilik om te begryp, is dat die Degenaar wat ek in 1957 leer ken het, sy voorlesings soms met ‘n gebed begin het. En nie net ‘n standaard rituele formulering nie, maar ‘n behoorlike gedrae inkantasie met ‘n toepaslike boodskap. Dit was in daardie tyd ‘n algemene gebruik in prof Kirsten se Filosofiedepartement en sê heelwat oor die tradisionele plek en rol van filosofie by die Universiteit Stellenbosch. Soos Andrew Nash aangetoon het, is dit ‘n besondere kenmerk van Stellenbosch dat dit ‘n eie en gevestigde filosofiese tradisie het wat tot die 1860’s en die “Liberalismestryd” in die Kaapse NG Kerk teruggevoer kan word.[i] Maar daardie Stellenbosse filosofiese tradisie – met figure soos prof Brummer, Tobie Muller, prof Du Plessis (“Pienk Piet”) en prof Kirsten – was gewortel in kerklike en teologiese besinning en debat. Johan Degenaar was ‘n produk van hierdie tradisie. Maar na die Tweede Wêreldoorlog was hy ook deel van ‘n nuwe generasie van studente met wyer perspektiewe en ander belangstellings, oa in eksistensiële filosofie en fenomenologie, Kierkegaard en Husserl. Soos Andrew Nash dit gestel het, filosofies was dit die tyd toe “Kierkegaard na Stellenbosch gekom het”.[ii]
Toe ‘n tweede permanente dosent naas Kirsten in 1948 aangestel moes word, was die sterkste kandidate James Oglethorpe (later adviseur van Kenneth Kaunda), Daantjie (DCS) Oosthuizen (later ons voorste analitiese filosoof by Rhodes-universiteit) en Johan Degenaar. Degenaar is aangestel waarskynlik as die “veiligste” keuse vanuit kerklike perspektief. Maar dit was nie lank voor die NG Kerk-vorste hul fout agtergekom het. Degenaar het geskryf en klas gegee oor “nuwe” teoloë soos Bultmann en ontmitologisering, sekularisasie en evolusie wat admissiestudente, op pad na die Kweekskool, allerlei kritiese idees gegee het. Die skrif was teen die muur toe hy vanaf 1955 artikels oor ketterse onderwerpe soos die sterflikheid van die siel in Standpunte publiseer het. Op daardie stadium het die Filosofiedepartement nog basies as voorbereiding vir studie aan die NG Kweekskool funksioneer. Die Kweekskool was (nog) nie deel van die universiteit nie, maar is deur die Kuratorium van die NG Kerk beheer, met kerkvorste soos ds Kosie Gericke (ook voorsitter van die US Raad) en dr Koot Vorster in beheer.
Die Kuratorium het besluit dat Degenaar ‘n bedreiging was en dat onskuldige admissiestudente nie aan sy verderflike invloed blootgestel mag word nie. Sterk druk is op die universiteit uitgeoefen om ‘n plan te maak met Degenaar. Interessant genoeg het die universiteit nie sonder meer toegegee aan hierdie blatante poging tot inbreuk op sy akademiese vryheid nie. Degenaar is nie afgedank nie, maar as kompromis verantwoordelik gemaak vir ‘n afsonderlike B-leerplan in “staatsfilosofie” binne die Filosofiedepartement, wat in 1963 ‘n afsonderlike eenmansdepartement geword het. Deels was dit ook in reaksie op ‘n versoek van die Nasionale Jeugbond dat Stellenbosch ‘n departement van politieke studies moes instel. Maar hier het die universiteit betyds sy fout agtergekom en toe die Departement van Politieke Wetenskap in 1966 ingestel is, was dit nie met Degenaar nie, maar met Ben Vosloo aan die hoof.
So het dit gekom dat Stellenbosch jare lank die unieke kombinasie van twee Departemente van Filosofie en Politieke Filosofie sowel as ‘n Politieke Wetenskap-departement gehad het.
Maar van Johan Degenaar kon die universiteit nie ontslae raak nie: met minimale hulpbronne en administratiewe steun het hy politieke filosofie tot ‘n trekpleister vir “andersdenkende” studente en dosente uitgebou. Agteraf gesien is dit pragtig ironies dat Degenaar, wat aanvanklik geen besondere belangstelling in die politiek gehad het nie, so ook onbedoeld gedwing is om dit deel van sy studieveld te bly maak. Maar op die ou end was sy hart tog eerder by Sokrates en Rooikappie en die wolf eerder as in die politiek.
Terugskouend is dit vandag veral opvallend hoe Johan Degenaar dit, ondanks alles, reggekry het om sy intellektuele en morele teenwoordigheid in die universiteitswêreld en ook daarbuite te projekteer en vestig. In ‘n tyd waarin ons al meer aangewese is op substansiële en institusionele steun vir intellektuele werk – op NRF-leerstoele, navorsingsassistente, doktorale en postdoktorale programme, navorsingsinstitute en gespesialiseerde “uitnemendheidsentrums”, om van hoëprofielprofessorate en instellings soos STIAS nie te praat nie – skyn dit onbegryplik te wees hoe Degenaar dit as ‘n soort intellektuele eenmansbende vermag het om sy eie informele netwerke op te rig en aan die gang te hou. Hy het ‘n konstante stroom oorspronklike publikasies in samehang met voordragte by seminare, vakkonferensies, somerskole en ander forums binne en buite die universiteit volgehou oor uiteenlopende temas soos die oop gesprek, nasionalisme, strukturele geweld, politieke pyn, verbeelding, film en nog veel meer. Miskien was die argetipiese voorbeeld van hierdie netwerke die “gespreksgroep” wat oor meer as 40 jaar by hom en Jetty aan huis en elders in Stellenbosch maandeliks byeengekom het (en met verloop van tyd verskillende ander epigoongroepe inspireer het, op een stadium ook ‘n “junior” gespreksgroep sowel as ‘n “mediocre” gespreksgroep). Dit was tiperend dat Degenaar se gespreksgroep nie tot ‘n Stellenbosse of akademiese binnekring beperk was nie, maar ook nieakademiese skrywers soos WA (Bill) de Klerk en die digter MM Walters as jare lange lede gehad het. Degenaar se Stellenbosch-groep het ook die Dominikaanse Priory ingesluit, en in die beginjare was vaders Albert Nolan en Timothy McDermott prominente deelnemers, terwyl hy ook nou saamgewerk het met pastoor Brandt van die Lutherse Kerk en die Christelike Akademie. Ek self het eers werklik die besondere van Degenaar se Stellenbosse gespreksgroep besef toe ek na Kaapstad en die UK verhuis het waar daar geen ekwivalent daarvan bestaan het nie (en ons ook nie daarin geslaag het om, ondanks verskillende pogings, ‘n soortgelyke gespreksgroep aan die gang te hou nie).
Johan Degenaar was uit en uit ‘n Stellenbosse intellektueel en filosoof. Op die ou end het hy dit miskien meer as enigiemand anders versinnebeeld. Die probleem was, sekerlik in die sestiger- en sewentigerjare, dat Stellenbosch amptelik ‘n (Afrikaner-) “volksuniversiteit” was wat in vele opsigte ingedruis het teen Degenaar se eie ideaal van ‘n oop gesprek en Sokratiese vraagstelling. Dit is in 1965 deur die rektor, HB Thom, uitgespel in sy gesaghebbende rede oor “Universiteit en Maatskappy”: ware vryheid, ook akademiese vryheid, was volgens Thom geleë in eerbiediging van die wet, en met name ook van die apartheidswette, terwyl dit noodsaaklik was dat die universiteit “volksgebonde” sal wees en sal bly.
Degenaar het dit nie op ‘n liberale grondslag van individualistiese akademiese vryheid verwerp nie. Inteendeel, hy het in ‘n sekere sin saamgestem met die opvatting van ‘n volksuniversiteit, hoewel nie in Afrikaner-nasionalistiese sin nie.[iii] Hy het sy eie rol verstaan as dié van ‘n Sokratiese “steekvlieg” wat dit vir die maghebbers van die volksuniversiteit en die Afrikaanse gemeenskap intellektueel en moreel so ongemaklik as moontlik moes maak. Daarin het hy telkens weer goed geslaag, soos in sy uitleg van Elsa Joubert se Swerfjare van Poppie Nongena in 1978 as ‘n voorbeeld van die strukturele geweld van trekarbeid en apartheid. Maar as dit sy verset teen die Afrikaner- en apartheidsmaghebbers was, dan was dit ook ‘n vorm van “lojale verset” in Van Wyk Louw se sin.
Johan Degenaar se nalatenskap is kompleks en ambivalent. Wat is die rol van ‘n Sokratiese “steekvlieg” by ‘n volksuniversiteit? Wat word van daardie rol as Stellenbosch nie meer so ‘n uitgesproke (Afrikaner-) volksuniversiteit wil of kan wees nie? Wat word van Degenaar se Sokratiese vraagstelling as hy toegeëien en gevier word as sieraad van dieselfde instelling wat hom so lank gemarginaliseer het? En wat is die implikasies van Johan Degenaar se dood volgens die skrywer van Die Sterflikheid van die Siel? Ons is dit aan hom verskuldig om behoorlik daaroor te besin. Soos ons weet, was sy Sokratiese leuse steeds dat “’n ongeëksamineerde lewe nie die moeite werd is om te leef nie”. Net jammer dat dit nie meer deur sy bevrydende lag en onuitputlike vermoë tot verwondering begelei kan word nie.
André du Toit
[i] Andrew Nash, Wine Farming, Heresy Trials and the Stellenbosch Philosophical Tradition. The Dialectical Tradition in South Africa (2009), ble 65–85.
[ii] Andrew Nash, How Kierkegaard Came to Stellenbosch, The Dialectical Tradition in South Africa (2009), ble. 85–105.
[iii] André du Toit, Sokratiese vryheid aan ‘n volksuniversiteit, in: Dirk Hertzog, Etienne Britz, Alastair Henderson (reds), Gesprek Sonder Grense: Huldigingsbundel vir Johan Degenaar (2006), ble 94–111.
Kommentaar
Baie dankie, André - skitterende insigte en mooi huldeblyk in die lewe en rol van 'n merkwaardige mens.
Wat 'n reus tussen dwergies. Hy't my lewe verander.
Dit is myns insiens sterk oordrewe om Daantjie Oosthuizen ons voorste analitiese filosoof te noem. Hy het nie eens 'n doktorsgraad voltooi nie. Du Toit se mening word heel moontlik geïnspireer deur Oosthuizen se uiters linkse politiek. AMT (Bert) Meyer het as filosoof in die analitiese tradisie veel meer vermag.