Ek het ’n engel gesien deur Amore Bekker: ’n resensie

  • 0

Ek het ’n engel gesien deur Amore Bekker (Naledi)

Ek het ’n engel gesien
Skrywer: Amore Bekker
Uitgewer: Naledi
ISBN:
9781991256324

Ek het ’n engel gesien is die gewilde voormalige RSG-aanbieder, skrywer en (soos sy na haarself verwys) raakprater, Amore Bekker, se vierde boek. Luisteraars het hul ontmoetings met engele met haar gedeel en die terugvoer was ongelooflik. Soveel dat 72 stories in die boek ingesluit is.                                                                             

Of jy nou aan engele glo of skepties daaroor is, mag dié samestelling met bydraers se vertellings heel moontlik jou opinie hieromtrent verander. Die stories handel oor gebeure en situasies van ongelukstonele en hospitale se hoësorgeenhede tot emosionele en finansiële verknorsings.

Gevra waar dié idee vandaan gekom het, vertel Amore dat haar kleinniggie vir haar ’n video gestuur het wat haar geprikkel het om sowat ’n maand voordat sy klaargemaak het by RSG, vir luisteraars te vra na hul vertellings oor wedervaringe met engele. ’n Man se vertelling van sy ervaring met ’n engel het haar diep ontroer en sy wou nog sulke stories hoor, en die saadjie het vinnig ontkiem en wortel geskiet toe die reaksie oorweldigend was en sy alles in ’n boek kon begin versamel. Sy sê die lesers se stories het haar diep geraak. “Ek het gevoel ons moet dit op papier sit sodat mense meer bewus kan word van die onsigbare wêreld. Die terugvoering was oorweldigend en almal het versoek dat dit in ’n boek kom.”

........
“Dit wat ons kan tel, tel glad nie; dit wat ons nie kan tel nie, is al wat tel.” Stories van hoop, vertroosting, bemoediging, beskerming en ondersteuning dui daarop dat engele oral en in verskillende situasies teenwoordig is.
........

Ek het ’n engel gesien sluit insiggewende verhale in wat verras, verstom en inspireer. Soos Amore tereg sê: “Dit wat ons kan tel, tel glad nie; dit wat ons nie kan tel nie, is al wat tel.” Stories van hoop, vertroosting, bemoediging, beskerming en ondersteuning dui daarop dat engele oral en in verskillende situasies teenwoordig is.                                                                                                            

Ek was dalk skepties toe ek begin lees het. In vandag se tye wonder en vra ’n mens dalk dikwels: Waar is die wonderwerke dan vandag? Waar is die engele? Maar vanaf Benjamin tot Mooivallei, is al die verhale dit eens dat daar minder twyfel en meer geloof moet wees in en oor wat rondom ons is, selfs ook dit wat ons nie kan sien nie. ’n Engel kan ook in dierlike vorm besoek bring – ek glo dit met my hele hart.

Die aanhalings en illustrasies van Deirdre Schoultz bring ’n ander dimensie en voeg waarde tot die teks toe.

Ek haal graag interessante feite uit die boek aan met die hoop dat dit jou verder aanspoor om dit te lees:  

  • Nie alle engele het vlerke nie (my diere is engele, daarvan is ek seker).
  • Engele het nie soos ons ’n vrye wil nie.
  • In die Bybel word engele 270 keer genoem.
  • Jy word nie ’n engel as jy doodgaan nie.
  • God het engele afsonderlik van ons geskep (ek is seker engele is ook soms werklike mense).

Maak gerus jou hart oop vir Ek het ’n engel gesien. Ek het, en behalwe ’n koue, maar tog nie bevreeste rilling nie, hier en daar, was ek omring deur ’n gevoel van “comfort” – en ek gebruik dit in plaas van die Afrikaanse woord “troos”, want dit was meer ’n veilige gevoel, soos die syagtige sagte snoesige vlerke van ’n engel. Ek dink dit is die doel van engele om te vertroos, jou kalm en veilig te laat voel, dat jy nie alleen is in die situasie waarin jy jou bevind nie. Ek het deurlopend met die leesproses ’n gevoel gehad dat ek nie alleen is nie. Wie weet, dalk word jy ook verras.

Ter afsluiting, die wyse aanhaling van Kerneels Breytenbach voorop dié boek: “Engele, leer mens, sal jou vind. Jy moet net wys genoeg wees om hulle te herken.”

Amore se ander boeke sluit in Tjailaresepte 1 & 2, Hartstories en Toe-Val-Lig.  

Lees ook:

Toe-val-lig deur Amore Bekker: Luisteraars se stories boei ook lesers

Van vrees na vrede deur Madelein Rust: ’n boekresensie

Just keep s’myelin’: ’n boek oor die saamleef met veelvuldige sklerose

Laaste kans deur Marita van der Vyver: ’n resensie

Momentum Beleggings Aardklop 2023: ’n onderhoud met Erla Diedericks

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top