Met Aardklop om die draai, het Yolanda Wessels by die gewilde skrywer Erla Diedericks meer gaan uitvind oor haar boek Salemstraat, wat die spilpunt is in die gesprek getiteld Geheime agter geslote deure met Morné Malan en Nadine Petrick as gespreksleier.
Meer oor Salemstraat:
Salemstraat is ’n regte straat (singel) in Edgemead in die noordelike voorstede van Kaapstad waar almal figuurlik laer trek wanneer een van die vroue in die straat haar man doodskiet.
Emilee voer aan sy het ML uit selfverweer geskiet omdat hy haar gereeld mishandel en met die dood gedreig het. Vingers word onmiddellik gewys en wanneer sommige mense skimp dat sy hom met opset geskiet het, sien die leser die bloederige draad wat loop tussen Salemstraat en die Amerikaanse dorpie Salem, waar vroue en meisies valslik beskuldig is van heksery en op die brandstapel verbrand is.
“Word ’n vrou mishandel, word die blaam eerstens op haar skouers geplaas: Wat het sy gedoen om haar man uit te lok? Hoekom laat sy dit toe? Hoekom bly sy? Net soos met heksery is dit altyd die skuld van die vrou en nooit die patriargie nie,” sê Erla.
Voorstede is nie noodwendig veilig nie en vroue en kinders word wel mishandel en blootgestel aan gesinsgeweld – selfs in baie gegoede buurte.
“Die kollig in Salemstraat val op wat agter hoë mure gebeur. Daar is donker geheime en hoe hoër die muur, hoe meer mag het die persoon wat die grudade pleeg. In arm woonbuurte is inwoners meer bewus van geweld, want hulle hoor dit, maar agter hoë mure kan jy nie sien wat gebeur nie.”
Erla reken ook daar is ’n kontrak tussen die bure en die eienaar van die huis (wat dikwels ’n man is) om dinge veilig, stil en kalm te hou. Die vrou is van dié kontrak bewus en besef dat indien sy haar man ontbloot, sy en haar kinders baie het om te verloor, soos haar status, posisie in die sosiale gemeenskap en basies alles wat haar kinders veilig hou.
........
Die onderliggende donkerte in mense het Erla nog altyd gefassineer, want onder draai die duiwel rond en – soos haar verkoopslyn sê – Satan skuil graag in die suburbs. “Ons almal is eintlik dierlike wesens met die moontlikheid dat wanneer ons gedruk word, ons net dalk kan moor. Met die verkeerde tyd, regte situasie en verkeerde persoon kan jy heel moontlik geforseer word tot by daardie punt.”
........
Die onderliggende donkerte in mense het Erla nog altyd gefassineer, want onder draai die duiwel rond en – soos haar verkoopslyn sê – Satan skuil graag in die suburbs. “Ons almal is eintlik dierlike wesens met die moontlikheid dat wanneer ons gedruk word, ons net dalk kan moor. Met die verkeerde tyd, regte situasie en verkeerde persoon kan jy heel moontlik geforseer word tot by daardie punt.”
Dan is daar ook die telegram-effek waar jy nie beheer het oor wat mense sê en hoe hulle dieselfde situasies interpreteer nie. “Almal het verskillende herinneringe en sienings oor die moord in Salemstraat. Emilee het geen beheer oor hoe mense haar nou sien nie. In die boek speel ek met die idee oor wat sal gebeur indien jy dit wel kan beheer.”
Die karakters het almal verskillende indrukke van ML en niemand weet waarom Emilee hom vermoor het nie. Dit is juis in hierdie waarom waarin Erla belangstel.
Wie is jou gunstelingkarakter in die boek?
Dokter Ann. Sy is gegrond op hierdie vreemde, eksentrieke vrou wat ek op Facebook raakgeloop het. Ek het haar gevra of ek haar as karakter mag gebruik, en haar eksentriekhede vind groot aanklank by lesers. Die boekkarakter is ’n forensiese psigiater, maar is baie reguit, met geen filter, silwer hare wat in elke boek ’n ander kleur is, en dikwels T-hemde met uitdagende slagspreuke. Sy draai nie doekies om nie en baie lesers het al gesê hulle wens hul psigiater was so.
Het jy ’n spesifieke tyd/roetine as dit by skryf kom?
Ek het ’n regte werk en my eie klein onderneming en skryf is in hierdie stadium nog die wonderlike stokperdjie waarin ek al my passie sit. Ek skryf as ek kans het. Roetine is basies maar ’n sekere aantal woorde per week of dag, afhangende van die spertyd, en al manier om dit te bereik is om sosiale media af te skakel en baie koffie te drink.
Hoe is dit om voor ’n feesgehoor oor jou boek te kom praat?
Dis altyd lekker. Ek skryf eerstens omdat ek daaraan verslaaf is en tweedens skryf ek vir lesers, so dis heerlik om vir hulle al die skinderstories oor my karakters te vertel en hulle te laat lag. Ek is so mal soos ’n haas, maar skryf gelukkig darem nie te sleg nie.
Wat is lekker en uniek aan Aardklop, en is daar ander items op die program by Aardklop wat jy ook wil kom kyk?
Ek was nog nooit by Aardklop nie, dus sien ek baie daarna uit. Ek wil graag na Stefaans Coetzee se gesprek gaan luister en as ek eers daar is, is ek seker ek sal al my gunstelingmense raakdrink!
Skryf is maar ’n alleen besigheid, so hoe voel dit as jy by ’n fees opdaag en besef jy ontmoet sommige van jou lesers? Is dit lekker, of uitdagend?
Ek is gereeld by feeste en praatjies en goed en ek praat heel lekker voor almal, maar ek is wel gedreineer na die tyd omdat ek altyd alles gee tydens so ’n optrede. Ek wil nooit te hard daaraan dink dat mense inderdaad my boeke lees nie, want dan gaan ek in angs en histerie verval!