Just Keep S’myelin – A life story of overcoming (the biography of Gerrie Hadders)
Gina Vorster
Glans Boeke
.........
Die vrystelling van Just Keep S’myelin het heel gepas op 30 Mei, Wêreld Veelvuldige Sklerose-dag (MS-dag), plaasgevind.
.............
Met hierdie outobiografie neem Gerrie Hadders lesers saam met hom op reis. Dis nie aldag ’n maklike of ontspannende reis nie, want Gerrie is met veelvuldige sklerose gediagnoseer.
In sy boek word sy ouers se tog van Nederland na Suid-Afrika bespreek, en hy skryf oor sy grootwordjare in Vereeniging en oor die tyd toe hy militêre diensplig moes verrig. Hy skryf ook oor sy huwelik met die liefde van sy lewe, die tragedie wat sy lewe verander het. En dan skryf hy natuurlik oor veelvuldige sklerose. Hoe bly ’n mens positief?
Hy skryf juis die boek vir mense om hoopvol te bly, ten spyte van alles wat hulle deurmaak.
Wat duidelik uitstaan in hierdie biografie is dat ongeag wat die lewe na Gerrie Hadders se kant toe gooi, hy hou áán – met ’n glimlag op sy gesig.
Die vrystelling van Just Keep S’myelin het heel gepas op 30 Mei, Wêreld Veelvuldige Sklerose-dag (MS-dag), plaasgevind.
Sy doel? Om mense te inspireer en te bemoedig deur die lesse wat hy geleer het. Onder meer ook ná sy amptelike MS-diagnose in 2009.
Die vertelling sluit verskeie fasette en lewensveranderende gebeurtenisse deur sy lewe in, en is deur Gina Vorster geskryf. Maar waar het sy begeerte vandaan gekom om ’n boek oor sy lewe te laat skryf? Gerrie het my vir doeleindes van die bespreking van die boek, meer hiervan vertel.
“Dit het ontstaan tydens my lang ure in die hospitaal, nagte waar ek nie kon slaap agv die medikasie en my kop wat net te besig was. Ek het begin blog (It is all in the head and have MRI to prove it) en gehoop dat ek sodoende iemand sal kan help of ’n verandering bring. Ek het ’n behoefte om mense te help, want ek beleef dat mense soms ’n pad stap waar hul in baie donkerte verval.”
Just Keep S’myelin is, soos hierbo genoem deur Gina Vorster geskryf. Gerrie en Gina het mekaar twee jaar gelede by ’n toekenningsaand ontmoet. Gina was daar in ’n joernalistieke hoedanigheid en Gerrie was die borg van die funksie. Hulle het by dieselfde tafel gesit en het met mekaar begin gesels. Sy het haar besigheidskaartjie vir Gerrie gegee en só het hulle vriendskap begin. Hulle het later opnuut kontak gemaak want Gerrie wou graag sy begeerte met Gina deel om ’n boek te skryf.
Gerrie vertel dat hy nie juis geweet het wat die skryfproses gaan behels nie en hy was aanvanklik nogal senuweeagtig. “Gina het my egter baie gou op my gemak gehad en ek kon my lewensverhaal met haar deel. Haar integriteit oor hoe belangrik die boek vir my was, was baie gou duidelik. Ek het die proses baie terapeuties ervaar omdat dit my deur alles in my lewe geneem het. Gina se gemaklike geaardheid het my toegelaat om net myself te wees. Ons het baie in-diepte gesprekke gehad, ons het baie gelag en daar was ook die nodige trane. Maar alles was sodat ek werklik introspeksie kon hou.”
..........
Met die eindproduk en waar hul tans met die projek staan, is Gerrie baie verbaas én opgewonde.
............
Met die eindproduk en waar hul tans met die projek staan, is Gerrie baie verbaas én opgewonde. “Die boek het al my drome en wense oorskry. Dit het tot op hede reeds baie meer vermag as wat ek verwag het. Gina het my deurlopend baie eerlik en opreg behandel en met elke stap van hierdie onbekende pad is ek ingelig oor wat om te verwag en is sodoende begelei.”
Toe die oomblik aanbreek dat Gerrie die woorde van sy lewe in boekvorm gesien het en kon vashou, was daar ’n oomblik van stilte: Van wat hy gedoen het en wat nou verder. “Die oomblik toe ek begin lees, was ek bly en opgewonde. Met tye was ek tog emosioneel as gevolg van alles wat ek weer moes deurwerk. My boek het weer die gevoel in my kom wakkermaak dat ek soveel meer kan bereik en doen. Ek het myself weer gevind.”
Die skryfproses het sy lewe verander en geaffekteer en het ’n platform gebied waar hy weer homself kon vind en ’n doel kry. “Ek wil graag die boek gebruik om mense te motiveer om te doen wat hulle altyd gedroom het om te doen. Met die voltooiing van my boek klink dit dalk selfsugtig, maar dis nou Gerrie Tyd.”
............
Dit was nie net ’n geboorte van ’n boek nie, maar daar is soveel nuwe kontakte opgebou, asook die stigting van die S’Myelin Foundation. “Die boek het die geleentheid geskep om S’Myelin Foundation te stig. My wens is dat die boek se opbrengste gebruik kan word om mense wat in soortgelyke situasies is, te help."
..............
Dit was nie net ’n geboorte van ’n boek nie, maar daar is soveel nuwe kontakte opgebou, asook die stigting van die S’Myelin Foundation. “Die boek het die geleentheid geskep om S’Myelin Foundation te stig. My wens is dat die boek se opbrengste gebruik kan word om mense wat in soortgelyke situasies is, te help. Ek is en was geseënd dat ek altyd myself met die regte mense met die regte ingesteldheid van positiwiteit kon omring. Ek hoop van harte dat die boek mense sal leer dat ons ingesteldheid tot die lewe homself manifesteer in jou as mens.”
Met betrekking tot die teiken- en lesersmark, asook die boodskap wat hy hoop elke leser sal saamneem, vertel Gerrie dat hy hoop dat mense wat nie tans op ’n goeie plek is nie, sal dink dat as Gerrie met ’n positiewe ingesteldheid wat deurlopend in sy lewe verweef is, dit kon regkry, kan die leser ook sy of haar uitkyk op die lewe verander. “Ek is dankbaar dat die digitale boek agv die internasionale maatskappy waarby ek betrokke is reeds gelees word deur mense van Amerika, Sirië, Dubai, Europa en Australië.”
Sy raad aan ander wat ’n begeerte het om hul lewensverhaal vas te pen, is dat jy dit doen vir jouself. Nie om aan iemand anders iets te bewys nie, maar om dit te doen vir wie jy as mens is.
“Volgende gaan ons werk aan ’n life coaching-program vir mense wat in ’n soortgelyke situasie verkeer, maar ook vir die geliefdes en versorgers van die mense. Ons gaan ook ’n projek doen om die boek te kan druk, want daar is mense wat nog graag ’n boek in hul hande wil vashou. Nie almal is gemaklik met tegnologie of het ’n tegnologiese ingesteldheid nie.”
Luister na ’n onderhoud met Gerrie Hadders op Groot FM:
Lees ook artikels oor andere wat met veelvuldige sklerose gediagnoseer is:
Waar rats die ribbok gaan ...: rondom briewe van Elsabe Steenberg
Lees ’n bespreking van ’n toneelstuk waar die pa-figuur/-karakter met veelvuldige sklerose saamgeleef het: