In ’n skoenboks in ’n kas is briewe ontdek wat die bekroonde skryfster Elsabe Steenberg oor baie jare voor haar vroeë dood aan haar vriendin geskryf het. Dit is kosbare stof wat gedeel moet word. Sarel Venter, ’n afgetrede joernalis van Volksblad, het dit saamgestel in ’n manuskrip en die boek verskyn binnekort by Naledi danksy befondsing deur die SA Akademie.
Oor hierdie boek, Waar rats die ribbok gaan ... – Briewe van Elsabe Steenberg, skryf Marietjie Coetzee, ouduitgewer: HAUM-Literêr en NB Uitgewers, die volgende:
In die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde, en spesifiek die kinder- en jeugliteratuur, blink daar ’n naam wat baie lesers met nostalgie vervul: Elsabe Steenberg, die een wat baie van hulle leer lees het, liéf gemaak het vir lees. Die een wat hulle met ’n vaardige hand en hart bedag gemaak het op die herskepping van woorde tot nuwe werklikhede waarmee hulle kon identifiseer. Dié een, die terapeut, wat woorde kon snoer en skik tot stories wat verhelder, vermaak, vertroos, verwoord.
Elsabe Steenberg was nie net ’n bekroonde kinder- en jeugverhaalskrywer en ontvanger van ’n erepenning vir hierdie bydrae van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns nie, sy was ook die vernuftige betoweraar, en is dit steeds, van volwasse lesers wat haar die kuns van kinder- en jeugverhaal skryf sou wou nadoen – hulle wat haar werk in die praktyk steeds as voorbeeld van geslaagde kinder- en jeugliteratuur gebruik. Hulle wat in die aanbied van die teorie van die skryf en beoordeling van die kinder- en jeugverhaalgenre voortbou op tendense wat Elsabe Steenberg nagelaat het: die skep, van kleins af, van ’n leeskultuur; die taboe om vir kinders lessies te leer of uit die hoogte met hulle te praat; die noodsaak van sprokies en fantasie vir kinders. Laasgenoemde siening was in sekere gevalle teen die stroom op. Hieroor het Steenberg ’n handleiding nagelaat: Fantasie en die kinderboek (HAUM-Literêr, 1989).
In Elsabe Steenberg se nagelate briewe aan haar vriendin Elizabeth Venter (saamgestel deur haar man, Sarel Venter) verskyn ’n heroïese mens in die teleskoop: ’n skryfster, ’n akademikus en passievolle dosent, ’n waarderende eggenoot, ’n moeder wat haar kinders bemin, ’n liefhebbende vriendin; en dan, ’n vegter: een wat haar tot die dood toe verset teen die slopende en verlammende siekte veelvuldige sklerose, wat uiteindelik ná dekades haar lewe beëindig het. En altyd, altyd, het sy die humor, die hoop, en die liefde vir die lewe behou.
In Waar rats die ribbok gaan … leer die leser Elsabe vir die eerste keer in haar volle menswees ken; al die fasette wat haar Elsabe Steenberg gemaak het. ’n Mens sou verwag dat die briewe neerdrukkend sou wees, maar die teenoorgestelde is waar – die inhoud versterk en verwonder: dat ’n via dolorosa só gelóóp kan word!
Die publikasie van Waar rats die ribbok gaan … is ’n saluut vir haar, die onoorwinlike: as sy ’n keuse gehad het, sou sy bly leef het. Die samesteller se inleidende aanhaling som daarom met skerp insig haar doodsveragtende lewensbenadering op – ook tot haar siekte, die “gog”, soos sy dit genoem het: “Met genoegsame genade sal ek jou nie toelaat om die kern van dit wat ek is, aan te tas nie. Eerder sal jy my sterker maak, ’n verbete vegter, ’n dankbare mens. Maar onderkry? O nee, onderkry sal jy my nie!”
- Waar rats die ribbok gaan ... verskyn binnekort by Naledi.