Laaste kans deur Marita van der Vyver: ’n resensie

  • 0

Laaste kans deur Marita van der Vyver (Tafelberg, 2023)

Laaste kans
Marita van der Vyver
Uitgewer:
Tafelberg
ISBN:
9780624094043

Marita van der Vyver bekoor lesers al vir meer as vier dekades lank met haar boeke. Haar jongste boek, Laaste kans, het onlangs verskyn en is ’n herbesoek aan Wegkomkans wat in 1999 die lig gesien het.

Alhoewel sy die mark betree het met jeugboeke, het sy haar eerste volwasseboek vrygestel in 1992, die bekende Griet skryf ’n sprokie.

Die uitgewers beskryf Laaste kans  as ’n verhaal van ’n outydse kleurfoto op glanspapier, ’n buigbare, skeurbare, opfrommelbare voorwerp uit ’n era voordat almal hulle herinneringe op slimfone bewaar het. Dit was die laaste keer dat hulle (die karakters in die boek) almal saam gekuier het.

Die roman handel oor vriendskap wat die tyd deurstaan het. Tyd is deurgaans die spilpunt waarom alles draai – en daarmee tesame die aanvaarding van jare wat verby is. Tyd wat ’n relatiewe begrip is en in ’n oogwink verby is. Baie jare is verby en minder lê voor.

Die aanhaling voorin lees: “No pleasure could equal, she thought [...] this having done with the triumphs of youth, lost herself in the process of living, to find it, with a shock of delight, as the sun rose, as the day sank.” Virginia Woolf, Mrs Dalloway.

Dit herinner aan die belangrikheid om in elke minuut teenwoordig te wees en ten volle te leef. Veral met die toeslaan van die COVID-19-virus, soos in die boek, is dit ’n nare werklikheid van hoe vinnig dinge kan verander, en dit wat ’n gegewe was, is al minder so.

Aanvanklik het die twee bladsye “Wie is wie” met al die karaktername my onkant gevang en dit ís nogal ’n mondvol om almal se name te onthou en die ontvouing van die dialoog te volg sonder om verward te raak. Daarom is dit ideaal om liefs Laaste kans aaneen te lees sonder daelange tussenposes en onderbrekings, anders moet jy weer die draad optel.

........
Soos al Marita se vorige boeke, is dié een geensins anders nie, sy vang jou vir die duur van die lees vas in ’n woordewêreld wat lewendig voor jou afspeel. Vergelykings, vlymskerp humor en woorde soos uit Jan Alleman se mond.
........

Soos al Marita se vorige boeke, is dié een geensins anders nie, sy vang jou vir die duur van die lees vas in ’n woordewêreld wat lewendig voor jou afspeel. Vergelykings, vlymskerp humor en woorde soos uit Jan Alleman se mond. Niks voorbeeldig of eentonig in haar boeke nie. Dit vloei van die een paragraaf en toneel gemaklik in die volgende een en sleur jou mee van die eerste bladsy tot die laaste.

Dit is ’n gegewe dat jy Wegkomkans moet lees voordat jy Laaste kans aanpak. En soveel beter as jy van Marita se ander boeke onder oë gehad het.

Die teks is deurspek met die tema van die verganklikheid van die mens; dit wat was, dit wat kon wees en dit wat op die ou end deel uitmaak van die karakters se (gesamentlike) geskiedenis. Vriendskap wat inderdaad die toets van tyd deurstaan en saamgebring word deur ’n groeiende familie. Dit laat mens opnuut besef hoe belangrik familie- en vriendebande is, maar laat jou ook wonder hoe belangrik mense in vandag se tye dit ag. Ná die pandemie en veral die inperking wat ’n nuwe onwelkome werklikheid geskep het, behoort dié bande vandag hegter as ooit te wees. Of dalk lewe mense vandag juis meer as ooit vantevore net vir hulself.

.............
Van uitbundige, onverantwoordelike jeug tot volwasse, uitgewoede bejaardheid wat moeilik op die tong rol; van vrolike studentedae tot die soet en suur werklikheid van wat dit is om mens te wees en ouer te raak. Laaste kans los jou met ’n laaste indruk en gedagte van leef in die hier en nou, want môre is nie ’n gegewe nie.
...............

Hoe dit ook al sy, Marita slaag daarin om die leser ’n voyeur te maak in elke karakter se lewe en spoel gemaklik heen en weer tussen die bladsye tot op die laaste (foto-) blad. Van uitbundige, onverantwoordelike jeug tot volwasse, uitgewoede bejaardheid wat moeilik op die tong rol; van vrolike studentedae tot die soet en suur werklikheid van wat dit is om mens te wees en ouer te raak. Laaste kans los jou met ’n laaste indruk en gedagte van leef in die hier en nou, want môre is nie ’n gegewe nie.

Lees ook:

Laaste kans: ’n boekebrekfis met Marita van der Vyver

Still breathing | Etienne van Heerden Veldsoirée 2023

Swerfjaar vir seniors: Op soek na ou bene

Swerfjaar vir seniors, aflewering sewe: Oor ons ver verlate vlaktes

Swerfjaar vir seniors: Op soek na ’n holte vir swerwersvoete

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top