Laaste kans: ’n boekebrekfis met Marita van der Vyver

  • 0

Laaste kans deur Marita van der Vyver (Tafelberg, 2023)

“Dit is elke keer ’n sjoe-oomblik wanneer ek ’n nuwe boek in my hande vashou. Daar’s adrenalien elke keer wanneer ’n manuskrip ’n tasbare voorwerp word. Ek hoop ek sal nooit blasé daaroor raak nie,” sê die bekroonde skrywer Marita van der Vyver.

Sy het op uitnodiging van Niël Rademan, die uitvoerende hoof van die sesde Hessequa Harmonie-kunstefees op die skilderagtige dorp Heidelberg in die suide van die Wes-Kaap, oor haar jongste roman, Laaste kans, by ’n boekebrekfis gesels. Elsabé Daneel het die gesprek in die historiese Fouriehuis by die Doornboonopstal gelei.

Elsabé Daneel en Marita van der Vyver. Foto: CJ de Swardt

Marita is bekend om haar veelsydigheid as skrywer: van kinder- en prenteboeke tot jeugverhale en volwasseneromans. In talle gevalle was haar debuutwerke in die onderskeie genres grensverskuiwend.

Sy is al met talle toekennings bekroon en haar boeke is in Engels, Nederlands, Duits, Frans, Italiaans, Spaans, Sweeds, Tsjeggies en selfs Chinees en Hebreeus vertaal en vir teater en film verwerk.

Die uitgewers beskryf Laaste kans as die verhaal van ’n outydse kleurfoto op glanspapier, ’n buigbare, skeurbare, opfrommelbare voorwerp uit ’n era voordat almal hulle herinneringe op slimfone bewaar het. Dit was die laaste keer dat hulle [die karakters in die boek] almal saam gekuier het. . .

........
In Laaste kans herbesoek Marita haar Wegkomkans wat in 1999 verskyn het. Dit het intussen kultusstatus verwerf.
........

’n Groep vriende kom die eerste keer in 25 jaar bymekaar om Adriaan se verjaardag te vier. Een vir een maak die gaste hul opwagting by Adriaan en Yvette se strandhuis aan die Weskus.

Sommige bring hul kinders en kleinkinders saam. Sedert hulle mekaar laas gesien het, moes party van lewensmaats en drome afskeid neem; ander het nuwe liefde en betekenis gevind. En dan is daar Yvette wat haarself nie so ver kan kry om vir almal van háár reis te vertel nie...

In Laaste kans herbesoek Marita haar Wegkomkans wat in 1999 verskyn het. Dit het intussen kultusstatus verwerf.

Christiaan J de Swardt het vrae aan Marita oor Laaste kans gestel:

Waarom die titel Laaste kans?

Partykeer sit ’n mens eers reg aan die einde van ’n manuskrip om ’n tafel saam met ’n bemarkingspan en gooi titels rond. Dié keer was dit titel amper reg van die begin ’n gegewe. Ek het destyds die boek Wegkomkans geskryf. Ek sal, terloops, nooit weer só ’n dik boek skryf nie! Jy hoef darem nie Wegkomkans te gelees het om by Laaste kans aansluiting te vind nie. Dit sal wel nie ’n nadeel wees om Wegkomkans se karakters te ken nie.

Die titel Laaste kans kan ook ironies bedoel word, want ek glo wel ’n mens het altyd nóg ’n kans. Ek wou van die begin ’n groep vriende byeenbring, maar dit moes ’n tyd- en plekgebonde tema ontgin. Dit speel oor ’n naweek by die see aan die Weskus in Maart 2020 af. En ons almal weet wat toe in die wêreld gebeur het. Ons het nie geweet wat wag vir ons nie. Ek was in Suid-Afrika tydens die Woordfees toe ons hoor van hierdie vreemde virus wat die wêreld getref het. Toe hoor ek oor die nuus alles word in Frankryk toegemaak. Ek het die eerste moontlike vlug terug geneem en het net betyds daar aangekom voor die grense toegemaak is. En steeds het ons gedink dit gaan gou oorwaai.

........
Die karakters weet nie wat op hulle wag nie, hoewel die lesers ’n vermoede het...
........

Hoewel hierdie boek nie ’n Covid-storie is nie, gebeur daar dinge, en op ’n manier is dit tog ’n bewusmaking van die skaduwee van die pes wat oor ons gehang het. Die karakters weet nie wat op hulle wag nie, hoewel die lesers ’n vermoede het...

Hoe het jy die karakterisering van die drie generasies in die verhaal benader?

In Wegkomkans, wat oor ’n tydperk van tien jaar afspeel, was daar tien karaters in hul twintiger- en veertigerjare. Nou is dit 25 jaar later. Nege van die oorspronklike karaters lewe nog. Met Wegkomkans het ek nie net een hoofkarakter gekies nie. Daar’s tien. Ek wou uit verskillende perspektiewe skryf. Almal kry ’n kans om na mekaar te kyk en so kom ’n mens agter wat mense vir mekaar wegsteek en dat hulle mekaar nooit eintlik regtig ken nie; selfs in ’n vriendekring is daar geheime. In Laaste kans wou ek dié ekstra dimensie en tegniek uitbrei. Gevolglik is daar 20 karakters wat wissel van ’n vierjarige kind tot ’n vyftienjarige tiener en ’n swetsende sewentigjarige skilder. Dit was ’n heerlike manier om met die generasiegaping te speel en ook humor te skep.

Die leser se ouderdom, lewenservaringe en die situasie waarin jy jou tans bevind sal bepaal met watter karakter jy die meeste kan vereenselwig. Ek wou lesers uit 20 verskillende paar oë – jonk, oud, manlik, vroulik en van alle genders – na mekaar laat kyk.

........
Die leser se ouderdom, lewenservaringe en die situasie waarin jy jou tans bevind sal bepaal met watter karakter jy die meeste kan vereenselwig. Ek wou lesers uit 20 verskillende paar oë – jonk, oud, manlik, vroulik en van alle genders – na mekaar laat kyk.
........

Dialoog is ’n belangrike deel van die boek. Hoe het jy dit benader?

Dit is nie ’n aksieroman nie. Daar is ’n motorongeluk, maar niemand word vermoor nie! Dit gaan oor die dinge wat mense vir mekaar wegsteek. Daar word gesprekke gevoer terwyl daar geëet en gedrink en langs die see gestap word. Soms praat hulle ’n bietjie eenders, soos vriende mos maar mekaar se taal aanneem, maar elkeen het tog uitdrukkings wat eie aan hom of haar is. Ek moes weer deeglik deur Wegkomkans navors. En nou is daar tien ander karakters by, elkeen met sy of haar eie manier van praat. Die jonger generasie praat in die skermwêreld van internettaal met akronieme en tekssimbole. Self al woon ek ver, kan ’n mens tog optel hoe mense in Suid-Afrika praat. Ek luister byvoorbeeld via die rekenaar na RSG se luisteraars op inbelprogramme en kyk na produksies op Showmax.

Heelwat van jou boeke is vir die teater en film aangepas. Dinge van ’n kind is vir die teater en in ’n TV-reeks verwerk. Griet skryf ’n sprokie en Vergenoeg is vir teater verwerk. Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom en Dis koue kos skat (wat ook ’n teaterstuk was) is in rolprente verwerk. Wat is die skrywer se rol in die verwerkingsproses?

Die verwerkingsproses verskil elke keer. Soms het jy baie min daarmee te doen, of jy kan dit self verwerk. Ek sou aan die begin nie gewaag het om een van my boeke te probeer verwerk nie, “because you have to murder your darlings”. Ek het geleidelik geleer wat jy in tien blaaie beskryf, kan vir teater of film met twee woorde of een kyk van ’n akteur gesê word. En dit is moeilik vir skrywers, want ons het dan so lank gesit en skyf aan al hierdie moeilike woorde – en nou word alles gesny. Die verwerkingsregte behoort aan jou en jy kan weier as jy meen iets gaan nie werk nie.

........
Uiteindelik was ek dapper genoeg om Stiltetyd self aan te durf, want ek het gewonder hoe verander jy ’n boek met soveel karakters in ’n eenvrouvertoning. Toe pak ek dit self aan.
........

Ek het aan party projekte meegewerk, voorstelle gemaak en in die proses van draaiboekontwikkeling baie geleer. Die oomblik as jy jou goedkeuring gee, gaan dit om vertroue in die mense wat die verwerking doen en die regie behartig. Uiteindelik was ek dapper genoeg om Stiltetyd self aan te durf, want ek het gewonder hoe verander jy ’n boek met soveel karakters in ’n eenvrouvertoning. Toe pak ek dit self aan.

Stiltetyd by Woordfees

Stiltetyd handel oor ’n gesin wat deur ’n tragedie getref word. Kort voor Hester Human, haar argitekman André, en hulle twee kinders, Manon en Emile, na Frankryk vertrek om ’n huis in Provence te restoureer, verander hulle droom van ’n idilliese sabbatsjaar in ’n jaar van hartseer, pyn, verlange en stilte waarin hulle nie net die huis moet herbou nie, maar ook die gesin. Die stuk, met die aktrise Eloise Clasen en regie deur Neels Hansen, word deur Elzabé Zietsman se produksiehuis Drama Drama vervaardig. Die stuk was ook by die Toyota US Woordfees 2023 op die planke.

  • Marita, haar man Alain, en hul vier kinders woon in ’n dorpie in Provence in Frankryk. Sy en Alain is nog tot November op besoek in Suid-Afrika. 

Lees ook:

Swerfjaar: Korsika – liewers laat as nooit

Swerfjaar: Leef om die storie te vertel

Dag 4: Kwarantyn-ketting – "Dagboek van dankbaarheid in die tyd van die virus" deur Marita van der Vyver

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top