Einstein-kompetisie: R17 000 op die spel in Afrikaanse slimkop-kompetisie

  • 8

 R17000_600

Die Einstein-kompetisie het 29 Junie 2016 gesluit.

"Suid-Afrika se Antarktiese geskiedenis: louwarm politiek op 'n witwarm kontinent." – Lize-Marié van der Watt, Geskiedenis

"Rassisme, armoede, geweld, MIV/Vigs: Hoe betrek en verstaan Suid-Afrikaanse skrywers sosiale kwessies ná 2000?"
Imke van Heerden, Engels

"Ons beoog om die kwaliteit van gesigte op lae-resolusie-foto’s outomaties te verbeter en sodoende misdadigers vas te trek."
– Anil Bas, Rekenaarwetenskap

Albert Einstein het glo gesê: “As jy jou navorsing nie kan verduidelik nie, verstaan jy dit nie goed genoeg nie.” Van fisika tot filosofie, Einstein se denke beïnvloed ons daaglikse lewens vandag nog.

Die akademiese joernaal LitNet Akademies is op soek na die jong Afrikaanse Einstein – ’n slimkop-navorser op enige vakgebied – wat komplekse idees só kan verduidelik dat almal dit kan verstaan.

Hoe sou jy jou navorsingstema aan die man en vrou op straat verduidelik? Wat is die hoofargument of kernidee van jou werkstuk, skripsie, verhandeling, proefskrif of artikel?

Die Einstein-kompetisie is ’n nuwe kompetisie – die eerste in sy soort in Suid-Afrika – wat jong navorsers by universiteite uitdaag om hulle eie navorsing (byvoorbeeld ’n meestersverhandeling) in 130 karakters of minder op te som. Klik hier om die eerste inskrywings te lees. 

Die kompetisie het drie oogmerke: (1) om by te dra tot die uitbou van Afrikaans as wetenskapstaal; (2) om akademiese navorsing toeganklik te maak vir almal; en (3) om ’n atmosfeer van opwinding en aktualiteit rondom idees te skep.

Aangesien Twitter slegs 140 karakters toelaat, kan so ’n 130-karakter-opsomming maklik saam met #EinstKomp (10 karakters) getwiet word. Navorsers hoef egter nie hul inskrywings te twiet om vir die kompetisie in te skryf nie.

Die Einstein-kompetisie is oop vir nagraadse studente (honneurs-, meesters- of doktorsgraadstudente), asook opkomende akademici (nadoktorale genote en dosente) in die ouderdomsgroep 18 tot 35 jaar.

Kontantpryse ter waarde van R17 000 is op die spel.

Kan ek inskryf?
Hoe skryf ek in?
Pryse
Hoe werk hierdie kompetisie?
Beoordelaars
Hoekom 130 karakters?
Navrae

 

Kan ek inskryf?

Studeer of werk jy by ’n universiteit? Dalk dien jy binnekort jou meestersverhandeling in; of swoeg en sweet jy deur ’n proefskrif. Miskien is jy ’n honneursstudent wat aan ’n skripsie werk; of ’n nuwe dosent wat pas haar eerste artikel gepubliseer het.

Die Einstein-kompetisie is oop vir Suid-Afrikaners en Namibiërs in die ouderdomsgroep 18 tot 35 jaar. Jy moet ’n nagraadse student (honneurs-, meesters- of doktorsgraadstudent), nadoktorale genoot of dosent aan ’n universiteit wees om aan die kompetisie deel te neem.

Let wel: Indien jou graad reeds ontvang is of jou navorsingsverslag reeds voltooi is, sal LitNet Akademies jou inskrywing steeds verwelkom, mits jou navorsingsverslag ná 2012 afgehandel is.

Inskrywings uit alle vakgebiede (van ingenieurswese tot skeppende skryfwerk) en alle universiteite, ook in die buiteland, word verwelkom.

Slegs Afrikaanse inskrywings word aanvaar. Jou moedertaal, die taal waarin jy jou navorsingsverslag neerpen, en/of die taal van jou universiteit hoef egter nie Afrikaans te wees nie.

 

Hoe skryf ek in?

Stap 1: Maak seker jy voldoen aan die bepalings en voorwaardes
Stap 2: Som jou navorsing in 130 karakters of minder op. Hier is ’n paar wenke.  
Stap 3: Vul die inskrywingsvorm aanlyn op LitNet in.
Stap 4 (opsioneel): Twiet jou 130-karakter-opsomming en voeg #EinstKomp (10 karakters) by.

Volg mylitnet op Twitter, mylitnet op Instagram, ons Einstein-bord op Pinterest en LitNet op Facebook om op hoogte van sake te bly. Klik hier om die inskrywings op LitNet te lees. 

 

Pryse

Eerste prys: R10 000
Tweede prys: R5 000
Derde prys: R2 000

 

Hoe werk hierdie kompetisie?

LitNet sal 'n keur van kompetisie-inskrywings oor ’n tydperk van ongeveer drie maande publiseer. Die kompetisie sluit Woensdag 29 Junie 2016. Die kortlys en drie wenners sal in Augustus 2016 aangekondig word.

 

Beoordelaars

Afrikaans is ’n kritiese taal, ’n skeppende taal, ’n taal van kennis en vernuwing. Dit is die taal waarin ons dink, leer en idees uitruil.

LitNet Akademies is ’n ooptoegang akademiese aanlyn tydskrif wat by die Suid-Afrikaanse Departement van Onderwys geakkrediteer is. Artikels is gratis en onmiddellik wêreldwyd beskikbaar.

LitNet Akademies staan onder hoofredakteurskap van Etienne van Heerden en bestaan uit vyf bene, naamlik Geesteswetenskappe, Godsdienswetenskappe, Opvoedkunde, Natuurwetenskappe en Regte

Ontmoet die beoordelaars van die Einstein-kompetisie:

Etienne van Heerden, hoofredakteur
Naomi Bruwer, redaksionele bestuurder
Francis Galloway, Geesteswetenskappe-redakteur
Pieter GR de Villiers, Godsdienswetenskappe-redakteur
Estelle Kruger, Opvoedkunde-redakteur
Dirk Laurie, Natuurwetenskappe-redakteur
Johann Neethling, Regte-redakteur

 

Hoekom 130 karakters?

• Twitter laat slegs 140 karakters toe. Onthou om #EinstKomp (10 karakters) by jou 130-karakter-opsomming te voeg indien jy dit sou wou twiet.

• Die uitdaging van die Einstein-kompetisie lê juis daarin om komplekse idees op so ’n bondige manier moontlik weer te gee. Dit daag studente uit om die breër waarde van hul studies te bedink.

• Navorsers wil beslis nie hul navorsingsgeheime deel nie. Kort en kragtige inskrywings gee die essensie van ’n studie weer sonder om besonderhede te verklap. 

• ’n Navorser wat nog op resultate (byvoorbeeld uit die laboratorium) wag, sal ook aan hierdie kompetisie kan deelneem. Die navorsing wat opgesom word, hoef dus nie reeds afgehandel of voltooi te wees nie.

• 130 karakters verg ’n energieke aanslag eerder as tydsbesteding.

• 130 karakters is toeganklik en lesers kan vele inskrywings sonder inspanning geniet.

 

Navrae

einstein@litnet.co.za 

 

 

  • 8

Kommentaar

  • Avatar
    Johan Wolmarans

    Dit maak nie vir my sin nie. Hoekom juis iemand wat op Universiteit is? As jy die Suid-Afrikaanse Einstein soek of Wetenskaplike bevordering in Afrikaans die lig wil laat sien moet jy Jan alleman die geleentheid gee. Niks teen Universiteitsgeleerdes nie, maar hulle word ’n boek gegee en gebruik dit as fondament. Soms moet jy nie ’n fondasie hê nie. Die meeste wetenskaplike vrae wat al beantwoord is, het nie ’n fondament gehad nie ... #eksêmaarnet

    • Die meeste wetenskaplike vrae wat al beantwoord is het nie 'n fondament gehad nie? Ek wonder of jy dalk 'n verwysing het vir daardie stelling? Natuurlik nie, dit is mos absurd! Elke liewe ontdekking het 'n fondasie, of jy nou by 'n universiteit gemaak was of nie. Die idee dat Einstein nie geleerd was nie is 'n fantasie - hy het in elk geval amper 'n honderd jaar gelede die Nobelprys gewen, in 'n tyd toe die vakgebied heeltemal anders was as vandag.

    • Johan, ek dink jy mis die doel ... Dis juis veronderstel om die "akademiese" toeganklik te maak vir Jan Alleman.

      Buitendien, hoe sou 'n mens die kennis wat mense GEBRUIK in die publieke sfeer aanbied op 'n manier wat meer verteerbaar/meer toeganklik is as wat dit reeds is? (Ons het immers toegang tot sosiale media.)

      Moenie net die probleem stel nie; bied ook 'n oplossing.

  • Avatar
    Mature student

    Hoekom die ouderdomsbeperking? Dit diskrimineer teen diegene wat nie die geleentheid of finansiële bronne gehad het om op vroeër ouderdom verder te swot nie, dws sg "mature" studente.

  • Avatar
    Kobus Koekemoer

    Soms gebeur dit dat Jan alleman verder kan kom as 'n universiteits geleerde, alhoewel dit statistiese klein is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top