
Prent: Pixabay
Daar is ’n waarheid oor onderwys wat baie mense nog sukkel om te aanvaar: Dit is ’n beroep wat nie stilstaan nie. Dit verander nie net van dag tot dag nie, maar van sekonde tot sekonde, van oomblik tot oomblik. Die klaskamer is nie ’n statiese ruimte waar planne netjies ontvou soos op papier nie – dit is ’n lewende, asemhalende omgewing waar elke faktor die verloop van jou dag kan herskryf.
En tog, ironies genoeg, is dit juis hierdie werklikheid waarvoor baie universiteite hulle onderwysstudente nie voldoende voorberei nie. Daar word klem gelê op lesbeplanning, assesserings, inhoudskennis en voorkoms – alles belangrik, sonder twyfel. Maar die kernvaardigheid wat dikwels onderskat word, is aanpasbaarheid: die vermoë om te improviseer wanneer die plan nie werk nie, om te herkalibreer wanneer ’n klas nie reageer soos verwag nie, om te lees wat nie gesê word nie.
Gedurende hul praktiese ondervinding by skole ontwikkel baie onderwysstudente ’n byna kunsmatige beeld van die beroep. Hulle lewer indrukwekkende lesse, ontvang hoë evaluerings, neem deel aan skoolaktiwiteite en voldoen aan elke verwagting wat op hulle geplaas word. Op papier lyk dit volledig – selfs uitnemend. Maar hierdie evaluerings is dikwels ’n beheerde momentopname, nie ’n weerspieëling van die rou, onvoorspelbare aard van die daaglikse onderwysrealiteit nie.
Met hierdie sukses in die hand tree baie jong onderwysers die beroep binne met die oortuiging dat hulle gereed is – dat hulle die "formule" bemeester het. Totdat hulle hul eerste tree oor die drempel van hul eie klaskamer gee. Dis in daardie oomblik, wanneer ’n see van nuuskierige, verwagtende oë op jou rus, dat die werklikheid onverbloemd insink: Hier is geen draaiboek nie. Hier is jy die spilpunt. Hier maak of breek jy.
Een van die eerste lesse wat elke onderwyser moet leer – en dikwels op die moeilike manier – is dat geen twee dae dieselfde sal wees nie. Die fout lê daarin om die teendeel te verwag. Jy kan voorbereid wees, ja. Maar jy sal nooit volledig voorbereid wees nie. En dit is nie ’n tekortkoming nie; dit is die aard van die beroep.
Om voor ’n klas te staan is nie ver verwyderd van ’n verhoog nie. Jy tree op, jy lei, jy reageer. Maar anders as ’n akteur, het jy geen beheer oor jou gehoor se reaksie nie. Soms is daar applous in die vorm van betrokkenheid en begrip. Ander kere is daar stilte, weerstand of selfs onverskilligheid. En juis in daardie oomblikke word jou ware vermoë getoets.
........
Om voor ’n klas te staan is nie ver verwyderd van ’n verhoog nie. Jy tree op, jy lei, jy reageer. Maar anders as ’n akteur, het jy geen beheer oor jou gehoor se reaksie nie. Soms is daar applous in die vorm van betrokkenheid en begrip. Ander kere is daar stilte, weerstand of selfs onverskilligheid. En juis in daardie oomblikke word jou ware vermoë getoets.
.........
’n Verdere uitdaging lê in hoe baie toetredende onderwysers die beroep benader – as ’n prestasie. Om ’n "goeie onderwyser" te wees word ’n titel om te verdien, ’n beeld om te handhaaf. Maar hierdie ingesteldheid word ’n gevaarlike las. Want solank onderwys as ’n prestasie gesien word, raak dit iets wat gemeet en bewys moet word – dikwels aan ander, maar veral aan jouself.
Die keerpunt kom wanneer die beroep nie meer as ’n prestasie beskou word nie, maar as ’n verantwoordelikheid. ’n Daaglikse keuse om “op te daag”, om te dien, om te bou – selfs wanneer dit moeilik is, selfs wanneer dit nie raakgesien word nie. Dis juis in hierdie skuif in perspektief waar vervulling begin groei. Waar jy besef dat die klein, byna onsigbare insette oor tyd ’n onmiskenbare impak het.
Daarom is dit nie nodig om elke sukses uit te saai of elke oorwinning te bewys nie. Want wanneer jy dit doen, skep jy onbewustelik ’n verwagting – vir jouself en vir ander – dat elke dag dieselfde vlak van "sukses" moet oplewer. En wanneer dit onvermydelik nie gebeur nie, voel dit soos mislukking, eerder as die natuurlike vloei van ’n dinamiese beroep.
Miskien lê die grootste les hierin: Ons fokus te veel op wát ons doen en te min op hóé ons dit doen. Die "wat" kan beplan word. Die "hoe" vereis insig, aanpasbaarheid en ’n diep begrip van mense.
Onderwys is nie ’n perfekte uitvoering nie. Dit is ’n voortdurende proses van aanpas, leer en groei. Dit is ’n verhoog sonder ’n vaste draaiboek, en dalk is dit juis waar sy grootste waarde lê.
Lees ook:
Hoe los ons die onderwyskrisis op? Faeed Amardien se oplossings
Onderwys op Groote Eylandt in Australië: ’n onderhoud met Rethamari le Roux

